Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat is die rol van vroue in Jehovah se voorneme?

Wat is die rol van vroue in Jehovah se voorneme?

“Die vroue wat die goeie nuus verkondig, is ’n groot leër.”—PS. 68:11.

1, 2. (a) Watter gawes het God aan Adam gegee? (b) Waarom het God vir Adam ’n vrou gegee? (Sien prent aan begin van artikel.)

JEHOVAH het die aarde met ’n doel geskep. Hy het “dit gevorm . . . om bewoon te word” (Jes. 45:18). Sy eerste menseskepping, Adam, was volmaak, en God het hom ’n wonderlike tuiste—die tuin van Eden—gegee. Hoe aangenaam was dit tog vir Adam om omring te wees deur die groot bome, die kabbelende stroompies en die spelerige diere! Maar daar was iets baie belangriks wat hy kortgekom het. Jehovah het aangedui wat dit was toe hy gesê het: “Dit is nie goed dat die mens alleen bly nie. Ek gaan vir hom ’n helper maak, as ’n komplement van hom.” God het toe ’n diep slaap op Adam laat val, een van sy ribbebene geneem en “die ribbebeen . . . tot ’n vrou gebou”. Hoe gelukkig was Adam tog toe hy wakker word! “Dit is eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees”, het Adam gesê. “Sy sal Mannin genoem word, want sy is uit die man geneem.”—Gen. 2:18-23.

2 God se gawe van ’n vrou was uniek omdat sy die man se volmaakte helper sou wees. Sy sou ook die spesiale voorreg hê om kinders te baar. Trouens, “Adam [het] sy vrou Eva genoem, omdat sy die moeder moes word van almal wat lewe” (Gen. 3:20; vtn. in NW). Wat ’n ongelooflike gawe het God tog aan daardie eerste mensepaar gegee! Hulle het die vermoë gehad om ander volmaakte mense voort te bring. As gevolg hiervan sou die aarde uiteindelik ’n paradys word waarin volmaakte mense sou woon, en ander lewende dinge sou aan hulle onderworpe wees.—Gen. 1:27, 28.

3. (a) Wat moes Adam en Eva doen om deur God geseën te word, maar wat het gebeur? (b) Watter vrae sal ons bespreek?

3 Adam en Eva moes Jehovah gehoorsaam en sy heerskappy erken om die seëninge te ontvang wat vir hulle in die vooruitsig gestel is (Gen. 2:15-17). Slegs onder daardie omstandighede kon hulle God se voorneme vir hulle vervul. Maar ongelukkig is hulle deur “die oorspronklike slang”, Satan, beïnvloed en het hulle teen God gesondig (Op. 12:9; Gen. 3:1-6). Hoe het hierdie opstand vroue geraak? Wat is deur godvresende vroue in die verlede uitgerig? Waarom kan daar na hedendaagse Christenvroue as “’n groot leër” verwys word?—Ps. 68:11.

DIE GEVOLGE VAN OPSTAND

4. Wie is verantwoordelik gehou vir die sonde van die eerste mensepaar?

4 Toe Adam probeer verduidelik het waarom hy in opstand gekom het, het hy hierdie flou verskoning gegee: “Die vrou wat u gegee het om by my te wees, sy het vir my vrugte van die boom gegee, en daarom het ek geëet” (Gen. 3:12). Adam het nie net verantwoordelikheid vir sy sonde probeer ontduik nie, maar hy het ook die blaam probeer werp op sy vrou, sowel as op die liefdevolle God, wat haar aan hom gegee het! Adam en Eva het albei gesondig, maar Adam is vir hulle oortreding verantwoordelik gehou. Daarom het die apostel Paulus geskryf dat ‘die sonde deur een mens [Adam] in die wêreld ingekom het en die dood deur die sonde’.—Rom. 5:12.

5. Wat word bewys deur die feit dat God toelaat dat mense ’n tyd lank onafhanklik van hom oor hulleself regeer?

5 Die eerste mensepaar is mislei om te dink dat hulle nie Jehovah as hulle Heerser nodig gehad het nie. Dit het die uiters belangrike geskil van soewereiniteit laat ontstaan: Wie het die reg om te regeer? Om eens en vir altyd ’n antwoord te voorsien, laat God toe dat mense ’n tyd lank onafhanklik van hom oor hulleself regeer. Hy het geweet dat ondervinding sou bewys dat mense nie onafhanklik van hom kan regeer nie. Oor die eeue heen het sulke heerskappy die mensegemeenskap in een ramp ná die ander gedompel. Oor die afgelope eeu alleen het ongeveer 100 000- 000 mense in oorloë gesterf—en dit sluit miljoene onskuldige mans, vroue en kinders in. Daar is dus reeds toenemende bewyse dat “dit .. nie aan die mens wat loop [behoort] om sy voetstappe te rig nie” (Jer. 10:23). Omdat ons dit besef, erken ons Jehovah as ons Heerser.—Lees Spreuke 3:5, 6.

