Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gebruik die Woord van God—Dit is lewend!

Gebruik die Woord van God—Dit is lewend!

“Die woord van God is lewend en oefen krag uit.”HEB. 4:12.

1, 2. Watter toewysing het Jehovah vir Moses gegee, en watter versekering het Hy voorsien?

KAN jy jou voorstel hoe jy sou voel as jy voor die magtigste heerser op aarde moet staan en namens Jehovah se volk moet praat? Jy sal waarskynlik angstig, onbekwaam en geïntimideerd voel. Wat sou jy voorberei om vir hom te sê? Wat sou jy doen om jou woorde kragtiger te maak as ’n verteenwoordiger van die almagtige God?

2 Moses was in daardie situasie. Jehovah het vir hom, “die sagmoedigste van al die mense wat op die oppervlak van die aarde was”, gesê dat hy na Farao gestuur sal word om God se volk van hulle onderdrukking en slawerny in Egipte te verlos (Num. 12:3). Soos gebeure sou bewys, was Farao ’n oneerbiedige en verwaande man (Eks. 5:1, 2). Maar Jehovah wou hê dat Moses Farao moet beveel om toe te laat dat miljoene van sy slawe die land verlaat! Dit is verstaanbaar dat Moses Jehovah gevra het: “Wie is ek dat ek na Farao toe sou gaan en dat ek die kinders van Israel uit Egipte moet uitlei?” Moses het ongetwyfeld onbekwaam en onbevoeg gevoel. Maar God het hom verseker dat hy nie alleen sal wees nie. “Ek [sal] met jou . . . wees”, het Jehovah gesê.—Eks. 3:9-12.

3, 4. (a) Watter vrese het Moses gehad? (b) In watter opsig kan jy jou vereenselwig met die uitdaging waarvoor Moses te staan gekom het?

3 Watter vrese het Moses gehad? Hy was blykbaar bang dat Farao nie na ’n verteenwoordiger van Jehovah God sou luister nie. Moses was ook bang dat sy eie volk nie sou glo dat Jehovah hom aangestel het om hulle uit Egipte te lei nie. Moses het dus vir Jehovah gesê: “Gestel hulle glo my nie en luister nie na my stem nie, want hulle gaan sê: ‘Jehovah het nie aan jou verskyn nie.’”—Eks. 3:15-18; 4:1.

4 Jehovah se antwoord aan Moses en die daaropvolgende gebeure kan ons elkeen ’n kragtige les leer. Jy sal dalk nooit voor ’n hoë regeringsamptenaar hoef te verskyn nie. Maar was dit al ooit vir jou ’n uitdaging om selfs met gewone, alledaagse mense oor God en sy Koninkryk te praat? Indien wel, kyk na wat ons uit Moses se ondervinding kan leer.

“WAT IS DAAR IN JOU HAND?”

5. Wat het Jehovah in Moses se hand geplaas, en hoe het dit sy vrese uit die weg geruim? (Sien prent aan begin van artikel.)

5 Toe Moses sy vrees uitgespreek het dat sy woorde nie ernstig opgeneem sou word nie, het God hom voorberei om die gebeure wat voorlê, te hanteer. Die verslag in Eksodus sê: “Jehovah [het] vir [Moses] gesê: ‘Wat is daar in jou hand?’ waarop hy gesê het: ‘’n Staf.’ Daarna het hy gesê: ‘Gooi dit op die grond.’ Toe het hy dit op die grond gegooi, en dit het ’n slang geword; en Moses het daarvoor begin vlug. Jehovah het toe vir Moses gesê: ‘Steek jou hand uit en gryp dit aan die stert.’ Toe het hy sy hand uitgesteek en dit gegryp, en dit het ’n staf in sy palm geword. ‘Sodat’, soos hy dit gestel het, ‘hulle kan glo dat Jehovah . . . aan jou verskyn het’” (Eks. 4:2-5). Ja, God het in Moses se hand die middel geplaas waarmee hy kon bewys dat sy boodskap van Jehovah kom. Wat vir ander soos niks meer as ’n staf gelyk het nie, het lewend geword deur middel van God se krag! Watter krag sou hierdie wonderwerk tog aan Moses se woorde verleen, wat inderdaad bewys dat hy Jehovah se ondersteuning gehad het! Daarom het Jehovah vir hom gesê: “Jy moet hierdie staf in jou hand neem sodat jy die tekens daarmee kan verrig” (Eks. 4:17). Met daardie bewys van God se gesag in sy hand kon Moses gaan en die ware God met vertroue verteenwoordig voor sy eie volk en voor Farao.—Eks. 4:29-31; 7:8-13.

