Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Begryp jy die betekenis?

Begryp jy die betekenis?

“Hy [het] hulle verstand ten volle geopen om die betekenis van die Skrif te begryp.”​—LUK. 24:45.

1, 2. Hoe het Jesus sy dissipels op die dag van sy opstanding versterk?

DIT was die dag van Jesus se opstanding. Twee van die dissipels was op pad na ’n dorpie sowat 11 kilometer van Jerusalem af. Hulle het nie geweet dat Jesus opgewek is nie en was swaarmoedig weens onlangse gebeure. Skielik het Jesus verskyn en saam met hulle begin stap. Hy het hierdie dissipels vertroos. Hoe? “Hy het by Moses en al die Profete begin en vir hulle dinge in die hele Skrif uitgelê wat op hom betrekking het” (Luk. 24:13-15, 27). Daarna het hulle hart begin brand omdat hy die Skrif “ten volle vir [hulle] geopen”, of verduidelik, het.​—Luk. 24:32.

2 Daardie selfde aand het hierdie twee dissipels na Jerusalem teruggekeer. Toe hulle die apostels vind, het hulle vir hulle vertel wat gebeur het. Terwyl hulle gepraat het, het Jesus aan hulle almal verskyn. Maar sy apostels was bang. Twyfelgedagtes het in hulle hart opgekom. Hoe het Jesus hulle versterk? Die verslag sê: “Hy [het] hulle verstand ten volle geopen om die betekenis van die Skrif te begryp.”​—Luk. 24:45.

3. Voor watter uitdagings kan ons te staan kom, en wat kan ons help om ’n gebalanseerde beskouing van ons bediening te verkry?

3 Net soos daardie dissipels, voel ons soms swaarmoedig. Ons is dalk besig in die werk van die Here, maar voel mismoedig omdat ons geen resultate sien nie (1 Kor. 15:58). Of dit lyk miskien of diegene met wie ons studeer, min vordering maak. Ander draai dalk selfs hulle rug op Jehovah. Wat kan ons doen om ’n gebalanseerde beskouing van ons bediening te verkry? Iets wat ons kan help, is om die betekenis van Jesus se illustrasies wat in die Heilige Skrif opgeteken is, ten volle te begryp. Kom ons bespreek drie van hierdie illustrasies en kyk watter lesse ons kan leer.

DIE SAAIER WAT SLAAP

4. Wat beteken Jesus se illustrasie van die saaier wat slaap?

4 Lees Markus 4:26-29. Wat beteken Jesus se illustrasie van die saaier wat slaap? Die man in die illustrasie stel individuele Koninkryksverkondigers voor. Die saad is die Koninkryksboodskap wat aan opregtes van hart verkondig word. Die saaier volg die normale lewensroetine—hy “slaap snags en staan bedags op”. Die groeiproses vind plaas oor ’n tydperk wat strek vanaf die saaityd tot die oestyd. Gedurende hierdie tydperk ‘spruit die saad uit en word dit groot’. Hierdie groei vind “vanself” plaas, geleidelik en in stadiums. Net so vind geestelike groei geleidelik en in stadiums plaas. Wanneer iemand vorder tot die punt waar hy God graag wil dien, dra hy vrug in die sin dat hy sy lewe aan Jehovah toewy en gedoop word.

5. Waarom het Jesus die illustrasie vertel van die saaier wat slaap?

5 Waarom het Jesus hierdie illustrasie vertel? Jesus help ons om te besef dat dit Jehovah is wat die waarheid laat groei in die hart van mense met “die regte gesindheid” (Hand. 13:48; 1 Kor. 3:7). Ons plant en gooi nat, maar ons het nie beheer oor die groei nie. Ons kan dit nie forseer of bespoedig nie. Net soos die man in die illustrasie, weet ons nie hoe die groei plaasvind nie. Ons merk dit dikwels nie op terwyl ons besig is met ons gewone daaglikse bedrywighede nie. Maar mettertyd sal die Koninkryksaad dalk vrug dra. Die nuwe dissipel sluit dan by ons aan in die oeswerk, en ons vind baat by sy ondersteuning.​—Joh. 4:36-38.

