Ouers—Tree op as herders vir julle kinders
“Jy behoort die voorkoms van jou skape goed te ken.”—SPR. 27:23.
1, 2. (a) Wat was van die verantwoordelikhede van ’n Israelitiese herder? (b) Hoe is ouers soos herders?
HERDERS in eertydse Israel het ’n moeilike lewe gelei. Hulle moes nie net hitte en koue verduur nie, maar moes ook hulle kudde teen roofdiere sowel as diewe beskerm. Herders het die skape gereeld ondersoek en het dié wat siek of beseer was, behandel. Hulle het spesiale aandag aan die lammers geskenk omdat hulle nie so sterk is soos volgroeide skape nie.—Gen. 33:13.
2 In party opsigte is Christenouers soos herders en openbaar hulle eienskappe wat vir letterlike herders belangrik is. Hulle het die verantwoordelikheid om hulle kinders “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” groot te maak (Ef. 6:4). Is dit ’n maklike taak? Nee! Kinders word met sataniese propaganda gebombardeer en het ook met hulle eie onvolmaakte neigings te kampe (2 Tim. 2:22; 1 Joh. 2:16). As jy kinders het, hoe kan jy hulle help? Kom ons bespreek drie dinge wat jy kan doen om as ’n herder vir jou kinders op te tree—ken hulle, voed hulle en lei hulle.
KEN JOU KINDERS
3. Wat moet ouers doen om ‘die voorkoms’ van hulle kinders ‘te ken’?
3 ’n Goeie herder ondersoek elke skaap noukeurig om seker te maak dat dit gesond is. In figuurlike sin kan jy dit ook met jou kinders doen. Die Bybel sê: “Jy behoort die voorkoms van jou skape goed te ken” (Spr. 27:23). Om dit te doen, moet jy let op jou kinders se dade asook hulle gedagtes en gevoelens. Hoe kan jy dit doen? Een van die beste maniere is om dikwels met jou kinders te gesels.
4, 5. (a) Watter praktiese wenke kan kinders help om openhartig met hulle ouers te praat? (Sien die prent aan die begin van die artikel.) (b) Wat het jy gedoen om dit vir jou kinders makliker te maak om met jou te praat?
4 Party ouers het agtergekom dat dit moeiliker raak om met hulle kinders te kommunikeer wanneer hulle tieners word—hulle is geneig om in hulle dop te kruip en minder oor hulle gedagtes en gevoelens te wil praat. Wat kan jy doen as dit met jou kinders die geval is? Moenie lang, ernstige gesprekke op jou seun of dogter afdwing nie; maak eerder gebruik van ontspanne geleenthede (Deut. 6:6, 7). Jy sal dalk spesiale pogings moet aanwend om dinge saam met hulle te doen. Jy kan saam met hulle gaan stap, ’n ent gaan ry, ’n speletjie speel of ’n taak in of om die huis doen. Sulke ontspanne geleenthede kan tieners help om op hulle gemak te voel en meer geneig te wees om oor hulle gevoelens te praat.
5 Maar sê nou dit lyk of jou kind nog steeds huiwer om openhartig met jou te praat? Probeer dan ’n ander benadering. Byvoorbeeld, in plaas van jou dogter te vra hoe haar dag was, kan jy iets oor jou dag sê. Dan sal sy jou waarskynlik iets oor haar dag vertel. Of as jy wil uitvind wat jou kind oor ’n sekere onderwerp dink, kan jy vrae vra wat die aandag van haar verskuif. Jy kan haar vra hoe een van haar vriendinne oor die onderwerp voel. Dan kan jy haar vra watter raad sy die vriendin sou gee.