6. Hoe word vroue in baie lande behandel?

6 Mans sowel as vroue het al mishandeling ervaar in hierdie wêreld, wat in die mag van Satan lê (Pred. 8:9; 1 Joh. 5:19). Party van die ergste gruweldade het die mishandeling van vroue ingesluit. Wêreldwyd het omtrent 30 persent van vroue gerapporteer dat hulle deur ’n man aangerand is. In party gemeenskappe word seuns verkies omdat daar gedink word dat hulle die geslagslyn sal voortsit en vir hulle bejaarde ouers en grootouers sal sorg. In sekere lande word dogters as ongewenste kinders beskou, en baie meer baba-dogtertjies as baba-seuntjies word geaborteer.

7. Watter soort begin het God mans sowel as vroue gegee?

7 Die mishandeling van vroue behaag God beslis nie. Hy is regverdig teenoor vroue en respekteer hulle. Jehovah se agting vir vroue kan duidelik gesien word uit die feit dat Eva volmaak geskep is, met die eienskappe wat haar ’n wonderlike komplement vir Adam gemaak het, nie ’n slaaf nie. Dit is een rede waarom God teen die einde van die sesde skeppingsdag “gesien [het] wat hy gemaak het, en kyk! dit was baie goed” (Gen. 1:31). Ja, “alles” wat Jehovah gemaak het, was “baie goed”. Hy het mans sowel as vroue ’n baie goeie begin gegee!

VROUE WAT JEHOVAH SE ONDERSTEUNING GEHAD HET

8. (a) Beskryf die gedrag van mense oor die algemeen. (b) Aan wie het God regdeur die geskiedenis guns betoon?

8 Ná die opstand in Eden het die gedrag van mans en vroue oor die algemeen agteruitgegaan, en gedurende die afgelope eeu het dit erger geword as ooit tevore. Die Bybel het voorspel dat goddelose gedrag in “die laaste dae” sou hoogty vier. Oortreding het so algemeen geword dat ons werklik kan sê dat ons in “kritieke tye” lewe (2 Tim. 3:1-5). Maar regdeur die mensegeskiedenis het die “Soewereine Heer Jehovah” guns betoon aan mans en vroue wat op hom vertrou het, sy wette gehoorsaam het en hulle aan hom as Heerser onderwerp het.—Lees Psalm 71:5.

9. Hoeveel mense het die Vloed oorleef, en waarom?

9 Toe God die gewelddadige eertydse wêreld deur middel van die Vloed in die dae van Noag vernietig het, het baie min mense dit oorleef. As Noag se broers en susters op daardie tydstip nog gelewe het, het hulle ook in die vloedwaters gesterf (Gen. 5:30). Maar net soveel vroue het die Vloed oorleef as mans. Die oorlewendes was Noag, sy vrou, sy drie seuns en hulle vrouens. Hulle is bewaar omdat hulle God gevrees het en sy wil gedoen het. Die miljarde mense wat nou lewe, is afstammelinge van daardie agt persone wat Jehovah se ondersteuning gehad het.—Gen. 7:7; 1 Pet. 3:20.

10. Waarom het godvresende vrouens van getroue aartsvaders Jehovah se ondersteuning gehad?

10 Jare later het die godvresende vrouens van getroue aartsvaders ook God se ondersteuning gehad. Dit sou nie die geval gewees het as hulle klaers oor hulle lewenslot was nie (Jud. 16). Dit is moeilik om te glo dat Abraham se eerbiedige vrou, Sara, ernstig sou gekla het toe hulle die geriewe van Ur agtergelaat het om in ’n ander land as tydelike inwoners in tente te woon. Sara het Abraham eerder “gehoorsaam . . . en hom ‘heer’ genoem” (1 Pet. 3:6). Dink ook aan Rebekka, wat ’n geseënde gawe van Jehovah was en ’n uitstekende vrou geword het. Dit is nie verbasend dat haar man, Isak, ‘haar liefgekry het en vertroosting gevind het ná die verlies van sy moeder’ nie (Gen. 24:67). En hoe bly is ons tog dat ons vandag godvresende vroue in ons midde het, wat soos Sara en Rebekka is!

