Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Dink aan diegene in die voltydse diens

Dink aan diegene in die voltydse diens

“Ons dink onophoudelik aan julle getroue werk en julle liefdevolle arbeid.”—1 TESS. 1:3.

1. Hoe het Paulus gevoel oor diegene wat Jehovah ywerig gedien het?

DIE apostel Paulus het gedink aan diegene wat hard gewerk het om die goeie nuus te bevorder. Paulus het geskryf: “Ons dink onophoudelik aan julle getroue werk en julle liefdevolle arbeid en julle volharding weens julle hoop op ons Here Jesus Christus voor ons God en Vader” (1 Tess. 1:3). Jehovah self vergeet beslis nie die liefdevolle arbeid van almal wat hom getrou dien nie, hetsy hulle weens hulle omstandighede baie of min kan doen.—Heb. 6:10.

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Baie van ons medeknegte—van die verlede en die hede—het groot opofferings gemaak om Jehovah voltyds te dien. Kom ons kyk hoe party in die eerste eeu gedien het. Ons sal ook ’n paar hedendaagse vorme van voltydse diens bespreek en kyk hoe ons kan dink aan die dierbare broers en susters wat hulle gewillig aangebied het om op spesiale maniere te dien.

EERSTE-EEUSE CHRISTENE

3, 4. (a) Hoe het party in die eerste eeu gedien? (b) Hoe is daar in hulle fisiese behoeftes voorsien?

3 Kort nadat hy gedoop is, het Jesus met ’n werk begin wat regoor die wêreld gedoen sou word (Luk. 3:21-23; 4:14, 15, 43). Ná sy dood het sy apostels die leiding geneem in die uitbreiding van hierdie predikingswerk (Hand. 5:42; 6:7). Party Christene, soos Filippus, het as evangeliedienaars en sendelinge in Palestina gedien (Hand. 8:5, 40; 21:8). Paulus en ander het selfs verder gereis (Hand. 13:2-4; 14:26; 2 Kor. 1:19). Party—soos Silvanus (Silas), Markus en Lukas—het ook as kopiiste of skrywers gedien (1 Pet. 5:12). Christensusters het sy aan sy met hierdie getroue broers gewerk (Hand. 18:26; Rom. 16:1, 2). Hulle opwindende ondervindinge maak dit ’n genot om die Christelike Griekse Geskrifte te lees en toon dat Jehovah ten goede aan sy knegte dink.

4 Hoe is vroeë voltydse dienaars materieel ondersteun? Soms het hulle gasvryheid en ander hulp van mede-Christene ontvang, maar hulle het nie op sulke bystand aangedring nie (1 Kor. 9:11-15). Party individue en gemeentes het hulle gewillig ondersteun. (Lees Handelinge 16:14, 15; Filippense 4:15-18.) Paulus en sy reisgenote het ook deeltyds gewerk om hulle eie onkoste te help dek.

VOLTYDSE DIENAARS IN ONS TYD

5. Wat het een egpaar oor hulle lewe in die voltydse diens gesê?

5 Ook vandag werk talle hard in verskillende aspekte van die voltydse diens. (Sien die venster “ Vorme van voltydse diens”.) Hoe voel hulle oor die loopbaan wat hulle gekies het? Jy kan hulle gerus hierdie vraag vra. Dit sal vir jou waarskynlik baie aanmoedigend wees as jy dit doen. Kyk na ’n voorbeeld: ’n Broer wat as ’n gewone pionier, ’n spesiale pionier, ’n sendeling en ’n lid van die Bethelgesin in ’n ander land gedien het, sê: “Ek dink dat my keuse om die voltydse diens te betree, een van die beste keuses van my lewe was. Toe ek 18 jaar oud was, het ek gesukkel om te kies tussen universiteitsopleiding, ’n voltydse sekulêre loopbaan en pionierdiens. Ek het uit ondervinding geleer dat Jehovah nie die opofferings vergeet wat jy maak om hom voltyds te dien nie. Dit het my in staat gestel om die talente en vermoëns wat Jehovah my gegee het, te gebruik op maniere wat nooit moontlik sou gewees het as ek ’n wêreldse loopbaan gekies het nie.” Sy vrou sê: “Elke toewysing het my help groei. Jehovah het ons keer op keer beskerm en gelei op maniere wat ons nooit sou ondervind het as ons in ons eie klein gemaksone gebly het nie. Ek dank Jehovah elke dag vir ons lewe in die voltydse diens.” Sal jy graag so oor jou lewe wil voel?