6. Wat beteken dit om beskikbaar en maklik te wees om mee te praat?
6 Jou kinders sal natuurlik slegs openhartig met jou praat as hulle voel dat jy beskikbaar en maklik is om mee te praat. As dit lyk of ouers altyd te besig is, sal kinders waarskynlik nie oor hulle probleme praat nie. En wat beteken dit om maklik te wees om mee te praat? Dit behels meer as om net te sê: “Jy kan enige tyd met my kom praat.” Jou tieners moet voel dat jy hulle probleme nie as onbelangrik sal afmaak of sal oorreageer nie. Baie ouers stel ’n goeie voorbeeld in hierdie opsig. Die negentienjarige Kayla sê: “Ek kan met my pa oor enigiets praat. Hy val my nie in die rede nie, en hy oordeel nie; hy luister net. Dan gee hy my altyd die beste raad.”
7. (a) Watter gebalanseerde benadering kan ’n ouer hê tot ’n onderwerp soos romantiese verhoudings met die teenoorgestelde geslag? (b) Hoe kan ouers hulle kinders onwetend mismoedig maak?
7 Selfs wanneer jy met jou kinders oor sensitiewe sake praat—soos om met iemand uit te gaan—moet jy versigtig wees om nie soveel klem op waarskuwings te lê dat jy versuim om jou kinders te leer hoe om die saak reg te hanteer nie. Ter toeligting: Stel jou voor dat jy na ’n restaurant toe gaan en sien dat die spyskaart net waarskuwings oor voedselvergiftiging bevat. Jy sou waarskynlik uitloop en ’n ander restaurant gaan soek. Jou kinders sal dalk dieselfde doen as hulle na jou toe kom vir raad, maar jy net ’n lys streng waarskuwings op die “spyskaart” het. (Lees Kolossense 3:21.) Probeer eerder om ’n gebalanseerde benadering te hê. ’n Jong suster met die naam Emily sê: “Wanneer my ouers met my praat oor romantiese verhoudings met die teenoorgestelde geslag, laat hulle die onderwerp nie negatief klink nie. Hulle beklemtoon watter vreugde dit verskaf om iemand te leer ken en ’n huweliksmaat te vind. Daarom is dit vir my maklik om met hulle daaroor te praat. Om die waarheid te sê, ek wil weet wat hulle dink van enige verhouding wat ek het, in plaas daarvan om dit vir hulle weg te steek.”
8, 9. (a) Watter voordele bring dit mee as jy luister sonder om jou kinders in die rede te val? (b) Watter sukses het jy al gehad omdat jy na jou kinders geluister het?
8 In ooreenstemming met wat Kayla gesê het, kan jy toon dat jy maklik is om mee te praat deur geduldig na jou kinders te luister. (Lees Jakobus 1:19.) ’n Enkelma met die naam Katia erken: “In die verlede was ek baie ongeduldig met my dogter. Ek het haar nie kans gegee om klaar te praat nie. Ek was te moeg om te luister of wou net nie gepla word nie. Noudat ek anders optree, tree sy ook anders op. Sy ondersteun my nou baie meer.”
9 ’n Pa met die naam Ronald het ’n soortgelyke ondervinding met sy tienerdogter gehad. “Toe sy vir my sê dat sy op ’n seun by die skool verlief is, was ek eers smoorkwaad”, sê hy. “Maar toe ek nadink oor hoe redelik en geduldig Jehovah met sy knegte is, het ek besef dat dit beter sou wees as ek my dogter ’n kans gee om te verduidelik hoe sy voel voordat ek haar probeer reghelp. Ek is bly dat ek dit gedoen het! Vir die eerste keer het ek my dogter se gevoelens verstaan. Teen die tyd dat sy klaar gepraat het, was dit vir my makliker om op ’n liefdevolle wyse met haar te praat. Tot my verbasing het sy my raad geredelik aanvaar. Sy het ’n opregte begeerte uitgespreek om haar gedrag te verander.” As jy dikwels met jou kinders gesels, sal dit jou groter insig in hulle gedagtes en gevoelens gee. En dít sal jou help om ’n groter invloed uit te oefen op die besluite wat hulle in die lewe neem. *
VOED JOU KINDERS
10, 11. Hoe kan jy jou kinders help om nie af te dwaal nie?
