Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waardeer jy wat jy ontvang het?

Waardeer jy wat jy ontvang het?

“Ons het . . . die gees [ontvang] wat van God kom, sodat ons die dinge sou ken wat goedgunstig deur God aan ons gegee is.”​—1 KOR. 2:12.

1. Watter woorde hoor ’n mens dikwels?

BAIE mense het al hierdie woorde gehoor: ‘Jy waardeer eers wat jy gehad het wanneer jy dit verloor het.’ Het jy al so gevoel? Wanneer ’n mens iets van kleins af het, is jy geneig om dit nie ten volle te waardeer nie. Iemand wat byvoorbeeld in ’n ryk gesin grootword, neem dalk baie van die dinge wat hy het, as vanselfsprekend aan. Dit is soms die geval met jongmense wat weens ’n gebrek aan ondervinding nog nie heeltemal kan onderskei watter dinge in die lewe werklik kosbaar is nie.

2, 3. (a) Wat moet jong Christene nie vergeet nie? (b) Wat kan ons help om te waardeer wat ons het?

2 Is jy in jou tienerjare of vroeë 20’s? Indien wel, wat is vir jou belangrik? Vir baie mense in die wêreld draai die lewe om materiële dinge—’n goeie salaris, ’n mooi huis of die nuutste hipertegnologiese toestelle. Maar as ons net oor hierdie dinge besorg is, kom ons iets belangriks kort—geestelike rykdom. Ongelukkig het miljoene vandag nog nie eers daarna begin soek nie. As jy ’n jongmens is wat deur Christenouers grootgemaak is, moet jy nie vergeet hoe kosbaar die geestelike erfenis is wat jy ontvang het nie (Matt. 5:3). ’n Gebrek aan waardering kan lei tot droewige gevolge wat jou vir die res van jou lewe kan raak.

3 Maar jy kan keer dat dit gebeur. Wat sal jou help om jou geestelike erfenis as kosbaar te beskou? Kom ons kyk na ’n paar Bybelvoorbeelde wat ons kan help om te sien waarom dit verstandig is om ons geestelike erfenis te waardeer. Die voorbeelde wat ons sal bespreek, kan alle Christene, jonk sowel as oud, help om hulle geestelike erfenis te waardeer.

HULLE HET GEEN WAARDERING GEHAD NIE

4. Wat openbaar 1 Samuel 8:1-5 omtrent Samuel se seuns?

4 Daar is verslae in die Bybel van mense wat ’n ryk geestelike erfenis ontvang het, maar wat dit nie waardeer het nie. Dit was die geval in die huisgesin van die profeet Samuel, wat Jehovah van kleins af gedien het en ’n goeie naam by God gehad het (1 Sam. 12:1-5). Samuel het ’n goeie voorbeeld gestel vir sy seuns, Joël en Abia. Maar in plaas daarvan om sy voorbeeld te volg, het hulle ’n slegte weg gevolg. Die Bybelverslag sê vir ons dat hulle, in teenstelling met hulle vader, “die reg verdraai” het.​—Lees 1 Samuel 8:1-5.

5, 6. Hoe het sake afgeloop vir Josia se seuns en kleinseun?

5 Koning Josia se seuns het ’n soortgelyke weg gevolg. Josia het ’n uitstekende voorbeeld as ’n aanbidder van Jehovah gestel. Toe die boek van God se Wet gevind is en aan Josia voorgelees is, het hy ’n opregte poging aangewend om Jehovah se voorskrifte te volg. Hy het hom ingespan om die land van afgodediens en spiritisme te reinig, en hy het die volk aangespoor om Jehovah te gehoorsaam (2 Kon. 22:8; 23:2, 3, 12-15, 24, 25). Wat ’n ryk geestelike erfenis het sy seuns tog ontvang! Drie van sy seuns en een van sy kleinseuns het later konings geword, maar nie een van hulle het waardering getoon vir wat hulle ontvang het nie.

