Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoor Jehovah se stem waar jy ook al is

Hoor Jehovah se stem waar jy ook al is

“Jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: ‘Dit is die weg.’”JES. 30:21.

1, 2. Hoe kommunikeer Jehovah met sy knegte?

DEUR die Bybelgeskiedenis heen het mense op verskillende maniere leiding van Jehovah ontvang. God het deur middel van engele, visioene of drome met party mense gepraat om aan hulle te openbaar wat in die toekoms sal gebeur. Jehovah het hulle ook spesifieke werkstoewysings gegee (Num. 7:89; Eseg. 1:1; Dan. 2:19). Ander het leiding ontvang deur middel van Jehovah se menseverteenwoordigers wat in die aardse deel van sy organisasie dien. Ongeag hoe Jehovah se woord aan sy volk oorgedra is, diegene wat sy instruksies gevolg het, is geseën.

2 Vandag lei Jehovah sy volk deur middel van die Bybel, sy heilige gees en die gemeente (Hand. 9:31; 15:28; 2 Tim. 3:16, 17). Die leiding wat ons van hom ontvang, is so duidelik dat dit is asof ‘ons ore ’n woord agter ons hoor wat sê: “Dit is die weg. Wandel daarop”’ (Jes. 30:21). Jesus dra ook Jehovah se instruksies aan ons oor wanneer hy die gemeente deur middel van “die getroue en verstandige slaaf” lei (Matt. 24:45). Ons moet hierdie leiding en riglyne ernstig opneem, want ons ewige lewe hang af van ons gehoorsaamheid.—Heb. 5:9.

3. Wat kan daartoe lei dat ons Jehovah se opdragte nie ten volle gehoorsaam nie? (Sien prent aan begin van artikel.)

3 Satan die Duiwel se oogmerk is om die lewensreddende leiding wat ons van Jehovah ontvang, teë te werk. Wat meer is, ons ‘verraderlike hart’ kan daartoe lei dat ons Jehovah se opdragte nie ten volle wil gehoorsaam nie (Jer. 17:9). Laat ons dus kyk na hoe ons struikelblokke wat dit moeilik maak om na God se stem te luister, kan oorkom. Laat ons ook bespreek hoe goeie kommunikasie met Jehovah ons verhouding met hom kan beskerm, ongeag wat ons omstandighede is.

MOENIE VOOR SATAN SE PLANNE SWIG NIE

4. Hoe probeer Satan die denke van mense beïnvloed?

4 Satan probeer om die denke van mense te beïnvloed deur valse inligting en bedrieglike propaganda te versprei. (Lees 1 Johannes 5:19.) Bo en behalwe gedrukte materiaal is die wêreld—insluitende afgesonderde dele van die aarde—deurdrenk van inligting wat deur middel van die radio, televisie en Internet versprei word. Hoewel hierdie bronne soms interessante inligting bevat, bevorder hulle dikwels gedrag en standaarde wat in stryd is met Jehovah se standaarde (Jer. 2:13). Die nuus- en vermaaklikheidsbedryf beeld byvoorbeeld huwelike tussen mense van dieselfde geslag as aanvaarbaar uit, en baie mense voel dat wat die Bybel oor homoseksualiteit sê, verkeerd is.—1 Kor. 6:9, 10.

5. Hoe kan ons keer dat ons deur sataniese propaganda meegesleep word?

5 Hoe kan diegene wat lief is vir God se regverdigheid, keer dat hulle meegesleep word deur die hedendaagse oorvloed van sataniese propaganda? Hoe kan hulle die goeie van die slegte skei? ‘Deur op hulle hoede te bly ooreenkomstig God se woord’! (Ps. 119:9). God se geskrewe Woord bevat lewensbelangrike leiding wat ons in staat stel om ’n onderskeid te tref tussen ware inligting en bedrieglike propaganda (Spr. 23:23). Jesus het uit die Skrif aangehaal en gesê: “Die mens sal [lewe] van elke woord wat uit Jehovah se mond kom” (Matt. 4:4). Ons moet leer hoe om Bybelbeginsels in ons lewe toe te pas. Byvoorbeeld, lank voordat Moses Jehovah se wet teen egbreuk opgeteken het, het die jong man Josef besef dat sulke gedrag ’n sonde teen God is. Toe Potifar se vrou hom probeer verlei het om te doen wat verkeerd is, het hy dit nooit eens oorweeg om ongehoorsaam aan Jehovah te wees nie. (Lees Genesis 39:7-9.) Al het sy ’n tyd lank druk op Josef uitgeoefen, het hy nie toegelaat dat sy hom beïnvloed om God te verontagsaam nie. As ons tussen reg en verkeerd wil onderskei, is dit noodsaaklik dat ons na Jehovah se stem luister en die aanhoudende geraas van sataniese propaganda uitsluit.

