Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Jy moet Jehovah jou God liefhê”

“Jy moet Jehovah jou God liefhê”

“Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.”—MATT. 22:37.

1. Waarom het God en sy Seun se liefde vir mekaar gegroei?

JEHOVAH se Seun, Jesus Christus, het gesê: ‘Ek het die Vader lief’ (Joh. 14:31). Jesus het ook gesê: “Die Vader het geneentheid vir die Seun” (Joh. 5:20). Dit moet ons nie verbaas nie. Tydens Jesus se voormenslike bestaan was hy immers ontelbare eeue lank God se “meesterwerker” (Spr. 8:30). Terwyl Jehovah en Jesus saam gewerk het, het die Seun baie oor sy Vader se eienskappe geleer en tallose redes gehad om hom lief te hê. Trouens, hierdie noue omgang het hulle liefde vir mekaar laat groei.

2. (a) Wat behels liefde? (b) Watter vrae sal ons bespreek?

2 Liefde behels innige geneentheid vir iemand. Die psalmis Dawid het gesing: “Ek sal geneentheid vir u hê, o Jehovah, my sterkte” (Ps. 18:1). Dit is hoe ons omtrent God moet voel, want hy het geneentheid vir ons. As ons Jehovah gehoorsaam, sal hy sy liefde vir ons toon. (Lees Deuteronomium 7:12, 13.) Maar is dit vir ons moontlik om God werklik lief te hê, aangesien ons hom nie kan sien nie? Wat beteken dit om Jehovah lief te hê? Waarom moet ons vir hom lief wees? En hoe kan ons ons liefde vir God toon?

WAAROM ONS GOD KAN LIEFHÊ

3, 4. Waarom is dit vir ons moontlik om Jehovah lief te hê?

3 “God is ’n Gees”, en daarom kan ons hom nie sien nie (Joh. 4:24). Maar dit is moontlik om Jehovah lief te hê, en die Skrif beveel ons om daardie liefde te toon. Moses het byvoorbeeld vir die Israeliete gesê: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en al jou lewenskrag.”—Deut. 6:5.

4 Waarom is dit vir ons moontlik om innige liefde vir God te hê? Omdat hy ons met ’n geestelike behoefte geskep het en die vermoë gegee het om liefde te openbaar. As ons ons geestelike behoefte bevredig, sal ons liefde vir Jehovah groei en sal ons ’n goeie grondslag vir geluk hê. “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte”, het Jesus gesê, “want die koninkryk van die hemele behoort aan hulle” (Matt. 5:3). Aangaande wat party die mens se ingebore begeerte om te aanbid noem, is daar al gesê: “Dit behoort ons met ontsag, verwondering en eerbied te vervul om te sien hoe universeel die mens se soeke na en geloof in ’n opperwese is.”—Man Does Not Stand Alone, deur A.C. Morrison.

5. Hoe weet ons dat dit nie nutteloos is om na God te soek nie?

5 Is dit nutteloos om na God te soek? Nee, want hy wil hê dat ons hom moet vind. Die apostel Paulus het dit duidelik gemaak toe hy getuig het vir ’n groep wat bymekaargekom het op die Areopagus. Die Partenon—’n tempel wat toegewy was aan Atena, die beskermgodin van eertydse Atene—was van daar af sigbaar. Stel jou voor dat jy daar is en hoor hoe Paulus praat van “die God wat die wêreld en alles daarin gemaak het” en dan verduidelik dat Hy “nie in handgemaakte tempels [woon] nie”. Die apostel voeg by dat God “uit een mens elke nasie van die mense gemaak [het] om op die hele oppervlak van die aarde te woon, en hy het die vasgestelde tye en die bepaalde grense van die woonplek van die mense verorden, sodat hulle God sou soek, indien hulle na hom sou tas en hom werklik sou vind, hoewel hy eintlik nie ver van elkeen van ons af is nie” (Hand. 17:24-27). Ja, mense kan God vind. Meer as sewe en ’n half miljoen Getuies van Jehovah ‘het hom werklik gevind’—en hulle het hom waarlik lief.

WAT DIT BETEKEN OM GOD LIEF TE HÊ

6. Wat het Jesus gesê is “die grootste en eerste gebod”?

6 Ons liefde vir Jehovah moet uit die hart voortspruit. Jesus het dit duidelik gemaak toe ’n Fariseër gevra het: “Leermeester, wat is die grootste gebod in die Wet?” Jesus het geantwoord: “‘Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die grootste en eerste gebod.”—Matt. 22:34-38.