6. Wat moet ons erken wanneer dit kom by geestelike groei?

6 Wat kan ons uit hierdie illustrasie leer? Eerstens, ons moet erken dat ons geen beheer het oor die geestelike groei van ’n Bybelstudent nie. As ons beskeie is, sal dit ons help om nie in die versoeking te kom om druk op ’n student uit te oefen om gedoop te word nie. Ons doen alles in ons vermoë om die persoon te help en by te staan, maar ons erken nederig dat daardie persoon op die ou end self die besluit moet neem om hom toe te wy. Toewyding moet voortspruit uit ’n gewillige hart wat deur liefde vir God beweeg word. Enigiets minder sal nie vir Jehovah aanneemlik wees nie.​—Ps. 51:12; 54:6; 110:3.

7, 8. (a) Watter ander lesse leer ons uit Jesus se illustrasie van die saaier wat slaap? Gee ’n voorbeeld. (b) Wat leer dit ons omtrent Jehovah en Jesus?

7 Tweedens, as ons die les agter hierdie illustrasie verstaan, sal dit ons help om nie mismoedig te word as dit lyk of ons werk aanvanklik nie resultate oplewer nie. Ons moet geduldig wees (Jak. 5:7, 8). As ’n student geen vrug dra nadat ons ons bes gedoen het om hom te help nie, besef ons dat dit nie is omdat ons iets verkeerd gedoen het nie. Jehovah laat die saad van waarheid slegs floreer in ’n nederige hart wat bereid is om veranderinge te maak (Matt. 13:23). Ons moet dus nie die doeltreffendheid van ons bediening bloot aan die resultate meet nie. In Jehovah se oë word die sukses van ons bediening nie bepaal deur hoe mense op ons onderrigting reageer nie. Ons getroue pogings is vir hom kosbaar, ongeag die resultate wat dit oplewer.​—Lees Lukas 10:17-20; 1 Korintiërs 3:8.

8 Derdens, ons sien nie altyd watter veranderinge in ’n persoon plaasvind nie. Byvoorbeeld, ’n egpaar het vir die sendeling wat met hulle gestudeer het, gesê dat hulle ongedoopte verkondigers wil word. Hy het die egpaar daaraan herinner dat hulle eers sal moet ophou rook. Tot sy verbasing het hulle vir hom gesê dat hulle ’n paar maande tevore al ophou rook het. Waarom? Hulle het besef dat Jehovah hulle kon sien rook en dat hy huigelary haat. Hulle hart het hulle dus beweeg om ’n besluit te neem—hulle moes óf voor die sendeling rook óf heeltemal ophou. Hulle nuutgevonde liefde vir Jehovah het hulle gehelp om die regte besluit te neem. Hulle het geestelik gegroei, maar die sendeling was glad nie bewus van die verandering wat plaasgevind het nie.

DIE SLEEPNET

9. Wat beteken die illustrasie van die sleepnet?

9 Lees Matteus 13:47-50. Wat beteken Jesus se illustrasie van die sleepnet? Jesus het die verkondiging van die Koninkryksboodskap aan die hele mensdom vergelyk met ’n groot sleepnet wat in die see laat sak word. Net soos ’n sleepnet groot hoeveelhede van “allerhande soorte vis” sonder onderskeid vang, trek ons predikingswerk miljoene mense van alle soorte aan (Jes. 60:5). Die groot aantal mense wat elke jaar ons byeenkomste en die Gedenkmaal bywoon, lewer bewys hiervan. Party van hierdie simboliese visse is “goeies” en word in die Christengemeente ingesamel. Maar ander is “nie geskik” nie—hulle is nie vir Jehovah aanneemlik nie.

