Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah is ’n God van organisasie

Jehovah is ’n God van organisasie

“God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede.” —1 KOR. 14:33.

1, 2. (a) Wie was God se eerste skeppingswerk, en hoe het Jehovah hom gebruik? (b) Wat toon dat die engeleleërs georganiseerd is?

JEHOVAH, die Skepper van die heelal, doen dinge op ’n georganiseerde wyse. Sy eerste skeppingswerk was sy enigverwekte Geesseun wat “die Woord” genoem word omdat hy God se vernaamste woordvoerder is. Die Woord dien Jehovah al ontelbare eeue lank, want die Bybel sê: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God.” Daar word ook vir ons gesê: “Alles het deur hom [die Woord] ontstaan, en sonder hom het nie eers een ding ontstaan nie.” ’n Bietjie meer as 2 000 jaar gelede het God die Woord na die aarde toe gestuur, waar hy sy Vader se wil getrou as die volmaakte man Jesus Christus uitgevoer het.Joh. 1:1-3, 14.

2 Gedurende sy voormenslike bestaan het God se Seun lojaal as Sy “meesterwerker” gedien (Spr. 8:30). Deur middel van hom het Jehovah etlike miljoene ander geesskepsele in die hemel geskep (Kol. 1:16). ’n Bybelverslag sê aangaande hierdie engele: “Duisend duisende het [Jehovah] bly dien, en tienduisend maal tienduisend het reg voor hom bly staan” (Dan. 7:10). God se talryke geesskepsele word ook die goed georganiseerde “leërs” van Jehovah genoem.Ps. 103:21.

3. Hoeveel sterre en planete is daar, en hoe is hulle georganiseer?

3 Wat kan gesê word oor die fisiese skepping, soos die tallose sterre en planete? Volgens ’n artikel in die Chronicle van Houston, Texas, is daar in ’n onlangse studie bevind dat daar “300 duisendtriljoen [sterre] is, of drie keer meer as wat wetenskaplikes voorheen bereken het”. Die artikel sê verder: “Dit is ’n 3 gevolg deur 23 nulle. Of 3 biljoen maal 100 miljard.” Die sterre is in sterrestelsels georganiseer, wat elkeen bestaan uit miljarde of selfs biljoene sterre sowel as baie planete. Die meeste sterrestelsels is weer in galaksieswerms en in groter superswerms georganiseer.

4. Waarom is dit redelik om tot die slotsom te kom dat God se knegte op aarde georganiseerd sou wees?

4 Soos die regverdige geesskepsele in die hemel, is die fisiese hemel ook uitstekend georganiseer (Jes. 40:26). Dit is dus logies om tot die slotsom te kom dat Jehovah sy knegte op die aarde sou organiseer. Hy wil hê dat hulle ordelik moet wees, en dit is noodsaaklik omdat daar soveel belangrike werk is wat hulle moet doen. Die uitstekende rekord van getroue diens van Jehovah se aanbidders van die verlede en die hede is ’n kragtige bewys dat hy met hulle was en dat hy “nie ’n God van wanorde [is] nie, maar van vrede”.Lees 1 Korintiërs 14:33, 40.

GOD SE GEORGANISEERDE KNEGTE VAN DIE OU TYD

5. Hoe is die verwesenliking van Jehovah se oorspronklike voorneme tydelik onderbreek?

5 Toe Jehovah die eerste mense geskep het, het hy vir hulle gesê: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit, en die visse van die see en die voëls van die hemel en al die diere wat op die aarde kruip, moet aan julle onderworpe wees” (Gen. 1:28). Die mensegesin moes op ’n georganiseerde wyse vermeerder om die aarde te bevolk en die Paradys uit te brei totdat dit die hele aarde sou bedek. Die verwesenliking van hierdie voorneme is tydelik onderbreek deur Adam en Eva se ongehoorsaamheid (Gen. 3:1-6). Ná verloop van tyd “het Jehovah gesien dat die slegtheid van die mens oorvloedig op die aarde was en dat elke neiging van die gedagtes van sy hart die hele tyd net sleg was”. Gevolglik het “die aarde . . . verdorwe geraak voor die oë van die ware God”, en “die aarde het vol geweld geraak”. Daarom het God besluit om die goddeloses deur middel van ’n wêreldwye vloed te vernietig.Gen. 6:5, 11-13, 17.

