Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Beteken Dawid se kommentaar in Psalm 37:25 en Jesus se woorde in Matteus 6:33 dat Jehovah nooit sal toelaat dat ’n Christen ’n gebrek aan kos het nie?

Dawid het geskryf dat hy “geen regverdige heeltemal verlate gesien [het] of dat sy nageslag brood soek nie”. Hy het ’n algemene opmerking gemaak op grond van sy eie ondervinding. Hy het self God se voortdurende sorg ondervind (Ps. 37:25). Dawid se woorde beteken egter nie dat hoegenaamd geen aanbidder gebrek gely het of sal ly nie.

Daar was tye dat Dawid hom in moeilike omstandighede bevind het. Een hiervan was toe hy vir Saul gevlug het. Dawid het min kos gehad, en hy het brood gevra vir hom en diegene wat saam met hom was (1 Sam. 21:1-6). In hierdie geval het Dawid dus wel ‘brood gesoek’. En tog het hy in hierdie moeilike situasie geweet dat Jehovah hom nie verlaat het nie. Die feit is dat ons nêrens lees dat Dawid moes bedel om die kos te kry wat hy nodig gehad het om aan die lewe te bly nie.

In Matteus 6:33 vind ons Jesus se versekering dat God in die behoeftes sal voorsien van getroue knegte wat Koninkryksbelange eerste stel in hulle lewe. “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek”, het Jesus gesê, “en al hierdie ander dinge [insluitende kos, drank en klere] sal vir julle bygevoeg word.” Maar Jesus het ook aangedui dat sy “broers” dalk weens vervolging honger sal ly (Matt. 25:35, 37, 40). Dit het met die apostel Paulus gebeur. Hy het soms honger en dors gely.—2 Kor. 11:27.

Jehovah sê vir ons dat ons op verskillende maniere vervolg sal word. Hy laat dalk toe dat ons ontberinge ly terwyl ons help om ’n antwoord op die aantygings van die Duiwel te gee (Job 2:3-5). Byvoorbeeld, party van ons mede-Christene, soos diegene wat in Nazi-konsentrasiekampe gesit is, het weens vervolging gely. Een wrede metode wat gebruik is om die onkreukbaarheid van die Getuies te probeer ondermyn, was om hulle bitter min kos te gee. Getroue Getuies het gehoorsaam gebly aan Jehovah; hy het hulle nie verlaat nie. Hy het toegelaat dat hulle hierdie beproewing ondergaan, net soos hy toelaat dat alle Christene beproewinge verduur. Daar bestaan egter geen twyfel dat Jehovah almal onderskraag wat ter wille van sy naam ly nie (1 Kor. 10:13). Ons kan dink aan die woorde van Filippense 1:29: “Aan julle is die voorreg ter wille van Christus gegee, nie net om julle geloof in hom te stel nie, maar ook om ter wille van hom te ly.”

Jehovah belowe dat hy met sy knegte sal wees. Jesaja 54:17 sê byvoorbeeld: “Geen wapen wat teen jou gesmee sal word, sal enige sukses hê nie.” Hierdie en soortgelyke beloftes waarborg die veiligheid van God se volk as ’n geheel. Maar as individue ondergaan Christene dalk toetse, selfs tot in die dood.