Lees Matteus 13:47-50 en . . . dink dan aan ’n hedendaagse toepassing

Party van diegene wat na die waarheid aangetrek word, sal hulle aan Jehovah se kant skaar (Sien paragrawe 9-12)

10. Waarom het Jesus die illustrasie van die sleepnet vertel?

10 Waarom het Jesus hierdie illustrasie vertel? Die simboliese skeiding van die visse verwys nie na die finale oordeel gedurende die groot verdrukking nie. Dit toon eerder wat gedurende die laaste dae van hierdie goddelose stelsel sal gebeur. Jesus het getoon dat nie almal wat na die waarheid aangetrek word, hulle aan Jehovah se kant sal skaar nie. Baie mense het al by ons vergaderinge met ons geassosieer. Ander het die Bybel saam met ons gestudeer, maar hulle is nie bereid om hulle aan Jehovah toe te wy nie (1 Kon. 18:21). Nog ander het opgehou om met die Christengemeente te assosieer. En party jongmense wat deur Christenouers grootgemaak is, het nie ’n liefde vir Jehovah se standaarde ontwikkel nie. Hoe dit ook al sy, Jesus het beklemtoon dat elkeen ’n persoonlike besluit moet neem. Diegene wat die regte besluit neem, word deur hom beskou as “die begeerlike”, of “kosbare”, dinge “van al die nasies”.​—Hag. 2:7; vtn. in NW.

11, 12. (a) Hoe kan ons baat vind by die illustrasie van die sleepnet? (b) Wat leer dit ons omtrent Jehovah en Jesus?

11 Hoe kan ons baat vind by die illustrasie van die sleepnet? As ons die les in hierdie illustrasie verstaan, help dit ons om nie radeloos of teleurgesteld te wees as ’n Bybelstudent of een van ons kinders die waarheid nie sy eie maak nie. Dit kan gebeur, al het ons ons bes gedoen om hom te help. As iemand ’n Bybelstudie aanvaar of in die waarheid grootgemaak is, beteken dit nie noodwendig dat hy ’n sterk persoonlike verhouding met Jehovah sal ontwikkel nie. Diegene wat hulle nie aan Jehovah se heerskappy wil onderwerp nie, sal op die ou end van God se volk afgeskei word.

12 Beteken dit dat diegene wat die waarheid verlaat het, nooit toegelaat sal word om na die gemeente terug te keer nie? Of sal iemand wat sy lewe nie aan Jehovah toewy nie, vir ewig geklassifiseer word as “nie geskik” nie? Nee. Hierdie persone het nog steeds die geleentheid om ’n verhouding met Jehovah aan te knoop voordat die groot verdrukking uitbreek. Dit is asof Jehovah hulle nooi: “Keer terug tot my, en ek sal tot julle terugkeer” (Mal. 3:7). Hierdie feit word beklemtoon deur ’n ander illustrasie wat Jesus gegee het—dié van die verlore seun.​—Lees Lukas 15:11-32.

DIE VERLORE SEUN

13. Wat beteken die illustrasie van die verlore seun?

13 Wat beteken Jesus se illustrasie van die verlore seun? Die medelydende vader in hierdie illustrasie stel Jehovah, ons liefdevolle hemelse Vader, voor. Die seun wat vir sy erfdeel vra en dit dan verkwis, stel diegene voor wat van die gemeente afgedwaal het. Deur die gemeente te verlaat, reis hulle as ’t ware na “’n ver land”, Satan se wêreld, wat van Jehovah vervreemd is (Ef. 4:18; Kol. 1:21). Maar party kom later tot hulle sinne en pak die moeilike reis aan om na Jehovah se organisasie terug te keer. Hierdie nederige, berouvolle persone word gretig terugverwelkom deur ons vergewensgesinde Vader.​—Jes. 44:22; 1 Pet. 2:25.