6. Waarvan kan almal seker wees in verband met hoe Jehovah voel?

6 Party se omstandighede laat hulle natuurlik nie toe om nou in die voltydse diens te wees nie. Ons kan seker wees dat Jehovah ook hulle heelhartige pogings waardeer. Dink aan diegene wat Paulus in Filemon 1-3 by name genoem het, insluitende almal wat deel was van die gemeente in Kolosse. (Lees.) Paulus het hulle waardeer, en Jehovah ook. Ons hemelse Vader waardeer eweneens jou diens. Maar hoe kan jy diegene ondersteun wat nou in die voltydse diens is?

HELP PIONIERS

7, 8. Wat behels pionierdiens, en hoe kan ander in die gemeente die pioniers help?

7 Soos eerste-eeuse evangeliedienaars, is ywerige pioniers ’n groot aanmoediging vir die gemeentes. Baie streef daarna om elke maand 70 uur aan die bediening te wy. Hoe kan jy hulle help?

8 ’n Pioniersuster met die naam Shari het gesê: “Pioniers lyk sterk omdat hulle elke dag in velddiens uitgaan. Maar hulle het ook aanmoediging nodig” (Rom. 1:11, 12). Nog ’n suster wat self ’n ruk lank gepionier het, het oor die pioniers in haar gemeente gesê: “Hulle werk hard en onophoudelik. Hulle waardeer dit wanneer ander aanbied om hulle in velddiens rond te ry, hulle vir ’n ete nooi, hulle ’n bydrae vir brandstof gee of hulle op die een of ander manier finansieel help. Dit wys vir hulle dat jy werklik omgee.”

9, 10. Hoe het party die pioniers in hulle gemeente gehelp?

9 Wil jy graag die pioniers in die bediening help? ’n Pionier met die naam Bobbi het gesmeek: “Ons het meer ondersteuning in die week nodig.” ’n Ander pionier in dieselfde gemeente het bygevoeg: “Dit is werklik ’n probleem om iemand te kry om in die middag saam met jou te werk.” ’n Suster wat nou by die Brooklynse Bethel dien, het oor haar pionierdiens gesê: “Een suster wat ’n motor gehad het, het gesê: ‘Bel my as jy ooit ’n velddiensmaat nodig het, en ek sal saam met jou uitgaan.’ Sonder haar sou ek nie kon aanhou pionier het nie.” En let op wat Shari sê: “Ná velddiens is ongetroude pioniers dikwels heeltemal alleen. Jy kan ongetroude broers of susters van tyd tot tyd nooi om vir gesinsaanbidding by julle aan te sluit. En wanneer jy hulle by ander bedrywighede betrek, help dit hulle ook om sterk te bly.”

10 ’n Suster wat al byna 50 jaar in die voltydse diens is, het oor haar pionierdiens saam met ander ongetroude susters gesê: “Ons ouer manne het die pioniers elke paar maande besoek. Hulle het gevra hoe dit met ons gesondheid en sekulêre werk gaan en of ons enige probleme het. Hulle het opreg in ons belanggestel. Hulle het ons by ons woonstel besoek sodat hulle kon sien of ons hulp nodig het.” Dit laat jou dalk dink aan Paulus se waardering vir die dienste wat ’n gesinsman in Efese vir hom verrig het.—2 Tim. 1:18.