10 ’n Goeie herder weet dat enigeen van sy skape van die kudde kan wegdwaal. Dit word dalk gelok deur gras ’n entjie van die kudde af en dan deur gras selfs verder weg en raak sodoende afgesonder van die kudde. Net so kan ’n kind Spr. 13:20). Hoe kan jy so ’n situasie help voorkom?
geleidelik afdwaal op ’n geestelik gevaarlike weg omdat hy gelok word deur slegte assosiasie of verderflike vermaak (11 Wanneer jy jou kinders leer, moet jy gou optree as jy potensiële swak punte raaksien. Skenk aandag aan Christelike eienskappe wat jou kinders het, maar wat dalk versterk moet word (2 Pet. 1:5-8). Julle gereelde sessies vir gesinsaanbidding is ’n uitstekende tyd vir jou om dit te doen. Aangaande hierdie reëling het die Koninkryksbediening vir Oktober 2008 gesê: “Gesinshoofde word aangemoedig om hulle verantwoordelikheid voor Jehovah na te kom deur seker te maak dat ’n betekenisvolle, gereelde program van gesinsbybelstudie gevolg word.” Maak jy ten volle gebruik van hierdie liefdevolle voorsiening om as herder vir jou kinders op te tree? Wees verseker dat jou kinders dit opreg waardeer as dit vir jou ’n prioriteit is om in hulle geestelike behoefte te voorsien.—Matt. 5:3; Fil. 1:10.
12. (a) Hoe het jongmense by gereelde gesinsaanbidding baat gevind? (Sluit die venster “ Hulle waardeer dit” in.) (b) Hoe het jý by gesinsaanbidding baat gevind?
12 Kyk wat ’n tiener met die naam Carissa gesê het oor hoe die program vir Gesinsaanbidding hulle gesin gehelp het. “Ek hou daarvan dat ons almal saam kan sit en gesels. Dit bring ons nader aan mekaar en skep goeie herinneringe. My pa hou getrou by ons program vir Gesinsaanbidding. Dit is aanmoedigend om te sien dat hy dit ernstig opneem—en dit spoor my aan om dit ook ernstig op te neem. Dit gee my ook meer rede om hom as my pa en geestelike hoof te respekteer.” ’n Jong suster met die naam Brittney het gesê: “Gesinsaanbidding het my nader aan my ouers laat kom. Dit wys vir my dat hulle regtig wil weet watter probleme ek het en dat hulle werklik omgee. Dit help ons om ’n sterk en verenigde gesin te wees.” Om jou kinders geestelik te voed—veral deur middel van gesinsaanbidding—is beslis ’n vername manier waarop jy ’n goeie herder kan wees. *
LEI JOU KINDERS
13. Hoe kan ’n kind beweeg word om Jehovah te dien?
13 ’n Goeie herder gebruik ’n staf om sy kudde te lei en te beskerm. Een van sy vernaamste doelwitte is om sy skape na “’n goeie weiveld” te lei (Eseg. 34:13, 14). Het jy as ’n ouer nie ’n soortgelyke doelwit in geestelike sin nie? Jy wil jou kinders lei om Jehovah te dien. Jy wil hê dat jou kinders moet voel soos die psalmis wat geskryf het: “Ek het daarin behae geskep, o my God, om u wil te doen, en u wet is in my ingewande” (Ps. 40:8). Kinders wat sulke waardering opbou, sal hulle lewe aan Jehovah toewy en gedoop word. Hulle moet hierdie stap natuurlik doen eers wanneer hulle volwasse genoeg is om hierdie besluit te neem en ’n opregte begeerte het om Jehovah te dien.
14, 15. (a) Wat moet Christenouers se doelwit wees? (b) Waarom spreek ’n jongmens dalk twyfelgedagtes oor ware aanbidding uit?
14 Maar sê nou dit lyk asof jou kinders nie geestelike vooruitgang maak nie—en hulle dalk selfs hulle geloof bevraagteken? Probeer liefde vir Jehovah God en waardering vir alles wat hy gedoen het, by hulle aanwakker (Op. 4:11). Dan sal hulle, wanneer hulle gereed is, self kan besluit om God te aanbid.
