Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bied ondersteuning aan medegelowiges wat geskei is—Hoe?

Bied ondersteuning aan medegelowiges wat geskei is—Hoe?

Jy ken waarskynlik iemand wat geskei is—dalk ’n hele paar mense. Dit is omdat egskeiding baie algemeen is. Navorsing in Pole het byvoorbeeld aan die lig gebring dat 30-jariges wat tussen drie en ses jaar getroud is, die grootste risiko loop om te skei; en egskeiding is nie tot daardie ouderdomsgroep beperk nie.

Trouens, “statistiek toon dat die helfte van diegene [in Europa] wat trou, sal skei”, sê die Instituut vir Familiebeleid in Spanje. ’n Soortgelyke situasie bestaan in ander ontwikkelde lande.

’N VLOED VAN TEENSTRYDIGE EMOSIES

Wat behels hierdie algemene verskynsel? ’n Ervare huweliksberader in Oos-Europa het gesê: “Egskeiding is ’n amptelike bevestiging van iets wat reeds gebeur het—die verbrokkeling van ’n verhouding wat daartoe lei dat ’n egpaar uitmekaargaan, iets wat emosioneel baie pynlik is.” Sy het bygevoeg: “’n Vloed van sterk, uiterste emosies—woede, spyt, teleurstelling, wanhoop en skaamte” volg dikwels. Soms gee dit aanleiding tot selfmoordgedagtes. “Wanneer die egskeiding deur die hof amptelik verklaar is, begin die volgende fase. Die geskeide persoon voel ’n leemte in hulle lewe en voel van ander vervreemd, en hulle wonder dalk: ‘Wie is ek nou eintlik noudat ek geskei is? Wat is my doel in die lewe?’”

Ewa dink terug aan hoe sy ’n paar jaar gelede gevoel het, en sê: “Ek was baie skaam toe my bure en werksmaats ná my egskeiding na my verwys het as “‘n geskeide vrou”. Ek was vol woede. Ek het twee jong kinders gehad, en ek moes ’n ma en ’n pa vir hulle wees.” * Adam, wat 12 jaar lank ’n gerespekteerde ouer man was, sê: “Ek het so baie van my selfrespek verloor dat ek soms vol woede is en in die versoeking kom om my van almal te onttrek.”

DIE STRYD OM JOU BALANS TE HERWIN

Party word geteister deur angstigheid oor hulle toekoms en sukkel dus om hulle balans te herwin—selfs jare ná die egskeiding. Hulle kan tot die slotsom kom dat ander nie in hulle belangstel nie. Daarbenewens, sê een rubriekskrywer op dié gebied, moet hulle nou “hulle gewoontes verander en leer hoe om probleme alleen die hoof te bied”.

Stanisław vertel: “Ná ons egskeiding het my eksvrou my nie toegelaat om my twee dogtertjies te sien nie. Dit het my laat voel dat niemand meer vir my omgee nie en dat selfs Jehovah my verlaat het. Ek wou nie meer lewe nie. Met verloop van tyd het ek besef hoe verkeerd my denke was.” Toe Wanda geskei was, het onsekerheid oor haar toekoms haar ook gekwel. Sy sê: “Ek was seker dat mense—insluitende medegelowiges—ná ’n rukkie nie meer enige belangstelling in my en my kinders sou toon nie. Maar nou kan ek sien hoeveel die broers hulle oor ons ontferm het en my gehelp het terwyl ek probeer het om my kinders as aanbidders van Jehovah groot te maak.”

Jy kan uit hierdie kommentare aflei dat party mense ná ’n egskeiding deur negatiewe emosies verswelg word. Hulle kan ’n swak selfbeeld ontwikkel en dink dat hulle waardeloos is en nie enige aandag verdien nie. Daarbenewens kan hulle ook krities teenoor ander word. Gevolglik kan hulle begin dink dat die gemeente koud en ongevoelig is. Maar ondervindinge soos dié van Stanisław en Wanda toon dat geskeide persone wel tot die besef kan kom dat hulle broers en susters werklik vir hulle omgee. Trouens, mede-Christene het op uitsonderlike wyse hulp voorsien, selfs wanneer hulle hulp nie aanvanklik raakgesien is nie.

WANNEER HULLE EENSAAM EN VERWORPE VOEL

Ons moet in gedagte hou dat medegelowiges wat geskei is, ondanks ons beste pogings moontlik van tyd tot tyd eensaam sal voel. Veral geskeide susters kan die indruk kry dat min mense in hulle belangstel. Alicja erken: “Ek is al agt jaar geskei. En tog voel ek soms nog steeds minderwaardig. Op sulke tye is ek geneig om my af te sonder, en dan huil ek en bejammer ek myself.”

Hoewel die gevoelens wat hier beskryf word nie ongewoon is vir iemand wat ’n egskeiding deurmaak nie, waarsku die Bybel dat ’n mens jou nie moet afsonder nie. As ’n mens hierdie raad verontagsaam, kan dit daartoe lei dat jy “alle praktiese wysheid” verwerp (Spr. 18:1). As ’n geskeide persoon eensaam voel, moet hy egter verstaan dat dit ’n bewys van praktiese wysheid is om nie herhaaldelik raad of vertroosting by iemand van die teenoorgestelde geslag te soek nie. Sodoende sal hy nie in die versoeking kom om ongepaste romantiese gevoelens vir iemand te ontwikkel nie.

Ons geskeide medegelowiges word moontlik geteister deur verontrustende emosies. Hulle bekommer hulle oor die toekoms en kan eensaam en verworpe voel. Aangesien ons besef dat sulke gevoelens algemeen is en terselfdertyd moeilik is om te oorkom, moet ons Jehovah navolg deur hierdie broers en susters lojaal te ondersteun (Ps. 55:22; 1 Pet. 5:6, 7). Ons kan seker wees dat hulle enige hulp wat ons aanbied, baie sal waardeer. Ja, in die gemeente sal hulle bystand van ware vriende kry!—Spr. 17:17; 18:24.

^ par. 6 Van die name is verander.