Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is jy oortuig dat jy die waarheid het? Waarom?

Is jy oortuig dat jy die waarheid het? Waarom?

“Maak [seker] wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.”—ROM. 12:2.

1. Hoe het die Christendom se geestelikes gedurende oorlogstyd opgetree?

IS DIT God se wil dat ware Christene oorlog toe gaan en mense van ’n ander nasionaliteit doodmaak? Gedurende die afgelope 100 jaar het baie verklaarde Christene dikwels presies dit gedoen. Katolieke kapelane het soldate en hulle wapens in oorloë teen Katolieke van ’n vyandelike nasie geseën. Protestantse kapelane het dit ook gedoen. Die Tweede Wêreldoorlog is ’n treffende voorbeeld van die slagting waartoe sulke dade lei.

2, 3. Watter standpunt het Jehovah se Getuies gedurende die Tweede Wêreldoorlog en later ingeneem, en waarom?

2 Wat het Jehovah se Getuies gedurende daardie oorlog gedoen? Die geskiedenis toon dat hulle Christelike neutraliteit gehandhaaf het. Wat was die grondslag van hulle standpunt? Hoofsaaklik die voorbeeld en leringe van Jesus. Hy het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:35). Hulle het ook die uitgebreide toepassing van die apostel Paulus se redenasie in sy brief aan Christene in Korinte ter harte geneem.—Lees 2 Korintiërs 10:3, 4.

3 Ware Christene, wie se gewete deur die Bybel opgelei is, leer dus nie hoe om oorlog te voer nie en neem ook nie daaraan deel nie. As gevolg van hierdie Christelike standpunt is duisende Getuies, jonk en oud, mans en vroue, vervolg. Baie het in strafkampe en tronke gely. Gedurende die Nazi-era in Duitsland is party selfs vermoor. Ten spyte van die wrede vervolging wat die Getuies in Europa verduur het, het hulle nooit hulle opdrag vergeet om die goeie nuus van Jehovah se Koninkryk te verkondig nie. Hulle het dit getrou gedoen—in tronke, in konsentrasiekampe en in ballingskap. * Die Getuies het ook geen aandeel gehad aan die bloedige etniese suiwering in 1994 in Rwanda nie. Hulle het ook neutraal gebly in die bloedbad van die Balkankonflik tydens die verbrokkeling van die voormalige Joego-Slawië.

4. Watter uitwerking het die neutraliteit van Jehovah se Getuies op ander gehad?

4 Die streng neutraliteit van Jehovah se Getuies het duisende mense regoor die aarde oortuig dat die Getuies opregte liefde vir God en hulle naaste aan die dag lê. Met ander woorde, hulle beoefen die ware Christelike godsdiens. Maar daar is ook ander aspekte van ons aanbidding wat baie mense oortuig het dat Jehovah se Getuies ware Christene is.

DIE GROOTSTE ONDERRIGTINGSWERK IN DIE GESKIEDENIS

5. By watter verandering moes Christus se vroeë volgelinge hulle aanpas?

5 Vanaf die begin van sy bediening het Jesus die belangrikheid daarvan beklemtoon dat die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig moet word. Hy het 12 dissipels gekies om die grondslag vir ’n wêreldwye bediening te help lê; daarna het hy ’n groep van 70 dissipels opgelei (Luk. 6:13; 10:1). Hulle is voorberei om die goeie nuus na ander te neem—eers na die Jode. Toe, tot hulle verbasing, moes Jesus se dissipels dit ook na die onbesnedenes van die nasies neem. Wat ’n verandering moes dit tog vir ywerige Joodse dissipels gewees het!—Hand. 1:8.

6. Wat het Petrus laat besef dat Jehovah onpartydig is?

6 Die apostel Petrus is na die huis van Kornelius, ’n onbesnede nie-Jood, gestuur. Petrus het toe besef dat God onpartydig is. Kornelius en sy huisgesin is gedoop. Die Christelike godsdiens het nou na ’n ontsaglike nuwe veld versprei; mense van alle nasies kon die waarheid hoor en dit aanneem (Hand. 10:9-48). Nou was die veld die hele wêreld.

7, 8. Watter inisiatief het Jehovah se organisasie geneem? (Sien die prent aan die begin van die artikel.)

7 Gedurende die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies het diegene wat die leiding neem, die werk om die goeie nuus regoor die wêreld te verkondig en aan ander te leer, ywerig bevorder. Vandag doen byna agtmiljoen ywerige Getuies hulle bes om Christus se boodskap in meer as 600 tale te verkondig, en hierdie syfer neem steeds toe! Jehovah se Getuies kan duidelik uitgeken word aan hulle huis-tot-huis-bediening en hulle predikingswerk op straat, waar hulle soms uitstaltafels en mobiele staanders gebruik om lektuur uit te stal.

