Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

VRAE VAN LESERS

Jesus het vir die Sadduseërs gesê dat diegene wat opgewek word, ‘nie trou nie en ook nie in die huwelik gegee word nie’ (Luk. 20:34-36). Het hy van die aardse opstanding gepraat?

Hierdie vraag is belangrik, veral vir diegene wat ’n geliefde huweliksmaat aan die dood afgestaan het. Hierdie persone smag dalk daarna om in die nuwe wêreld weer met hulle verrese maat herenig te word. Een wewenaar het gesê: “Ek en my vrou het nie gekies om ons huwelik te beëindig nie. Dit was ons opregte begeerte om vir ewig as man en vrou verenig te bly in aanbidding. My gevoelens het nie verander nie.” Is daar goeie rede om te glo dat diegene wat opgewek word, sal kan trou? Eenvoudig gestel, die antwoord is dat ons nie kan sê nie.

Ons publikasies het jare lank gesê dat Jesus se woorde oor die opstanding en die huwelik heel moontlik na die aardse opstanding verwys en dat diegene wat in die nuwe wêreld opgewek word, waarskynlik nie sal trou nie (Matt. 22:29, 30; Mark. 12:24, 25; Luk. 20:34-36). * Ons kan nie dogmaties wees nie, maar kan dit wees dat Jesus se woorde na die hemelse opstanding verwys? Kom ons kyk na wat Jesus gesê het.

Let op die agtergrond. (Lees Lukas 20:27-33.) Die Sadduseërs, wat nie in die opstanding geglo het nie, het Jesus probeer vasvra met ’n vraag oor die opstanding en swaershuwelike. * Jesus het geantwoord: “Die kinders van hierdie stelsel van dinge trou en word in die huwelik gegee, maar dié wat waardig geag is om daardie stelsel van dinge en die opstanding uit die dode te verkry, trou nie en word ook nie in die huwelik gegee nie. Trouens, hulle kan ook nie meer sterf nie, want hulle is soos die engele, en hulle is God se kinders deurdat hulle kinders van die opstanding is.”—Luk. 20:34-36.

Waarom het ons publikasies gesê dat Jesus moontlik van die aardse opstanding gepraat het? Daardie gevolgtrekking is hoofsaaklik op twee redenasies gegrond. Eerstens, daar is geredeneer dat die Sadduseërs moontlik ’n aardse opstanding in gedagte gehad het en dat Jesus hulle dienooreenkomstig geantwoord het. Tweedens, Jesus het sy antwoord afgesluit deur te verwys na Abraham, Isak en Jakob—getroue aartsvaders wat die hoop het om tot lewe op die aarde opgewek te word.—Luk. 20:37, 38.

Maar dit lyk asof Jesus moontlik die hemelse opstanding in gedagte kon gehad het. Hoe kom ons tot hierdie gevolgtrekking? Kom ons kyk na twee sleutelfrases.

“Dié wat waardig geag is om . . . die opstanding uit die dode te verkry.” Getroue gesalfdes word “die koninkryk van God waardig geag” (2 Tess. 1:5, 11). Hulle is regverdig verklaar vir die lewe op grond van die losprys; daarom sterf hulle nie as veroordeelde sondaars nie (Rom. 5:1, 18; 8:1). Hulle word “gelukkig en heilig” genoem, en hulle word waardig geag om ’n hemelse opstanding te ontvang (Op. 20:5, 6). In teenstelling hiermee sal diegene wat tot lewe op die aarde opgewek word, “die onregverdiges” insluit (Hand. 24:15). Kan daar van hulle gesê word dat hulle “waardig geag” word vir ’n opstanding?

“Hulle kan ook nie meer sterf nie.” Jesus het nie gesê: “Hulle sal nie meer sterf nie.” Hy het eerder gesê: “Hulle kan ook nie meer sterf nie.” Ander vertalings gee hierdie frase soos volg weer: “Hulle is nie meer onderworpe aan die dood nie”, en: “Die dood het nie meer mag oor hulle nie.” Gesalfdes wat hulle aardse loopbaan getrou voltooi, word opgewek tot lewe in die hemel en word onsterflikheid gegee—eindelose, onvernietigbare lewe (1 Kor. 15:53, 54). Die dood het nie meer enige mag oor diegene wat ’n hemelse opstanding ontvang nie. *

Tot watter gevolgtrekking kan ons kom in die lig van wat ons nou net bespreek het? Dit is moontlik dat Jesus se woorde oor die huwelik en die opstanding na die hemelse opstanding verwys. As dit die geval is, sal sy woorde ons verskeie dinge vertel oor diegene wat tot hemelse lewe opgewek word: Hulle trou nie, hulle kan nie sterf nie en hulle is in sekere opsigte soos engele—geesskepsele wat in die geesteryk woon. Maar hierdie gevolgtrekking laat verskeie vrae opkom.

