Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah rig ons wêreldwye onderrigtingswerk

Jehovah rig ons wêreldwye onderrigtingswerk

“Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel, die Een wat jou laat loop op die weg wat jy moet bewandel.”—JESAJA 48:17.

1. Watter faktore het die predikingswerk bemoeilik?

TOE Jehovah se volk die goeie nuus meer as 130 jaar gelede begin verkondig het, het hulle voor baie probleme te staan gekom. * (Sien voetnoot.) Soos die Christene in die eerste eeu was hulle ’n klein groepie en het hulle ’n ongewilde boodskap verkondig. Party mense het gedink dat hulle ongeleerd is. Later, toe Satan op die aarde neergewerp is, is hulle vervolg (Openbaring 12:12). En sedertdien word die predikingswerk gedoen gedurende hierdie “laaste dae . . . wat moeilik is om deur te kom”.—2 Timoteus 3:1.

2. Wat doen Jehovah om ons met die predikingswerk te help?

2 Maar Jehovah help sy volk. Hy wil hê dat hulle die goeie nuus oor die hele aarde moet verkondig, en hy sal nie toelaat dat enigiets hierdie werk stopsit nie. Hy het sy volk gehelp om hom te aanbid op ’n manier wat sy goedkeuring wegdra deur hulle van valse godsdiens af te skei. Hy het dieselfde in die verlede gedoen toe hy die Israeliete uit Babilon bevry het (Openbaring 18:1-4). En ons vind persoonlik baat by wat Jehovah ons leer. Hy help ons om in vrede met mekaar te lewe, en hy lei ons op om ander van hom te leer. (Lees Jesaja 48:16-18.) Hoewel Jehovah ons werk rig, beteken dit nie dat hy altyd wêreldtoestande verander om ons te help om die predikingswerk te doen nie. Party verwikkelinge in die wêreld het dit weliswaar makliker gemaak om ons predikingswerk te doen. Maar ons word nog steeds vervolg en kom voor ander probleme in Satan se wêreld te staan. Ons kan die predikingswerk slegs met Jehovah se hulp doen.—Jesaja 41:13; 1 Johannes 5:19.

3. Hoe is Daniël se profesie vervul?

3 Daniël het voorspel dat baie mense Bybelwaarheid gedurende die tyd van die einde sou verstaan. (Lees Daniël 12:4.) Kort voordat “die tyd van die einde” begin het, het Jehovah sy volk gehelp om belangrike Bybelleringe te verstaan en om die Christendom se valse leringe te verwerp. Vandag verkondig sy volk Bybelwaarheid regoor die wêreld. Dit is duidelik dat die profesie in Daniël vervul is. Byna agtmiljoen mense het al die waarheid geleer, en hulle leer dit weer aan ander. Wat het Jehovah se volk gehelp om die predikingswerk wêreldwyd te doen?

BYBELVERTALING

4. In hoeveel tale was die Bybel teen die jaar 1900 vertaal?

4 Vandag het baie mense ’n Bybel, en dit maak dit vir ons makliker om hulle van die goeie nuus te leer. Maar dit was nie altyd die geval nie. Die geestelikes van die Christendom het mense honderde jare lank probeer keer om die Bybel te lees. Hulle het selfs mense vervolg wat dit gelees het en party doodgemaak wat dit vertaal het. Maar toe, gedurende die 1800’s, het party organisasies die Bybel of dele daarvan in sowat 400 tale vertaal of gedruk. Teen die jaar 1900 het baie mense ’n Bybel besit. Maar hulle het nie juiste kennis van Bybelleringe gehad nie.

5. Watter bydrae het Jehovah se Getuies tot Bybelvertaling gelewer?

5 Jehovah se volk het geweet dat hulle ander moet vertel wat die Bybel leer, en dit is presies wat hulle gedoen het. Aanvanklik het hulle Bybelvertalings wat beskikbaar was, gebruik en versprei. Sedert 1950 het hulle die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif of dele daarvan in meer as 120 tale uitgegee. In 2013 het hulle ’n hersiene Engelse uitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling uitgegee. Hierdie uitgawe is makliker om te verstaan en te vertaal. En wanneer ons ’n Bybel gebruik wat mense kan verstaan, is dit makliker om hulle die waarheid te leer.

TYDPERKE VAN VREDE

6, 7. (a) Watter oorloë is die afgelope 100 jaar gevoer? (b) Hoe het tydperke van vrede in party lande ons gehelp om die predikingswerk te doen?