6 Josia se seun Joahas het hom as koning opgevolg, maar hy het gedoen “wat sleg was in Jehovah se oë”. Nadat hy net drie maande regeer het, het ’n Egiptiese farao hom gevange geneem, en Joahas het in gevangenskap gesterf (2 Kon. 23:31-34). Daarna het sy broer Jojakim 11 jaar lank regeer. Ook hy het geen waardering gehad vir wat hy van sy vader ontvang het nie. Weens Jojakim se slegte weg het Jeremia aangaande hom voorspel: “Met ’n eselsbegrafnis sal hy begrawe word” (Jer. 22:17-19). Josia se ander opvolgers—sy seun Sedekia en sy kleinseun Jojagin—het nie beter gevaar nie; nie een van hulle het gekies om Josia se onberispelike weë te volg nie.​—2 Kon. 24:8, 9, 18, 19.

7, 8. (a) Hoe het Salomo sy geestelike erfenis weggegooi? (b) Watter les kan ons leer uit Bybelvoorbeelde van mense wat hulle geestelike erfenis weggegooi het?

7 Koning Salomo het baie ontvang van sy vader, Dawid. Hoewel Salomo ’n uitstekende geestelike agtergrond gehad het en goed begin het, het hy later waardering verloor vir wat reg is. “Toe Salomo oud word, het sy vrouens sy hart laat afwyk om ander gode te volg; en sy hart was nie volkome met Jehovah sy God soos die hart van sy vader Dawid nie” (1 Kon. 11:4). Gevolglik het Salomo Jehovah se guns verloor.

8 Hoe jammer is dit tog dat hierdie manne nie gebruik gemaak het van hulle goeie agtergrond en die geleentheid om te doen wat reg is nie! Maar dit was nie in Bybeltye die geval met alle jongmense nie, en dit is ook nie vandag die geval nie. Kom ons kyk na ’n paar goeie voorbeelde wat jong Christene kan navolg.

HULLE HET WAARDEER WAT HULLE ONTVANG HET

9. Hoe het Noag se seuns ’n uitstekende voorbeeld gestel? (Sien die prent aan die begin van die artikel.)

9 Noag se seuns het ’n uitstekende voorbeeld gestel. Hulle vader het die opdrag ontvang om ’n ark te bou en om saam met sy huisgesin in die ark in te gaan. Noag se seuns het besef hoe belangrik dit is om Jehovah se wil te doen. Hulle het ongetwyfeld met hulle vader saamgewerk en hom gehelp om die ark te bou (Gen. 7:1, 7). Waarom het hulle dit gedoen? Genesis 7:3 sê dat hulle diere in die ark laat ingaan het “om nageslag op die oppervlak van die hele aarde in die lewe te hou”. Daarna het hulle in die ark ingegaan, en hulle is gered. Omdat Noag se seuns waardeer het wat hulle van hulle vader ontvang het, het hulle die voorreg gehad om ’n rol te speel in die voortbestaan van die mensdom en om ware aanbidding op ’n gereinigde aarde te help herstel.​—Gen. 8:20; 9:18, 19.

10. Hoe het vier jong Hebreeuse manne in Babilon waardering getoon vir die waarhede wat hulle geleer het?

10 Eeue later het vier jong Hebreeuse manne getoon dat hulle geleer het wat werklik belangrik is. Hananja, Misael, Asarja en Daniël is in 617 VHJ na Babilon geneem. Hulle was aantreklike, intelligente jong manne wat maklik deel kon word van die Babiloniese lewenswyse. Maar hulle het nie. Hulle dade het duidelik getoon dat hulle nie van hulle erfenis, van wat hulle geleer is, vergeet het nie. Die vier jong manne is ryklik geseën omdat hulle ag geslaan het op die geestelike lesse wat hulle op ’n jong ouderdom geleer het.​—Lees Daniël 1:8, 11-15, 20.

11. Hoe het ander by Jesus se geestelike agtergrond baat gevind?

11 Ons bespreking van goeie voorbeelde sal nie volledig wees tensy ons die voorbeeld van Jesus, God se Seun, ondersoek nie. Hy het baie van sy Vader ontvang, en hy het groot waardering daarvoor gehad. Hierdie waardering vir wat hy geleer is, kan duidelik gesien word in sy woorde: “Net soos die Vader my geleer het, spreek ek hierdie dinge” (Joh. 8:28). En hy wou graag hê dat ander moes baat vind by wat hy ontvang het. Hy het vir die skares gesê: “Ook aan ander stede moet ek die goeie nuus van die koninkryk van God bekend maak, want hiervoor is ek uitgestuur” (Luk. 4:18, 43). Hy het sy gehoor gehelp om te sien dat hulle “geen deel [moet wees] van die wêreld”, wat oor die algemeen geen waardering vir geestelike dinge het nie.​—Joh. 15:19.

