Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ontvang jy “voedsel op die regte tyd”?

Ontvang jy “voedsel op die regte tyd”?

ONS lewe in die moeilikste tyd van die mensdom se hele geskiedenis (2 Tim. 3:1-5). Ons liefde vir Jehovah en ons vasbeslotenheid om volgens sy regverdige standaarde te lewe, word elke dag getoets. Jesus het geweet dat ons in moeilike tye sou lewe, en daarom het hy sy volgelinge verseker dat hulle die nodige aanmoediging sou ontvang om tot die einde te volhard (Matt. 24:3, 13; 28:20). Om hulle te versterk, het hy ’n getroue slaaf aangestel om geestelike “voedsel op die regte tyd” te voorsien.—Matt. 24:45, 46.

Sedert die getroue slaaf in 1919 aangestel is, is miljoene mense van alle tale in God se organisasie ingebring en word hulle geestelik gevoed (Matt. 24:14; Op. 22:17). Maar dieselfde hoeveelheid materiaal is nie in alle tale beskikbaar nie, en nie almal het toegang tot ons publikasies in elektroniese vorm nie. Baie het byvoorbeeld nie die video’s en die artikels wat net op jw.org gevind kan word nie. Beteken dit dat party nie die voedsel ontvang wat hulle nodig het om geestelik gesond te bly nie? Om hierdie vraag te beantwoord, kan ons kyk na die antwoorde op vier belangrike vrae.

1. Wat is die hoofbestanddeel in die voedsel wat Jehovah voorsien?

Toe Satan Jesus versoek het om klippe in brood te verander, het Jesus geantwoord: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah se mond kom” (Matt. 4:3, 4). Jehovah se woorde is in die Bybel opgeteken (2 Pet. 1:20, 21). Die Bybel is dus die hoofbestanddeel in ons geestelike voedsel.—2 Tim. 3:16, 17.

Jehovah se organisasie het die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in sy geheel of gedeeltelik in meer as 120 tale beskikbaar gestel, en nog tale word elke jaar bygevoeg. Bo en behalwe hierdie vertaling is miljarde kopieë van ander vertalings van die Bybel in sy geheel of gedeeltelik in duisende tale beskikbaar. Hierdie verstommende prestasie is in ooreenstemming met Jehovah se wil dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Tim. 2:3, 4). En omdat daar “nie ’n skepping [is] wat nie vir [Jehovah se] oë sigbaar is nie”, kan ons seker wees dat hy mense wat “bewus is van hulle geestelike behoefte”, na sy organisasie sal trek en hulle van geestelike voedsel sal voorsien.—Heb. 4:13; Matt. 5:3, 6; Joh. 6:44; 10:14.

2. Watter rol speel ons publikasies in die voorsiening van geestelike voedsel?

As iemand sterk geloof wil opbou, moet hy meer doen as om die Bybel te lees. Hy moet verstaan wat hy lees en toepas wat hy leer (Jak. 1:22-25). ’n Etiopiese man in die eerste eeu was bewus van hierdie feit. Hy was besig om God se Woord te lees toe die evangeliedienaar Filippus hom gevra het: “Verstaan u werklik wat u lees?” Die man het geantwoord: “Hoe sou ek tog ooit kon, tensy iemand my lei?” (Hand. 8:26-31). Filippus het die man toe gehelp om juiste kennis van God se Woord te verkry. Die man is so diep geraak deur wat hy geleer het dat hy hom laat doop het (Hand. 8:32-38). So ook help ons Bybelpublikasies ons om juiste kennis van die waarheid te verkry. Wat ons daarin lees, raak ons emosies en beweeg ons om toe te pas wat ons leer.—Kol. 1:9, 10.

Deur middel van die publikasies word Jehovah se knegte ’n oorvloed geestelike dinge gegee om te eet en te drink (Jes. 65:13). Byvoorbeeld, Die Wagtoring, wat in meer as 210 tale beskikbaar is, verduidelik Bybelprofesieë, help ons om diep geestelike waarhede beter te verstaan en beweeg ons om volgens Bybelbeginsels te lewe. Die Ontwaak!, wat in sowat 100 tale uitgegee word, leer ons meer omtrent Jehovah se skeppingswerke en toon hoe ons die Bybel se praktiese raad kan toepas (Spr. 3:21-23; Rom. 1:20). Die getroue slaaf voorsien Bybelse materiaal in meer as 680 tale! Sit jy elke dag tyd opsy om die Bybel te lees? Lees jy elke nuwe tydskrif en al die nuwe publikasies wat elke jaar in jou taal beskikbaar gestel word?

