Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Beskou jy menslike swakheid soos Jehovah dit beskou?

Beskou jy menslike swakheid soos Jehovah dit beskou?

“Dié lede van die liggaam wat swakker lyk, [is] nodig.” —1 KOR. 12:22.

1, 2. Waarom kon Paulus simpatie met die swakkes hê?

ONS almal voel soms swak. ’n Verkoue of allergieë kan ons so swak laat voel dat ons dit moeilik vind om ons daaglikse bedrywighede uit te voer. Stel jou nou voor dat jy swak voel, nie net ’n week of twee nie, maar maande lank. Sal jy dit nie waardeer as ander jou met empatie behandel as jy in so ’n situasie is nie?

2 Die apostel Paulus het geweet hoe dit voel om druk van buite sowel as binne die gemeente te ondervind en selfs daardeur verswak te word. Hy het meer as een keer gedink dat hy nie meer kon voortgaan nie (2 Kor. 1:8; 7:5). Toe Paulus teruggedink het aan sy lewe en al die ontberinge wat hy as ’n getroue Christen verduur het, het hy erken: “Wie is swak en ek is nie swak nie?” (2 Kor. 11:29). En aangaande die verskeie lede van die Christengemeente, wat hy met liggaamsdele vergelyk het, het Paulus gesê dat dié wat “swakker lyk, nodig is” (1 Kor. 12:22). Wat het hy bedoel? Waarom moet ons diegene wat swakker lyk, beskou soos Jehovah hulle beskou? En hoe sal ons hierby baat vind?

JEHOVAH SE BESKOUING VAN MENSLIKE SWAKHEID

3. Wat kan ’n uitwerking hê op ons beskouing van diegene in die gemeente wat hulp nodig het?

3 Ons lewe in ’n mededingende wêreld waar krag en jeug dikwels verheerlik word. Baie mense sal enigiets doen om hulle sin te kry en vertrap dikwels die gevoelens van diegene wat swakker is. Hoewel ons nie sulke gedrag goedkeur nie, kan ons onbewustelik ’n negatiewe beskouing ontwikkel van diegene wat gereeld hulp nodig het, selfs in die gemeente. Maar ons kan ’n meer gebalanseerde beskouing, soos dié van God, aankweek.

4, 5. (a) Hoe help die illustrasie in 1 Korintiërs 12:21-23 ons om Jehovah se beskouing van menslike swakheid te verstaan? (b) Hoe kan ons daarby baat vind as ons die swakkes help?

4 Die illustrasie wat Paulus in sy eerste brief aan die Korintiërs gebruik het, gee ons insig in die manier waarop Jehovah menslike swakheid beskou. In hoofstuk 12 herinner Paulus ons dat selfs die onaantreklikste of die swakste liggaamsdeel nodig is. (Lees 1 Korintiërs 12:12, 18, 21-23.) Hierdie idee is al dikwels deur party evolusioniste bevraagteken. Wetenskaplikes wat die bou van die menseliggaam bestudeer, het nietemin bevind dat liggaamsdele wat voorheen as nutteloos beskou is, in werklikheid noodsaaklike funksies verrig. * Party het byvoorbeeld gedink dat die kleintoontjie onnodig is, maar daar word nou erken dat dit die balans van die hele liggaam beïnvloed.

5 Paulus se illustrasie beklemtoon dat alle lede van die Christengemeente nuttig is. Anders as Satan, wat mense van hulle waardigheid beroof, beskou Jehovah al sy knegte as “nodig”, insluitende dié wat swakker lyk (Job 4:18, 19). Hierdie gedagte behoort elkeen van ons goed te laat voel oor die rol wat ons in ons plaaslike gemeente speel en omdat ons deel van God se aardwye volk is. Byvoorbeeld, dink aan ’n keer toe jy hulp verleen het aan ’n bejaarde persoon wat sukkel om te loop. Jy moes waarskynlik stadiger loop. Het die feit dat jy hulp verleen het, nie ’n goeie doel gedien en jou goed laat voel nie? Ja, wanneer ons hulp aan ander verleen, verskaf dit ons vreugde en groei ons wat geduld, liefde en volwassenheid betref (Ef. 4:15, 16). Ons liefdevolle Vader weet dat ’n gemeente waarin al die lede ondanks hulle beperkings as waardevol beskou word, balans en liefde weerspieël.

