Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hou jy tred met Jehovah se organisasie?

Hou jy tred met Jehovah se organisasie?

“Die oë van Jehovah is op die regverdiges.” —1 PET. 3:12.

1. Watter organisasie het die afvallige nasie Israel as ’n volk vir Jehovah se naam vervang? (Sien prent aan begin van artikel.)

JEHOVAH word tereg die eer gegee vir die stigting van die Christengemeente in die eerste eeu en vir die herstel van ware aanbidding in onlangse tye. Soos ons in die vorige artikel gesien het, het die organisasie wat uit Christus se vroeë volgelinge bestaan het, die afvallige nasie Israel as die volk vir Jehovah se naam vervang. Die nuwe organisasie, wat God se guns geniet het, het behoue gebly toe Jerusalem in 70 HJ vernietig is (Luk. 21:20, 21). Daardie gebeure in die eerste eeu het verwikkelinge voorafgeskadu wat vir Jehovah se hedendaagse knegte van belang is. Satan se stelsel van dinge sal binnekort tot ’n einde kom, maar God se organisasie sal deur die laaste dae heen behoue bly (2 Tim. 3:1). Hoe kan ons hiervan seker wees?

2. Wat het Jesus aangaande die “groot verdrukking” gesê, en hoe sal dit begin?

2 Jesus het aangaande sy onsigbare teenwoordigheid en die voleinding van die stelsel van dinge gesê: “Daar [sal] groot verdrukking wees soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie” (Matt. 24:3, 21). Hierdie tydperk van ongeëwenaarde verdrukking sal begin wanneer Jehovah die politieke magte gebruik om “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, te vernietig (Op. 17:3-5, 16). Wat sal daarop volg?

SATAN SE AANVAL LEI TOT ARMAGEDDON

3. Watter aanval sal op Jehovah se volk geloods word nadat valse godsdiens vernietig is?

3 Nadat valse godsdiens vernietig is, sal Satan en verskeie elemente van sy wêreld Jehovah se knegte aanval. In verband met “Gog van die land Magog” voorspel die Skrif byvoorbeeld: “Jy sal sekerlik optrek. Soos ’n storm sal jy aankom. Jy sal word soos wolke om die land te bedek, jy en al jou krygsbendes en baie volke saam met jou.” Omdat Jehovah se Getuies nie die wapen opneem nie en die vreedsaamste mense op aarde is, sal dit lyk asof hulle ’n maklike teiken is. Maar wat ’n fout sal dit tog wees om hulle aan te val!Eseg. 38:1, 2, 9-12.

4, 5. Hoe sal Jehovah reageer op Satan se pogings om Sy knegte uit te wis?

4 Hoe sal God reageer op Satan se pogings om Sy volk uit te wis? Jehovah sal hulle verdedig en sy reg as die Universele Soewerein uitoefen. Jehovah beskou ’n aanval op sy knegte as ’n aanval op hom. (Lees Sagaria 2:8.) Daarom sal ons hemelse Vader onmiddellik optree om ons te red. Hierdie optrede sal ’n hoogtepunt bereik wanneer Satan se wêreld vernietig word by Armageddon, “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige”.Op. 16:14, 16.

5 ’n Bybelprofesie sê aangaande Armageddon: “‘Jehovah het ’n geskil met die nasies. Hy sal persoonlik in die gerig tree met alle vlees. Wat die goddeloses betref, hy sal hulle aan die swaard oorgee’, is die woord van Jehovah. Só het Jehovah van die leërs gesê: ‘Kyk! ’n Rampspoed gaan uit van nasie tot nasie, en ’n groot storm sal uit die mees afgeleë dele van die aarde opgewek word. En dié wat deur Jehovah omgebring is, sal dié dag beslis van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde lê. Daar sal nie oor hulle geweeklaag word nie, en ook sal hulle nie versamel of begrawe word nie. Soos mis op die oppervlak van die aarde sal hulle word’” (Jer. 25:31-33). Armageddon sal ’n einde maak aan hierdie goddelose stelsel van dinge. Satan se wêreld sal iets van die verlede wees, maar die aardse deel van Jehovah se organisasie sal bly bestaan.

