Volg Moses se geloof na
“Deur geloof het Moses, nadat hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word.”
1, 2. (a) Watter besluit het Moses geneem toe hy 40 jaar oud was? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Waarom het Moses verkies om saam met God se volk sleg behandel te word?
MOSES het geweet wat Egipte hom kon bied. Hy het die spogwonings van die rykes gesien. Hy was deel van die koninklike huisgesin. Hy is “in al die wysheid van die Egiptenaars onderrig”, wat waarskynlik die kunste, sterrekunde, wiskunde en ander wetenskappe ingesluit het (Hand. 7:22). Binne sy bereik was die rykdom, mag en status waarvan ’n gewone Egiptenaar maar net kon droom!
2 Maar toe Moses 40 jaar oud was, het hy ’n besluit geneem wat die koninklike Egiptiese gesin wat hom aangeneem het, ongetwyfeld dronkgeslaan het. Hy het nie eens die “normale” lewe van ’n gewone Egiptenaar gekies nie, maar hy het gekies om saam met slawe sleg behandel te word! Waarom? Moses het geloof gehad. (Lees Hebreërs 11:24-26.) Deur geloof het Moses baie meer as die stoflike wêreld om hom gesien. As ’n geestelike man het Moses geloof gehad in “die Onsigbare”, Jehovah, en in die vervulling van God se beloftes.
3. Watter drie vrae sal in hierdie artikel beantwoord word?
3 Net so moet ons nie net sien wat met die oog sigbaar is nie. Ons moet “die soort [wees] wat geloof het” (Heb. 10:38, 39). Om ons te help om ons geloof te versterk, sal ons ondersoek wat in Hebreërs 11:24-26 oor Moses geskryf is. Terwyl ons dit doen, kan ons die antwoorde op die volgende vrae probeer vind: Hoe het geloof Moses beweeg om vleeslike begeertes te verwerp? Hoe het geloof Moses gehelp om sy diensvoorregte te waardeer toe hy gesmaad is? En waarom het Moses “sy blik stip op die beloning gerig gehou”?
HY HET VLEESLIKE BEGEERTES VERWERP
4. Wat het Moses oor die “genieting van sonde” besef?
4 Met oë van geloof het Moses gesien dat die “genieting van sonde” tydelik is. Ander het dalk geredeneer dat Egipte, hoewel dit deurtrek was van afgodediens en spiritisme, ’n wêreldmoondheid geword het, terwyl Jehovah se volk in slawerny was! Maar Moses het geweet dat God dinge kon verander. Hoewel genotsugtige mense blykbaar gefloreer het, het Moses geloof gehad dat goddelose mense sou vergaan. Gevolglik is hy nie deur “die tydelike genieting van sonde” verlok nie.
5. Wat sal ons help om “die tydelike genieting van sonde” te weerstaan?
5 Hoe kan jy “die tydelike genieting van sonde” weerstaan? Moet nooit vergeet dat sondige genot kortstondig is nie. Met oë van geloof moet jy sien dat ‘die wêreld verbygaan en so ook sy begeerte’ (1 Joh. 2:15-17). Dink na oor die toekoms van onberouvolle sondaars. Hulle is “op glibberige grond”, en ‘skielike verskrikkinge sal ’n einde aan hulle maak!’ (Ps. 73:18, 19). Wanneer jy in die versoeking kom om jou aan sondige gedrag skuldig te maak, moet jy jou afvra: ‘Watter soort toekoms wil ek hê?’
6. (a) Waarom het Moses geweier “om die seun van Farao se dogter genoem te word”? (b) Waarom dink jy dat Moses die regte besluit geneem het?
6 Moses se geloof het ook bepaal watter loopbaan hy gekies het. “Deur geloof het Moses, nadat hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word” (Heb. 11:24). Moses het nie geredeneer dat hy God as ’n lid van die koninklike hof kon dien en dan sy rykdom en posisie kon gebruik om sy Israelitiese broers te help nie. Hy was eerder vasbeslote om Jehovah met sy hele hart, sy hele siel en al sy krag lief te hê (Deut. 6:5). Moses se besluit het hom baie hartseer gespaar. Baie van die skatte van Egipte wat hy agtergelaat het, is kort voor lank geplunder
7. (a) Waarom moet ons volgens Matteus 6:19-21 verder kyk as die onmiddellike toekoms? (b) Vertel ’n ondervinding wat die verskil tussen materiële en geestelike skatte toelig.