6, 7. (a) Waarom het Noag Jehovah se guns geniet? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Wat het met al die ontroue mense in Noag se dag gebeur?

6 Maar “Noag het guns in die oë van Jehovah gevind”, want hy “was ’n regverdige man” wat “onberispelik onder sy tydgenote” was. “Noag het met die ware God gewandel”, en daarom het Jehovah hom beveel om ’n ontsaglike ark te bou (Gen. 6:8, 9, 14-16). Die ontwerp daarvan het dit vir mense en diere moontlik gemaak om die Vloed te oorleef. Noag was gehoorsaam en “het gedoen volgens alles wat Jehovah hom beveel het”, en met die samewerking van sy gesin het hy die bouwerk op georganiseerde wyse voltooi. Nadat die diere in die ark ingebring is, het “Jehovah die deur . . . toegesluit”.Gen. 7:5, 16.

7 Toe die Vloed in 2370 VHJ plaasgevind het, het Jehovah “alles uitgewis wat op die oppervlak van die aarde bestaan het”, terwyl hy die getroue Noag en sy familie veilig in die ark bewaar het (Gen. 7:23). Almal op die aarde is ’n nakomeling van Noag, sy seuns en hulle vrouens. Maar al die mense buite die ark wat geen geloof gehad het nie, is vernietig omdat hulle geweier het om te luister na Noag, “’n prediker van regverdigheid”.2 Pet. 2:5.

Goeie organisasie het agt mense gehelp om die Vloed te oorleef (Sien paragrawe 6, 7)

8. Watter bewyse is daar dat die Israeliete goed georganiseerd was toe God hulle die opdrag gegee het om die Beloofde Land binne te gaan?

8 Meer as agt eeue ná die Vloed het God die Israeliete in ’n nasie georganiseer. Hulle moes goed georganiseerd wees in alle aspekte van hulle lewe en veral wat hulle aanbidding betref. Benewens Israel se talle priesters en Leviete was daar byvoorbeeld “vroue wat georganiseerde diens by die ingang van die tent van samekoms verrig het” (Eks. 38:8). Toe Jehovah God die nasie Israel die opdrag gegee het om Kanaän binne te gaan, was daardie geslag egter ongehoorsaam. Daarom het hy vir hulle gesê: “Julle sal nie in die land ingaan waaroor ek my hand in ’n eed opgehef het om daar by julle te woon nie, behalwe Kaleb, die seun van Jefunne, en Josua, die seun van Nun”, aangesien hulle ’n gunstige verslag gegee het nadat hulle die Beloofde Land verken het (Num. 14:30, 37, 38). In ooreenstemming met God se bevel het Moses Josua later as sy opvolger aangestel (Num. 27:18-23). Toe Josua op die punt gestaan het om die Israeliete in Kanaän in te lei, het Jehovah vir hom gesê: “Wees moedig en sterk. Moenie sidder of verskrik wees nie, want Jehovah jou God is met jou waar jy ook al gaan.”Jos. 1:9.

9. Hoe het Ragab oor Jehovah en sy volk gevoel?

9 Jehovah God was werklik met Josua waar hy ook al gegaan het. Dink byvoorbeeld aan wat gebeur het toe die Israeliete naby die Kanaänitiese stad Jerigo kamp opgeslaan het. In 1473 VHJ het Josua twee manne gestuur om Jerigo te verken, en daar het hulle die prostituut Ragab ontmoet. Sy het hulle op die dak van haar huis weggesteek sodat die manne wat deur Jerigo se koning gestuur is, hulle nie sou vang nie. Ragab het vir die Israelitiese spioene gesê: “Ek weet dat Jehovah beslis die land aan julle sal gee, . . . want ons het gehoor hoe Jehovah die waters van die Rooi See voor julle laat opdroog het . . . en wat julle met die twee konings van die Amoriete gedoen het.” Sy het bygevoeg: “Jehovah julle God is God in die hemel daar bo en op die aarde hier onder” (Jos. 2:9-11). Omdat Ragab haar by Jehovah se organisasie van daardie tyd geskaar het, het God seker gemaak dat sy en haar huisgesin gered is toe die Israeliete Jerigo verower het (Jos. 6:25). Ragab het geloof beoefen, eerbied vir Jehovah gehad en respek vir sy volk getoon.

