Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘My voedsel is om God se wil te doen’

‘My voedsel is om God se wil te doen’

Wat verskaf jou groot vreugde? Is dit die een of ander aspek van menseverhoudings, soos die huwelik, om ’n gesin groot te maak of om ’n vriendskap aan te kweek? Jy vind dit waarskynlik genotvol om ’n maaltyd saam met geliefdes te eet. Maar vind jy dit nie, as ’n kneg van Jehovah, besonder lonend om God se wil te doen, sy Woord te bestudeer en die goeie nuus te verkondig nie?

Koning Dawid van eertydse Israel het die Skepper in ’n lied geloof en het gesing: “Ek het daarin behae geskep, o my God, om u wil te doen, en u wet is in my ingewande” (Ps. 40:8). Ondanks die ontberinge en druk waarmee Dawid in sy lewe te kampe gehad het, het hy werklik daarin behae geskep om God se wil te doen. Dawid was natuurlik nie die enigste aanbidder van Jehovah wat daarin behae geskep het om die ware God te dien nie.

Die apostel Paulus het die woorde van Psalm 40:8 op die Messias, of Christus, toegepas en geskryf: “Wanneer hy [Jesus] in die wêreld inkom [sê hy]: ‘“Offerande en offergawe wou u nie hê nie, maar u het vir my ’n liggaam berei. U het nie heelbrandoffers en sondoffer goedgekeur nie.” Toe het ek gesê: “Kyk! Ek het gekom (in die boekrol staan daar van my geskrywe) om u wil te doen, o God.”’”Heb. 10:5-7.

Toe Jesus op die aarde was, het hy dit geniet om die skepping waar te neem, tyd saam met vriende deur te bring en maaltye saam met ander te eet (Matt. 6:26-29; Joh. 2:1, 2; 12:1, 2). Maar dit waarin hy die meeste belanggestel het en die grootste behae geskep het, was om sy hemelse Vader se wil te doen. Trouens, Jesus het gesê: “My voedsel is om die wil te doen van hom wat my gestuur het en om sy werk te volbring” (Joh. 4:34; 6:38). Jesus se dissipels het die geheim van ware geluk by hulle Heer geleer. Hulle het die Koninkryksboodskap met groot vreugde gewillig en ywerig aan ander verkondig.Luk. 10:1, 8, 9, 17.

‘GAAN EN MAAK DISSIPELS’

Jesus het sy volgelinge beveel: “Gaan . . . en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het. En kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matt. 28:19, 20). Om hierdie opdrag uit te voer, moet ons met mense praat waar hulle ook al gevind kan word, herbesoeke doen by dié wat belangstelling toon en Bybelstudies met hulle hou. Hierdie werk kan ’n bron van groot vreugde wees.

Liefde beweeg ons om aan te hou preek selfs as mense onverskillig reageer

Ons gesindheid is baie belangrik as ons vreugde uit die bediening wil put, hetsy mense in ons boodskap belangstelling toon of nie. Waarom hou ons aan om die goeie nuus bekend te maak, selfs as mense soms onverskillig reageer? Omdat ons besef dat ons ons liefde vir God en vir ons medemens toon wanneer ons aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk deelneem. Ja, lewens is op die spel—ons eie sowel as dié van ons medemens (Eseg. 3:17-21; 1 Tim. 4:16). Kom ons kyk na ’n paar punte wat baie van ons medewerkers gehelp het om hulle ywer vir die bediening in moeilike gebiede te behou of terug te kry.

GEBRUIK ELKE GELEENTHEID

As ons gepaste vrae in ons bediening gebruik, lewer dit dikwels goeie resultate op. Een oggend het Amalia ’n man in ’n park gesien wat ’n koerant gesit en lees het. Sy het hom genader en gevra of hy enige goeie nuus gelees het. Toe hy nee gesê het, het Amalia gesê: “Ek bring vir jou goeie nuus oor God se Koninkryk.” Dit het die man se belangstelling gewek, en hy het ’n Bybelstudie aanvaar. Trouens, Amalia het drie Bybelstudies in daardie park begin.

Janice het haar werksplek as haar velddiensgebied beskou. Toe ’n sekuriteitswag en sy werksmaat in ’n artikel in Die Wagtoring belangstelling getoon het, het Janice aangebied om gereeld vir hulle die tydskrifte te bring. Sy het dit ook gedoen vir ’n ander medewerker wat gefassineer was deur die verskeidenheid onderwerpe wat in Die Wagtoring en Ontwaak! bespreek word. Dit het daartoe gelei dat ’n ander kollega vir die tydskrifte gevra het. “Wat ’n seën van Jehovah!”, sê Janice. Uiteindelik was daar 11 mense op haar tydskrifroete by die werk.

WEES POSITIEF

’n Reisende opsiener het aanbeveel dat verkondigers nie hulle gesprek met ’n huisbewoner moet afsluit deur eenvoudig te sê dat hulle hulle weer op ’n ander dag sal besoek nie. Hulle kan die persoon eerder vra: “Kan ek vir jou wys hoe ’n Bybelstudie gehou word?”, of “Op watter dag en hoe laat wil jy hê moet ek terugkom om ons gesprek voort te sit?” Die reisende opsiener het gesê dat die broers en susters in een gemeente wat hy besoek het, in een week 44 tuisbybelstudies begin het deur hierdie benadering te gebruik.

Dit kan baie doeltreffend wees om herbesoeke so gou moontlik te doen—selfs binne ’n paar dae ná die eerste besoek. Waarom? Want dit toon dat ons werklik daarin belangstel om opregtes van hart te help om die Bybel te verstaan. Toe ’n vrou gevra is waarom sy ’n Bybelstudie met Jehovah se Getuies aanvaar het, het sy gesê: “Ek het begin studeer omdat hulle my liefdevol behandel het en opregte belangstelling in my getoon het.”

Jy kan die huisbewoner vra: “Kan ek vir jou wys hoe ’n Bybelstudie gehou word?”

Kort nadat Madaí die Pionierdiensskool bygewoon het, het sy 15 Bybelstudies gehad en het sy nog 5 aan ander verkondigers oorhandig. ’n Hele paar van haar Bybelstudente het die vergaderinge gereeld begin bywoon. Wat het Madaí gehelp om soveel studies te begin? Die skool het by haar tuisgebring hoe belangrik dit is om aan te hou om terug te gaan totdat sy diegene gevind het wat aanvanklik belangstelling getoon het. ’n Ander Getuie wat baie mense al gehelp het om Bybelwaarhede te leer, sê: “Ek het geleer dat ’n mens daarin moet volhard om herbesoeke te doen as jy mense wil help wat Jehovah wil leer ken.”

As ons so gou as moontlik herbesoeke doen, toon dit dat ons werklik belangstel in diegene wat die Bybel wil verstaan

Om herbesoeke te doen en Bybelstudies te hou, verg ywerige inspanning. Maar die seëninge is ver groter as die inspanning wat dit verg. As ons ons op die Koninkrykspredikingswerk toelê, kan ons ander help om “tot juiste kennis van die waarheid [te] kom”, en dit kan vir hulle redding beteken (1 Tim. 2:3, 4). Vir ons kan dit tevredenheid en onvergelyklike vreugde meebring.