7 Hoe kan geloof jou help om ’n loopbaan te kies as jy ’n jong kneg van Jehovah is? Dit is verstandig om vir die toekoms te beplan. Maar geloof in God se beloftes sal jou beweeg om vir ’n ewige toekoms “op te gaar”, of te beplan, nie ’n tydelike toekoms nie. (Lees Matteus 6:19-21.) ’n Talentvolle balletdanseres met die naam Sophie het voor hierdie keuse te staan gekom. Sy is beurse en benydenswaardige beroepsgeleenthede by balletgeselskappe regoor die Verenigde State aangebied. “Dit was opwindend om bewonder te word. Om die waarheid te sê, ek het gevoel dat ek beter as my portuurs is”, erken sy. “Maar ek was ongelukkig.” Toe het Sophie die video Young People Ask
8. Watter Bybelraad kan ’n jongmens help om te besluit wat om met sy lewe te doen?
8 Jehovah weet wat die beste vir jou is. Moses het gesê: “Wat anders vra Jehovah jou God van jou as om Jehovah jou God te vrees, om in al sy weë te wandel en hom lief te hê en Jehovah jou God te dien met jou hele hart en jou hele siel; om die gebooie van Jehovah en sy insettinge te onderhou wat ek jou vandag beveel, sodat dit met jou goed kan gaan?” (Deut. 10:12, 13). Terwyl jy jonk is, moet jy ’n loopbaan kies wat jou in staat sal stel om Jehovah lief te hê en hom “met jou hele hart en jou hele siel” te dien. As jy dit doen, kan jy die vertroue hê dat “dit met jou goed [sal] gaan”.
HY HET SY DIENSVOORREGTE WAARDEER
9. Verduidelik waarom dit dalk vir Moses moeilik was om sy opdrag uit te voer.
9 Moses het “die smaad van die Christus groter rykdom geag . . . as die skatte van Egipte” (Heb. 11:26). Hy is as “die Christus”, of “Gesalfde”, aangestel in die sin dat hy deur Jehovah gekies is om Israel uit Egipte uit te lei. Moses het geweet dat dit moeilik, selfs ’n “smaad”, sou wees om hierdie opdrag uit te voer. Vroeër het een van die Israeliete minagtend gesê: “Wie het jou as ’n vors en regter oor ons aangestel?” (Eks. 2:13, 14). Later het Moses Jehovah gevra: “Hoe sal Farao ooit na my luister?” (Eks. 6:12). Om vir teenstand voor te berei en dit te verduur, het Moses Jehovah van sy vrese en bekommernisse vertel. Hoe het Jehovah Moses gehelp om sy moeilike opdrag uit te voer?
10. Hoe het Jehovah Moses vir sy opdrag toegerus?
10 Eerstens het Jehovah Moses verseker: ‘Ek sal met jou wees’ (Eks. 3:12). Tweedens het Jehovah vertroue by hom ingeboesem deur een aspek van die betekenis van sy naam te verduidelik: “Ek sal word wat ek sal word” * (Eks. 3:14). Derdens het hy Moses die krag gegee om wonderwerke te verrig, wat bewys het dat hy werklik deur God gestuur is (Eks. 4:2-5). Vierdens het Jehovah Moses ’n metgesel en woordvoerder, Aäron, gegee om hom te help om sy opdrag uit te voer (Eks. 4:14-16). Teen die einde van sy lewe was Moses so oortuig dat God Sy knegte toerus om enige godgegewe opdrag uit te voer dat hy vol vertroue vir sy opvolger Josua kon sê: “Jehovah trek voor jou uit. Hy sal voortdurend met jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat of jou heeltemal verlaat nie. Moenie bang of verskrik wees nie.”