11. Hoe het twee Hebreeuse vroedvroue moed aan die dag gelê?

11 Gedurende hulle jare van slawerny in Egipte het die Israeliete grootliks in getal toegeneem, en daarom het Farao beveel dat alle Hebreeuse babaseuntjies by geboorte doodgemaak moet word. Maar dink aan die Hebreeuse vroedvroue Sifra en Pua, wat moontlik die leiding in die vroedvrou-beroep geneem het. Omdat hulle eerbiedige vrees vir Jehovah gehad het, het hulle moedig geweier om kindermoord te pleeg. Hy het hulle dus beloon met hulle eie gesinne.—Eks. 1:15-21.

12. Wat is merkwaardig omtrent Debora en Jael?

12 Een vrou wat God se ondersteuning gehad het in die dae van Israel se rigters, was die profetes Debora. Sy het die rigter Barak aangemoedig en ’n rol daarin gespeel om die Israeliete te help bevry van onderdrukking, maar sy het ook voorspel dat die eer vir die oorwinning oor die Kanaäniete nie aan Barak sou behoort nie. God sou eerder die Kanaänitiese leërhoof Sisera in “die hand van ’n vrou” gee. Dit is wat gebeur het toe die nie-Israelitiese vrou Jael hom doodgemaak het.—Rigt. 4:4-9, 17-22.

13. Wat sê die Bybel oor Abigail?

13 Abigail was ’n merkwaardige vrou wat in die 11de eeu VHJ gelewe het. Sy het onderskeidingsvermoë gehad, maar haar man, Nabal, was ongevoelig, nikswerd en verstandeloos (1 Sam. 25:2, 3, 25). Dawid en sy manne het Nabal se besittings ’n tyd lank beskerm, maar toe hulle hom vir voorsienings gevra het, het hy “teen hulle uitgevaar” en hulle niks gegee nie. Dit het Dawid so kwaad gemaak dat hy beplan het om Nabal en sy manne dood te maak. Toe Abigail hiervan hoor, het sy kos en wyn na Dawid en sy manne geneem en sodoende bloedvergieting verhoed (1 Sam. 25:8-18). Dawid het later vir haar gesê: “Mag Jehovah, die God van Israel, geloof word, wat jou vandag gestuur het om my te ontmoet!” (1 Sam. 25:32). Ná Nabal se dood het Dawid met Abigail getrou.—1 Sam. 25:37-42.

14. Aan watter soort werk het die dogters van Sallum deelgeneem, en hoe doen Christenvroue van vandag iets soortgelyks?

14 Baie mans, vroue en kinders het gesterf toe die Babiloniese magte Jerusalem en sy tempel in 607 VHJ vernietig het. Die stad se mure is in 455 VHJ onder Nehemia se toesig herbou. Onder diegene wat die mure help herbou het, was die dogters van Sallum, ’n vors van die helfte van die distrik Jerusalem (Neh. 3:12). Hulle het gewilliglik nederige werk gedoen. Hoe waardeer ons tog die talle Christenvroue wat vandag teokratiese bouprojekte vreugdevol op verskeie maniere ondersteun!

GODVRESENDE VROUE VAN DIE EERSTE EEU

15. Watter voorreg het God aan ’n vrou met die naam Maria gegee?

15 ’n Rukkie voor en gedurende die eerste eeu HJ het Jehovah ’n aantal vroue met spesiale voorregte geseën. Onder hulle was ’n maagd met die naam Maria. Gedurende die tyd dat sy en Josef verloof was, is sy op wonderdadige wyse deur heilige gees bevrug. Waarom het God haar gekies om die moeder van Jesus te word? Ongetwyfeld omdat sy die nodige geestelike eienskappe gehad het om haar volmaakte seun van kleins af groot te maak. Wat ’n voorreg was dit tog om die moeder te wees van die grootste mens wat nog op die aarde gelewe het!—Matt. 1:18-25.

16. Noem ’n voorbeeld wat Jesus se gesindheid teenoor vroue toelig.

16 Jesus was baie goedhartig teenoor vroue. Dink byvoorbeeld aan ’n vrou wat 12 jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Toe Jesus in ’n skare was, het sy van agter gekom en aan sy bokleed geraak. Jesus het haar nie bestraf nie, maar het eerder vriendelik gesê: “Dogter, jou geloof het jou gesond gemaak. Gaan in vrede, en wees van jou ernstige siekte genees.”—Mark. 5:25-34.