6. Hoe het Paulus soms die woorde “swak” en “sterk” gebruik?

6 Interessant genoeg, in sy brief aan die Korintiërs het Paulus die woorde “swak” en “swakheid” gebruik toe hy verwys het na die manier waarop ongelowiges eerste-eeuse Christene beskou het asook hoe hy homself beskou het (1 Kor. 1:26, 27; 2:3). Toe Paulus gepraat het van diegene wat “sterk” was, was sy bedoeling nie om party Christene meerderwaardig te laat voel nie (Rom. 15:1). Hy het eerder bedoel dat Christene wat meer ervare is, geduldig moet wees met diegene wat nog nie stewig in die waarheid gewortel is nie.

MOET ONS ONS BESKOUING AANPAS?

7. Wat kan ons daarvan weerhou om diegene te help wat hulp nodig het?

7 Wanneer ons aan “die geringe” hulp verleen, volg ons Jehovah na en verkry ons sy goedkeuring (Ps. 41:1; Ef. 5:1). Maar ons moet erken dat ’n negatiewe beskouing van diegene wat hulp nodig het, ons soms daarvan kan weerhou om hulle te help. Of omdat ons nie seker is wat ons moet sê nie, kan ons verleë voel en iemand wat ’n moeilike tyd deurmaak, vermy. Cynthia, * ’n suster wie se man haar verlaat het, sê: “As broers jou vermy of nie optree soos jy van hegte vriende sou verwag nie, kan dit jou seermaak. Wanneer jy beproewinge deurmaak, het jy mense om jou nodig.” Dawid van ouds het geweet hoe dit voel om vermy te word.—Ps. 31:12.

8. Wat sal ons help om meer empatie te hê?

8 Ons sal waarskynlik meer empatie hê as ons onthou dat party van ons dierbare broers en susters verswak is deur moeilike omstandighede, soos swak gesondheid, ’n verdeelde huisgesin of depressie. Ons kan ons eendag in ’n soortgelyke situasie bevind. Voordat die Israeliete, wat arm en swak in Egipte was, die Beloofde Land binnegegaan het, is hulle vermaan om nie hulle ‘hart te verhard’ teenoor hulle geteisterde broers nie. Jehovah het van hulle verwag om hulle arm broers te help.—Deut. 15:7, 11; Lev. 25:35-38.

9. Wat moet ons eerstens doen wanneer ons diegene help wat ontberinge verduur? Lig toe.

9 Eerder as om diegene met moeilike omstandighede te oordeel of agterdogtig teenoor hulle te wees, moet ons geestelike vertroosting aan hulle bied (Job 33:6, 7; Matt. 7:1). Ter toeligting: Sê nou iemand is in ’n motorfietsongeluk beseer en word na die ongevalleafdeling geneem. Sal die mediese span eers probeer vasstel of hy die ongeluk veroorsaak het? Nee, hulle voorsien onmiddellik die nodige mediese bystand. Net so moet ons eerstens geestelike hulp voorsien as ’n medegelowige weens persoonlike probleme swak geword het.—Lees 1 Tessalonisense 5:14.

10. Hoe kan party wat swak lyk, in werklikheid “ryk in geloof” wees?

10 As ons ’n oomblik neem om oor ons broers se omstandighede na te dink, kan ons hulle skynbare swakheid in ’n ander lig beskou. Dink aan susters wat al jare lank gesinsteenstand verduur. Party van hulle het dalk ’n nederige voorkoms en lyk broos, en tog openbaar hulle uitsonderlike geloof en innerlike krag. Wanneer jy ’n enkelmoeder sien wat vergaderinge gereeld met haar kind of kinders bywoon, is jy sekerlik beïndruk deur haar geloof en vasbeslotenheid. En dan is daar tieners wat die waarheid aankleef ondanks die slegte invloede by die skool. Ons erken in alle beskeidenheid dat sulke persone, wat swakker lyk, dalk net so “ryk in geloof” is soos diegene onder ons wat gunstige omstandighede het.—Jak. 2:5.