6, 7. Wat moet ons doen om Satan se goddelose raad te vermy?

6 Die wêreld is vol botsende godsdiensleringe, en daarom voel baie mense dat dit nutteloos is om na die ware godsdiens te soek. Maar Jehovah se riglyne kan maklik gevind word deur diegene wat bereid is om daarna te luister. Ons moet besluit na wie ons gaan luister. Aangesien dit feitlik onmoontlik is om tegelykertyd na twee stemme te luister, moet ons Jesus se “stem ken” en na hom luister. Hy is die een wat Jehovah oor Sy skape aangestel het.—Lees Johannes 10:3-5.

7 “Skenk aandag aan wat julle hoor”, het Jesus gesê (Mark. 4:24). Jehovah se raad is duidelik en reg, maar ons moet daaraan aandag skenk en daarna luister deur ons hart voor te berei om dit te ontvang. As ons nie versigtig is nie, kan ons na Satan se goddelose raad in plaas van God se liefdevolle raad luister. Moet nooit toelaat dat wêreldse musiek, video’s, televisieprogramme, boeke, kennisse, opvoeders of sogenoemde deskundiges jou lewe beheer nie.—Kol. 2:8.

8. (a) Hoe kan ons hart ons kwesbaar maak vir Satan se planne? (b) Wat kan met ons gebeur as ons waarskuwingstekens ignoreer?

8 Satan weet dat ons sondige neigings het, en hy probeer ons kry om daarvoor te swig. Wanneer hy dit doen, word dit ’n groot uitdaging om ons onkreukbaarheid te handhaaf (Joh. 8:44-47). Hoe kan ons hierdie uitdaging suksesvol die hoof bied? Dink aan die geval van iemand wat hom so verlustig in ’n oomblik van plesier dat hy op die ou end iets verkeerds doen, iets wat hy nooit gedink het hy sou doen nie (Rom. 7:15). Wat het tot hierdie hartseer situasie gelei? Die persoon het waarskynlik geleidelik opgehou om na Jehovah se stem te luister. Daar was waarskuwingstekens wat ’n probleem met sy hartstoestand aangedui het, maar hy het dit nie opgemerk nie of hy het besluit om dit te ignoreer. Byvoorbeeld, hy het dalk opgehou bid, minder in die bediening begin doen of van die vergaderinge begin wegbly. Uiteindelik het hy hom aan sy begeerte oorgegee en iets gedoen wat hy geweet het verkeerd is. Ons kan so ’n rampspoedige fout vermy as ons op ons hoede bly vir enige waarskuwingstekens en onmiddellik optree om sake reg te stel. En as ons na Jehovah se stem luister, sal ons nie aan enige afvallige idees aandag skenk nie.—Spr. 11:9.

9. Waarom is dit baie belangrik om sondige neigings vroeg op te spoor?

9 Wanneer ’n siekte vroeg opgespoor word, kan dit ’n persoon se lewe red. Net so kan ons rampspoed vermy as ons gou is om neigings te identifiseer wat ons in die versoeking kan lei. Sodra ons sulke neigings opmerk, sal dit verstandig van ons wees om onmiddellik op te tree—voordat ons “lewend deur [Satan] gevang [word] om sy wil te doen” (2 Tim. 2:26). Wat moet ons doen as ons agterkom dat ons denke en begeertes nie meer in ooreenstemming is met Jehovah se vereistes nie? Ons moet, sonder om te huiwer, nederig tot hom terugkeer en met ons hele hart na sy raad luister (Jes. 44:22). Ons moet besef dat ’n slegte besluit ons baie seer kan maak en dat ons dalk ernstige gevolge in hierdie stelsel van dinge sal moet dra. Hoeveel beter is dit tog om nie af te dwaal nie en om onmiddellik op te tree om so ’n ernstige fout te voorkom!