WAARDEER WAT JY ONTVANG HET

12. (a) Hoe is 2 Timoteus 3:14-17 vandag op baie jongmense van toepassing? (b) Watter vrae moet jong Christene hulle afvra?

12 Soos die jong manne wat ons bespreek het, is jy miskien ook grootgemaak deur ouers wat aan Jehovah God toegewy is. Indien wel, is wat die Skrif oor Timoteus sê, heel moontlik op jou situasie van toepassing. (Lees 2 Timoteus 3:14-17.) Jy het by jou ouers geleer van die ware God en hoe om hom te behaag. Jou ouers het jou heel moontlik van kleintyd af begin leer. Dit het sekerlik baie gehelp om jou “wys [te] maak tot redding deur die geloof in verband met Christus Jesus” en om jou “ten volle [toe te rus]” vir God se diens. ’n Sleutelvraag is nou: Sal jy waardering toon vir wat jy ontvang het? Om die antwoord te kry, sal jy dalk selfondersoek moet doen. Vra jou vrae af soos: ‘Hoe voel ek daaroor om deel te wees van al die getroue getuies wat al gelewe het? Hoe voel ek daaroor om vandag een van die betreklik min mense op aarde te wees wat deur God geken word? Waardeer ek die unieke en wonderlike voorreg wat ek het om die waarheid te ken?’

Hoe voel jy daaroor om deel te wees van al die getroue getuies wat al gelewe het? (Sien paragrawe 9, 10, 12)

13, 14. Voor watter versoeking kom party jong Christene te staan, maar waarom sal dit onverstandig wees om daarvoor te swig? Gee ’n voorbeeld.

13 Party jongmense wat deur Christenouers grootgemaak is, sien dalk nie die skerp teenstelling tussen ons geestelike paradys en Satan se donker wêreld nie. Party het selfs in die versoeking gekom om te ondervind hoe die lewe in die wêreld is. Maar sal jy voor ’n bewegende motor inspring net om uit te vind hoe pynlik—en moontlik noodlottig—dit kan wees? Natuurlik nie! Net so is dit nie vir ons nodig om die “lae poel van losbandigheid” in hierdie wêreld te ondervind net om uit te vind hoe pynlik en rampspoedig dit kan wees nie.​—1 Pet. 4:4.

14 Gener, wat in Asië woon, is in ’n Christenhuis grootgemaak. Hy is gedoop toe hy 12 was. Maar toe hy ’n tiener was, het die weë van die wêreld vir hom aantreklik begin lyk. Hy sê: “Ek wou die ‘vryheid’ ondervind wat die wêreld bied.” Gener het ’n dubbele lewe begin lei. Teen die tyd dat hy 15 was, het hy van sy slegte vriende se gewoontes aangeleer. Hy het soos hulle gedrink en gevloek. Gener het dikwels laat by die huis gekom nadat hy biljart en gewelddadige rekenaarspeletjies saam met sy vriende gespeel het. Maar met verloop van tyd het hy begin besef dat die verloklikhede van hierdie wêreld nie ware bevrediging bied nie. Dit was ’n leë lewenswyse. Hy sê oor sy terugkeer na die gemeente: “Daar is nog baie uitdagings, maar dit is niks in vergelyking met die seëninge wat Jehovah gee nie.”

15. Waaroor moet jongmense wat nie deur Christenouers grootgemaak is nie, nadink?

15 Daar is natuurlik jongmense in die gemeente wat nie deur Christenouers grootgemaak is nie. As jy een van hulle is, moet jy dink aan die wonderlike voorreg wat jy nou geniet omdat jy die Skepper ken en dien! Daar is miljarde mense op die aarde. Dit is dus ’n ware seën om onder diegene te wees wat Jehovah liefdevol na hom getrek het en aan wie hy Bybelwaarheid geopenbaar het (Joh. 6:44, 45). Net sowat 1 uit elke 1 000 mense wat vandag lewe, het ’n juiste kennis van die waarheid, en jy is een van hulle. Moet dit nie vir ons almal, ongeag hoe ons die waarheid geleer het, ’n rede tot vreugde wees nie? (Lees 1 Korintiërs 2:12.) Gener sê: “Dit is vir my ’n ongelooflike gedagte. Wie is ek dat Jehovah, die Eienaar van die heelal, my sal ken?” (Ps. 8:4). ’n Christensuster van dieselfde land het gesê: “Leerders voel baie trots daarop wanneer hulle onderwyser bloot weet wie hulle is. Hoeveel groter is ons voorreg tog om deur Jehovah, die Grootse Onderrigter, geken te word!”

WAT SAL JY DOEN?

16. Watter verstandige keuse kan jong Christene vandag maak?

16 Maak die wonderlike voorreg wat jy het, jou nie meer vasbeslote om deel te wees van die betreklik min mense wat hulle lewe op die regte manier gebruik nie? Indien wel, toon jy dat jy onder al die getroue knegte van God gereken wil word. Dit is baie verstandiger as om bloot die meeste jongmense te volg wat saam met hierdie wêreld voortstrompel na vernietiging.—2 Kor. 4:3, 4.

17-19. Waarom is dit verstandig om anders as die wêreld te wees?

17 Dit sal natuurlik nie altyd maklik wees om anders as die wêreld te wees nie. Maar sou jy nie saamstem dat dit verstandig is om anders te wees nie? Ter toeligting: Dink aan ’n Olimpiese atleet. Hy moes beslis anders wees om hierdie vlak te bereik. Hy moes baie dinge vermy wat sy tyd en aandag in beslag sou neem en inbreuk sou maak op sy tyd om te oefen. Maar omdat hy bereid was om anders as sy vriende te wees, het hy meer tyd gehad om te oefen en sy doelwit te bereik.

18 Die wêreld se beskouing van die lewe is kortsigtig. As jy toon dat jy ’n langtermynbeskouing het, deur anders as die wêreld te wees en jou te onthou van wêreldse bedrywighede wat sedelik en geestelik vernietigend is, sal jy “’n stewige houvas op die werklike lewe . . . kry” (1 Tim. 6:19). Die suster wat vroeër genoem is, sê: “As jy by jou oortuigings bly, sal jy op die ou end werklik goed voel. Dit sal bewys dat jy die krag het om Satan se wêreld te weerstaan. En bowenal is dit asof jy Jehovah God se glimlag kan sien en weet dat hy trots is op jou! Dan voel dit goed om anders te wees!”

19 Die lewe is sinloos as ’n mens slegs dink aan wat jy nou kan kry (Pred. 9:2, 10). As jy as ’n jongmens ernstig nadink oor die doel van jou lewe en in gedagte hou dat jy vir ewig kan lewe, sal jy sekerlik saamstem dat dit verstandig is om nie ‘soos die nasies te wandel’ nie en eerder ’n waarlik betekenisvolle lewe te lei.​—Ef. 4:17; Mal. 3:18.

20, 21. Wat sal ons ontvang as ons die regte besluite neem, maar wat word van ons verwag?

20 As ons die regte besluite neem, kan ons nou al ’n bevredigende lewe geniet en die vooruitsig hê om “die aarde [te] beërf”—om die ewige lewe te verkry. Ons kan ons nie eers voorstel hoeveel wonderlike seëninge vir ons voorlê nie (Matt. 5:5; 19:29; 25:34). God gee seëninge natuurlik nie outomaties aan ons nie. Hy vereis iets van ons. (Lees 1 Johannes 5:3, 4.) Maar dit is beslis die moeite werd om hom nou getrou te dien!

21 Hoe bevoorreg is ons tog omdat ons al soveel van God ontvang het! Ons het juiste kennis van sy Woord en ’n duidelike begrip van die waarheid oor hom en sy voornemens. Ons geniet die voorreg om sy naam te dra en sy Getuies te wees. God belowe ons dat hy aan ons kant is (Ps. 118:7). Mag ons almal, jonk sowel as oud, ons waardering toon deur te lewe op ’n manier wat ons opregte begeerte weerspieël om Jehovah “heerlikheid tot in ewigheid” te gee.​—Rom. 11:33-36; Ps. 33:12.