VERKRY JEHOVAH SE BESKOUING

11, 12. (a) Wat sal ons help om ons beskouing van menslike swakheid aan te pas? (b) Wat leer ons uit Jehovah se handelinge met Aäron?

11 As ons dink aan hoe Jehovah sake in die geval van party van sy knegte hanteer het, sal dit ons help om sy beskouing van menslike swakheid te verkry. (Lees Psalm 130:3.) Byvoorbeeld, sê nou jy was saam met Moses toe hy na Aäron se flou verskonings moes luister nadat hy ’n beeld van ’n goue kalf gemaak het (Eks. 32:21-24). Of wat sou jy gedink het van Aäron se gesindheid toe hy deur Mirjam beïnvloed is om Moses te kritiseer omdat hy met ’n uitlandse vrou getrou het? (Num. 12:1, 2). Hoe sou jy gereageer het toe Moses en Aäron Jehovah nie geëer het toe Hy op wonderdadige wyse by Meriba water voorsien het nie?—Num. 20:10-13.

12 In elkeen van hierdie situasies kon Jehovah Aäron dadelik gestraf het. Maar hy het geweet dat Aäron nie ’n slegte persoon was nie. Aäron het blykbaar foute begaan omdat hy in moeilike situasies was of toegelaat het dat ander hom beïnvloed. Maar toe sy foute vir hom uitgewys is, het hy dit geredelik erken en Jehovah se oordele ondersteun (Eks. 32:26; Num. 12:11; 20:23-27). Jehovah het gekies om op Aäron se geloof en berouvolle gesindheid te konsentreer. Aäron en sy nakomelinge is eeue later nog steeds onthou as mense wat Jehovah gevrees het.—Ps. 115:10-12; 135:19, 20.

13. Hoe kan ons ons beskouing van menslike swakheid ontleed?

13 Om Jehovah se beskouing te verkry, moet ons ons beskouing ontleed van dié wat swak lyk (1 Sam. 16:7). Byvoorbeeld, hoe reageer ons as ’n tiener nie goeie oordeel in sy keuse van vermaak aan die dag lê nie of as hy ’n traak-my-nie-agtige gesindheid openbaar? Eerder as om oorkrities te wees, kan ons dink aan hoe ons hom kan help om tot volwassenheid te groei. Ons kan die inisiatief neem om iemand te help wat hulp nodig het, en sodoende groei ons in werklikheid in begrip en liefde.

14, 15. (a) Hoe het Jehovah gevoel oor Elia se tydelike gebrek aan moed? (b) Watter les kan ons uit Elia se ondervinding leer?

14 Ons kan ook ’n breër beskouing van ander verkry deur ons denke te vergelyk met Jehovah se handelinge met party van sy knegte wat neerslagtig was. Elia was een van hulle. Hoewel hy 450 profete van Baäl onbevrees gekonfronteer het, het Elia gevlug toe hy uitgevind het dat koningin Isebel beplan om hom dood te maak. Nadat hy sowat 150 kilometer na Berseba geloop het, het hy diep in die wildernis ingegaan. Uitgeput deur hierdie staptog in die skroeiende son, het die profeet onder ’n boom gaan sit en “[gevra] dat sy siel moet sterf”.—1 Kon. 18:19; 19:1-4.

