Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Onthou jy?

Onthou jy?

Het jy die onlangse nommers van Die Wagtoring noukeurig gelees? Wel, kyk of jy die volgende vrae kan beantwoord:

Hoe laat moes die Pasgalam op 14 Nisan geslag word?

Party Bybelvertalings sê dat dit “tussen die twee aande” geslag moes word, dit wil sê met skemer of teen die aand—nadat die son gesak het, maar voordat dit heeltemal donker was (Eks. 12:6).—12/15, bladsye 18-19.

Watter Bybelbeginsels kan jongmense gebruik om wyse keuses te maak?

Drie beginsels is: (1) Soek eers God se Koninkryk en sy regverdigheid (Matt. 6:19-34); (2) smaak die geluk wat dit meebring om ander te dien (Hand. 20:35); (3) geniet dit om God gedurende jou jeug te dien (Pred. 12:1).—1/15, bladsye 19-20.

Watter vier perderuiters is sedert 1914 aan die galop?

Jesus, as ’n ruiter op ’n wit perd, het Satan en sy demone uit die hemel gewerp. Die ruiter op die vuurkleurige perd beeld die oorloë uit wat die mensdom geteister het. Die ruiter op die swart perd stel hongersnood voor. Die ruiter op die vaal perd bring die dood deur middel van plae, wat miljoene lewens eis (Op. 6:2-8).—2/1, bladsye 6-7.

Wanneer vind “die huwelik van die Lam” plaas? (Op. 19:7).

“Die huwelik van die Lam” vind plaas nadat die Koning, Jesus Christus, sy oorwinning voltooi het, dit wil sê nadat Babilon die Grote vernietig is en die oorlog van Armageddon verby is.—2/15, bladsy 10.

Waarom was die Jode in Jesus se dag “in afwagting” van die Messias? (Luk. 3:15).

Ons kan nie bevestig dat eerste-eeuse Jode Daniël se profesie oor die Messias verstaan het soos ons dit verstaan nie (Dan. 9:24-27). Maar hulle het dalk gehoor van die aankondiging wat engele aan ’n paar herders gemaak het of van wat die profetes Anna gesê het toe sy die baba Jesus by die tempel gesien het. Daarbenewens het sterrewiggelaars gesoek na “die een wat as koning van die Jode gebore is” (Matt. 2:1, 2). Later het Johannes die Doper te kenne gegee dat die Christus binnekort sou verskyn.—2/15, bladsye 26-27.

Hoe kan ons verseker dat ons Ja Ja beteken? (2 Kor. 1:18).

Soms kan omstandighede buite ons beheer dit wel vir ons onmoontlik maak om by ons woord te bly. Maar as ons ’n belofte maak of ons tot iets verbind, moet ons alles in ons vermoë doen om dit na te kom.—3/15, bladsy 32.

Hoe kan ons die versoeking weerstaan om na pornografie te kyk?

Drie nuttige wenke is: (1) Kyk dadelik weg as jy iets eroties sien; (2) bewaak jou gedagtes deur op positiewe dinge te konsentreer en tot God te bid; (3) bewaak jou voetstappe deur rolprente of webwerwe wat pornografie bevat, te vermy.—4/1, bladsye 10-12.

Watter onvoorsiene gevolge kan daar wees as ’n Christen sy of haar gesin agterlaat om in die buiteland geld te gaan verdien?

Wanneer ouers besluit om nie as ’n gesin saam te woon nie, kan die kinders emosioneel en sedelik daaronder ly. Hulle sal die ouer(s) dalk later verwyt. En volwassenes wat ver van hulle huweliksmaat af woon, kan voor seksuele versoekings te staan kom.—4/15, bladsye 19-20.

Waarom is misdadigers se bene gebreek wanneer hulle tereggestel is?

Die Romeine het sommige misdadigers aan ’n paal tereggestel. Die Jode het gevra dat die misdadigers wat langs Jesus gehang het, se bene gebreek moet word. Dit sou dit vir hulle moeiliker maak om asem te haal, wat hulle dood sou bespoedig. Hulle sou dus nie die hele nag aan die paal hoef te hang nie (Deut. 21:22, 23).—5/1, bladsy 11.

Watter vier vrae moet ons in gedagte hou wanneer ons vir mense getuig?

Vir wie getuig ek? Waar getuig ek vir hulle? Wanneer getuig ek vir hulle? Hoe moet ek vir hulle getuig?—5/15, bladsye 12-15.

Hoeveel sterftes word deur rokery veroorsaak?

Gedurende die vorige eeu het dit 100 000 000 sterftes veroorsaak. Tans eis dit ongeveer 6 000 000 lewens per jaar.—6/1, bladsy 3.