15 Maar sê nou jou kinders spreek in die tussentyd twyfelgedagtes uit? Hoe kan jy hulle lei en hulle help om te sien dat diens aan Jehovah werklik die beste lewensweg is en tot hulle blywende geluk
sal bydra? Probeer vasstel wat die ware oorsaak van hulle twyfelgedagtes is. Byvoorbeeld, stem jou seun werklik nie met Bybelleringe saam nie of het hy net nie die nodige selfvertroue om dit voor sy portuurs te verdedig nie? Twyfel jou dogter werklik aan die wysheid van God se standaarde of voel sy net eensaam of uitgesluit deur ander?16, 17. Hoe kan ouers hulle kinders help om die waarheid hulle eie te maak?
16 Ongeag wat die oorsaak is, jy kan jou kinders help om ontslae te raak van enige twyfelgedagtes oor geestelike sake. Hoe? ’n Voorstel wat baie ouers prakties en doeltreffend gevind het, is om hulle kinders te kry om oor hulle gevoelens te praat deur hulle vrae te vra soos: “Hoe voel jy daaroor om ’n Christen te wees? Wat dink jy is die voordele? Wat is die opofferings? Vind jy dat die opofferings oortref word deur al die voordele, dié wat ons nou geniet sowel as dié wat vir ons in die toekoms voorlê? Waarom?” Jy moet sulke vrae natuurlik in jou eie woorde en op ’n liefdevolle, belangstellende manier vra, nie soos ’n ondervraer nie. Jy kan ook ’n bespreking van Markus 10:29, 30 by julle gesprek insluit. Party jongmense sal dalk hulle gedagtes in twee kolomme wil neerskryf—een vir die opofferings en die ander vir die voordele. Wanneer hulle hulle gedagtes op papier sien, sal dit hulle moontlik help om probleme te identifiseer en oplossings te vind. As ons die Leer Bybel-boek en die ‘God se liefde’-boek met belangstellendes moet studeer, hoeveel te meer moet ons dit dan met ons kinders doen! Doen jy dit?
17 Jou kinders sal later self moet besluit wie hulle sal dien. Moenie dink dat hulle jou geloof eenvoudig sal absorbeer nie, asof deur die een of ander soort osmose. Hulle moet die waarheid hulle eie maak (Spr. 3:1, 2). As dit lyk asof ’n kind sukkel om dit te doen, kan jy gerus teruggaan na die basiese dinge. Help hom of haar om te redeneer oor vrae soos: “Hoe weet ek dat God bestaan? Wat oortuig my dat Jehovah God my werklik liefhet? Waarom glo ek dat Jehovah se standaarde werklik tot my beswil is?” Toon dat jy ’n goeie herder is deur jou kinders geduldig te lei om aan hulleself te bewys dat Jehovah se weg die beste lewensweg is. *—Rom. 12:2.
18. Hoe kan ouers Jehovah, die Opperherder, navolg?
18 Alle ware Christene wil graag navolgers van die Opperherder wees (Ef. 5:1; 1 Pet. 2:25). Veral ouers moet die voorkoms ken van hulle skape—hulle kosbare kinders—en alles in hulle vermoë doen om hulle te lei na die seëninge wat Jehovah vir hulle in die vooruitsig stel. Tree dus op as herders vir julle kinders deur voort te gaan om hulle in die weg van die waarheid groot te maak!
^ par. 9 Vir meer inligting, sien Die Wagtoring van 1 Augustus 2008, bladsye 10-12.
^ par. 12 Vir meer inligting, sien die artikel “Gesinsaanbidding—Noodsaaklik vir oorlewing!” in Die Wagtoring van 15 Oktober 2009, bladsye 29-31.
^ par. 17 Vir meer inligting hieroor, sien Die Wagtoring van 1 Februarie 2012, bladsye 18-21.