6. (a) Wat moet in ons hand wees wanneer ons preek, en waarom? (b) Verduidelik hoe ‘die woord van God lewend is’ en hoe dit ‘krag uitoefen’.

6 Ons kan dieselfde vraag gevra word wanneer ons uitgaan om die Bybel se boodskap met ander te deel: “Wat is daar in jou hand?” In baie gevalle sal die Bybel in ons hand wees, gereed om gebruik te word. Hoewel die meeste mense die Bybel as ’n blote boek beskou, praat Jehovah met ons deur middel van sy geïnspireerde geskrewe Woord (2 Pet. 1:21). Dit bevat God se beloftes oor die dinge wat sal plaasvind onder die heerskappy van sy Koninkryk. Daarom kon die apostel Paulus skryf: “Die woord van God is lewend en oefen krag uit.” (Lees Hebreërs 4:12.) Al Jehovah se beloftes is dinamies, nie staties nie, omdat hy voortdurend besig is om die vervulling van sy beloftes te bewerkstellig (Jes. 46:10; 55:11). Wanneer iemand hierdie feit oor Jehovah se Woord begryp, kan wat hy in die Bybel lees, ’n kragtige invloed op sy lewe hê.

7. Hoe kan ons “die woord van die waarheid reg hanteer”?

7 Ja, Jehovah het sy lewende geskrewe Woord in ons hand geplaas waarmee ons kan bewys dat ons boodskap geloofwaardig is en van hom af kom. Dit is dus geen wonder nie dat Paulus, nadat hy aan die Hebreërs geskryf het, sy geestelike kind Timoteus aangespoor het om sy ‘uiterste bes te doen om die woord van die waarheid reg te hanteer’ (2 Tim. 2:15). Hoe kan ons Paulus se raad toepas? Deur goed gekose tekste hardop te lees wat die hart van diegene kan raak wat na ons luister. Die traktate wat in 2013 vrygestel is, is ontwerp om ons te help om juis dit te doen.

LEES ’N GOED GEKOSE TEKS!

8. Wat het ’n diensopsiener oor die traktate gesê?

8 Al die nuwe traktate het dieselfde formaat. Wanneer ons dus geleer het om een van die traktate te gebruik, het ons geleer om almal te gebruik. Is dit maklik om te gebruik? ’n Diensopsiener in Hawaii, VSA, het geskryf: “Ons het nie besef hoe doeltreffend hierdie nuwe hulpmiddels sou wees in die huis-tot-huis-bediening en die openbare getuieniswerk nie.” Hy het gevind dat die manier waarop die traktate geskryf is, dit vir mense makliker maak om te reageer, wat gewoonlik tot gedagteprikkelende gesprekke lei. Hy meen dat dit die geval is as gevolg van die vraag en die veelkeusige antwoorde wat voor op elkeen van die traktate verskyn. Die huisbewoner hoef nie bekommerd te wees dat hy die verkeerde antwoord sal gee nie.

9, 10. (a) Hoe help ons traktate ons om die Bybel te gebruik? (b) Met watter traktate het jy die meeste sukses behaal, en waarom?

9 Elke traktaat spoor ons aan om ’n goed gekose teks te lees. Byvoorbeeld, kyk na die traktaat Sal lyding ooit tot ’n einde kom? Ongeag of die huisbewoner “ja”, “nee” of “miskien” kies, blaai na die binneblad en, sonder om enigiets by te voeg, sê eenvoudig: “Hier is wat die Bybel sê.” Lees dan Openbaring 21:3, 4.

10 En wanneer jy die traktaat Hoe beskou jy die Bybel? gebruik, maak dit ook nie saak watter een van die drie keuses die huisbewoner voor op die traktaat kies nie. Blaai eenvoudig na die binneblad en sê: “Die Bybel sê dat ‘die hele Skrif deur God geïnspireer is’.” Jy kan byvoeg: “Daardie teks sê eintlik nog baie meer.” Maak dan die Bybel oop, en lees die hele 2 Timoteus 3:16, 17.

11, 12. (a) Watter bevrediging kry jy uit die bediening? (b) Hoe kan traktate jou help om vir herbesoeke voor te berei?

