Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Die volk wie se God Jehovah is”

“Die volk wie se God Jehovah is”

“Gelukkig is die volk wie se God Jehovah is!”—PS. 144:15.

1. Wat glo party oor hoe ons God kan aanbid?

TALLE denkende mense van vandag sal sonder om te huiwer, erken dat vername godsdienste, binne sowel as buite die Christendom, nie veel doen om die mensdom te bevoordeel nie. Party stem saam dat sulke godsdienste, as gevolg van hulle leringe en hulle gedrag, ’n verkeerde indruk van God skep en dat hulle dus nie God se goedkeuring kan hê nie. Maar hulle glo dat daar wel opregte mense in alle godsdienste is en dat God hulle raaksien en hulle as sy aanbidders op aarde aanvaar. Hulle dink nie dat dit vir sulke mense nodig is om valse godsdiens te verlaat om God as ’n afsonderlike groep, of volk, te aanbid nie. Maar is dit wat God dink? Kom ons vind die antwoord deur te kyk na die skriftuurlike geskiedenis van Jehovah se ware aanbidders.

’N VERBONDSVOLK

2. Wie het Jehovah se afsonderlike volk geword, en wat het hulle van ander volke onderskei? (Sien die prent aan die begin van die artikel.)

2 Reeds in die 20ste eeu VHJ het Jehovah ’n afsonderlike volk op die aarde gehad. Abraham, wat “die vader . . . van almal wat geloof het”, genoem is, was die hoof van ’n huishouding wat uit honderde mense bestaan het (Rom. 4:11; Gen. 14:14). Heersers in Kanaän het hom as “’n owerste” beskou en het hom met respek behandel (Gen. 21:22; 23:6). Jehovah het ’n verbond met Abraham en sy nakomelinge gesluit (Gen. 17:1, 2, 19). God het vir Abraham gesê: “Dit is my verbond wat julle sal hou, tussen my en julle, ja, jou saad ná jou: Almal wat manlik is onder julle, moet besny word. . . . En dit sal dien as ’n teken van die verbond tussen my en julle” (Gen. 17:10, 11). Gevolglik is Abraham en al die mans in sy huishouding besny (Gen. 17:24-27). Besnydenis was ’n fisiese teken wat Abraham se nakomelinge onderskei het as die enigste volk wat in ’n verbondsverhouding met Jehovah was.

3. Hoe het Abraham se nakomelinge ’n volk geword?

3 Abraham se kleinseun Jakob, of Israel, het 12 seuns gehad (Gen. 35:10, 22b-26). Ná verloop van tyd sou hulle die stamhoofde, of aartsvaders, van die 12 stamme van Israel word (Hand. 7:8). As gevolg van ’n hongersnood het Jakob en sy familie in Egipte toevlug gesoek, waar een van Jakob se seuns, Josef, Farao se voedseladministrateur en regterhand geword het (Gen. 41:39-41; 42:6). Jakob se nakomelinge het baie talryk geword, “’n versameling van volke”.—Gen. 48:4; lees Handelinge 7:17.

JEHOVAH VERLOS SY VOLK

4. Watter verhouding was daar aanvanklik tussen die Egiptenaars en Jakob se nakomelinge?

4 Jakob se nakomelinge het meer as twee eeue in Egipte gewoon, in ’n deel van die Nyldelta wat Gosen genoem is (Gen. 45:9, 10). Dit wil voorkom asof hulle ongeveer die helfte van hierdie tydperk in vrede met die Egiptenaars saamgelewe het. Hulle het in klein dorpies gewoon en met vee geboer. Hulle was hartlik verwelkom deur Farao, wat Josef geken en waardeer het (Gen. 47:1-6). Die Egiptenaars het egter neergesien op skaapwagters (Gen. 46:31-34). Maar hulle moes die Israeliete in hulle land verdra.

5, 6. (a) Hoe het die situasie van God se volk in Egipte verander? (b) Hoe is Moses se lewe gespaar, en wat het Jehovah vir Sy hele volk gedoen?