WAAROM JEHOVAH SE ORGANISASIE VANDAG FLOREER

6, 7. (a) Waarvandaan kom diegene wat die groot menigte uitmaak? (b) Watter toename het in onlangse jare plaasgevind?

6 God se organisasie floreer omdat die mense wat daaraan behoort, sy goedkeuring wegdra. Die Bybel verseker ons: “Die oë van Jehovah is op die regverdiges, en sy ore is tot hulle smeking” (1 Pet. 3:12). Die regverdiges sluit “’n groot menigte” in wat “uit die groot verdrukking kom” (Op. 7:9, 14). Hierdie oorlewendes is nie net ’n “menigte” nie. Hulle is “’n groot menigte”—’n baie groot aantal mense. Sien jy jouself onder hulle as ’n oorlewende van “die groot verdrukking”?

7 Waarvandaan kom diegene wat die groot menigte uitmaak? Hulle word ingesamel deur middel van ’n werk wat Jesus as deel van die teken van sy teenwoordigheid voorspel het. Hy het gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matt. 24:14). Gedurende hierdie laaste dae is dit die vernaamste werk van God se organisasie. Danksy die wêreldwye predikings- en onderrigtingswerk van Jehovah se Getuies het miljoene mense geleer om God “met gees en waarheid” te aanbid (Joh. 4:23, 24). Gedurende ’n onlangse dekade—die diensjare vanaf 2003 tot 2012—het meer as 2 707 000 mense byvoorbeeld hulle toewyding aan God deur waterdoop gesimboliseer. Daar is nou heelwat meer as 7 900 000 Getuies regoor die wêreld, en miljoene assosieer met hulle, veral tydens die jaarlikse Herdenking van Christus se dood. Hierdie vermeerdering is geen rede om te spog nie, want dit is “God wat dit laat groei” (1 Kor. 3:5-7). Dit is nietemin duidelik dat die groot menigte elke jaar groei en al hoe groter word!

8. Waaraan kan die merkwaardige groei wat Jehovah se hedendaagse organisasie ondervind, toegeskryf word?

8 God se organisasie ondervind merkwaardige groei omdat Jehovah self sy Getuies steun. (Lees Jesaja 43:10-12.) Hierdie toename is voorspel in die profetiese woorde: “Die kleine sal ’n duisend word, en die geringe ’n magtige nasie. Ek, Jehovah, sal dit op die regte tyd bespoedig” (Jes. 60:22). Die gesalfde oorblyfsel was eens soos “die kleine”, maar hulle het vermeerder namate ander geestelike Israeliete in God se organisasie ingebring is (Gal. 6:16). Danksy Jehovah se volgehoue seën gaan die vermeerdering voort, aangesien die groot menigte ingesamel word.

WAT JEHOVAH VAN ONS VEREIS

9. Wat moet ons doen as ons die blink toekoms wil hê wat in God se Woord belowe word?

9 Hetsy ons gesalfde Christene of lede van die groot menigte is, ons kan die blink toekoms hê wat in God se Woord belowe word as ons aan Jehovah se vereistes voldoen (Jes. 48:17, 18). Dink aan die Israeliete onder die Mosaïese Wet. Een doel van die Wet was om die nasie Israel te beskerm deur middel van heilsame wette wat hulle sou rig wat seksuele gedrag, sakeaangeleenthede, kindersorg, die behandeling van hulle medemens, ensovoorts betref (Eks. 20:14; Lev. 19:18, 35-37; Deut. 6:6-9). As ons aan God se vereistes voldoen, vind ons op soortgelyke wyse daarby baat—en ons vind dit beslis nie swaar om sy wil te doen nie. (Lees 1 Johannes 5:3.) Trouens, soos die Israeliete deur die Wet beskerm is, beskerm ons gehoorsaamheid aan Jehovah God se wette en beginsels ons ook en hou dit ons “gesond in die geloof”.Tit. 1:13.