11 Die huisbewoner se reaksie sal bepaal hoeveel verdere inligting in die traktaat jy dalk sal lees of bespreek. Buiten die feit dat jy die traktate by mense kon laat, het jy die bevrediging dat jy vir hulle uit God se Woord kon lees—al kon jy net een of twee verse tydens die eerste besoek lees. Later kan jy die bespreking voortsit.

12 Agterop elke traktaat is daar ’n vraag onder die opskrif “Iets om oor te dink” en tekste wat tydens die herbesoek bespreek kan word. In die traktaat Hoe beskou jy die toekoms? is die vraag vir die volgende besoek: “Hoe sal God ons wêreld ten goede verander?” Matteus 6:9, 10 en Daniël 2:44 word aangegee. Vir die traktaat Kan die dooies werklik weer lewe? is die vraag: “Waarom word ons oud en sterf ons?” Genesis 3:17-19 en Romeine 5:12 word aangegee.

13. Verduidelik hoe om die traktate te gebruik om Bybelstudies te begin.

13 Gebruik die traktate as trapklippe om Bybelstudies te begin. Wanneer ’n persoon die QR-kode agterop die traktaat skandeer, sal hy na ’n deel van ons webwerf geneem word wat hom dalk sal aanspoor om die Bybel te studeer. Die traktate vestig ook die aandag op die brosjure Goeie nuus wat van God kom! en verwys na ’n spesifieke les daarin. Byvoorbeeld, die traktaat Wie is werklik in beheer van die wêreld? skakel goed in by les 5 van hierdie brosjure. Die traktaat Wat is die sleutel tot ’n gelukkige gesinslewe? skakel goed in by les 9. Deur die traktate op die voorgestelde manier te gebruik, sal jy in die goeie gewoonte kom om die Bybel tydens die eerste besoek en herbesoeke te gebruik. Dit sal moontlik daartoe lei dat jy meer studies begin. Wat kan jy nog doen om God se Woord doeltreffend in jou bediening te gebruik?

BESPREEK ’N ONDERWERP WAT MENSE KWEL

14, 15. Hoe kan jy Paulus se gesindheid teenoor die bediening aankweek?

14 Paulus het ’n opregte begeerte gehad om “die meeste” mense in sy bediening te bereik. (Lees 1 Korintiërs 9:19-23.) Let op dat dit Paulus se wens was “om Jode te wen . . ., om dié onder die wet te wen . . ., om dié sonder wet te wen . . ., om die swakkes te wen”. Ja, hy wou “alle soorte mense [bereik] om op elke moontlike manier sommige te red” (Hand. 20:21). Hoe kan ons Paulus se gesindheid aankweek wanneer ons voorberei om “alle soorte mense” in ons gebied van die waarheid te vertel?—1 Tim. 2:3, 4.

15 Voorgestelde aanbiedings verskyn elke maand in Ons Koninkryksbediening. Gebruik dit. Maar as daar ander onderwerpe is wat mense in jou gebied kwel, kan jy dink aan gedagteprikkelende aanbiedings wat daardie behoeftes dalk sal bevredig. Dink aan die omgewing waarin jy woon, die mense wat daar woon en wat hulle die meeste pla. Dink dan aan ’n teks wat hulle behoeftes aanspreek. ’n Kringopsiener sê die volgende oor hoe hy en sy vrou die aandag op die Bybel vestig: “Die meeste huisbewoners sal ons toelaat om een teks te lees as ons kort en saaklik is. Nadat ons die huisbewoner met ons oop Bybel in die hand gegroet het, lees ons ’n teks.” Kyk na ’n paar beproefde voorbeelde van onderwerpe, vrae en tekste wat jy in jou gebied kan probeer gebruik.

Gebruik jy die Bybel en traktate doeltreffend in jou bediening? (Sien paragrawe 8-13)

16. Verduidelik hoe Jesaja 14:7 in die bediening gebruik kan word.

16 As jy in ’n gebied woon waar die vrede dikwels versteur word, kan jy die persoon dalk vra: “Kan jy jou ’n tyd voorstel wanneer die hoofnuusberig soos volg sal wees: ‘Die hele aarde het tot rus gekom en is vry van rusversteuring. Die mense het vrolik geword met vreugdevolle uitroepe’? Dit is wat die Bybel in Jesaja 14:7 sê. Trouens, die Bybel bevat God se talle beloftes van vreedsame tye wat in ons toekoms voorlê.” Bied dan aan om een van hierdie beloftes uit die Bybel te lees.