8 Meer as 2 900 vertalers het gespesialiseerde opleiding ontvang om die Bybel en Bybellektuur te vertaal. Hulle werk is beslis nie beperk tot wat dalk as hooftale beskou word nie. Hulle vertaal ook in honderde tale wat nie algemeen bekend is nie, maar wat nogtans deur miljoene gepraat word. Byvoorbeeld, in Spanje praat miljoene Kataloniërs daagliks hulle moedertaal, Katalaans. Veral in onlangse tye was daar ’n oplewing in Katalaans en dialekte daarvan in Andorra, Alicante, op die Baleariese Eilande en in Valencia. Jehovah se Getuies vervaardig nou Bybellektuur in Katalaans, en Christelike vergaderinge word gehou in die taal wat die hart van die Kataloniërs verbly.

9, 10. Wat lig toe dat God se organisasie in die geestelike behoeftes van alle mense belangstel?

9 Hierdie vertaal- en onderrigtingswerk word in baie kulture gedoen. Mexiko is ’n Spaanssprekende land, maar daar is groot inheemse groepe wat ander tale praat. Die Maja is een van hierdie groepe. Die takkantoor in Mexiko het die Maja-vertaalspan in ’n deel van die land gevestig waar hulle die taal elke dag kan praat en hoor. Nog ’n voorbeeld is Nepalees, een van die tale wat in Nepal gepraat word, wat ’n bevolking van meer as 29 miljoen het. Ongeveer 120 tale word in die land gepraat, maar meer as tienmiljoen mense praat Nepalees, en baie ander gebruik dit as ’n tweede taal. Ons Bybellektuur word ook in hierdie taal uitgegee.

10 Jehovah se organisasie neem die opdrag om die goeie nuus van die Koninkryk wêreldwyd te verkondig, baie ernstig op, soos gesien kan word aan die ondersteuning wat aan die talle vertaalspanne regoor die wêreld gegee word. Miljoene der miljoene traktate, brosjures en tydskrifte is al gedurende kampanjes regoor die wêreld gratis aan die publiek versprei. Die onkoste word gedek deur die vrywillige bydraes van Jehovah se Getuies, wat Jesus se opdrag gehoorsaam: “Julle het verniet ontvang, verniet moet julle gee.”—Matt. 10:8.

’n Vertaalspan werk aan publikasies in Nederduits (Sien paragraaf 10)

Publikasies in Nederduits is nuttig in Paraguay (Sien ook die prent aan die begin van die artikel)

11, 12. Watter goeie uitwerking het die wêreldwye predikingswerk van Jehovah se Getuies op ander gehad?

11 Jehovah se Getuies is so oortuig dat hulle die waarheid gevind het dat hulle, as toegewyde Christenpredikers en -onderrigters, groot opofferings maak om die boodskap aan mense van ander nasies en etniese groepe bekend te maak. Baie het hulle lewe vereenvoudig, ’n ander taal geleer en hulle by ’n ander kultuur aangepas om aan hierdie lewensbelangrike Christelike werk deel te neem. Hierdie internasionale predikings- en onderrigtingswerk is nog ’n faktor wat baie mense oortuig dat Jehovah se Getuies die ware volgelinge van Christus Jesus is.

12 Die Getuies doen dit alles omdat hulle oortuig is dat hulle die waarheid gevind het. Maar wat anders het miljoene mense oortuig dat Jehovah se Getuies die waarheid het?—Lees Romeine 14:17, 18.

WAAROM HULLE GLO

13. Hoe hou die Getuies die organisasie rein?

13 Ons kan baat vind by die kommentare van toegewyde Christene van ons dag, wat oortuig is dat hulle die waarheid gevind het. ’n Broer wat Jehovah al lank dien, het gesê: “Alles moontlik word gedoen om Jehovah se organisasie sedelik rein en onbesmet te hou, ongeag wie raad gegee of gedissiplineer moet word.” Hoe word hierdie hoë sedelike standaard gehandhaaf? Deur te hou by die standaarde wat in God se Woord uiteengesit word en die patroon wat Jesus en sy dissipels vasgestel het. Gedurende die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies moes betreklik min mense dus uit die Christengemeente gesit word omdat hulle nie aan God se standaarde wou voldoen nie. Die oorgrote meerderheid—insluitende party wat vroeër ’n lewe gelei het wat God nie goedkeur nie, maar wat verander het—handhaaf ’n rein en voorbeeldige lewenswyse.—Lees 1 Korintiërs 6:9-11.

14. Wat het baie wat uitgesit is, gedoen, en met watter gevolg?

14 Wat van diegene wat in ooreenstemming met skriftuurlike riglyne uit die gemeente gesit moes word? Duisende het berou getoon oor hulle onchristelike gedrag en is in die gemeente terugverwelkom. (Lees 2 Korintiërs 2:6-8.) Die handhawing van die Bybel se hoë gedragstandaard het ’n rein Christengemeente tot gevolg wat vertroue inboesem. Die feit dat Jehovah se Getuies by God se standaarde bly—in skerp teenstelling met die permissiwiteit wat so algemeen in baie kerke is—het op sigself baie mense oortuig dat die Getuies die waarheid beoefen.

