Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Keer terug en versterk jou broers’

‘Keer terug en versterk jou broers’

PETRUS het bitterlik gehuil nadat hy ontken het dat hy Jesus ken. Hoewel dit vir die apostel ’n stryd sou wees om sy geestelike balans terug te kry, wou Jesus hom gebruik om ander te help. Gevolglik het Jesus vir hom gesê: “Wanneer jy . . . teruggekeer het, moet jy jou broers versterk” (Luk. 22:32, 54-62). Petrus het later een van die steunpilare in die eerste-eeuse Christengemeente geword (Gal. 2:9). Net so kan ’n man wat voorheen as ’n ouer man gedien het, dalk weer in staat wees om hierdie verantwoordelikheid te dra en vreugde daaruit put om medegelowiges geestelik te versterk.

Party wat voorheen as opsieners gedien het, is uit hierdie posisie van verantwoordelikheid verwyder, en dit het hulle dalk soos ’n mislukking laat voel. Julio, * wat 20 jaar lank as ’n ouer man in Suid-Amerika gedien het, het gesê: “Om toesprake voor te berei, die broers te besoek en herdersbesoeke by gemeentelede te doen, was ’n baie groot deel van my lewe! Skielik was dit weg, en dit het ’n groot leemte in my lewe gelaat. Dit was ’n traumatiese tydperk.” Vandag dien Julio weer as ’n ouer man.

“AG DIT LOUTER VREUGDE”

Die dissipel Jakobus het geskryf: “Ag dit louter vreugde, my broers, wanneer julle allerhande beproewinge teëkom” (Jak. 1:2). Jakobus het verwys na beproewinge wat ontstaan weens vervolging en ons eie onvolmaaktheid. Hy het selfsugtige begeertes, voortrekkery, ensovoorts genoem (Jak. 1:14; 2:1; 4:1, 2, 11). Wanneer Jehovah ons dissiplineer, kan dit pynlik wees (Heb. 12:11). Maar sulke beproewinge hoef ons nie van ons vreugde te beroof nie.

Selfs as ons uit ’n posisie van verantwoordelikheid in die gemeente verwyder is, het ons nog steeds ’n geleentheid om die gehalte van ons geloof te ondersoek en ons liefde vir Jehovah te toon. Ons kan ook dink aan waarom ons as ’n ouer man gedien het. Was dit tot ons eie voordeel, of is ons beweeg om so ’n voorreg na te streef omdat ons lief is vir God en oortuig is dat die gemeente aan hom behoort en tere sorg verdien? (Hand. 20:28-30). Voormalige ouer manne wat vreugdevol aanhou om heilige diens te verrig, bewys aan almal, insluitende Satan, dat hulle liefde vir Jehovah opreg is.

Toe koning Dawid gedissiplineer is omdat hy ernstige sondes gepleeg het, het hy die teregwysing aanvaar en is hy vergewe. Dawid het gesing: “Gelukkig is hy wie se opstandigheid vergewe word, wie se sonde bedek word. Gelukkig is die mens aan wie Jehovah die oortreding nie toereken nie, en in wie se gees daar geen bedrog is nie” (Ps. 32:1, 2). Dissipline het Dawid gelouter en het hom ongetwyfeld ’n beter herder van God se volk gemaak.

Broers wat weer as ouer manne aangestel word, word dikwels beter herders as wat hulle voorheen was. “Ek verstaan nou beter hoe om om te gee vir diegene wat ’n fout gemaak het”, sê so ’n ouer man. ’n Ander ouer man het gesê: “Ek heg nou groter waarde aan my voorreg om die broers te dien.”

KAN JY TERUGKEER?

“[Jehovah] sal nie vir altyd verwyt nie”, het die psalmis geskryf (Ps. 103:9). Ons moet dus nie dink dat God nooit weer ’n persoon wat ’n ernstige fout gemaak het, sal vertrou nie. “Ek was diep teleurgesteld in my eie mislukking”, sê Ricardo, wat sy voorreg om as ’n ouer man te dien, verloor het nadat hy jare lank as een gedien het. “My gevoelens van onbekwaamheid het my lank verhinder om weer die broers as ’n opsiener te dien. Ek het nie die selfvertroue gehad dat ek weer my betroubaarheid kon bewys nie. Maar aangesien ek dit geniet om ander te help, kon ek Bybelstudies hou, die broers by die Koninkryksaal aanmoedig en saam met hulle in die veldbediening werk. Dit het my gehelp om my selfvertroue weer op te bou, en nou dien ek weer as ’n ouer man.”

Jehovah het mans gehelp om hulle vreugde terug te kry en om weer die begeerte te hê om te dien

Gegriefdheid kan verhinder dat ’n broer as ’n ouer man dien. Hoeveel beter is dit tog om soos Jehovah se kneg Dawid te wees, wat van die jaloerse koning Saul moes vlug! Dawid het geweier om wraak te neem op Saul, selfs toe daar geleenthede was om dit te doen (1 Sam. 24:4-7; 26:8-12). Toe Saul in ’n geveg gesterf het, was Dawid hartseer oor sy dood en het hy na Saul en sy seun Jonatan as “die beminlikes en die lieflikes” verwys (2 Sam. 1:21-23). Dawid het nie ’n wrok gekoester nie.

As jy voel dat jy die slagoffer is van ’n misverstand of ongeregtigheid, moet jy nie toelaat dat gegriefdheid jou gedagtes oorheers nie. Byvoorbeeld, toe William, wat omtrent 30 jaar lank as ’n ouer man in Brittanje gedien het, hierdie voorreg verloor het, het hy gegrief gevoel teenoor party van die ouer manne. Wat het William gehelp om sy balans terug te kry? “Die boek Job het my aangemoedig”, het hy gesê. “As Jehovah Job gehelp het om vrede te maak met sy drie metgeselle, sal Hy my mos ook help om vrede te maak met die Christen- ouer manne!”—Job 42:7-9.

GOD SEËN DIEGENE WAT WEER AS HERDERS DIEN

As jy gekies het om nie meer ’n herder te wees nie, sal dit goed wees om te dink oor waarom jy dit gedoen het. Was jy oorweldig deur persoonlike probleme? Het ander dinge in jou lewe belangriker geword? Was jy ontmoedig deur die onvolmaakthede van ander? Wat die geval ook al was, onthou dat jy ander op baie meer maniere kon help toe jy ’n ouer man was. Jou toesprake het hulle versterk, jou voorbeeld het hulle aangemoedig en jou herdersbesoeke het hulle gehelp om hulle beproewinge die hoof te bied. Jou werk as ’n getroue ouer man het Jehovah se hart verbly, net soos dit joune verbly het.—Spr. 27:11.

Toon jou liefde vir Jehovah deur vreugdevol deel te neem aan heilige diens

Jehovah het mans gehelp om hulle vreugde terug te kry en om weer die begeerte te hê om die leiding in die gemeente te neem. As jy gekies het om nie meer as ’n ouer man te dien nie of as jy as ’n ouer man verwyder is, kan jy weer “na ’n opsienersamp streef” (1 Tim. 3:1). Paulus het aangehou bid dat die Christene in Kolosse vervul moet word met die juiste kennis van God se wil “sodat [hulle] kan wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is om hom ten volle te behaag” (Kol. 1:9, 10). As jy weer die voorreg ontvang om as ’n ouer man te dien, vertrou op Jehovah vir krag, geduld en vreugde. In hierdie laaste dae het God se volk die geestelike ondersteuning van liefdevolle herders nodig. Het jy die vermoë en die begeerte om jou broers te versterk?

^ par. 3 Van die name is verander.