10. Waarom moet ons tyd vir Bybelstudie en ’n weeklikse aand vir Gesinsaanbidding opsysit?

10 Die aardse deel van Jehovah se organisasie beweeg op verskeie maniere voort. Ons begrip van Bybelwaarheid word byvoorbeeld die hele tyd helderder. Ons kan dit verwag, want “die pad van die regverdiges is soos die helder lig wat al hoe helderder word totdat dit heeltemal dag is” (Spr. 4:18). Maar ons kan ons afvra: ‘Hou ek tred met verfynings in ons begrip van Bybelwaarheid? Is ek in die gewoonte om die Bybel daagliks te lees? Is ek ’n ywerige leser van ons publikasies? Het ek en my geliefdes ’n weeklikse aand vir Gesinsaanbidding?’ Die meeste van ons sal saamstem dat dit nie te moeilik is om hierdie dinge te doen nie. Dikwels behels dit net dat ons tyd opsysit om dit te doen. En hoe belangrik is dit tog om akkurate Bybelkennis in te neem, dit toe te pas en geestelike vordering te maak—veral noudat die groot verdrukking so naby is!

11. Hoe het die Israeliete by eertydse feeste baat gevind, en hoe vind ons by hedendaagse vergaderinge en byeenkomste baat?

11 Jehovah se organisasie dra ons belange op die hart wanneer dit ons aanspoor om die apostel Paulus se raad te volg: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat soos party die gewoonte het nie, maar mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Heb. 10:24, 25). Jaarlikse feeste en ander samekomste vir aanbidding het die Israeliete geestelik opgebou. Wat meer is, geleenthede soos die spesiale Huttefees in Nehemia se dag was vreugdevolle tye (Eks. 23:15, 16; Neh. 8:9-18). Ons vind op soortgelyke wyse by ons vergaderinge en byeenkomste baat. Laat ons ten volle gebruik maak van hierdie voorsienings wat ons help om geestelik gesond en gelukkig te wees.Tit. 2:2.

12. Hoe moet ons die Koninkrykspredikingswerk beskou?

12 As lede van God se organisasie verskaf dit ons vreugde om “aan die heilige werk van die goeie nuus van God deel te neem” (Rom. 15:16). Die feit dat ons aan hierdie werk deelneem, maak ons “medewerkers” van Jehovah, “die Heilige” (1 Kor. 3:9; 1 Pet. 1:15). Wanneer ons die goeie nuus verkondig, dra dit by tot die heiliging van Jehovah se heilige naam. En dit is beslis ’n onvergelyklike voorreg om toevertrou te word met “die glorieryke goeie nuus van die gelukkige God”.1 Tim. 1:11.

13. Waarvan hang ons lewe en ons geestelike gesondheid af?

13 God wil hê dat ons geestelik gesond moet bly deur hom aan te kleef en sy organisasie te ondersteun. Moses het vir die Israeliete gesê: “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle, dat ek jou die lewe en die dood voorgehou het, die seën en die vloek; en jy moet die lewe kies sodat jy kan bly lewe, jy en jou nageslag, deur Jehovah jou God lief te hê, deur na sy stem te luister en deur hom aan te kleef; want hy is jou lewe en die lengte van jou dae, sodat jy in die land kan woon wat Jehovah aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob met ’n eed beloof het om aan hulle te gee” (Deut. 30:19, 20). Ons lewe hang daarvan af dat ons Jehovah se wil doen, hom liefhet, na sy stem luister en hom aankleef.