7. Wat beteken dit om God lief te hê met (a) ons “hele hart”? (b) ons “hele siel”? (c) ons “hele verstand”?

7 Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het dat ons God moet liefhê met ons “hele hart”? Hy het bedoel dat ons Jehovah met ons hele figuurlike hart, wat ons begeertes, emosies en gevoelens insluit, moet liefhê. Ons moet hom ook met ons “hele siel”, ons lewe en hele wese, liefhê. Wat meer is, ons moet God liefhê met ons “hele verstand”, of ons volle denkvermoë. Kortom, ons moet Jehovah volkome liefhê, sonder om enigiets terug te hou.

8. Wat sal dit ons beweeg om te doen as ons God volkome liefhet?

8 As ons God met ons hele hart, siel en verstand liefhet, sal ons sy Woord noukeurig bestudeer, sy voorneme heelhartig ondersteun en die goeie nuus van die Koninkryk ywerig verkondig (Matt. 24:14; Rom. 12:1, 2). Ware liefde vir Jehovah sal ons al hoe nader aan hom laat kom (Jak. 4:8). Ons kan natuurlik nie al die redes noem waarom ons God moet liefhê nie. Maar kom ons kyk na ’n paar.

WAAROM ONS JEHOVAH MOET LIEFHÊ

9. Waarom is jy lief vir Jehovah as ons Skepper en Voorsiener?

9 Jehovah is ons Skepper en ons Voorsiener. “Deur hom het ons lewe en beweeg en bestaan ons”, het Paulus gesê (Hand. 17:28). Jehovah het ons ons pragtige aardse tuiste gegee (Ps. 115:16). Hy voorsien ook voedsel en ander dinge wat ons nodig het om te lewe. Paulus kon dus vir die afgodsaanbiddende inwoners van Listra sê dat “die lewende God . . . homself . . . nie sonder getuienis gelaat het nie deurdat hy goed gedoen het deur vir julle reëns uit die hemel en vrugbare tye te gee en julle harte geheel en al met voedsel en vrolikheid te vul” (Hand. 14:15-17). Is dit nie ’n goeie rede om ons Grootse Skepper en liefdevolle Voorsiener lief te hê nie?—Pred. 12:1.

10. Hoe moet ons voel oor God se voorsiening om ons van die sonde en die dood te bevry?

10 God het dit vir ons moontlik gemaak om van die sonde en die dood, wat ons van Adam geërf het, bevry te word (Rom. 5:12). Trouens, “hierin beveel God sy eie liefde by ons aan, dat Christus vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was” (Rom. 5:8). Ons hart loop ongetwyfeld oor van liefde vir Jehovah omdat hy dit vir ons moontlik gemaak het om vergifnis van ons sondes te ontvang as ons berouvol is en geloof in Jesus se losprysoffer beoefen.—Joh. 3:16.

11, 12. Watter redes vir hoop het Jehovah ons gegee?

11 Jehovah ‘gee hoop wat ons met vreugde en vrede vervul’ (Rom. 15:13). Godgegewe hoop stel ons in staat om toetse van geloof te verduur. Gesalfdes wat ‘selfs tot in die dood getrou bly, sal die kroon van die hemelse lewe gegee word’ (Op. 2:10). Diegene met ’n aardse hoop wat hulle onkreukbaarheid handhaaf, sal ewige seëninge in die beloofde aardse Paradys geniet (Luk. 23:43). Hoe voel ons oor hierdie vooruitsigte? Word ons nie met vreugde en vrede sowel as liefde vir die Gewer van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk” vervul nie?—Jak. 1:17.

12 God het ons die hartverblydende opstandingshoop gegee (Hand. 24:15). Die dood van ’n geliefde laat ons natuurlik baie hartseer voel, maar weens die opstandingshoop “treur [ons nie] soos die res wat geen hoop het nie” (1 Tess. 4:13). Uit liefde verlang Jehovah God vurig om die dooies op te wek, veral getroues, soos die regverdige Job (Job 14:15). Stel jou voor wat ’n vreugdevolle tyd dit sal wees wanneer geliefdes hier op aarde opgewek word. Hoe loop ons hart tog oor van liefde vir ons hemelse Vader, wat ons die wonderlike opstandingshoop gegee het!