14. Waarom het Jesus die illustrasie van die verlore seun vertel?

14 Waarom het Jesus hierdie illustrasie vertel? Jesus het op ’n treffende wyse toegelig dat Jehovah wil hê dat diegene wat afgedwaal het, na Hom toe moet terugkeer. Die vader in die illustrasie het nooit ophou hoop dat sy seun sou terugkeer nie. Toe hy hom sien aankom, al was hy “nog ’n hele ent weg”, het die vader gehardloop om hom terug te verwelkom. Wat ’n kragtige aansporing is dit tog vir diegene wat die waarheid verlaat het om so gou as moontlik na Jehovah toe terug te keer! Hulle geestelike krag is dalk min, hulle voel moontlik verleë en die pad terug lyk miskien moeilik. Maar dit is die moeite werd—daar is selfs vreugde in die hemel wanneer hulle terugkeer.​—Luk. 15:7.

15, 16. (a) Watter lesse leer ons uit Jesus se illustrasie van die verlore seun? Gee ’n paar voorbeelde. (b) Wat leer dit ons omtrent Jehovah en Jesus?

15 Hoe kan ons baat vind by die illustrasie van die verlore seun? Ons moet Jehovah se voorbeeld navolg. Ons wil nooit so “alte regverdig” wees dat ons weier om berouvolle sondaars terug te verwelkom nie. Dit sal net tot ons geestelike ondergang lei (Pred. 7:16). Ons kan nog ’n les hieruit leer. Iemand wat die gemeente verlaat, moet beskou word as “’n verlore skaap”, nie as ’n verlore saak nie (Ps. 119:176). Gestel ons ontmoet iemand wat van die gemeente afgedwaal het. Sal ons liefdevolle en praktiese hulp aanbied om hom te help om terug te keer? Sal ons die ouer manne sou gou as moontlik in kennis stel sodat hulle gepaste hulp kan aanbied? Ons sal as ons die les wat ons uit Jesus se illustrasie van die verlore seun leer, wyslik toepas.

16 Let op hoe party hedendaagse “verlore seuns” hulle waardering uitgespreek het vir Jehovah se barmhartigheid en die liefde en ondersteuning van die gemeente. ’n Broer wat 25 jaar lank uitgesit was, sê: “Sedert ek herstel is, het my vreugde bly toeneem, aangesien ek ‘tye van verkwikking’ van Jehovah ontvang het (Hand. 3:19). Almal is so ondersteunend en liefdevol! Ek het nou ’n wonderlike geestelike familie.” ’n Jong suster wat van Jehovah weggedryf het en ná vyf jaar teruggekeer het, het gesê: “Ek kan nie beskryf hoe dit gevoel het toe die liefde waarvan Jesus gepraat het, so oorvloedig aan my betoon is nie. Om deel te wees van Jehovah se organisasie, is ’n kosbare voorreg!”

17, 18. (a) Watter praktiese lesse het ons uit die drie illustrasies geleer wat ons bespreek het? (b) Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

17 Watter praktiese lesse het ons uit hierdie drie illustrasies geleer? Eerstens, ons moet erken dat ons geen beheer oor geestelike groei het nie. Slegs Jehovah kan dit beheer. Tweedens, dit is nie realisties om te verwag dat almal wat met ons assosieer en met wie ons studeer, ’n standpunt vir die waarheid sal inneem nie. Laastens, ons moet nooit ophou hoop dat diegene wat die waarheid verlaat het en hulle rug op Jehovah gedraai het, sal terugkeer nie. En as hulle wel terugkeer, moet ons hulle verwelkom op ’n manier wat Jehovah se beskouing weerspieël.

18 Mag elkeen van ons aanhou om kennis, begrip en wysheid te soek. Terwyl ons Jesus se illustrasies lees, moet ons vra wat dit beteken, waarom dit in die Bybel opgeteken is, hoe ons die lesse kan toepas en wat ons sodoende omtrent Jehovah en Jesus kan leer. As ons dit doen, sal ons toon dat ons wel die betekenis van Jesus se woorde begryp.