5 Die situasie van God se volk sou egter drasties verander. “Na verloop van tyd het daar ’n nuwe koning oor Egipte opgestaan wat Josef nie geken het nie. En hy het vir sy volk gesê: ‘Kyk! Die volk van die kinders van Israel is talryker en magtiger as ons.’ Gevolglik het die Egiptenaars die kinders van Israel onder tirannie slawearbeid laat verrig. En hulle het aangehou om hulle lewe bitter te maak deur harde slawearbeid met messelklei en stene en deur elke vorm van slawearbeid in die veld, ja, elke vorm van slawearbeid waarin hulle hulle onder tirannie as slawe gebruik het.”—Eks. 1:8, 9, 13, 14.

6 Farao het selfs beveel dat alle Hebreeuse babaseuntjies by geboorte doodgemaak moet word (Eks. 1:15, 16). Moses is in daardie tyd gebore. Toe hy drie maande oud was, het sy ma hom tussen die riete van die Nyl weggesteek. Farao se dogter het hom daar gevind en hom later aangeneem. Jehovah het dinge so bestuur dat Moses in sy vroeë jare deur sy getroue moeder, Jogebed, grootgemaak is, en hy het ’n lojale kneg van Jehovah geword (Eks. 2:1-10; Heb. 11:23-25). Jehovah het van sy volk se lyding “kennis geneem” en het besluit om hulle, onder Moses se leiding, van hulle onderdrukkers te verlos (Eks. 2:24, 25; 3:9, 10). Hulle sou dus ’n volk word wat deur Jehovah “verlos” is.—Eks. 15:13; lees Deuteronomium 15:15.

’N VOLK WORD ’N NASIE

7, 8. Hoe het Jehovah se volk ’n heilige nasie geword?

7 Selfs voordat Jehovah die Israeliete in ’n nasie georganiseer het, het hy hulle as sy volk beskou. Moses en Aäron is dus beveel om vir Farao te sê: “Só het Jehovah, die God van Israel, gesê: ‘Stuur my volk weg sodat hulle vir my ’n fees in die wildernis kan vier.’”—Eks. 5:1.

8 Dit het tien plae en die vernietiging van Farao en sy leërmagte in die waters van die Rooisee geverg om Israel van Egiptiese onderdrukking te verlos (Eks. 15:1-4). Minder as drie maande later het Jehovah by die berg Sinai ’n verbond met die Israeliete gesluit en hierdie geskiedkundige belofte aan hulle gemaak: “As julle dan nou my stem nougeset gehoorsaam en my verbond inderdaad hou, dan sal julle beslis my spesiale eiendom uit al die ander volke word, . . . ’n heilige nasie.”—Eks. 19:5, 6.

9, 10. (a) Hoe het die Wet die Israeliete, volgens Deuteronomium 4:5-8, van ander volke onderskei? (b) Hoe moes die Israeliete “’n heilige volk vir Jehovah” wees?

9 Terwyl die Hebreërs in Egipte was en voordat hulle slawe geword het, is hulle in stamme georganiseer onder die leiding van ’n stamhoof. Soos die knegte van Jehovah wat voor hulle gelewe het, het hierdie stamhoofde as heersers, regters en priesters opgetree (Gen. 8:20; 18:19; Job 1:4, 5). Maar deur Moses het Jehovah die Israeliete wette gegee wat hulle van al die ander nasies sou onderskei. (Lees Deuteronomium 4:5-8; Ps. 147:19, 20.) Die Wet het ’n afsonderlike priesterdom tot stand gebring, en die reg is toegepas deur die “ouer manne”, wat vir hulle kennis en wysheid gerespekteer is (Deut. 25:7, 8). Die Wet het die godsdiens- en maatskaplike bedrywighede van die pasgebore nasie gerig.