11. Waarom het Moses sy opdrag hoog op prys gestel?
11 Met Jehovah se ondersteuning het Moses sy moeilike opdrag hoog op prys gestel en dit “groter rykdom geag . . . as die skatte van Egipte”. Om Farao te dien, kon immers nie daarmee vergelyk word om God die Almagtige te dien nie. En om ’n prins in Egipte te wees, kon geensins vergelyk word met die voorreg om “die Christus”, of die gesalfde, van Jehovah te wees nie. Moses is vir sy waarderende gesindheid beloon. Hy het ’n intieme verhouding met Jehovah geniet, en Hy het hom in staat gestel om “ontsagwekkende dade” te verrig terwyl hy die Israeliete na die Beloofde Land gelei het.
12. Watter opdragte van Jehovah moet ons waardeer?
12 Ons het ook ’n opdrag. Deur sy Seun het Jehovah ’n bediening aan ons toegewys, net soos in die geval van die apostel Paulus en ander. (Lees 1 Timoteus 1:12-14.) Ons almal het die voorreg om die goeie nuus te verkondig (Matt. 24:14; 28:19, 20). Party dien as voltydse bedienaars. Gedoopte broers wat geestelik ryp is, dien ander in die gemeente as bedieningsknegte en ouer manne. Maar jou ongelowige familielede en ander sal dalk die waarde van hierdie voorregte bevraagteken of jou selfs kritiseer oor die opofferings wat jy maak (Matt. 10:34-37). As hulle daarin slaag om jou te ontmoedig, kan jy begin wonder of jou opofferings die moeite werd is en of jy werklik jou opdrag kan uitvoer. Hoe sal geloof jou help om te volhard as dit met jou gebeur?
13. Hoe rus Jehovah ons toe om teokratiese opdragte uit te voer?
13 Smeek Jehovah in geloof vir sy ondersteuning. Vertel hom van jou vrese en bekommernisse. Dit is immers Jehovah wat jou die opdrag gegee het, en hy sal jou help om suksesvol te wees. Hoe? Net soos hy Moses gehelp het. Eerstens stel Jehovah jou gerus: “Ek sal jou versterk. Ek sal jou werklik help. Ek sal jou werklik stewig vashou met my regterhand van regverdigheid” (Jes. 41:10). Tweedens herinner hy jou dat sy beloftes betroubaar is: “Ek het dit gespreek; ek sal dit ook laat kom. Ek het daaraan vorm gegee, ek sal dit ook doen” (Jes. 46:11). Derdens gee Jehovah jou “krag wat bo die normale is” sodat jy jou bediening kan uitvoer (2 Kor. 4:7). Vierdens gee ons liefdevolle Vader jou ’n wêreldwye broederskap van ware aanbidders wat “[aanhou] om mekaar te vertroos en mekaar op te bou” sodat jy in jou toewysing kan volhard (1 Tess. 5:11). Namate Jehovah jou toerus om jou opdrag uit te voer, sal jou geloof in hom toeneem en sal jy besef dat die voorregte wat jy in sy diens geniet, groter rykdom is as enige aardse skatte.
“HY HET SY BLIK STIP OP DIE BELONING GERIG GEHOU”
14. Waarom was Moses seker dat hy beloon sou word?
14 Moses “het sy blik stip op die beloning gerig gehou” (Heb. 11:26). Ja, Moses het toegelaat dat sy kennis van die toekoms, hoewel dit beperk was, sy beskouing vorm. Soos sy voorvader Abraham, was Moses oortuig dat Jehovah die dooies kan opwek (Luk. 20:37, 38; Heb. 11:17-19). Die vooruitsig op toekomstige seëninge het Moses gehelp om nie sy 40 jaar as ’n vlugteling en sy 40 jaar in die wildernis as ’n verkwisting van sy lewe te beskou nie. Hoewel hy nie al die besonderhede gehad het oor hoe God se beloftes verwesenlik sou word nie, kon hy die onsigbare beloning met oë van geloof sien.
15, 16. (a) Waarom moet ons ons blik stip op ons beloning gerig hou? (b) Na watter seëninge onder Koninkryksheerskappy sien jy uit?