Jehovah het Elia se beperkings in ag geneem en ’n engel gestuur om hom aan te moedig (Sien paragrawe 14, 15)

15 Hoe het Jehovah gevoel toe hy uit die hemel gekyk het en gesien het hoe wanhopig sy getroue profeet was? Het hy sy kneg verwerp omdat hy tydelik terneergedruk was en moed verloor het? Glad nie! Jehovah het Elia se beperkings in ag geneem en ’n engel gestuur. Die engel het Elia twee keer aangespoor om te eet sodat die reis wat vir hom voorgelê het, nie ‘vir hom te veel sou wees’ nie. (Lees 1 Konings 19:5-8.) Ja, voordat Jehovah Elia enige instruksies gegee het, het hy na sy profeet geluister en praktiese stappe gedoen om hom te versterk.

16, 17. Hoe kan ons Jehovah navolg in die manier waarop hy vir Elia gesorg het?

16 Hoe kan ons ons liefdevolle God navolg? Ons moenie gou wees om raad te gee nie (Spr. 18:13). Dit sal beter wees om eers die tyd te neem om empatie uit te spreek teenoor diegene wat dalk dink dat hulle “minder eerbaar” is weens hulle persoonlike omstandighede (1 Kor. 12:23). Dan sal ons weet wat die persoon werklik nodig het en sal ons hom kan help.

17 Byvoorbeeld, dink aan Cynthia, wat vroeër aangehaal is. Toe haar man haar verlaat het, was sy en haar twee dogters alleen. Hoe het party mede-Getuies gereageer? Sy verduidelik: “Nadat ons hulle gebel het en vir hulle gesê het wat gebeur het, was hulle binne 45 minute by ons huis. Hulle was in trane. Hulle het ons die eerste twee of drie dae nie alleen gelaat nie. Omdat ons nie behoorlik geëet het nie en baie emosioneel was, het ons ’n rukkie by hulle gaan bly.” Dit herinner ons waarskynlik aan wat Jakobus geskryf het: “As ’n broer of ’n suster in ’n naakte toestand is en die nodige voedsel vir die dag kortkom en een van julle nogtans vir hulle sê: ‘Gaan in vrede, bly warm en goed gevoed’, maar julle gee hulle nie die nodige vir hulle liggaam nie, watter nut het dit? So is ook geloof, as dit nie werke het nie, op sigself dood” (Jak. 2:15-17). Danksy die tydige ondersteuning van plaaslike broers en susters, het Cynthia en haar dogters die krag gevind om net ses maande ná hulle traumatiese ondervinding hulppionierdiens te doen.—2 Kor. 12:10.

VOORDELE VIR BAIE

18, 19. (a) Hoe kan ons diegene help wat tydelik swak is? (b) Wie vind daarby baat wanneer ons diegene help wat voel dat hulle swak is?

18 Jy weet dalk uit eie ondervinding dat dit tyd kan neem om te herstel as jy baie siek was. Net so het ’n Christen wat deur persoonlike probleme of baie moeilike omstandighede verswak is, moontlik tyd nodig om weer geestelik sterk te word. Hy moet weliswaar sy eie geloof deur persoonlike studie, gebed en ander Christelike bedrywighede opbou. Maar sal ons geduldig wees totdat hy sy balans terugkry? En sal ons gedurende hierdie hersteltyd aanhou om liefde te betoon? Sal ons diegene wat tydelik verswak is, probeer help om te voel dat ons hulle waardeer en vir hulle lief is?—2 Kor. 8:8.

19 Ons ervaar die besondere vreugde wat dit meebring om te gee wanneer ons ons broers ondersteun. Ons leer ook hoe om meer medelye en geduld te hê. Maar ons is nie die enigstes wat daarby baat vind nie. Die hele gemeente groei wat hartlikheid en liefde betref. Bowenal volg ons Jehovah na, wat elke individu as kosbaar beskou. Ja, ons het almal goeie rede om gehoor te gee aan die aansporing om ‘die swakkes by te staan’.—Hand. 20:35.

^ par. 4 In sy boek The Descent of Man het Charles Darwin ’n aantal liggaamsorgane as “nutteloos” beskryf. ’n Voorstander van sy teorie het beweer dat daar tientalle “onderontwikkelde organe” in die menseliggaam is, insluitende die blindederm en die timusklier.

^ par. 7 Naam is verander.