6 Gedurende die afgelope 100 jaar is baie oorloë, insluitende twee wêreldoorloë, gevoer. Miljoene mense het gesterf. Waarom kan ons dan sê dat daar vrede was, en hoe het hierdie vrede Jehovah se volk gehelp om te preek? Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het Nathan Knorr die leiding onder Jehovah se Getuies geneem. By ’n byeenkoms in 1942 het hy ’n opwindende toespraak gehou met die titel “Vrede—Kan dit voortduur?” Broer Knorr het die profesie in Openbaring hoofstuk 17 verduidelik en dit gebruik om te bewys dat Armageddon nog nie sou kom nie. Ná die oorlog sou daar ’n tydperk van vrede wees.—Openbaring 17:3, 11.

7 Dit het natuurlik nie beteken dat daar ná die oorlog oral vrede sou heers nie. Sedert die Tweede Wêreldoorlog het miljoene mense in ander oorloë gesterf. Maar in baie lande was daar tydperke van vrede wat dit vir Jehovah se volk makliker gemaak het om die predikingswerk te doen. Wat het dit tot gevolg gehad? Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was daar minder as 110 000 Getuies van Jehovah. Maar vandag is daar byna agtmiljoen! (Lees Jesaja 60:22.) Ja, ons kan gedurende tydperke van vrede die goeie nuus aan selfs meer mense verkondig.

VERBETERDE REISMETODES

8, 9. Hoe het dit makliker geword om te reis, en waarom help dit ons met ons werk?

8 Toe Jehovah se Getuies die predikingswerk in die Verenigde State begin doen het, was dit nie vir hulle maklik om te reis nie. In 1900, omtrent 21 jaar nadat hulle The Watch Tower begin druk het, was daar net sowat 8 000 motors en net ’n paar goeie paaie in daardie land. Maar vandag is daar meer as een en ’n half miljard motors in die wêreld en talle goeie paaie op die meeste plekke. Ons kan dus motors en paaie gebruik om die predikingswerk op afgeleë plekke te gaan doen. Maar al moet ons ver loop omdat ons op ’n plek bly waar dit nie maklik is om te reis nie, doen ons alles wat ons kan om vir mense te gaan preek waar hulle ook al is.—Matteus 28:19, 20.

Ons doen alles wat ons kan om vir mense te gaan preek waar hulle ook al is

9 Ons gebruik ook ander vervoermiddele. Ons versend Bybels en ander lektuur per vragmotor, skip en trein. Dit beteken dat broers en susters in afgeleë gebiede lektuur binne net ’n paar weke kan ontvang. Kringopsieners, Takkomiteelede, sendelinge en ander reis per vliegtuig om toesprake by byeenkomste te hou en om die gemeentes te help. Lede van die Bestuursliggaam en ander broers van die wêreldhoofkwartier vlieg ook na baie lande om hulle broers en susters aan te moedig en op te lei. Dit alles help Jehovah se volk om verenig te wees.—Psalm 133:1-3.

TAAL EN VERTALING

10. Hoe algemeen word Engels vandag gebruik?

10 In die eerste eeu het baie mense in die Romeinse Ryk Grieks gepraat. Vandag praat baie mense regoor die wêreld Engels. Trouens, die boek English as a Global Language sê dat omtrent ’n kwart van die wêreldbevolking Engels praat of verstaan. Baie mense leer Engels omdat dit wêreldwyd in die sakewêreld, politiek, wetenskap en tegnologie gebruik word.

11. Watter uitwerking het Engels op die werk van Jehovah se volk gehad?

11 Die wydverspreide gebruik van Engels het gehelp om die waarheid te versprei. In die verlede is ons publikasies eers in Engels gedruk. Baie mense kon dit lees omdat Engels wêreldwyd gepraat word. Engels word ook by ons wêreldhoofkwartier gebruik. En broers en susters wat van verskillende lande kom en Engels verstaan, ontvang opleiding by ons skole in Patterson, New York.

Jehovah se Getuies regoor die wêreld verstaan die “suiwer taal” van Bybelwaarheid en is verenig

12. In hoeveel tale is ons lektuur vertaal, en wat het ons vertaalwerk makliker gemaak?

12 Maar ons het die verantwoordelikheid om die goeie nuus aan mense regoor die wêreld te verkondig. Daarom vertaal ons ons lektuur in meer as 700 tale. Wat het ons in staat gestel om dit te doen? Rekenaars en rekenaarprogramme, soos MEPS, het ons vertaalwerk makliker gemaak. Gevolglik kan Jehovah se Getuies regoor die wêreld die “suiwer taal” van Bybelwaarheid verstaan en verenig wees.—Lees Sefanja 3:9.

WETTE EN HOFBESLISSINGS

13, 14. Hoe het wette en hofbeslissings ons gehelp?