17. Watter wonderdadige gebeurtenis het op Pinkster 33 HJ plaasgevind?

17 Party vroue wat Jesus se dissipels was, het hom en sy apostels bedien (Luk. 8:1-3). En op Pinkster 33 HJ het ongeveer 120 mans sowel as vroue God se gees op ’n spesiale wyse ontvang. (Lees Handelinge 2:1-4.) Die uitstorting van heilige gees is voorspel in die woorde: “Ek [Jehovah sal] my gees op elke soort vlees uitstort, en julle seuns en julle dogters sal beslis profeteer . . . En selfs op die diensknegte en op die diensmeisies sal ek . . . my gees uitstort” (Joël 2:28, 29). Deur middel van daardie wonderdadige gebeurtenis op Pinksterdag het God getoon dat hy sy ondersteuning oorgedra het van die afvallige Israel na “die Israel van God”, wat uit mans sowel as vroue bestaan (Gal. 3:28; 6:15, 16). Onder die Christenvroue wat in die eerste eeu aan die bediening deelgeneem het, was die vier dogters van Filippus die evangeliedienaar.—Hand. 21:8, 9.

“’N GROOT LEËR” VROUE

18, 19. (a) Watter voorreg het God aan mans sowel as vroue gegee in verband met ware aanbidding? (b) Hoe verwys die psalmis na vroue wat die goeie nuus verkondig?

18 In die laat 1800’s het ’n paar mans en vroue opregte belangstelling in ware aanbidding getoon. Hulle was voorlopers van diegene wat nou ’n deel het aan die vervulling van Jesus se profetiese woorde: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matt. 24:14.

19 Die klein groepie Bybelstudente het vandag tot ongeveer 8 000 000 Getuies van Jehovah gegroei. Meer as 11 000 000 ander individue toon belangstelling in die Bybel en ons werk deur die jaarlikse Herdenking van Jesus se dood by te woon. In die meeste lande is die meerderheid van diegene wat teenwoordig is, vroue. Vroue maak ook die grootste deel uit van die meer as 1 000 000 voltydse Koninkryksverkondigers wêreldwyd. God het getroue vroue beslis die voorreg gegee om deel te wees van die vervulling van die psalmis se woorde: “Jehovah laat die woord hoor; die vroue wat die goeie nuus verkondig, is ’n groot leër.”—Ps. 68:11.

Die vroue wat die goeie nuus verkondig, is werklik “’n groot leër” (Sien paragrawe 18, 19)

WONDERLIKE SEËNINGE LÊ VOOR VIR GODVRESENDE VROUE

20. Watter studieprojekte verdien ons aandag?

20 Daar is nie genoeg plek om die talle getroue vroue in die Bybel te bespreek nie. Maar ons kan almal oor hulle lees in God se Woord en in artikels wat in ons lektuur gepubliseer is. Ons kan byvoorbeeld peins oor die lojaliteit van Rut (Rut 1:16, 17). Wanneer ons die Bybelboek lees wat na koningin Ester vernoem is sowel as artikels oor haar, kan ons geloof versterk word. Ons kan baat vind as ons sulke studieprojekte vir aande vir Gesinsaanbidding beplan. As ons alleen woon, kan ons sulke onderwerpe bestudeer wanneer ons persoonlike studie doen.

21. Hoe het godvresende vroue in moeilike tye getoon dat hulle toegewyd aan Jehovah is?

21 Jehovah seën ongetwyfeld die predikingswerk van Christenvroue en ondersteun hulle in tye van beproewing. Godvresende vroue het byvoorbeeld met God se hulp hulle onkreukbaarheid gehandhaaf onder Nazi- en Kommunistiese bewind toe baie van hulle gely het en party selfs hulle lewe verloor het omdat hulle gehoorsaam was aan God (Hand. 5:29). Vandag, soos in die verlede, ondersteun ons susters en al hulle mede-aanbidders God se soewereiniteit. Jehovah gryp as ’t ware hulle regterhand, net soos in die geval van die eertydse Israeliete, en sê: “Moenie bang wees nie. Ek sal jou help.”—Jes. 41:10-13.

22. Na watter toekomstige voorregte kan ons uitsien?

22 In die nabye toekoms sal godvresende mans en vroue die aarde in ’n paradys omskep en miljoene verresenes help om van Jehovah se voornemens te leer. Laat ons, hetsy ons manlik of vroulik is, tot dan ons voorreg koester om hom “skouer aan skouer” te dien.—Sef. 3:9.