17. Hoe kan jy tydens ’n gesprek Matteus 5:3 inlei?

17 Is dit vir baie mans in jou gebied moeilik om ’n bestaan te maak? As dit die geval is, kan jy ’n gesprek begin deur te vra: “Hoeveel geld moet ’n man verdien om sy gesin gelukkig te maak?” Nadat die persoon geantwoord het, kan jy sê: “Heelwat mans verdien baie meer as dit, maar hulle gesin is nog steeds nie tevrede nie. Wat is dus werklik nodig?” Lees dan Matteus 5:3 en bied ’n Bybelstudie aan.

18. Hoe kan jy Jeremia 29:11 gebruik om ander te vertroos?

18 Ly mense in jou omgewing weens die gevolge van ’n onlangse tragedie? Jy kan jou aanbieding begin deur te sê: “Ek het na jou toe gekom om vertroosting te bied. (Lees Jeremia 29:11.) Het jy die drie dinge opgelet wat God vir ons wil hê? ‘Vrede’, ‘’n toekoms’ en ‘’n hoop’. Is dit nie goed om te weet dat hy wil hê dat ons ’n goeie lewe moet lei nie? Maar hoe is dit moontlik?” Vestig dan hulle aandag op ’n gepaste les in die Goeie nuus-brosjure.

19. Verduidelik hoe Openbaring 14:6, 7 gebruik kan word wanneer ons met godsdienstige mense praat.

19 Woon jy in ’n gebied waar mense in godsdiens belangstel? Indien wel, kan jy ’n gesprek begin deur te vra: “As ’n engel met jou praat, sal jy luister na wat hy sê? (Lees Openbaring 14:6, 7.) Aangesien hierdie engel ‘vrees God’ sê, dink jy nie dat dit belangrik sal wees om uit te vind na watter God die engel verwys nie? Die engel gee ons ’n leidraad wanneer hy sê dat dit ‘die Een is wat die hemel en die aarde gemaak het’. Wie was dit?” Lees dan Psalm 124:8, wat sê: “Ons hulp is in die naam van Jehovah, die Maker van hemel en aarde.” Bied dan aan om meer omtrent Jehovah God te verduidelik.

20. (a) Op watter manier kan Spreuke 30:4 gebruik word om iemand God se naam te leer? (b) Is daar ’n spesifieke teks wat jy met goeie resultate gebruik?

20 Jy kan ’n gesprek met ’n jongmens begin deur te sê: “Ek wil graag ’n teks lees wat ’n baie belangrike vraag vra. (Lees Spreuke 30:4.) Daar is geen mens wat by hierdie beskrywing pas nie; dit moet dus na ons Skepper verwys. * Hoe kan ons uitvind wat sy naam is? Ek sal dit graag vir jou in die Bybel wil wys.”

LAAT GOD SE WOORD KRAG AAN JOU BEDIENING VERLEEN

21, 22. (a) Hoe kan ’n goed gekose teks iemand se lewe verander? (b) Wat is jy vasbeslote om te doen terwyl jy jou bediening uitvoer?

21 ’n Mens weet nooit hoe iemand op ’n goed gekose teks sal reageer nie. Byvoorbeeld, twee Getuies in Australië het aan ’n jong vrou se deur geklop. Een van hulle het haar gevra: “Weet jy wat God se naam is?” en toe ’n teks gelees—Psalm 83:18. “Ek was so verbaas!” sê die vrou. “Nadat hulle daar weg is, het ek meer as 50 kilometer na ’n boekwinkel gery om ander Bybelvertalings na te gaan en toe die naam in ’n woordeboek opgesoek. Toe ek myself oortuig het dat God se naam Jehovah is, het ek gewonder wat anders daar is wat ek nie weet nie.” Kort daarna het sy en haar toekomstige man die Bybel begin studeer, en later is hulle gedoop.

22 God se Woord verander die lewens van diegene wat dit lees en bou geloof op in Jehovah se lewende beloftes. (Lees 1 Tessalonisense 2:13.) Die Bybel se boodskap is kragtiger as enigiets wat ons kan sê om ’n persoon se hart te probeer bereik. Daarom moet ons die Woord van God by elke moontlike geleentheid gebruik. Dit is lewend!

^ par. 20 Sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 Julie 1987, bladsy 31.