11. Wat behels dit om as ’n spesiale pionier te dien?

11 Sommige gemeentes het die voorreg om spesiale pioniers te hê. Baie van hierdie broers en susters streef daarna om elke maand 130 uur aan die veldbediening te wy. Omdat hulle soveel tyd in die bediening deurbring en op ander maniere help, doen hulle min of geen sekulêre werk nie. Die takkantoor voorsien hulle van ’n beskeie maandelikse toelaag sodat hulle hulle op die bediening kan toespits.

12. Hoe kan ouer manne en ander die spesiale pioniers help?

12 Hoe kan ons die spesiale pioniers help? ’n Ouer man in ’n takkantoor wat met talle spesiale pioniers in aanraking is, sê: “Die ouer manne moet met hulle gesels, uitvind wat hulle omstandighede is en dan bepaal hoe om hulle te help.” Party Getuies neem aan dat spesiale pioniers ten volle versorg is omdat hulle ’n toelaag ontvang, maar die plaaslike broers kan hulle op baie maniere help.” Net soos gewone pioniers, waardeer spesiale pioniers dit om ’n velddiensmaat te hê. Kan jy hiermee help?

HELP KRINGOPSIENERS

13, 14. (a) Wat moet ons omtrent kringopsieners onthou? (b) Wat dink jy kan jy doen om kringopsieners en hulle vrouens te help?

13 Kringopsieners en hulle vrouens word dikwels beskou as geestelik sterk persone met groot uithouvermoë. Dit is waar, maar hulle het ook aanmoediging nodig, wil graag ’n maat in velddiens hê en is bly wanneer broers hulle by ’n gebalanseerde hoeveelheid ontspanning insluit. Sê nou hulle word siek en moet hospitaal toe gaan, miskien vir ’n operasie of behandeling? Hoe verkwikkend is dit tog vir hulle wanneer plaaslike broers en susters in hulle behoeftes help voorsien en persoonlike belangstelling in hulle toon. Ons kan ons net voorstel watter besorgdheid “die geliefde geneesheer” Lukas, die skrywer van die boek Handelinge, teenoor Paulus en ander reisgenote getoon het.—Kol. 4:14; Hand. 20:5–21:18.

14 Kringopsieners en hulle vrouens het intieme vriende nodig en koester hierdie vriende. ’n Kringopsiener het geskryf: “Dit lyk asof my vriende weet presies wanneer ek aanmoediging nodig het. Hulle vra oordeelkundige vrae, en dit help my om oor my bekommernisse te praat. Deur net goeie luisteraars te wees, help hulle baie.” Kringopsieners en hulle vrouens is baie dankbaar vir die persoonlike belangstelling van hulle broers en susters.

ONDERSTEUN BETHELIETE

15, 16. Watter dienste verskaf diegene wat by Bethel en by Byeenkomssale dien, en hoe kan ons hulle ondersteun?

15 Diegene wat regoor die wêreld by Bethel en by Byeenkomssale dien, voorsien noodsaaklike ondersteuning aan die Koninkrykswerk in die lande onder die toesig van hulle takkantoor. Hoe kan jy, as daar Betheliete in julle gemeente of kring is, toon dat jy aan hulle dink?

16 Wanneer hulle Bethel toe kom, verlang hulle dalk na hulle familie en geliefde vriende wat hulle agtergelaat het. Hoe dankbaar is hulle tog wanneer mede-Betheliete en hulle nuwe gemeente met hulle vriende maak! (Mark. 10:29, 30). Hulle normale werkrooster stel hulle in staat om gemeentelike vergaderinge by te woon en om elke week velddiens te doen. Maar Betheliete het dalk van tyd tot tyd bykomende verantwoordelikhede. Wanneer gemeentes dit verstaan en toon dat hulle die Betheliete en die werk wat hulle doen, waardeer, vind almal daarby baat.—Lees 1 Tessalonisense 2:9.