Hoe kan ’n goeie geestelike roetine jou teen Satan se planne beskerm? (Sien paragrawe 4-9)

OORKOM TROTS EN GIERIGHEID

10, 11. (a) Hoe kom trots soms na vore? (b) Watter les leer ons uit die slegte weg van Korag, Datan en Abiram?

10 Ons moet erken dat ons hart ons kan mislei. Watter mag oefen ons sondige neigings tog oor ons uit! Neem byvoorbeeld trots en gierigheid. Kyk na hoe elkeen van hierdie eienskappe kan verhoed dat ons na Jehovah se stem luister en daartoe kan lei dat ons ’n ernstige fout maak. ’n Trotse persoon dink te veel van homself. Hy voel dalk dat hy die reg het om te doen wat hy ook al wil en dat niemand vir hom kan sê wat om te doen nie. Gevolglik voel hy dalk dat die riglyne en raad van mede-Christene, die ouer manne of selfs God se organisasie nie op hom van toepassing is nie. Vir so ’n persoon word Jehovah se stem baie dof.

11 Gedurende Israel se trek deur die wildernis het Korag, Datan en Abiram teen die gesag van Moses en Aäron in opstand gekom. As gevolg van trots het die opstandiges ander reëlings getref om Jehovah onafhanklik te aanbid. Hoe het Jehovah gereageer? Hy het hulle doodgemaak (Num. 26:8-10). Wat ’n waardevolle les leer hierdie geskiedkundige verslag ons tog! Opstand teen Jehovah lei tot rampspoed. Laat ons ook onthou: “Trots kom voor ’n ineenstorting.”—Spr. 16:18; Jes. 13:11.

12, 13. (a) Gee ’n voorbeeld wat toon hoe gierigheid tot rampspoed kan lei. (b) Verduidelik hoe gierigheid vinnig kan groei as niks daaromtrent gedoen word nie.

12 Dink ook aan gierigheid. ’n Gierige persoon dink dikwels dat hy dinge kan neem wat nie aan hom behoort nie en oorskry die perke van betaamlike gedrag. Nadat die Siriese leërhoof Naäman van sy melaatsheid genees is, het hy geskenke vir die profeet Elisa aangebied, wat geweier het om dit te neem. Maar Elisa se dienskneg, Gehasi, het daardie geskenke begeer. Gehasi het vir homself gesê: “So waar as Jehovah lewe, ek sal agter [Naäman] aan hardloop en iets van hom neem.” Hy het agter Elisa se rug agter Naäman aangehardloop, openlik gelieg en vir “’n talent silwer en twee stelle klere” gevra. Wat het gebeur omdat Gehasi dit gedoen het en vir Jehovah se profeet gelieg het? Die melaatsheid van Naäman het die gierige Gehasi aangekleef!—2 Kon. 5:20-27.

13 Gierigheid begin dalk met iets kleins, maar as niks daaromtrent gedoen word nie, kan dit vinnig groei en die oorhand oor iemand kry. Die Bybelverslag van Agan lig die krag van gierigheid toe. Kyk hoe vinnig Agan se gierigheid ontwikkel het. Hy het gesê: “Toe ek ’n mooi ampskleed uit Sinear tussen die buit sien en tweehonderd sikkels silwer en een goudstaaf, waarvan die gewig vyftig sikkels was, wou ek dit hê, en ek het dit geneem.” In plaas daarvan om die slegte begeerte te verwerp, het Agan die voorwerpe gesteel en dit in sy tent weggesteek. Toe Agan se oortreding bekend geword het, het Josua vir hom gesê dat Jehovah rampspoed oor hom sou bring. Agan en sy gesin is daardie selfde dag gestenig, en hulle het gesterf (Jos. 7:11, 21, 24, 25). Daar is altyd die gevaar dat gierigheid die oorhand oor ons kan kry. Laat ons dus “waak teen elke soort hebsug” (Luk. 12:15). Al het ons van tyd tot tyd ’n verkeerde of onsedelike gedagte, is dit noodsaaklik dat ons ons gedagtes beheer en nie toelaat dat ons begeertes tot die punt ontwikkel waar ons sonde pleeg nie.—Lees Jakobus 1:14, 15.