14. Hoe het een broer oor die sigbare deel van God se organisasie gevoel?

14 Broer Pryce Hughes, wat God onverskrokke aangekleef het en met Sy organisasie tred gehou het, het eenkeer geskryf: “Ek is so dankbaar dat ek vanaf daardie vroeë dae kort voor 1914 in ooreenstemming met die kennis van Jehovah se voornemens gelewe het . . . Die een ding wat vir my van die grootste belang was, was om na aan Jehovah se sigbare organisasie te bly. My vroeë ondervinding het my geleer hoe onverstandig dit is om op menslike wysheid te vertrou. Toe ek eers oor daardie saak tot ’n besluit gekom het, was ek vasbeslote om by die getroue organisasie te bly. Hoe anders kan ’n mens Jehovah se guns en seën ontvang?”

HOU AAN OM MET GOD SE ORGANISASIE TRED TE HOU

15. Gee ’n skriftuurlike voorbeeld wat toon hoe ons verfynings in ons begrip van Bybelonderwerpe moet beskou.

15 As ons as individue Jehovah se guns en seën wil geniet, moet ons sy organisasie ondersteun en aanpassings in ons begrip van die Skrif aanvaar. Dink hieraan: Ná Jesus se dood was daar duisende Joodse Christene wat ywerig was vir die Wet en dit nog steeds wou volg (Hand. 21:17-20). Maar Paulus se brief aan die Hebreërs het hulle gehelp om te aanvaar dat hulle nie deur middel van offerandes “wat volgens die Wet gebring word”, geheilig is nie, maar “deur middel van die offer van die liggaam van Jesus Christus, eens en vir altyd” (Heb. 10:5-10). Die meeste van daardie Christene van Joodse herkoms het ongetwyfeld hulle denke aangepas en geestelike vordering gemaak. Ons moet ook ywerige studente wees en ontvanklik wees wanneer daar aanpassings in ons begrip van God se Woord of in ons predikingswerk is.

16. (a) Waarom sal die lewe in die nuwe wêreld wonderlik wees? (b) Waarna sien jy in die nuwe wêreld uit?

16 Almal wat aan Jehovah en sy organisasie lojaal bly, sal sy volgehoue seën geniet. Getroue gesalfdes sal groot voorregte as mede-erfgename met Christus in die hemel ontvang (Rom. 8:16, 17). As jy die aardse hoop het, stel jou voor hoe genotvol dit sal wees om in die Paradys te lewe. Watter vreugde ondervind ons nou as deel van Jehovah se organisasie om ander van God se beloofde nuwe wêreld te vertel! (2 Pet. 3:13). “Die sagmoediges sal die aarde besit”, sê Psalm 37:11, “en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.” Mense “sal . . . huise bou en dit bewoon” en sal “die werk van hulle . . . hande” geniet (Jes. 65:21, 22). Verdrukking, armoede en honger sal iets van die verlede wees (Ps. 72:13-16). Babilon die Grote sal mense nie meer bedrieg nie, want sy sal nie bestaan nie (Op. 18:8, 21). Die dooies sal opgewek word en die geleentheid gegee word om vir ewig te lewe (Jes. 25:8; Hand. 24:15). Watter opwindende vooruitsigte tog vir miljoene wat hulle aan Jehovah toegewy het! As ons wil hê dat hierdie skriftuurlike beloftes vir ons as individue bewaarheid moet word, moet ons aanhou om geestelike vordering te maak en altyd met God se organisasie tred hou.

Kan jy jouself in die Paradys sien? (Sien paragraaf 16)

17. Wat moet ons gesindheid teenoor die aanbidding van Jehovah en sy organisasie wees?

17 Aangesien die einde van hierdie stelsel so naby is, laat ons standvastig in die geloof bly en groot waardering vir God se reëling vir aanbidding toon. Dit was die gesindheid van die psalmis Dawid, wat gesing het: “Een ding het ek van Jehovah gevra—dit sal ek soek: Dat ek al die dae van my lewe in die huis van Jehovah mag woon, om die lieflikheid van Jehovah te sien en sy tempel met waardering te aanskou” (Ps. 27:4). Mag elkeen van ons God aankleef en met Jehovah se organisasie tred hou.