Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

Jehovah het my werklik gehelp

Jehovah het my werklik gehelp

Ek en my bruid, Evelyn, het by Hornepayne, in die woudagtige noorde van Ontario, Kanada, van die trein afgeklim. Dit was vroeg in die oggend en ysig koud. ’n Plaaslike broer het ons kom haal, en nadat ons ’n stewige ontbyt saam met hom, sy vrou en sy seun geëet het, het ons deur die sneeu gestap en van huis tot huis getuig. Daardie middag het ek my eerste openbare toespraak as ’n kringopsiener gehou. Ons vyf het dit bygewoon; niemand anders het gekom nie.

IN WERKLIKHEID was ek glad nie spyt dat daar so min mense by daardie toespraak in 1957 was nie. Eintlik was ek nog altyd baie skaam. Trouens, toe ek jonk was, het ek weggekruip wanneer gaste ons huis besoek het, selfs as ek hulle geken het.

Dit is te verstane dat jy dalk verbaas sal wees om te hoor dat die meeste van my toewysings in Jehovah se organisasie my gedwing het om interaksie te hê met ander mense—vriende sowel as vreemdelinge. Maar ek sukkel nog steeds om my skaamheid en gebrek aan selfvertroue te oorkom, en daarom kan ek nie die eer kry vir enige sukses wat ek in daardie toewysings gehad het nie. Ek het eerder gesien hoe betroubaar Jehovah se belofte is: “Ek sal jou versterk. Ek sal jou werklik help. Ek sal jou werklik stewig vashou met my regterhand van regverdigheid” (Jes. 41:10). Een van die vernaamste maniere waarop Jehovah my gehelp het, was deur middel van die ondersteuning van mede-Christene. Ek wil jou graag van ’n paar van hulle vertel, insluitende dié wat my gehelp het toe ek nog ’n kind was.

SY HET ’N BYBEL EN ’N KLEIN SWART BOEKIE GEBRUIK

Op ons familieplaas in die suidweste van Ontario

Op ’n sonnige Sondagoggend in die 1940’s het Elsie Huntingford ons familieplaas in die suidweste van Ontario besoek. Toe my ma die deur oopgemaak het, het ek en my pa—wat skaam was soos ek—binne gesit en luister. Omdat my pa gedink het dat suster Huntingford ’n verkoopsdame is en dat my ma iets sou koop wat ons nie nodig het nie, het hy uiteindelik na die deur gegaan en gesê dat ons nie belangstel nie. “Stel julle nie in ’n Bybelstudie belang nie?”, het suster Huntingford gevra. “Natuurlik stel ons daarin belang”, het my pa geantwoord.

Suster Huntingford kon ons nie op ’n beter tyd besoek het nie. My ouers was baie bedrywige lede van die Verenigde Kerk van Kanada, maar het kort tevore besluit om die kerk te verlaat. Waarom? Omdat die predikant ’n lys in die kerk se voorportaal opgeplak het van almal wat ’n bydrae gemaak het sowel as die bedrag van die bydrae, van die grootste tot die kleinste. My ouers, wat nie ryk was nie, was gewoonlik byna onder aan die lys, en die ouderlinge het druk op hulle geplaas om meer by te dra. ’n Ander predikant het erken dat hy mense nie geleer het wat hy werklik glo nie omdat hy bang was dat hy sy werk sou verloor. Ons het die kerk dus verlaat, maar nog steeds na ’n manier gesoek om ons geestelike behoefte te bevredig.

Aangesien die werk van Jehovah se Getuies destyds in Kanada verbied was, het suster Huntingford net die Bybel en ’n paar aantekeninge in ’n klein swart boekie gebruik om met ons gesin te studeer. Toe sy later besef het dat ons haar nie aan die owerheid sou verraai nie, het sy vir ons Bybellektuur gegee. Ná elke studie het ons die publikasies goed weggesteek. *

My ouers het gunstig op die Koninkryksboodskap gereageer en is in 1948 gedoop

Ondanks teenstand en ander struikelblokke het suster Huntingford die goeie nuus ywerig verkondig. Haar ywer het my beïndruk en my beweeg om my standpunt vir die waarheid in te neem. ’n Jaar nadat my ouers as Jehovah se Getuies gedoop is, het ek my toewyding aan God gesimboliseer. Ek is op 27 Februarie 1949 in ’n metaaldrinktrog gedoop waaruit vee water gedrink het. Ek was 17 jaar oud. Daarna was ek vasbeslote om die voltydse bediening te betree.