14. Wat moet ons doen as ons neigings van trots en gierigheid in onsself oplet?

14 Trots en gierigheid kan albei tot rampspoed lei. As ons dink aan die gevolge van ’n verkeerde weg, sal dit ons help om nie toe te laat dat sulke neigings die stem van Jehovah verdoof nie (Deut. 32:29). In die Bybel sê die ware God nie net vir ons wat die regte weg is om te volg nie, maar hy verduidelik ook die voordele as ons daarop wandel sowel as die gevolge as ons die verkeerde weg inslaan. As ons in ons hart daaraan dink om iets te doen wat deur trots of gierigheid gemotiveer word, sal dit verstandig wees om aan die gevolge te dink! Ons moet dink aan hoe verkeerde gedrag ons, ons geliefdes en veral ons verhouding met Jehovah sal raak.

BEHOU GOEIE KOMMUNIKASIE MET JEHOVAH

15. Wat kan ons oor kommunikasie leer uit die voorbeeld van Jesus?

15 Jehovah wil die beste vir ons hê (Ps. 1:1-3). Hy voorsien oorgenoeg leiding presies wanneer ons dit nodig het. (Lees Hebreërs 4:16.) Hoewel Jesus volmaak was, het hy daarop staat gemaak om gereeld met Jehovah te kommunikeer, en hy het onophoudelik gebid. Jehovah het Jesus op wonderlike maniere ondersteun en gerig. Hy het engele gestuur om hom te bedien, Sy heilige gees voorsien om hom te help en hom gelei toe hy die 12 apostels gekies het. Jehovah se stem is uit die hemele gehoor, wat gesê het dat hy Jesus ondersteun en goedkeur (Matt. 3:17; 17:5; Mark. 1:12, 13; Luk. 6:12, 13; Joh. 12:28). Soos Jesus, moet ons ons hart voor God uitstort in gebed (Ps. 62:7, 8; Heb. 5:7). Gebed kan ons help om goeie kommunikasie met Jehovah te behou en op ’n manier te lewe wat hom tot eer strek.

16. Hoe kan Jehovah ons help om sy stem te hoor?

16 Hoewel Jehovah sy raad vryelik beskikbaar stel, dwing hy niemand om dit te volg nie. Ons moet vir sy heilige gees vra, en hy sal dit vryelik aan ons gee. (Lees Lukas 11:10-13.) Maar dit is noodsaaklik dat ons ‘aandag skenk aan hoe ons luister’ (Luk. 8:18). Byvoorbeeld, dit sal skynheilig van ons wees om Jehovah om hulp te vra om ’n onsedelike neiging te oorkom terwyl ons aanhou om na pornografie of onsedelike rolprente te kyk. Ons moet ons op plekke of in omstandighede plaas waar Jehovah se gees is, soos by gemeentelike vergaderinge. Baie knegte van Jehovah het rampspoed vermy deur gedurende ons vergaderinge na Jehovah te luister. Gevolglik het hulle bewus geword van verkeerde begeertes wat in hulle hart ontwikkel en het hulle hulle weë reggestel.—Ps. 73:12-17; 143:10.

HOU AAN OM AANDAGTIG NA JEHOVAH SE STEM TE LUISTER

17. Waarom is dit gevaarlik om op onsself te vertrou?

17 Dink aan koning Dawid van eertydse Israel. As jongmens het hy oor die Filistynse reus Goliat geseëvier. Dawid het ’n soldaat, ’n koning, ’n beskermer en ’n besluitnemer vir ’n nasie geword. Maar toe Dawid op homself vertrou het, het sy hart hom bedrieg en het hy ’n ernstige sonde met Batseba gepleeg en selfs gereël dat haar man, Uria, doodgemaak word. Toe Dawid gedissiplineer is, het hy nederig sy fout erken en sy verhouding met Jehovah herstel.—Ps. 51:4, 6, 10, 11.

18. Wat kan ons help om aan te hou om na Jehovah se stem te luister?

18 Laat ons ag gee op die raad in 1 Korintiërs 10:12 en nie selfversekerd word nie. Aangesien ons nie ons ‘voetstappe kan rig’ nie, sal ons op die ou end óf na Jehovah se stem óf na die stem van sy Teenstander luister (Jer. 10:23). Mag ons voortdurend bid, die leiding van die heilige gees volg en altyd aandagtig na Jehovah se stem luister.