Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moet jy van plan verander?

Moet jy van plan verander?

’N GROEP jong Christene besluit om ’n fliek te gaan kyk. Hulle het gehoor dat baie van hulle skoolmaats dit regtig geniet het. Wanneer hulle by die bioskoop aankom, sien hulle kragtige wapens en skraps geklede vroue op die advertensieplakkate. Wat gaan hulle doen? Sal hulle in die bioskoop ingaan en die fliek in elk geval kyk?

Hierdie situasie lig toe dat ons voor baie besluite te staan kom wat óf ’n goeie óf ’n slegte uitwerking op ons geestelikheid en ons verhouding met Jehovah kan hê. Soms beplan jy om iets te doen, maar dan heroorweeg jy die situasie en verander jy van plan. Beteken dit dat jy maar net besluiteloos is, of is dit soms gepas om van plan te verander?

Wanneer dit ongepas is

Ons liefde vir Jehovah het ons beweeg om ons lewe aan hom toe te wy en gedoop te word. Dit is ons opregte begeerte om aan God getrou te bly. Maar ons vyand Satan die Duiwel is vasbeslote om ons onkreukbaarheid te ondermyn (Op. 12:17). Ons het besluit om Jehovah te dien en sy gebooie te onderhou. Hoe hartseer sal dit tog wees as ons van plan verander wanneer dit kom by ons toewyding aan Jehovah! Dit kan ons ons lewe kos.

Meer as 26 eeue gelede het die Babiloniese koning Nebukadnesar ’n yslike goue beeld laat oprig en beveel dat almal neerval en dit aanbid. Enigiemand wat dit nie gedoen het nie, sou in ’n brandende vuuroond gegooi word. Drie godvresende aanbidders van Jehovah—Sadrag, Mesag en Abednego—het dit nie gedoen nie. Omdat hulle nie voor daardie beeld wou neerbuig nie, is hulle in die brandende vuuroond gegooi. Jehovah het hulle wel op wonderdadige wyse gered, maar hulle was bereid om eerder hulle lewe te waag as om ontrou aan God te wees.—Dan. 3:1-27.

Later het die profeet Daniël in gebed volhard ten spyte van die moontlikheid dat hy in die leeukuil gegooi sou word. Ja, hy het by sy gewoonte gebly om drie maal per dag tot Jehovah te bid. Daniël het vasbeslote gebly om die ware God te aanbid. Gevolglik is die profeet “uit die kloue van die leeus gered”.—Dan. 6:1-27.

God se hedendaagse knegte leef ook hulle toewyding aan hom na. By ’n skool in Afrika het ’n groep leerders wat Jehovah se Getuies is, geweier om deel te neem aan ’n seremonie om ’n nasionale simbool te aanbid. Daar is vir hulle gesê dat hulle geskors sou word as hulle nie saam met die ander leerders aan die seremonie deelneem nie. Kort daarna het die Minister van Onderwys die dorp besoek en met party van die Getuieleerders gepraat. Hierdie jong Getuies het hulle standpunt beleefd maar vreesloos verduidelik. Sedertdien het jong broers en susters nie weer hierdie probleem ondervind nie. Hulle kan skool toe gaan sonder dat daar druk op hulle uitgeoefen word om aan Jehovah ontrou te wees.

Dink ook aan Joseph, wie se vrou kanker gehad het en skielik gesterf het. Joseph se familie het sy wense oor begrafnisritusse verstaan en gerespekteer. Maar sy vrou se familie is nie in die waarheid nie, en hulle wou hê dat sekere begrafnisgebruike gevolg moet word, insluitende ritusse wat God mishaag. Joseph vertel: “Toe ek nie wou ingee nie, het hulle my kinders probeer beïnvloed, maar my kinders het standvastig gebly. Die familielede het ook probeer om ’n lykwaak by my huis te reël, ’n gebruik wat algemeen gevolg word. Ek het gesê dat hulle ’n lykwaak kan hou as hulle wil, maar beslis nie by my huis nie. Hulle het geweet dat ’n lykwaak nie in ooreenstemming met my opvattings is of met die opvattings wat my vrou gehad het nie. Ná ’n lang bespreking het hulle dit dus op ’n ander plek gehou.

“Gedurende hierdie moeilike tyd van droefheid het ek Jehovah gesmeek om ons gesin te help om nie sy wette te verbreek nie. Hy het my gebede verhoor en ons gehelp om ondanks die druk standvastig te bly.” Joseph en sy kinders was vasbeslote om by hulle besluit te bly om aan Jehovah gehoorsaam te wees.

Wanneer jy dit kan oorweeg

Kort ná die Pasga van 32 HJ het ’n Siro-Fenisiese vrou Jesus Christus in die omgewing van Sidon genader. Sy het hom herhaaldelik gevra om ’n demoon uit haar dogter uit te dryf. Eers het Jesus haar nie geantwoord nie. Hy het vir sy dissipels gesê: “Ek is nie na enigiemand behalwe na die verlore skape van die huis van Israel gestuur nie.” Toe sy bly vra, het Jesus gesê: “Dit is nie reg om die kinders se brood te neem en dit vir hondjies te gooi nie.” Sy het groot geloof geopenbaar en geantwoord: “Ja, Here; maar die hondjies eet tog van die krummels wat van die tafel van hulle base afval.” Jesus het haar versoek toegestaan en haar dogter genees.​—Matt. 15:21-28.