Eerstens, waarom sou Jesus na die hemelse opstanding verwys in sy antwoord aan die Sadduseërs, wat waarskynlik ’n aardse opstanding in gedagte gehad het? Jesus het nie altyd sy teenstanders in lyn met hulle denke geantwoord nie. Byvoorbeeld, toe Jode vir Jesus gevra het om vir hulle ’n teken te gee, het hy gesê: “Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal ek dit oprig.” Jesus het moontlik geweet dat hulle aan die tempelgebou gedink het, “maar hy het van die tempel van sy liggaam gepraat” (Joh. 2:18-21). Miskien het Jesus gevoel dat dit nie nodig is om die onopregte Sadduseërs, wat nie in die opstanding of die bestaan van engele geglo het, te antwoord nie (Spr. 23:9; Matt. 7:6; Hand. 23:8). Hy sou dalk eerder waarhede oor die hemelse opstanding wou bekend maak ter wille van sy opregte dissipels, wat die hoop gehad het om eendag so ’n opstanding te ontvang.

Tweedens, waarom sou Jesus sy bespreking afsluit deur te verwys na Abraham, Isak en Jakob, wat tot lewe op die aarde opgewek gaan word? (Lees Matteus 22:31, 32.) Let op dat Jesus sy kommentaar oor hierdie aartsvaders voorafgegaan het met die woorde: “Wat die opstanding van die dooies betref.” Hierdie frase dui moontlik op ’n verandering in gedagte. Toe het Jesus aangehaal uit die geskrifte van Moses, wat die Sadduseërs gesê het hulle aanvaar. Hy het die woorde van Jehovah aan Moses by die brandende bos gebruik om verdere bewys te lewer dat die opstanding—’n aardse opstanding—’n vaste voorneme van God is.—Eks. 3:1-6.

Derdens, as Jesus se woorde oor die opstanding en die huwelik op die hemelse opstanding van toepassing is, beteken dit dat diegene wat op die aarde opgewek word, sal kan trou? God se Woord gee nie ’n direkte antwoord op hierdie spesifieke vraag nie. As Jesus eintlik van die hemelse opstanding gepraat het, kan ons nie uit sy woorde aflei of die verresenes op die aarde in die nuwe wêreld sal kan trou nie.

Wat ons wel weet, is dat God se Woord beslis sê dat die dood die huweliksband ontbind. Daarom moet ’n wewenaar of ’n weduwee nie skuldig voel as hy of sy besluit om weer te trou nie. Dit is ’n persoonlike besluit, en sulke persone moenie gekritiseer word omdat hulle die hartlike liefde van ’n huweliksmaat wil geniet nie.—Rom. 7:2, 3; 1 Kor. 7:39.

Dit is verstaanbaar dat ons baie vrae oor die lewe in die nuwe wêreld het. Ons sal eenvoudig moet wag en sien eerder as om onnodig te spekuleer oor die antwoorde op hierdie vrae. Maar ons kan hiervan seker wees: Gehoorsame mense sal gelukkig wees, want Jehovah sal al hulle behoeftes en begeertes op die beste manier moontlik bevredig.—Ps. 145:16.

^ par. 4 Sien Die Wagtoring van 1 Junie 1987, bladsye 30-31.

^ par. 5 As ’n weduwee in Bybeltye geen seuns gehad het nie, is daar verwag dat haar oorlede man se broer met haar moes trou om ’n nageslag voort te bring om die oorlede man se geslagslyn voort te sit. Hierdie gebruik het as die swaershuwelik bekend gestaan.—Gen. 38:8; Deut. 25:5, 6.

^ par. 9 Diegene wat ’n aardse opstanding ontvang, sal die vooruitsig hê om ewige lewe te ontvang, nie onsterflikheid nie. Om meer oor die verskil tussen onsterflikheid en ewige lewe uit te vind, sien Die Wagtoring van 1 Februarie 1986, bladsy 31 (The Watchtower van 1 April 1984, bladsye 30-31).