’N DINAMIESE EERSTE-EEUSE ORGANISASIE

10. Wat het Jesus vir die Joodse godsdiensleiers van sy dag gesê, en waarom het hy dit gesê?

10 Onder Josua se leierskap het die nasie Israel die een stad ná die ander verower en die land Kanaän in besit geneem. Maar wat het later gebeur? Deur die eeue heen het die Israeliete God se wette herhaaldelik verbreek. Teen die tyd dat Jehovah sy Seun na die aarde gestuur het, was hulle so ongehoorsaam aan God en sy woordvoerders dat Jesus gesê het dat Jerusalem vir die dood van die profete verantwoordelik is. (Lees Matteus 23:37, 38.) God het die Joodse godsdiensleiers verwerp omdat hulle aan hom ontrou was. Daarom het Jesus vir hulle gesê: “Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ’n nasie gegee word wat die vrugte daarvan voortbring.”Matt. 21:43.

11, 12. (a) Wat toon dat Jehovah sy seën in die eerste eeu van die Joodse nasie weggeneem het en ’n ander organisasie geseën het? (b) Uit wie het hierdie nuwe organisasie bestaan?

11 In die eerste eeu HJ het Jehovah die ontroue nasie Israel verwerp. Maar dit het nie beteken dat hy nie ’n organisasie van lojale knegte op die aarde sou hê nie. Jehovah het ’n dinamiese nuwe organisasie geseën waarvan Jesus Christus en sy leringe die middelpunt vorm. Dit is op Pinkster 33 HJ gestig. Omtrent 120 dissipels van Jesus was bymekaar op ’n plek in Jerusalem, “en skielik het daar ’n gedruis uit die hemel gekom soos dié van ’n voortstuwende, stywe bries, en dit het die hele huis gevul”. Toe het “tonge soos van vuur . . . vir hulle sigbaar geword en is [dit] verdeel, en een het op elkeen van hulle gaan sit, en hulle is almal met heilige gees vervul en het in ander tale begin praat, net soos die gees aan hulle gegee het om te spreek” (Hand. 2:1-4). Hierdie wonderlike gebeurtenis was ’n onweerlegbare bewys dat die nuwe organisasie, wat uit Christus se dissipels bestaan het, Jehovah se ondersteuning geniet het.

12 Op daardie opwindende dag “is omtrent drieduisend siele bygevoeg” by Jesus se volgelinge. Wat meer is, “Jehovah [het] voortgegaan om daagliks dié wat gered word, by hulle te voeg” (Hand. 2:41, 47). Die bediening van daardie eerste-eeuse predikers was so doeltreffend dat “die woord van God aangehou groei [het], en die aantal dissipels het in Jerusalem geweldig bly toeneem”. Selfs “’n groot menigte priesters het aan die geloof gehoorsaam geword” (Hand. 6:7). Talle opregte mense het dus die waarhede aangeneem wat deur lede van hierdie nuwe organisasie verkondig is. Later het Jehovah op soortgelyke wyse bewys gelewer van sy ondersteuning toe hy begin het om “mense van die nasies” in die Christengemeente in te bring.Lees Handelinge 10:44, 45.