JEHOVAH HET MY GEHELP OM MOEDIG TE WEES

Ek was verbaas toe ek in 1952 genooi is om by Bethel te dien

Ek het gehuiwer om onmiddellik te begin pionier. Ek het ’n tyd lank in ’n bank en in ’n kantoor gewerk omdat ek myself oortuig het dat ek ’n bietjie geld moes verdien om my in die pionierdiens te onderhou. Maar aangesien ek ’n onervare jongmens was, het ek my geld uitgegee so gou as wat ek dit verdien het. ’n Broer met die naam Ted Sargent het my dus aangespoor om moedig te wees en my vertroue in Jehovah te stel (1 Kron. 28:10). Weens daardie liefdevolle aansporing het ek in November 1951 begin pionier. Ek het net 40 dollar, ’n tweedehandse fiets en ’n nuwe aktetas gehad. Maar Jehovah het altyd seker gemaak dat ek alles het wat ek nodig het. Hoe dankbaar is ek tog dat Ted my aangespoor het om die pionierdiens te betree! Dit het verdere seëninge tot gevolg gehad.

Een aand laat in Augustus 1952 het ek ’n oproep uit Toronto ontvang. Die takkantoor van Jehovah se Getuies in Kanada het my genooi om in September by Bethel te begin dien. Hoewel ek skaam was en nooit tevore die takkantoor besoek het nie, was ek opgewonde omdat ander pioniers vir my wonderlike dinge oor Bethel vertel het. Ek het dadelik tuis gevoel.

“WYS VIR DIE BROERS DAT JY VIR HULLE OMGEE”

Twee jaar nadat ek by Bethel aangekom het, het ek Bill Yacos as die groepkneg (nou die koördineerder van die liggaam van ouer manne) van die Shaw-eenheid in Toronto opgevolg. * Omdat ek maar net 23 jaar oud was, het ek soos ’n baie onervare plaasseun gevoel. Maar broer Yacos het my nederig en liefdevol gewys wat om te doen. En Jehovah het my werklik gehelp.

Broer Yacos—’n stewig geboude broer wat geredelik geglimlag het—het in mense belanggestel. Hy was lief vir die broers, en hulle was lief vir hom. Hy het hulle gereeld by hulle huise besoek, nie net wanneer hulle probleme gehad het nie. Bill Yacos het my aangespoor om dit ook te doen en om saam met die broers en susters in die veldbediening te werk. “Ken”, het hy gesê, “wys vir die broers dat jy vir hulle omgee. Dit sal ’n menigte tekortkominge bedek.”

MY VROU BETOON LOJALE LIEFDE

Sedert Januarie 1957 het Jehovah my op ’n spesiale manier gehelp. Daardie maand het ek met Evelyn getrou, wat aan die 14de klas van die Gileadskool gegradueer het. Voordat ons getrou het, het sy in die Franssprekende provinsie Quebec gedien. Destyds was Quebec hoofsaaklik onder die beheer van die Rooms-Katolieke Kerk. Evelyn het dus ’n baie moeilike toewysing gehad, maar sy het lojaal in haar toewysing gebly en Jehovah aangekleef.

Ek en Evelyn is in 1957 getroud

Evelyn was ook lojaal aan my (Ef. 5:31). Om die waarheid te sê, haar lojaliteit is getoets onmiddellik nadat ons getroud is! Ons het beplan om na Florida, VSA, te reis, maar die dag ná ons troue het die takkantoor my gevra om ’n week lange vergadering by die Bethel in Kanada by te woon. Hierdie vergadering het ons planne natuurlik in die wiele gery, maar ek en Evelyn wou enigiets doen wat Jehovah van ons gevra het. Ons het ons wittebrood dus gekanselleer. Gedurende daardie week het sy naby die takkantoor velddiens gedoen. Hoewel die gebied baie van Quebec verskil het, het sy deurgedruk.

Aan die einde van daardie week het ek ’n verrassing ontvang—ek is gestuur om as ’n kringopsiener in die noorde van Ontario te gaan dien. Ek was pas getroud, net 25 jaar oud en baie onervare, maar ons het ons vertroue in Jehovah gestel en ons het vertrek. In die hartjie van die Kanadese winter het ons op ’n nagtrein geklim met ’n aantal ervare reisende opsieners wat na hulle toewysings teruggekeer het. Hulle het ons baie aangemoedig! Een broer het selfs daarop aangedring dat ons sy slaapwa neem sodat ons nie die hele nag regop hoef te sit nie. Die volgende oggend, net 15 dae ná ons troue, het ons die klein groepie in Hornepayne besoek, soos ek vroeër gemeld het.

Nog veranderinge het op my en Evelyn gewag. Terwyl ons laat in 1960 die streekwerk gedoen het, het ek ’n uitnodiging ontvang om die 36ste klas van die Gileadskool by te woon, ’n tien maande lange kursus wat vroeg in Februarie 1961 in Brooklyn, New York, sou begin. Ek was natuurlik baie opgewonde, maar my vreugde was gedemp deur die feit dat Evelyn nie genooi is nie. Soos ander vrouens in dieselfde situasie, is sy gevra om ’n brief te skryf waarin sy sê dat sy instem dat ons vir ’n minimum van tien maande van mekaar geskei sou wees. Evelyn het gehuil, maar ons het saamgestem dat ek die skool moet bywoon, en sy was bly dat ek waardevolle opleiding by Gilead sou ontvang.