13. Watter bewyse is daar dat God werklik vir ons omgee?

13 Jehovah gee werklik vir ons om. (Lees Psalm 34:6, 18, 19; 1 Petrus 5:6, 7.) Omdat ons weet dat ons liefdevolle God altyd bereid is om diegene te help wat aan hom getrou is, voel ons veilig as deel van ‘die skape van sy weiding’ (Ps. 79:13). Wat meer is, die dinge wat God deur middel van die Messiaanse Koninkryk vir ons gaan doen, sal duidelik bewys lewer van God se liefde vir ons. Nadat sy gekose Koning, Jesus Christus, geweld, onderdrukking en goddeloosheid uit die weg geruim het, sal gehoorsame mense met blywende vrede en voorspoed geseën word (Ps. 72:7, 12-14, 16). Jy stem sekerlik saam dat hierdie vooruitsigte ons goeie rede gee om ons liefdevolle God met ons hele hart, siel, krag en verstand lief te hê.—Luk. 10:27.

14. Watter onskatbare voorreg het God ons gegee?

14 Jehovah het ons die onskatbare voorreg gegee om as sy Getuies te dien (Jes. 43:10-12). Ons is lief vir God omdat hy ons die geleentheid gegee het om sy soewereiniteit te ondersteun en om ware hoop te bring aan mense in hierdie wêreld vol probleme. Wat meer is, ons kan met geloof en oortuiging praat omdat ons die goeie nuus verkondig wat gebaseer is op die Woord van die ware God, wie se hoopinboesemende beloftes nooit onvervuld bly nie. (Lees Josua 21:45; 23:14.) Die lys van seëninge en die redes waarom ons Jehovah liefhet, is natuurlik oneindig. Maar hoe kan ons ons liefde vir hom toon?

HOE KAN ONS ONS LIEFDE VIR GOD TOON

15. Hoe kan die studie en toepassing van God se Woord ons help?

15 Bestudeer God se Woord ywerig en pas dit noukeurig toe. As ons dit doen, toon dit dat ons vir Jehovah lief is en werklik wil hê dat sy woord ‘’n lig vir ons pad’ moet wees (Ps. 119:105). Wanneer ons angstig voel, kan ons vertroosting put uit die liefdevolle versekerings daarin. Dit sê byvoorbeeld: “’n Gebroke en verbryselde hart, o God, sal u nie verag nie.” “U liefderyke goedhartigheid, o Jehovah, [het] my bly onderskraag. Toe my verontrustende gedagtes binne-in my baie geword het, het u vertroostinge my siel begin streel” (Ps. 51:17; 94:18, 19). Jehovah betoon barmhartigheid teenoor diegene wat ly, en Jesus voel eweneens innig jammer vir mense (Jes. 49:13; Matt. 15:32). Wanneer ons die Bybel bestudeer, kan dit ons so bewus maak van Jehovah se liefdevolle sorg vir ons dat ons beweeg word om hom innig lief te hê.

16. Hoe kan gereelde gebed ons liefde vir God laat groei?

16 Bid gereeld tot God. Ons gebede help ons om al hoe nader aan die “Hoorder van die gebed” te kom (Ps. 65:2). Wanneer ons sien dat God ons gebede verhoor, neem ons liefde vir hom toe. Byvoorbeeld, ons het dalk al gesien dat hy nie toelaat dat ons versoek word bo wat ons kan verdra nie (1 Kor. 10:13). As ons ernstig tot Jehovah bid wanneer ons angstig is, sal ons heel waarskynlik die onvergelyklike “vrede van God” ervaar (Fil. 4:6, 7). Soms doen ons dalk ’n stille gebed—soos Nehemia gedoen het—en besef ons dat dit verhoor word (Neh. 2:1-6). Namate ons ‘volhou met gebed’ en sien dat Jehovah ons versoeke verhoor, groei ons liefde vir hom asook ons vertroue dat hy ons sal help om verdere toetse van geloof die hoof te bied.—Rom. 12:12.