10 Net voordat die Israeliete die Beloofde Land binnegegaan het, het Jehovah sy wette aan hulle herhaal en het Moses vir hulle gesê: “Wat Jehovah betref, hy het jou vandag laat sê dat jy sy volk sal word, ’n spesiale eiendom, net soos hy jou beloof het, en dat jy al sy gebooie sal bewaar, en dat hy jou hoog bo al die ander nasies sal stel wat hy gemaak het, tot lof en roem en prag, terwyl jy ’n heilige volk vir Jehovah jou God is.”—Deut. 26:18, 19.

VREEMDELINGE WAS WELKOM

11-13. (a) Wie het onder God se uitverkore volk gewoon? (b) Wat moes ’n nie-Israeliet doen as hy Jehovah wou aanbid?

11 Hoewel Jehovah nou ’n uitverkore nasie op die aarde gehad het, het hy nie-Israeliete toegelaat om onder sy volk te woon. Hy het “’n groot gemengde geselskap” nie-Israeliete, insluitende Egiptenaars, toegelaat om saam met sy volk te gaan toe hy hulle uit Egipte verlos het (Eks. 12:38; vtn. in NW). Toe die sewende plaag plaasgevind het, het party “onder Farao se knegte” Jehovah se woord begin vrees en ongetwyfeld deel geword van die gemengde geselskap wat Egipte saam met die Israeliete verlaat het.—Eks. 9:20.

12 Net voordat die Israeliete die Jordaan oorgesteek het om Kanaän in besit te neem, het Moses vir hulle gesê: “Julle moet die inwonende vreemdeling liefhê” (Deut. 10:17-19). God se uitverkore volk moes enige vreemdelinge wat bereid was om die basiese wette te onderhou wat deur Moses gegee is, in hulle gemeenskap aanvaar (Lev. 24:22). Party inwonende vreemdelinge het aanbidders van Jehovah geword omdat hulle gevoel het soos die Moabitiese vrou Rut, wat vir die Israeliet Naomi gesê het: “U volk sal my volk wees, en u God my God” (Rut 1:16). Hierdie inwonende vreemdelinge het proseliete geword, en die mans het hulle laat besny (Eks. 12:48, 49). Jehovah het hulle as lede van die gemeenskap van sy uitverkore volk verwelkom.—Num. 15:14, 15.

Die Israeliete was lief vir die inwonende vreemdelinge (Sien paragrawe 11-13)

13 Toe Salomo se tempel aan Jehovah toegewy is, is daar voorsiening gemaak vir nie-Israelitiese aanbidders, soos gesien kan word uit Salomo se gebed: “Ook na die uitlander wat geen deel uitmaak van u volk Israel nie en wat weens u groot naam en u sterk hand en u uitgestrekte arm uit ’n ver land kom, en hulle kom en bid na hierdie huis toe, mag u dan luister vanuit die hemel, vanuit u vaste woonplek, en u moet doen volgens alles waaroor die uitlander u aanroep; sodat al die volke van die aarde u naam kan ken en u kan vrees, net soos u volk Israel, en kan weet dat u naam uitgeroep is oor hierdie huis wat ek gebou het” (2 Kron. 6:32, 33). Selfs in Jesus se dag moes enige nie-Israeliet wat Jehovah wou aanbid, met Sy verbondsvolk assosieer.—Joh. 12:20; Hand. 8:27.

’N NASIE VAN GETUIES

14-16. (a) Hoe moes die Israeliete as ’n nasie getuies van Jehovah wees? (b) Wat is God se hedendaagse volk sedelik verplig om te doen?

14 Die Israeliete het hulle God, Jehovah, aanbid, terwyl die ander nasies hulle eie gode aanbid het. In die tyd van die profeet Jesaja het Jehovah die wêreldsituasie met ’n hofsaak vergelyk. Hy het die gode van die nasies uitgedaag om met getuies vorendag te kom wat kon bevestig dat hulle ware gode is. Jehovah het gesê: “Laat al die nasies op een plek bymekaargebring word, en laat volksgroepe versamel word. Wie [van hulle gode] onder hulle kan dit vertel? Of kan hulle ons selfs die eerste dinge laat hoor? Laat hulle hulle getuies bring, sodat hulle regverdig verklaar kan word, of laat hulle hoor en sê: ‘Dit is die waarheid!’”—Jes. 43:9.