15 Hou jy jou “blik stip op [jou] beloning gerig”? Soos Moses, het ons nie al die besonderhede in verband met God se beloftes nie. Byvoorbeeld, ons “weet nie wanneer dit die vasgestelde tyd” vir die groot verdrukking is nie (Mark. 13:32, 33). Tog weet ons baie meer oor die toekomstige Paradys as wat Moses geweet het. Selfs sonder al die besonderhede het ons genoeg goddelike beloftes oor die lewe onder God se Koninkryk om ons ‘blik stip daarop gerig te hou’. As ons ’n helder beeld van die nuwe wêreld in ons verstand het, sal dit ons beweeg om eers daardie Koninkryk te soek. Hoe so? Dink hieraan: Sal jy ’n huis koop waaroor jy baie min inligting het? Natuurlik nie! Net so sal ons nie ons lewe gebruik om ’n vae hoop na te streef nie. Ons geloof moet ons help om ’n helder, skerp beeld van die lewe onder Koninkryksheerskappy te sien.
16 Om jou beeld van God se Koninkryk te verskerp, moet jy jou ‘blik stip gerig hou’ op jou lewe in die Paradys. Gebruik jou verbeelding. Byvoorbeeld, wanneer jy die lewe van voor-Christelike Bybelkarakters bestudeer, kan jy nadink oor wat jy hulle wil vra wanneer hulle opgewek word. Dink aan wat hulle jou dalk oor jou lewe gedurende die laaste dae sal vra. Stel jou voor hoe opgewonde jy sal wees om jou voorouers van eeue gelede te ontmoet en om hulle te leer oor alles wat God vir hulle gedoen het. Dink hoe jy dit sal geniet om te leer oor verskeie wilde diere deur hulle in ’n vreedsame omgewing waar te neem. Peins oor hoe jou verhouding met Jehovah hegter sal word namate jy tot volmaaktheid groei.
17. Hoe kan ’n helder beeld van ons onsigbare beloning ons vandag help?
17 ’n Helder beeld van ons onsigbare beloning help ons om te volhard, om vreugde te hê en om besluite te neem wat gegrond is op die wete dat ons ’n ewige toekoms sal geniet. Paulus het aan gesalfde Christene geskryf: “As ons hoop op wat ons nie sien nie, bly ons met volharding daarop wag” (Rom. 8:25). In beginsel is dit van toepassing op alle Christene wat die hoop het om vir ewig te lewe. Hoewel ons nog nie ons beloning ontvang het nie, is ons geloof so sterk dat ons aanhou om geduldig op “die beloning” te wag. Soos Moses, beskou ons nie die jare in Jehovah se diens as ’n vermorsing van tyd nie. Ons is eerder oortuig dat “die dinge wat gesien word, . . . tydelik [is] maar die dinge wat nie gesien word nie, . . . ewig [is].”
18, 19. (a) Waarom moet ons hard stry om ons geloof te behou? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?
18 Geloof stel ons in staat om “die oortuigende bewys van werklikhede wat nie gesien word nie”, te onderskei (Heb. 11:1, vtn. in NW). ’n Fisiese mens sien nie die kosbare waarde van diens aan Jehovah nie. Vir so ’n persoon is geestelike skatte “dwaasheid” (1 Kor. 2:14). Maar ons hoop om die ewige lewe te ontvang en die opstanding te sien, dinge wat die wêreld nie sien nie. Soos die filosowe in Paulus se dag wat hom ’n onkundige “babbelaar” genoem het, dink die meeste mense van vandag dat die hoop wat ons verkondig, loutere onsin is.
19 Aangesien ons ons te midde van ’n wêreld sonder geloof bevind, moet ons hard stry om ons geloof te behou. Smeek Jehovah “dat jou geloof jou nie begewe nie” (Luk. 22:32). Ons moet die gevolge van sonde, die oortreffende waarde van diens aan Jehovah en ons hoop op die ewige lewe duidelik voor oë hou. Maar Moses se geloof het hom in staat gestel om nie net hierdie dinge te sien nie. In die volgende artikel sal ons ondersoek hoe geloof Moses gehelp het om “die Onsigbare” te sien.
^ par. 10 ’n Bybelgeleerde het aangaande God se woorde in Eksodus 3:14 gesê: “Niks kan hom daarvan weerhou om sy wil uit te voer nie . . . Hierdie naam [Jehovah] moes Israel se vesting wees, ’n onuitputlike bron van hoop en vertroosting.”