17. Hoe sal ons vergaderingbywoning beskou as ons God liefhet?

17 Maak ’n gewoonte daarvan om Christelike vergaderinge en byeenkomste by te woon (Heb. 10:24, 25). Die Israeliete het bymekaargekom om te luister en om van Jehovah te leer sodat hulle ontsag vir hom kon hê en sy Wet kon onderhou (Deut. 31:12). Dit is nie ’n las om God se wil te doen as ons hom werklik liefhet nie. (Lees 1 Johannes 5:3.) Laat ons dus nooit toelaat dat enigiets daartoe lei dat ons vergaderingbywoning ligtelik opneem nie. Ons wil sekerlik nie hê dat enigiets ons ons eerste liefde vir Jehovah moet laat verloor nie.—Op. 2:4.

18. Wat beweeg liefde vir God ons om in verband met die goeie nuus te doen?

18 Verkondig ywerig “die waarheid van die goeie nuus” (Gal. 2:5). Ons liefde vir God beweeg ons om ander te vertel van die Messiaanse Koninkryk van sy geliefde Seun, wat by Armageddon ‘ter wille van waarheid sal ry’ (Ps. 45:4; Op. 16:14, 16). Watter vreugde verskaf dit ons tog om ’n aandeel aan die dissipelmaakwerk te hê deur mense te help om van God se liefde en sy beloofde nuwe wêreld te leer!—Matt. 28:19, 20.

19. Waarom moet ons Jehovah se reëling waardeer van opsieners wat as herders oor ons toesig hou?

19 Toon waardering vir God se reëling van opsieners wat as herders oor ons toesig hou (Hand. 20:28). Christen- ouer manne is ’n voorsiening van Jehovah, en Hy dra altyd ons belange op die hart. Die ouer manne is “soos ’n skuilplek teen die wind en ’n skuiling teen die reënstorm . . . , soos waterstrome in ’n waterlose land, soos die skaduwee van ’n groot, swaar rots in ’n uitgeputte land” (Jes. 32:1, 2). Hoe waardeer ons tog iets wat skuiling bied teen ’n sterk wind of ’n ysige reënstorm! Wanneer ons die skroeiende hitte van die son voel, is ons dankbaar vir die skadu van ’n groot rots. Hierdie beeldspraak help ons om te sien dat die ouer manne die nodige geestelike hulp en verkwikking voorsien. Wanneer ons gehoorsaam is aan diegene wat die leiding onder ons neem, wys ons hoeveel ons hierdie “gawes in die vorm van mense” waardeer en lewer dit bewys van ons liefde vir God en Christus, die Hoof van die gemeente.—Ef. 4:8; 5:23; Heb. 13:17.

Jehovah het herders voorsien wat opregte belangstelling in die kudde toon (Sien paragraaf 19)

LAAT JOU LIEFDE VIR GOD VOORTDUREND TOENEEM

20. Hoe sal jy op Jakobus 1:22-25 reageer as jy God liefhet?

20 As jy Jehovah liefhet, sal jy ‘’n dader van die woord en nie net ’n hoorder’ wees nie. (Lees Jakobus 1:22-25.) ’n “Dader” het geloof wat werke soos ’n ywerige deelname aan die predikingswerk en Christelike vergaderinge voortbring. Omdat jy God werklik liefhet, sal jy Jehovah se “volmaakte wet” gehoorsaam, wat alles insluit wat hy van jou vereis.—Ps. 19:7-11.

21. Met wat kan jou hartgrondige gebede vergelyk word?

21 Liefde vir Jehovah God sal jou beweeg om dikwels uit die hart tot hom te bid. Die psalmis Dawid het klaarblyklik verwys na die reukwerk wat daagliks onder die Wetsverbond gebrand is toe hy gesing het: “Mag my gebed soos reukwerk voor u [Jehovah] berei word, die opheffing van my palms soos die aandgraanoffer” (Ps. 141:2; Eks. 30:7, 8). Mag jou nederige versoeke, jou opregte smeekbedes en jou hartgrondige woorde van lof en danksegging vir God soos welriekende reukwerk wees, wat aanneemlike gebede uitbeeld.—Op. 5:8.

22. Watter soort liefde sal ons in die volgende artikel bespreek?

22 Jesus het gesê dat ons God sowel as ons naaste moet liefhê (Matt. 22:37-39). Soos ons in ’n verdere bespreking van hierdie eienskap sal sien, sal ons liefde vir Jehovah en sy beginsels ons help om liefde aan ons naaste te betoon.