15. Wat het een broer oortuig dat hy die waarheid het?

15 Waarom glo ander ervare Getuies dat hulle die waarheid gevind het? ’n Broer in sy vyftigerjare het verduidelik: “Van my tienerjare af glo ek dat my geloof op drie feite berus: (1) dat God bestaan, (2) dat hy die Bybel geïnspireer het en (3) dat hy vandag die Christengemeente van Jehovah se Getuies gebruik en seën. In my persoonlike studie oor die jare heen het ek altyd hierdie feite op die proef gestel en my afgevra of dit werklik op ’n stewige grondslag berus. Die bewyse wat elkeen ondersteun, het jaar ná jaar aansienlik toegeneem, en dit het my geloof versterk en my al hoe meer oortuig dat ons wel die waarheid het.”

16. Wat omtrent die waarheid het een suster beïndruk?

16 ’n Getroude suster wat by die wêreldhoofkwartier in New York dien, het oor Jehovah se organisasie gesê: “Dit is die enigste organisasie wat Jehovah se naam getrou bekend maak. Hoe logies is dit tog wanneer ons daaraan dink dat God se naam sowat 7 000 keer in die Bybel voorkom! En ek waardeer die aanmoediging in 2 Kronieke 16:9: ‘Jehovah se oë deurloop die hele aarde om sy krag te toon ten behoewe van dié wie se hart volkome teenoor hom is.’” Sy het verder gesê: “Die waarheid het vir my gewys hoe om ’n volkome hart te hê sodat Jehovah sy krag vryelik ten behoewe van my kan toon. My verhouding met Jehovah is vir my baie kosbaar. En ek waardeer die rol wat Jesus daarin gespeel het om intieme kennis van God wat my versterk, te voorsien.”

17. Waarvan is ’n voormalige ateïs oortuig, en waarom?

17 ’n Voormalige ateïs het erken: “Die skepping oortuig my dat God wil hê dat die mensdom die lewe moet geniet, en daarom sal hy nie toelaat dat lyding vir ewig voortduur nie. En namate die wêreld al hoe goddeloser word, neem die geloof, ywer en liefde van Jehovah se volk toe. Slegs Jehovah se gees kan hierdie hedendaagse wonderwerk voortbring.”—Lees 1 Petrus 4:1-4.

18. Hoe voel jy oor wat nog twee broers gesê het?

18 Nog ’n broer wat al lank ’n Getuie is, het verduidelik waarom hy oortuig is van die waarheid wat ons verkondig: “My persoonlike studie oor die jare heen het my oortuig dat die Getuies ernstige pogings aangewend het om terug te keer tot die voorbeeld wat die eerste-eeuse Christelike gemeente gestel het. Op my reise oral in die wêreld het ek self die wêreldwye eenheid van Jehovah se Getuies gesien. Die waarheid uit die Bybel het my bevrediging en vreugde verskaf.” Toe ’n broer van oor die 60 gevra is waarom hy oortuig is dat hy die waarheid gevind het, het hy die aandag op Jesus Christus gevestig en verduidelik: “Ons het Jesus se lewe en bediening noukeurig bestudeer en het waardering vir sy voorbeeld opgebou. Ons het veranderinge in ons lewe aangebring sodat ons deur Christus Jesus nader aan God kan kom. Ons erken dat Christus se losprysoffer die grondslag vir redding is. En ons weet dat hy uit die dode opgewek is. Betroubare ooggetuies het hierdie feit bevestig.”—Lees 1 Korintiërs 15:3-8.

WAT MOET ONS MET DIE WAARHEID DOEN?

19, 20. (a) Watter verantwoordelikheid het Paulus in sy brief aan die gemeente in Rome beklemtoon? (b) Watter voorreg het ons as toegewyde Christene?

19 As Christene wat ons naaste liefhet, kan ons nie ons kosbare kennis van die waarheid vir onsself hou nie. Paulus het met sy broers in die gemeente in Rome geredeneer: “As jy daardie ‘woord in jou eie mond’, dat Jesus Here is, in die openbaar bekend maak en in jou hart geloof beoefen dat God hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word. Want met die hart beoefen ’n mens geloof tot regverdigheid, maar met die mond doen ’n mens openbare bekendmaking tot redding.”—Rom. 10:9, 10.

20 As toegewyde Getuies van Jehovah is ons oortuig dat ons die waarheid het en is ons bewus van ons voorreg om die goeie nuus van God se Koninkryksheerskappy aan ander te leer. Mag mense, terwyl ons ons predikingstoewysing uitvoer, nie net beïndruk word deur wat ons ander uit die Bybel leer nie, maar ook deur ons vaste oortuiging.

^ par. 3 Sien Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk, bladsye 191-198, 448-454.