HELP VOLTYDSE DIENAARS WAT IN ’N ANDER LAND AS HULLE EIE DIEN

17, 18. Watter toewysings ontvang diegene wat in ’n ander land dien?

17 Diegene wat ’n toewysing aanvaar om in ’n ander land te dien, moet dalk aan ander kos, tale, gebruike en toestande gewoond raak. Waarom aanvaar hulle die uitdaging wat hierdie veranderinge meebring?

18 Party is sendelinge, wat die meeste van hulle tyd in die veldbediening deurbring waar talle by hulle gespesialiseerde opleiding kan baat vind. Die takkantoor voorsien sendelinge van beskeie huisvesting en ’n toelaag om hulle basiese behoeftes te dek. Ander in buitelandse toewysings dien by ’n takkantoor of help met die bou van takfasiliteite, satellietvertaalkantore, Byeenkomssale of Koninkryksale. Kos, beskeie verblyf en ander dienste word voorsien. Soos lede van die Bethelgesin, woon hulle gereeld vergaderinge by en doen hulle gereeld velddiens saam met hulle gemeente. Hulle is dus in baie opsigte ’n seën.

19. Wat moet ons in gedagte hou omtrent dié wat in ’n ander land dien?

19 Hoe kan jy aan sulke voltydse dienaars dink? Onthou dat hulle—veral aan die begin—dalk nie aan party plaaslike kosse gewoond is nie. Jy kan dit in gedagte hou wanneer jy hulle vir ’n ete nooi; jy kan eers vra of daar iets is wat hulle nie eet nie en of hulle iets nuuts wil probeer. Wees geduldig terwyl hulle die plaaslike taal leer en met die gebruike vertroud raak. Dit kan ’n rukkie neem voordat hulle alles verstaan wat jy sê, maar jy kan hulle op liefdevolle wyse met hulle uitspraak help. Hulle wil leer!

20. Op watter goeie manier kan ons aan voltydse dienaars en hulle ouers dink?

20 Voltydse dienaars word ouer, en so ook hulle ouers. As hulle ouers Getuies is, is dit sekerlik hulle grootste wens dat hulle kinders in hulle toewysing bly (3 Joh. 4). Voltydse dienaars sal natuurlik alles in hulle vermoë doen as hulle ouers versorging nodig het en hulle so dikwels moontlik kom help. Maar diegene wat naby aan die ouers bly, kan die voltydse dienaars help deur geredelik hulp aan hulle bejaarde ouers te voorsien, indien nodig. Hou in gedagte dat voltydse dienaars gewigtige verantwoordelikhede het in die belangrikste werk wat nog ooit op die aarde gedoen is (Matt. 28:19, 20). Kan jy of julle gemeente ’n handjie bysit as die ouers van voltydse dienaars hulp nodig het?

21. Hoe voel diegene in die voltydse diens oor die hulp en aanmoediging wat ander voorsien?

21 Diegene wat die voltydse diens betree, doen dit nie vir finansiële gewin nie, maar omdat hulle wil gee—aan Jehovah en aan ander. Hulle stel enige hulp wat jy kan verleen, hoog op prys. ’n Suster wat in ’n ander land dien, spreek die gevoelens van baie uit: “Selfs net ’n kaartjie waarin waardering uitgespreek word, wys dat ander aan jou dink en dat hulle bly is oor wat jy doen.”

22. Hoe voel jy oor die voltydse diens?

22 Om Jehovah voltyds te dien, is werklik die lonendste lewenswyse. Dit is uitdagend, leersaam en bevredigend. Dit is ook goeie voorbereiding vir die ewige vreugdevolle diens wat op alle getroue knegte van Jehovah onder God se Koninkryk wag. Mag ons almal ‘onophoudelik dink aan die getroue werk en liefdevolle arbeid’ van diegene in die voltydse diens.—1 Tess. 1:3.