Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hy ‘het die weg geken’

Hy ‘het die weg geken’

GUY HOLLIS PIERCE, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, het sy aardse loopbaan op Dinsdag 18 Maart 2014 voltooi. Hy was 79 jaar oud toe sy hoop om een van Christus se verrese broers te wees, ’n werklikheid geword het.—Heb. 2:10-12; 1 Pet. 3:18.

Guy Pierce is op 6 November 1934 in Auburn, Kalifornië, VSA, gebore en is in 1955 gedoop. Hy is in 1977 met sy geliefde vrou, Penny, getroud en het ’n gesin grootgemaak. Sy ondervinding as ’n gesinsman het daartoe bygedra dat hy ander op ’n vaderlike manier behandel het. Teen 1982 het hy en Penny as pioniers gedien, en in 1986 het hy as ’n kringopsiener in die Verenigde State begin dien, ’n diensvoorreg wat hy 11 jaar lank geniet het.

In 1997 het Guy en Penny Pierce as lede van die Bethelgesin in die Verenigde State begin dien. Broer Pierce het in die Diensafdeling gewerk, en in 1998 is hy as ’n helper van die Personeelkomitee van die Bestuursliggaam aangestel. Broer Pierce se aanstelling as ’n lid van die Bestuursliggaam is op 2 Oktober 1999 aangekondig by die jaarvergadering van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië. In onlangse jare het hy saam met die Personeel-, Skryf-, Uitgewers- en Koördineerderskomitee gedien.

Broer Pierce se hartlike glimlag en goeie sin vir humor het mense uit verskillende agtergronde en kulture tot hom aangetrokke laat voel. Maar die eienskappe wat hom veral geliefd gemaak het by ander, was sy liefde, sy nederigheid, sy respek vir regverdige wette en beginsels en sy vaste geloof in Jehovah. Vir Guy Pierce was daar ’n groter moontlikheid dat die son nie sou opkom nie as dat Jehovah se beloftes nie vervul sou word nie, en hy wou hierdie waarheid aan die hele wêreld bekend maak.

Broer Pierce het Jehovah onvermoeid gedien—hy het soggens vroeg opgestaan en dikwels tot laat in die nag gewerk. Sy reise om sy Christenbroers en -susters aan te moedig, het hom na alle wêrelddele geneem, en hy was nooit te besig om tyd deur te bring met individuele lede van die Bethelgesin en ander wat sy geselskap wou geniet of raad en hulp wou vra nie. Ná verloop van baie jare onthou medegelowiges nog steeds sy gasvryheid, vriendelikheid en skriftuurlike aanmoediging.

Ons broer en geliefde vriend laat sy vrou en ses kinders agter, sowel as kleinkinders en agterkleinkinders. Hy het ook talle geestelike kinders gehad. Op Saterdag 22 Maart 2014 het Mark Sanderson, ’n medelid van die Bestuursliggaam, ’n gedenktoespraak vir broer Pierce by die Brooklynse Bethel gehou. Hy het onder andere gepraat van broer Pierce se hemelse hoop en het Jesus se woorde gelees: “In die huis van my Vader is daar baie wonings. . . . As ek gaan en vir julle ’n plek berei, kom ek weer en sal julle tuis ontvang by my, sodat julle ook kan wees waar ek is. En waarheen ek gaan, ken julle die weg.”​—Joh. 14:2-4.

Ja, ons sal broer Pierce baie mis. Maar ons is bly dat hy ‘die weg geken het’ na sy permanente ‘woning’.