13 Romeinse wette het Christene in die eerste eeu in baie opsigte gehelp om die predikingswerk te doen. Vandag help die wette in baie lande ons ook om hierdie werk te doen. Die wette in die Verenigde State gee mense byvoorbeeld die reg om hulle godsdiens te kies, om oor hulle oortuigings te praat en om saam te vergader. Dit beteken dat ons in daardie land die vryheid het om ons vergaderinge te hou en die predikingswerk te doen. Ons het ook die vryheid om die wêreldwye predikingswerk vanaf ons wêreldhoofkwartier in die Verenigde State te organiseer. Maar dit was natuurlik al nodig om hof toe te gaan om ons reg te verdedig om die goeie nuus te verkondig (Filippense 1:7). En wanneer regters en juries in daardie howe ons predikingswerk probeer verbied het, het ons na hoër howe gegaan waar ons dikwels die saak gewen het.

14 Ons het ook in ander lande na howe gegaan om ons vryheid om Jehovah te aanbid en die predikingswerk te doen, te verdedig. Wanneer ons hofsake verloor, gaan ons na internasionale howe. Ons het byvoorbeeld al dikwels na die Europese Hof van Menseregte gegaan. Teen Junie 2014 het ons reeds 57 sake in hierdie Hof gewen, en die meeste lande in Europa moet hulle aan die beslissings van hierdie Hof onderwerp. Al is ons “vir al die nasies voorwerpe van haat”, het die wette van baie lande dit vir ons moontlik gemaak om Jehovah vryelik te aanbid.—Matteus 24:9.

UITVINDINGS WAT ONS GEHELP HET

Ons Bybellektuur is in baie tale beskikbaar

15. Hoe het drukmetodes verbeter, en hoe het dit ons gehelp?

15 Nuwe drukmetodes het ons gehelp om die goeie nuus aan al hoe meer mense te verkondig. Mense het honderde jare lank ’n drukmetode gebruik wat omstreeks 1450 deur Johannes Gutenberg uitgevind is. Maar oor die afgelope 200 jaar het drukperse in baie opsigte verbeter. Nadat die rubberdrukpers uitgevind is, kon drukwerk vinniger gedoen word en het die gehalte daarvan verbeter. Dit het ook goedkoper geword om papier te vervaardig en boeke te bind. Hoe het hierdie veranderinge ons gehelp? Toe die eerste Watch Tower in 1879 gedruk is, was dit net in Engels beskikbaar. Dit het nie prente gehad nie en slegs 6 000 eksemplare is gedruk. Vandag word hierdie tydskrif in meer as 200 tale gedruk. Dit het pragtige en kleurvolle prente, en meer as 50 000 000 eksemplare van elke nommer word gedruk.

16. Watter uitvindings het ons gehelp om die predikingswerk regoor die wêreld te doen? (Sien prent aan begin van artikel.)

16 Oor die afgelope 200 jaar was daar baie uitvindings wat Jehovah se volk gehelp het om die goeie nuus te verkondig. Ons het alreeds treine, motors en vliegtuie genoem. Maar daar was ook fietse, tikmasjiene, brailletoestelle, die telegraaf, telefone, kameras, klankopnemers, video-opnemers, die radio, televisie, rolprente, rekenaars en die Internet. Jehovah se volk het nie hierdie dinge uitgevind nie, maar hulle gebruik dit om die Bybel en ander lektuur in baie tale uit te gee en om die predikingswerk regoor die wêreld te doen. So drink hulle “die melk van nasies”, net soos die Bybel voorspel het.—Lees Jesaja 60:16.

Jehovah is lief vir ons en wil hê dat ons saam met hom moet werk

17. (a) Tot watter slotsom kan ons kom met betrekking tot die predikingswerk? (b) Waarom wil Jehovah hê dat ons saam met hom moet werk?

17 Dit is duidelik dat Jehovah ons predikingswerk rig. Jehovah het ons hierdie werk gegee, nie omdat hy dit nie sonder ons hulp kan doen nie, maar omdat hy vir ons lief is en wil hê dat ons saam met hom moet werk. As ons die predikingswerk doen, toon ons vir hom dat ons vir hom lief is en dat ons vir ander mense lief is (Markus 12:28-31; 1 Korintiërs 3:9). Ons is baie dankbaar teenoor Jehovah omdat hy ons help om die predikingswerk regoor die aarde te doen. Mag ons dus gebruik maak van elke geleentheid wat ons het om te getuig van Jehovah en sy Koninkryk!

^ par. 1 Jehovah se volk het van om en by 1870 af as Bybelstudente bekend gestaan. In 1931 het hulle die naam Jehovah se Getuies begin gebruik.—Jesaja 43:10.