Sodoende het Jesus Jehovah nagevolg en getoon dat hy bereid is om van plan te verander wanneer dit gepas is. Toe God byvoorbeeld die Israeliete wou vernietig toe hulle ’n goue kalf gemaak het, het hy Moses toegelaat om by Hom te pleit om dit nie te doen nie.​—Eks. 32:7-14.

Die apostel Paulus het Jehovah en Jesus nagevolg. Paulus het ’n tyd lank gevoel dat dit nie gepas is om Johannes Markus saam te neem op hulle sendingreise nie omdat hy Paulus en Barnabas gedurende hulle eerste sendingreis verlaat het. Maar later het Paulus blykbaar erken dat Markus geestelik gegroei het en dat hy vir hom nuttig sou wees. Paulus het dus vir Timoteus gesê: “Bring [Markus] saam met jou, want hy is vir my nuttig om diens te verrig.”​—2 Tim. 4:11.

Wat van ons? Wanneer ons ons barmhartige, geduldige en liefdevolle hemelse Vader probeer navolg, sal ons soms vind dat dit gepas is om van mening te verander. Byvoorbeeld, ons sal moontlik ons beskouing van ander verander. Anders as Jehovah en Jesus is ons onvolmaak. As hulle bereid was om te verander, kan ons dan nie ook die spesiale omstandighede van ander in ag neem en moontlik van mening verander nie?

Soms is dit goed om ons denke te verander wat teokratiese doelwitte betref. Party wat die Bybel studeer en die gemeentelike vergaderinge al ’n ruk lank bywoon, stel miskien hulle besluit uit om gedoop te word. Of party broers huiwer dalk om te begin pionier, al kan hulle hulle bediening op hierdie manier uitbrei. En sekere broers is moontlik teësinnig om na gemeentelike verantwoordelikhede te streef (1 Tim. 3:1). Bevind jy jou in een van hierdie situasies? Jehovah nooi jou liefdevol om hierdie voorregte te geniet. Kan jy jou denke verander en die vreugde ondervind wat dit meebring om van jouself aan God en ander te gee?

As ons van plan verander, kan dit ’n seën meebring

Ella sê oor haar diens by ’n takkantoor van Jehovah se Getuies in Afrika: “Toe ek Bethel toe gekom het, was ek nie seker of ek lank sou bly nie. Ek het die begeerte gehad om Jehovah heelhartig te dien, maar ek was ook baie geheg aan my gesin. Aan die begin het ek verskriklik na hulle verlang! Maar my kamermaat het my aangemoedig, en daarom het ek besluit om te bly. Ná tien jaar by Bethel voel ek dat ek my broers en susters so lank as moontlik wil dien deur in my Betheltoewysing te bly.”

Wanneer jy dit moet doen

Onthou jy wat met Kain gebeur het toe hy jaloers was op sy broer en baie kwaad geword het? God het vir hierdie gegriefde man gesê dat hy weer Sy guns sou geniet as hy eenvoudig begin doen wat goed is. God het Kain gemaan om die oorhand te kry oor die sonde wat “by die ingang lê en loer”. Kain kon sy gesindheid en sy denke verander het, maar hy het gekies om God se raad te ignoreer. Ongelukkig het Kain sy broer doodgemaak en die eerste mens geword wat moord gepleeg het!​—Gen. 4:2-8.

Sê nou Kain het van plan verander?

Dink ook aan die voorbeeld van koning Ussia. Aanvanklik het hy gedoen wat reg was in Jehovah se oë en het hy God voortdurend gesoek. Maar ongelukkig het Ussia sy goeie naam verloor toe hy hoogmoedig geword het. Hy het in die tempel ingegaan om reukwerk te brand, hoewel hy nie ’n priester was nie. Het hy van plan verander toe die priesters hom gewaarsku het om nie hierdie vermetele daad te pleeg nie? Nee. Ussia “het woedend geword” en hulle waarskuwing geïgnoreer. Gevolglik het Jehovah hom met melaatsheid getref.​—2 Kron. 26:3-5, 16-20.

Ja, daar is tye wanneer ons beslis van plan moet verander. Hier is ’n hedendaagse voorbeeld. Joachim is in 1955 gedoop, maar hy is in 1978 uitgesit. Meer as 20 jaar later het hy berou getoon en is hy herstel as een van Jehovah se Getuies. ’n Ouer man het hom onlangs gevra waarom hy so lank gewag het voordat hy gevra het om herstel te word. Joachim het geantwoord: “Ek was kwaad sowel as trots. Maar ek is spyt dat ek so lank gewag het. Al was ek uitgesit, het ek geweet dat Jehovah se Getuies die waarheid leer.” Hy moes sy gesindheid verander en berou toon.

Ons bevind ons dalk in ’n situasie wat vereis dat ons van plan verander en ’n ander rigting inslaan. Mag ons bereid wees om dit te doen sodat ons Jehovah se goedkeuring kan wegdra.​—Ps. 34:8.