Intussen het Evelyn by die Kanadese takkantoor gedien. Sy het die spesiale voorreg geniet om ’n kamer te deel met ’n dierbare gesalfde suster, Margaret Lovell. Ek en Evelyn het natuurlik baie na mekaar verlang. Maar met Jehovah se hulp het ons ons toegelê op ons tydelike toewysings. Haar gewilligheid om ons tyd saam op te offer sodat ons vir Jehovah en sy organisasie nuttiger kan wees, het my diep geraak.

Nadat ek drie maande lank by Gilead was, het broer Nathan Knorr, wat destyds die leiding in die wêreldwye werk geneem het, ’n buitengewone uitnodiging aan my gerig. Hy het my gevra of ek die Gileadskool op daardie stadium sou verlaat en tydelik by die Kanadese takkantoor as ’n instrukteur by die Koninkryksbedieningskool sal gaan dien. Broer Knorr het vir my gesê dat ek nie die uitnodiging hoef te aanvaar nie. Ek kon die kursus by die Gileadskool voltooi as ek wou, en dan sou ek moontlik gevra word om sendingwerk te doen. Hy het ook gesê dat ek dalk nooit weer na Gilead genooi sou word as ek besluit om na Kanada terug te keer nie en dat ek ná verloop van tyd waarskynlik weer gevra sou word om in die Kanadese veld te gaan dien. Hy het gesê dat ek hom kon laat weet wat ons besluit het nadat ek en my vrou daaroor gepraat het.

Aangesien Evelyn reeds vir my gesê het hoe sy teokratiese toewysings beskou, het ek onmiddellik vir broer Knorr gesê: “Ons is gewillig om enigiets te doen wat Jehovah se organisasie ons vra om te doen.” Ons het nog altyd gevoel dat ons moet gaan waar Jehovah se organisasie ons ook al stuur, ongeag ons voorkeure.

In April 1961 het ek Brooklyn dus verlaat en na Kanada teruggekeer om as ’n instrukteur by die Koninkryksbedieningskool te dien. Later het ons as lede van die Bethelgesin begin dien. Tot my verbasing het ek toe ’n uitnodiging ontvang om die 40ste klas van Gilead by te woon, wat in 1965 sou begin. Weer eens moes Evelyn ’n brief skryf waarin sy instem dat ons van mekaar geskei sou word. Maar tot ons groot vreugde het sy ’n paar weke later haar eie uitnodiging ontvang om die skool saam met my by te woon.

Nadat ons by die Gileadskool aangekom het, het broer Knorr vir ons gesê dat studente soos ons, wat vir die Franse klasse ingeskryf is, na Afrika gestuur sou word. Maar by die graduering is ons na Kanada teruggestuur! Ek is as die nuwe takopsiener (nou takkomitee-koördineerder) aangestel. Ek was net 34 jaar oud, en ek het broer Knorr herinner: “Ek is baie jonk.” Maar hy het my gerusgestel. En van die begin af het ek ouer, meer ervare broers by Bethel probeer raadpleeg voordat ek belangrike besluite geneem het.

BETHEL—’N PLEK OM GELEER TE WORD EN ANDER TE LEER

Betheldiens het my wonderlike geleenthede gegee om by ander te leer. Ek het groot bewondering en respek vir die ander lede van die Takkomitee. Ek is ook ten goede beïnvloed deur die honderde voorbeeldige Christenmans en -vroue—jonk en oud—wat ons ontmoet het, hier by die takkantoor en in die verskillende gemeentes waar ons gedien het.

Ek hou oggendaanbidding by die Kanadese Bethel

Betheldiens het my ook die geleentheid gegee om ander te leer en hulle geloof op te bou. Die apostel Paulus het vir Timoteus gesê: “Bly . . . in die dinge wat jy geleer het.” Hy het ook gesê: “Die dinge wat jy by my gehoor het met die ondersteuning van baie getuies, vertrou dit aan getroue mense toe, wat op hulle beurt voldoende bekwaam sal wees om ander te leer” (2 Tim. 2:2; 3:14). Soms vra mede-Christene my watter lesse ek gedurende my 57 jaar van Betheldiens geleer het. My antwoord is eenvoudig: “Doen gewilliglik en onmiddellik wat Jehovah se organisasie wil hê jy moet doen, en vertrou op Jehovah om jou te help.”

Dit voel asof ek net gister as ’n skaam, onervare jong man by Bethel aangekom het. Maar deur al hierdie jare heen het Jehovah ‘my regterhand vasgegryp’. Veral deur middel van die liefde en tydige bystand van medegelowiges hou hy aan om my te verseker: “Moenie bang wees nie. Ek sal jou help.”Jes. 41:13.

^ par. 10 Op 22 Mei 1945 het die Kanadese regering die verbod op ons werk gelig.

^ par. 16 As daar destyds meer as een gemeente in ’n stad was, is die afsonderlike gemeentes eenhede genoem.