15 Die gode van die nasies kon nie bewys dat hulle ware gode is nie. Hulle was blote afgode wat nie kon praat nie en wat rondgedra moes word (Jes. 46:5-7). In teenstelling hiermee het Jehovah vir sy volk Israel gesê: “Julle is my getuies . . . ja, my kneg wat ek uitverkies het, sodat julle my kan ken en geloof in my kan hê, en sodat julle kan verstaan dat ek dieselfde is. Voor my is geen God geformeer nie, en ná my was daar steeds nie een nie. Ek—ek is Jehovah, en buiten my is daar geen redder nie. . . . En julle is my getuies . . . en ek is God.”—Jes. 43:10-12.

16 As getuies in ’n universele hofsaak moes Jehovah se uitverkore volk vreesloos getuig dat Jehovah die een ware God is. Hy het hulle beskryf as “die volk wat ek vir my geformeer het, sodat hulle my lof sal verkondig” (Jes. 43:21). Hulle was die volk wat sy naam gedra het. Omdat Jehovah hulle uit Egipte verlos het, was hulle sedelik verplig om sy soewereiniteit voor al die ander volke van die aarde te ondersteun. Trouens, hulle standpunt moes ooreenstem met dié wat die profeet Miga later vir God se hedendaagse volk uiteengesit het: “Wat al die volke betref, elkeen sal in die naam van sy god wandel; maar wat ons betref, ons sal in die naam van Jehovah ons God wandel tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig.”—Miga 4:5.

’N AFVALLIGE VOLK

17. Hoe het Israel ’n ‘ontaarde vreemde wingerdstok’ in Jehovah se oë geword?

17 Ongelukkig het Israel nie aan hulle God, Jehovah, getrou gebly nie. Hulle het toegelaat dat hulle beïnvloed word deur nasies wat gode van hout en klip aanbid het. In die agtste eeu VHJ het die profeet Hosea geskryf: “Israel is ’n verslegtende wingerdstok . . . Sy altare vermenigvuldig . . . Hulle hart het huigelagtig geword; nou sal hulle skuldig bevind word” (Hos. 10:1, 2). Ongeveer ’n eeu en ’n half later het Jeremia Jehovah se woorde aan Sy ontroue volk opgeteken: “Ek het jou as ’n uitgesoekte rooi wingerdstok geplant, in sy geheel ’n egte saad. Hoe het jy dan teenoor my verander in die ontaarde lote van ’n vreemde wingerdstok? . . . Waar is jou gode wat jy vir jou gemaak het? Laat hulle opstaan as hulle jou in die tyd van jou rampspoed kan red . . . Maar my eie volk—tallose dae het hulle my vergeet.”—Jer. 2:21, 28, 32.

18, 19. (a) Wat het Jehovah voorspel oor hoe hy ’n nuwe volk vir sy naam sou voortbring? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

18 In plaas daarvan om goeie vrugte voort te bring deur ware aanbidding te beoefen en as Jehovah se getroue getuies op te tree, het Israel die verrotte vrugte van afgodediens voortgebring. Jesus het dus vir die huigelagtige Joodse leiers van sy dag gesê: “Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ’n nasie gegee word wat die vrugte daarvan voortbring” (Matt. 21:43). Slegs dié in die “nuwe verbond”, wat Jehovah deur die profeet Jeremia voorspel het, kon deel wees van daardie nuwe nasie, geestelike Israel. Jehovah het die volgende voorspel oor die geestelike Israeliete wat in daardie nuwe verbond ingebring sou word: “Ek sal hulle God word, en hulle sal my volk word.”—Jer. 31:31-33.

19 Nadat vleeslike Israel ontrou geraak het, het Jehovah geestelike Israel in die eerste eeu sy volk gemaak, soos reeds genoem is. Maar wie is vandag sy volk op aarde? Hoe kan opregtes van hart God se ware aanbidders identifiseer? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.