Maar dit is nie al nie. Jehovah se organisasie berei ook Bybelgebaseerde sketse voor vir toesprake wat by ons vergaderinge en byeenkomste gehou word. Geniet jy die toesprake, dramas, demonstrasies en onderhoude wat by hierdie geleenthede aangebied word? Jehovah voorsien ons beslis van ’n geestelike feesmaal!—Jes. 25:6.

3. Sal jy geestelik honger ly as jy nie in jou taal toegang het tot al die publikasies wat uitgegee word nie?

Die antwoord is nee. En dit moet ons nie verbaas dat party van Jehovah se knegte soms tot meer geestelike voedsel toegang het as ander nie. Waarom nie? Dink aan die apostels. Hulle het meer onderrigting ontvang as baie ander dissipels in die eerste eeu (Mark. 4:10; 9:35-37). En tog het die ander dissipels nie geestelik honger gely nie; hulle het ontvang wat hulle nodig gehad het.—Ef. 4:20-24; 1 Pet. 1:8.

Dit is ook belangrik om in gedagte te hou dat baie van die dinge wat Jesus gesê en gedoen het terwyl hy op die aarde was, nie in die Evangelieverslae opgeteken is nie. Die apostel Johannes het geskryf: “Daar is in werklikheid ook baie ander dinge wat Jesus gedoen het, en as hulle ooit in volle besonderhede opgeteken sou word, sou die wêreld self, veronderstel ek, die boekrolle wat geskryf is, nie kon bevat nie” (Joh. 21:25). Al het Jesus se eerste-eeuse volgelinge meer inligting gehad omtrent die volmaakte man Jesus as ons, ly ons nie gebrek nie. Jehovah het seker gemaak dat ons genoeg van Jesus weet sodat ons sy navolgers kan wees.—1 Pet. 2:21.

Dink ook aan die briewe wat die apostels aan die eerste-eeuse gemeentes gestuur het. Ten minste een brief wat deur Paulus geskryf is, is nie in die Bybel bewaar nie (Kol. 4:16). Het ons te min geestelike voedsel omdat ons nie toegang tot daardie brief het nie? Nee. Jehovah weet wat ons nodig het en het ons genoeg gegee om ons geestelik sterk te hou.—Matt. 6:8.

Jehovah weet wat ons nodig het en het ons genoeg gegee om ons geestelik sterk te hou

Vandag het party van Jehovah se knegte toegang tot meer geestelike voedsel as ander. Praat jy ’n taal waarin daar net ’n paar publikasies beskikbaar is? Indien wel, kan jy seker wees dat Jehovah vir jou omgee. Bestudeer die materiaal wat jy het, en as dit moontlik is, woon die vergaderinge by in ’n taal wat jy verstaan. En wees verseker dat Jehovah jou geestelik sterk sal hou.—Ps. 1:2; Heb. 10:24, 25.

4. Sal jy geestelik swak word as jy nie toegang het tot materiaal wat op jw.org verskyn nie?

Ons tydskrifte en ander Bybelstudiepublikasies word op ons webwerf beskikbaar gestel. Die webwerf voorsien ook materiaal om egpare, tieners en diegene met jong kinders te help. Gesinne vind hierby baat wanneer hulle hierdie materiaal tydens hulle Gesinsaanbidding gebruik. Verder lewer ons webwerf verslag oor spesiale programme, soos Gileadgraduerings en die jaarvergadering, en dit hou ons wêreldwye broederskap op hoogte van natuurrampe en regsverwikkelinge wat Jehovah se volk raak (1 Pet. 5:8, 9). Die webwerf is ook baie nuttig vir die predikingswerk, want dit gee mense toegang tot die goeie nuus selfs in lande waar ons werk beperk of verbied is.

Maar jy kan geestelik sterk bly, of jy nou toegang tot ons webwerf het of nie. Die slaaf het hard gewerk om genoeg gedrukte materiaal te voorsien sodat almal geestelik goed gevoed kan wees. Daarom moet jy nie verplig voel om ’n toestel te koop net om toegang tot jw.org te hê nie. Party tref dalk private reëlings om ’n beperkte hoeveelheid materiaal wat op ons webwerf verskyn, te druk en dit self vir diegene te gee wat nie toegang tot die Internet het nie, maar daar word nie van gemeentes verwag om dit te doen nie.

Ons is dankbaar teenoor Jesus dat hy sy belofte hou om in ons geestelike behoeftes te voorsien. Terwyl hierdie moeilike laaste dae vinnig tot ’n einde kom, kan ons seker wees dat Jehovah sal aanhou om geestelike “voedsel op die regte tyd” te voorsien.