Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah seën ’n gewillige gees ryklik

Jehovah seën ’n gewillige gees ryklik

ONS Skepper het mense die kosbare gawe van wilsvryheid gegee. Wat meer is, hy seën diegene ryklik wat hulle wilsvryheid onselfsugtig gebruik om ware aanbidding te bevorder en wat hulle deel doen om sy verhewe naam te heilig en sy grootse voorneme te ondersteun. Jehovah wil nie hê dat mense hom moet gehoorsaam net omdat hulle gedreig en gedwing word nie. Hy stel eerder gewillige toegewydheid wat voortspruit uit opregte en diepe waardering, hoog op prys.

Toe die Israeliete byvoorbeeld in die wildernis Sinai was, het Jehovah hulle beveel om ’n plek van aanbidding te bou. Hy het gesê: “Samel onder julle ’n bydrae vir Jehovah in. Laat elkeen wat gewillig van hart is, dit as Jehovah se bydrae bring” (Eks. 35:5). Elke Israeliet kon gee wat hy ook al in staat was om te gee, en elke vrywillige bydrae—ongeag wat dit was of hoeveel dit was—sou op ’n gepaste wyse gebruik word om God se voorneme uit te voer. Hoe het hulle gereageer?

“Elkeen wie se hart hom gedring het” en “elkeen wie se gees hom aangedryf het”, het ’n vrywillige gawe gebring, “elkeen wat gewillig van hart was”. Mans en vroue het gewillig iets vir Jehovah se werk gebring: borsspelde, oorringe, ringe, goud, silwer, koper, blou weefgaring, purperrooigekleurde wol, karmosynrooi stof, fyn linne, bokhaar, rooigekleurde ramsvelle, robbevelle, akasiahout, edelstene, balsemolie en olie. Uiteindelik was “die materiaal . . . genoeg vir al die werk wat gedoen moes word, ja, oorgenoeg”.​—Eks. 35:21-24, 27-29; 36:7.

Wat Jehovah se hart die meeste verbly het, was nie die materiële gawes nie, maar die gewillige gees van diegene wat ware aanbidding op hierdie manier ondersteun het. Hulle is ook beweeg om van hulle tyd te gee en om met die werk te help. “Al die vroue wat wys van hart was, het met hulle hande gespin”, sê die verslag. Ja, “al die vroue wie se hart hulle met wysheid gedring het, het die bokhaar gespin”. Wat meer is, Jehovah het Besaleël vervul met “wysheid, begrip en kennis en elke soort vakmanskap”. Trouens, God het Besaleël en Oholiab die vaardighede gegee wat nodig was om al die werk te doen wat hy hulle beveel het om te doen.​—Eks. 35:25, 26, 30-35.

Toe Jehovah die Israeliete genooi het om ’n bydrae te maak, het hy die volle vertroue gehad dat “elkeen wat gewillig van hart is”, ware aanbidding sal ondersteun. Op sy beurt het hy dié wat gewillig van hart was, ryklik geseën deur hulle van leiding te voorsien en hulle oorvloedige vreugde te gee. Jehovah het sodoende getoon dat hy kan verseker dat daar geen gebrek aan hulpbronne of vaardighede is om sy wil uit te voer wanneer hy sy knegte se gewillige gees seën nie (Ps. 34:9). As jy Jehovah onselfsugtig dien, sal hy jou gewillige gees beslis seën.