13. Watter werk moes God se nuwe organisasie doen?

13 Dit was duidelik watter werk God aan Christus se volgelinge gegee het om te doen. Jesus self het vir hulle die voorbeeld gestel, aangesien hy kort ná sy doop “die koninkryk van die hemele” begin verkondig het (Matt. 4:17). Jesus het sy dissipels geleer om dieselfde werk te doen. Hy het vir hulle gesê: “Julle sal getuies van my wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Hand. 1:8). Christus se vroeë volgelinge het beslis verstaan wat van hulle vereis word. Toe Paulus en Barnabas in Antiogië, in Pisidië, was, het hulle byvoorbeeld moedig vir hulle Joodse teenstanders gesê: “Dit was nodig dat die woord van God eers tot julle gespreek word. Aangesien julle dit van julle af wegstoot en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie—kyk! ons wend ons tot die nasies. Trouens, Jehovah het ons met hierdie woorde die gebod opgelê: ‘Ek het jou as ’n lig van die nasies aangestel, sodat jy tot aan die einde van die aarde tot ’n redding sal wees’” (Hand. 13:14, 45-47). Vanaf die eerste eeu word die voorsiening wat God gemaak het sodat mense gered kan word, deur die aardse deel van God se organisasie bekendgemaak.

BAIE KOM OM, MAAR GOD SE KNEGTE OORLEEF

14. Wat het in die eerste eeu met Jerusalem gebeur, maar wie het dit oorleef?

14 Die Jode oor die algemeen het nie die goeie nuus aangeneem nie, en daarom sou rampspoed hulle tref, want Jesus het sy dissipels gewaarsku: “Wanneer julle Jerusalem deur leërkampe omsingel sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby gekom het. Laat dié wat in Judea is, dan na die berge begin vlug, en laat dié wat in die stad is, uitgaan, en laat dié wat in die plattelandse plekke is, nie daar ingaan nie” (Luk. 21:20, 21). Wat Jesus voorspel het, het gebeur. As gevolg van ’n Joodse opstand het Romeinse leërs onder die leiding van Cestius Gallus Jerusalem in 66 HJ omsingel. Maar hierdie strydmagte het skielik teruggetrek, en dit het Jesus se volgelinge die geleentheid gegee om Jerusalem en Judea te verlaat. Volgens die geskiedskrywer Eusebius het baie die Jordaanrivier oorgesteek en na Pella in Perea gevlug. In 70 HJ het Romeinse leërs onder bevel van generaal Titus teruggekeer en Jerusalem verwoes. Maar getroue Christene het dit oorleef omdat hulle op Jesus se waarskuwing ag geslaan het.

15. Ten spyte waarvan het die Christelike godsdiens gefloreer?

15 Ondanks die ontberinge, vervolging en ander toetse van geloof wat Christus se volgelinge moes verduur, het die Christelike godsdiens in die eerste eeu gefloreer (Hand. 11:19-21; 19:1, 19, 20). Daardie vroeë Christene was geestelik voorspoedig omdat hulle God se seën geniet het.Spr. 10:22.

16. Wat moes elke Christen doen om geestelik sterk te bly?

16 Om geestelik sterk te bly, moes elke Christen hom inspan. ’n Noukeurige studie van die Skrif, die gereelde bywoning van vergaderinge vir aanbidding en ’n ywerige deelname aan die Koninkrykspredikingswerk was noodsaaklik. Net soos vandag die geval is, het hierdie bedrywighede tot die geestelike gesondheid en eenheid van Jehovah se volk bygedra. Diegene wat met die goed georganiseerde gemeentes geassosieer het, het grootliks baat gevind by die gewilligheid en behulpsaamheid van opsieners en bedieningsknegte (Fil. 1:1; 1 Pet. 5:1-4). En watter vreugde het hulle ongetwyfeld ondervind wanneer reisende ouer manne, soos Paulus, gemeentes besoek het! (Hand. 15:36, 40, 41). Ja, die ooreenkomste tussen ons aanbidding en dié van die eerste-eeuse Christene is merkwaardig. Hoe dankbaar is ons tog dat Jehovah sy knegte destyds georganiseer het, en dit vandag nog steeds doen! *

17. Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

17 Namate Satan se wêreld tydens hierdie laaste dae sy einde nader, beweeg die aardse deel van Jehovah se universele organisasie al hoe vinniger vooruit. Hou jy tred daarmee? Maak jy geestelike vordering? Die volgende artikel sal toon hoe jy dit kan doen.

^ par. 16 Sien die artikels “Christene aanbid met gees en waarheid” en “Hulle hou aan om in die waarheid te wandel” in Die Wagtoring van 15 Julie 2002. ’n Breedvoerige bespreking van die aardse deel van God se hedendaagse organisasie kan gevind word in die boek Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk.