Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Behou jou ywer vir die bediening

Behou jou ywer vir die bediening

DIE verkondiging van die goeie nuus is die belangrikste werk wat vandag op die aarde gedoen word. Dit is ’n eer om Jehovah in hierdie onderrigtingswerk te verteenwoordig. Maar soms kan dit vir pioniers en verkondigers ’n uitdaging wees om hulle ywer vir die bediening te behou. Waarom?

Wat kan jou help om jou ywer vir die bediening te behou?

Party verkondigers kry min geleenthede om gesprekke te voer wanneer hulle van huis tot huis preek omdat baie mense nie tuis is nie. En wanneer mense wel tuis is, stel hulle dalk nie belang in die Koninkryksboodskap nie, en party word selfs kwaad vir ons. Ander verkondigers het ’n baie groot en produktiewe gebied, maar hulle wonder of hulle ooit almal daar sal bereik. En party preek al jare lank en voel mismoedig omdat die einde nog nie gekom het nie.

In ons bediening sal ons voor uitdagings te staan kom wat ons ywer kan demp. Ons lewe in ’n wêreld wat beheer word deur “die bose”, Satan die Duiwel, en daarom verwag ons dat dit moeilik sal wees om die goeie nuus te verkondig.—1 Johannes 5:19.

Ongeag voor watter uitdagings jy persoonlik in jou bediening te staan kom, jy kan seker wees dat Jehovah jou sal help om dit te oorkom. Maar wat kan jy doen om jou ywer vir die bediening te vergroot? Kom ons bespreek ’n paar wenke.

HELP NUWE VERKONDIGERS

Elke jaar word duisende mense as Jehovah se Getuies gedoop. As jy pas gedoop is, kan jy baie leer by diegene wat die predikingswerk al jare lank doen. En as jy al jare lank ’n verkondiger is, kan jy dalk help om nuwelinge op te lei. Dit kan baie bevredigend wees.

Jesus het geweet dat sy dissipels leiding nodig het om doeltreffende onderrigters te word, en hy het hulle gewys hoe om te preek (Lukas 8:1). Vandag het nuwelinge soortgelyke opleiding nodig om doeltreffende bedienaars te word.

Ons moenie aanneem dat ’n nuwe verkondiger sal leer hoe om ’n goeie onderrigter te wees net omdat hy in die bediening uitgaan nie. Hy het persoonlike opleiding van ’n liefdevolle onderrigter nodig. Die ervare verkondiger moet hom leer hoe om (1) ’n aanbieding voor te berei en te oefen, (2) ’n gesprek te voer, (3) lektuur aan te bied, (4) herbesoeke by belangstellendes te doen en (5) ’n Bybelstudie te begin. ’n Nuwe verkondiger kan ’n doeltreffende bedienaar word as hy let op hoe die ervare verkondiger onderrig en hom dan navolg (Lukas 6:40). En die nuwe verkondiger sal meer selfvertroue hê omdat hy weet dat iemand daar is om hom te help indien nodig. Die nuwe verkondiger kan ook daarby baat vind as hy geprys word en nuttige wenke ontvang.—Prediker 4:9, 10.

GESELS MET JOU VELDDIENSMAAT

Ondanks al jou pogings om met huisbewoners te praat, sal die gesprek met jou velddiensmaat soms die beste gesprek wees wat jy in die bediening sal hê. Onthou dat Jesus sy dissipels “twee-twee” uitgestuur het om te preek (Lukas 10:1). Terwyl hulle saam gewerk het, kon hulle mekaar aanmoedig en opbou. Wanneer ons saam met ons broers en susters in die bediening werk, bied dit ons ’n goeie geleentheid vir “wedersydse aanmoediging”.—Romeine 1:12.

Waaroor kan julle gesels? Het een van julle onlangs ’n aanmoedigende ondervinding gehad? Het jy ’n interessante punt in jou persoonlike of gesinstudie ontdek? Het iets wat jy by ’n vergadering gehoor het, jou aangemoedig? Soms werk jy saam met ’n verkondiger wat jy nie goed ken nie. Miskien kan jy hom vra hoe hy in die waarheid gekom het. Wat het hom daarvan oortuig dat dit Jehovah se organisasie is? Watter voorregte of ondervindinge het hy al gehad? Dalk kan jy hom van jou eie ondervindinge vertel. Ongeag hoe mense in die gebied reageer, jy en jou velddiensmaat het ’n goeie geleentheid om aan te hou om “mekaar op te bou”.—1 Tessalonisense 5:11.

VERBETER DIE GEHALTE VAN JOU PERSOONLIKE STUDIE

Om ons ywer vir die bediening te behou, moet ons die gehalte van ons persoonlike studie verbeter. “Die getroue en verstandige slaaf” publiseer inligting oor verskillende onderwerpe wat ons kan bestudeer (Matteus 24:45). Kom ons bespreek ’n voorbeeld van ’n goeie onderwerp vir persoonlike studie: Waarom is die predikingswerk so belangrik? Die venster “ Waarom moet jy jou ywer vir die bediening behou?” gee ’n paar redes.

As jy die punte in die venster ondersoek, kan dit jou beweeg om aan te hou om met ywer te preek. As deel van ’n studieprojek kan jy ’n lys maak van al die ander skriftuurlike redes waarom ons met ywer moet preek. Peins dan oor hierdie redes. As jy dit doen, sal jou ywer vir die bediening toeneem.

WEES BEREID OM IETS NUUTS TE PROBEER

Jehovah se organisasie gee gereeld wenke wat ons kan help om ons bediening te verbeter. Benewens die huis-tot-huis-bediening kan ons byvoorbeeld probeer om aan ander aspekte van die bediening deel te neem, soos briefskrywery, telefoongetuieniswerk, straatwerk of ander vorme van openbare getuieniswerk, informele getuieniswerk of sakegetuieniswerk. Dalk kan ons ook reëlings tref om in gebiede te preek waar daar min of geen Getuies is nie.

Is jy bereid om iets nuuts te probeer? Baie wat hierdie wenke probeer toepas, behaal goeie resultate. Kyk na drie voorbeelde.

’n Suster met die naam April het ’n wenk probeer toepas wat verskyn het in ’n artikel in Ons Koninkryksbediening oor hoe om Bybelstudies te begin. Sy het ’n studie vir drie van haar werksmaats aangebied. April was verbaas en opgewonde toe al drie ’n Bybelstudie aanvaar het en selfs gemeentelike vergaderinge begin bywoon het.

Ons is ook aangespoor om mense te soek wat in spesifieke artikels in ons tydskrifte sal belangstel. ’n Kringopsiener in die Verenigde State het besluit om ’n Ontwaak!-artikel oor motorbande aan te bied vir die bestuurders van al die motorbandwinkels in ’n sekere gebied. Hy en sy vrou het ook ’n Ontwaak! met die voorbladreeks “Toon begrip vir jou dokter” by meer as 100 spreekkamers aangebied. Hy sê dat hierdie besoeke mense gehelp het om bekend te word met ons predikingswerk en ons lektuur. Nadat die kringopsiener en sy vrou mense in die gebied beter leer ken het, kon hulle meer herbesoeke doen.

’n Suster met die naam Judy het aan die wêreldhoofkwartier geskryf om dankie te sê vir die aansporing om telefoongetuieniswerk te doen. Sy het gesê dat haar 86-jarige ma, wat baie gesondheidsprobleme gehad het, gereeld telefoongetuieniswerk gedoen het. Gevolglik het sy ’n Bybelstudie begin met ’n vrou wat 92 jaar oud was!

Die wenke in ons publikasies werk regtig. Probeer dit! Dit kan jou help om jou vreugde en ywer vir die bediening te behou.

STEL REDELIKE DOELWITTE

Wat bepaal of ons suksesvol is in ons predikingswerk? Dit word nie bepaal deur hoeveel publikasies ons versprei, hoeveel Bybelstudies ons hou of hoeveel mense ons help om Jehovah se Getuies te word nie. Dink aan Noag. Hoeveel mense, buiten sy gesin, is deur Noag gehelp om aanbidders van Jehovah te word? En tog was hy beslis ’n suksesvolle prediker. Die hoofsaak is dat ons Jehovah getrou dien.—1 Korintiërs 4:2.

Baie verkondigers besef dat hulle redelike doelwitte moet stel as hulle hulle ywer vir die predikingswerk wil behou. Wat is van hierdie doelwitte? ’n Paar word genoem in die venster “ Stel redelike doelwitte”.

Vra Jehovah om jou te help om jou bediening bevredigend en betekenisvol te maak. Wanneer jy jou doelwitte bereik, sal jy tevrede voel in die wete dat jy jou bes doen om die goeie nuus te verkondig.

Dit kan ’n uitdaging wees om die goeie nuus te verkondig. Wat kan jy dus doen om jou ywer vir die bediening te behou? Voer aanmoedigende gesprekke met jou velddiensmaat, doen gereeld betekenisvolle persoonlike studie, pas die wenke toe van die getroue en verstandige slaaf en stel redelike doelwitte. Hou bowenal in gedagte dat Jehovah God jou die eer gegee het om die goeie nuus as een van sy Getuies te verkondig (Jesaja 43:10). Ja, jy sal groot vreugde ervaar as jy jou ywer vir die bediening behou!