Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Verrassing vir Japan

’n Verrassing vir Japan

BY ’N spesiale vergadering wat op 28 April 2013 in Nagoja, Japan, gehou is, het Anthony Morris van die Bestuursliggaam die gehoor verras met ’n opwindende aankondiging: die vrystelling van ’n nuwe publikasie in Japannees met die titel Die Bybel—Die Evangelie volgens Matteus. Die meer as 210 000 wat teenwoordig was of deur middel van ’n webuitsending ingeskakel was, het met ’n uitgerekte applous hierop gereageer.

Hierdie uitgawe van Matteus se Evangelie is uit die Japannese Nuwe Wêreld-vertaling oorgedruk. Maar hierdie boek met 128 bladsye is uniek. Broer Morris het verduidelik dat dit saamgestel is om mense in die Japannese veld te help. Wat maak hierdie publikasie anders? Waarom is dit saamgestel? En hoe is dit ontvang?

WAT MAAK HIERDIE PUBLIKASIE ANDERS?

Baie mense is verras deur die formaat van Matteus. Japannese karakters kan vertikaal of horisontaal geset word, en oor die algemeen word die teks in gedrukte materiaal—insluitende ons onlangse publikasies—horisontaal geset. Maar die teks van hierdie nuwe boek is vertikaal geset—’n gewilde uitleg in Japannese koerante en letterkundige werke. Baie Japannese lesers meen dat dit ’n lesersvriendelike styl is. Ook is die bladsyopskrifte as onderhofies in die teks gesit sodat die lesers die hoofpunte maklik kan raaksien.

Die broers en susters in Japan het Matteus onmiddellik begin lees. ’n Suster in haar 80’s het gesê: “Ek het die boek Matteus al baie keer gelees, maar die vertikale styl en die onderhofies in hierdie uitgawe het my gehelp om die Bergpredikasie beter te verstaan.” ’n Jong suster het geskryf: “Ek het Matteus op een slag deurgelees. Ek is gewoond aan die horisontale styl, maar baie Japannese mense verkies die vertikale styl.”

SAAMGESTEL VIR DIE JAPANNESE VELD

Waarom is hierdie enkele Bybelboek besonder nuttig in die Japannese veld? Baie Japannese mense is nie bekend met die Bybel nie, maar hulle is bereid om dit te lees. Baie mense wat nog nooit ’n Bybel gesien het nie, sal nou die geleentheid hê om ’n deel daarvan in hulle hande te hou en te lees.

Waarom is die boek Matteus gekies? Die woord “Bybel” laat die meeste Japannese aan Jesus Christus dink. Die boek Matteus is dus gekies omdat dit ’n verslag van Jesus se geslagslyn en geboorte, sy beroemde Bergpredikasie en sy treffende profesie oor die laaste dae insluit—onderwerpe waarin die meeste Japannese mense belangstel.

Verkondigers in Japan het hierdie nuwe boek ywerig van huis tot huis begin versprei en by hulle herbesoeke gelaat. ’n Suster het geskryf: “Ek het nou meer geleenthede om God se Woord by die mense in ons gebied te laat. Om die waarheid te sê, ek het dieselfde middag dat die spesiale vergadering gehou is, ’n eksemplaar van Matteus vir iemand gegee!”

HOE IS DIT ONTVANG?

Hoe bied verkondigers hierdie nuwe boek aan? Baie Japannese mense is bekend met uitdrukkings soos “die nou poort”, “pêrels voor die varke gooi” en “moet julle . . . nooit kwel oor die volgende dag nie” (Matteus 6:34; 7:6, 13). Hulle is verbaas om uit te vind dat dit Jesus Christus se woorde is. Wanneer hulle hierdie woorde in Matteus sien, sê baie: “Ek wou die Bybel nog altyd ten minste een keer lees.”

Wanneer verkondigers herbesoeke doen by mense wat Matteus geneem het, sê hierdie mense dikwels dat hulle onmiddellik ’n deel van die boek, of selfs die hele boek, gelees het. ’n Man in sy 60’s het vir ’n verkondiger gesê: “Ek het dit oor en oor gelees en het dit baie vertroostend gevind. Leer my asseblief meer oor die Bybel.”

Matteus word ook in die openbare getuieniswerk gebruik. Terwyl ’n Getuie aan hierdie aspek van die bediening deelgeneem het, het sy haar e-posadres vir ’n jong vrou gegee wat die boek geneem het. ’n Uur later het die vrou vir die suster ’n e-pos gestuur en gesê dat sy ’n deel van die Bybelboek gelees het en meer wil weet. ’n Week later het sy haar eerste Bybelstudie gehad, en kort daarna het sy vergaderinge begin bywoon.

Meer as 1 600 000 eksemplare van Matteus is al na gemeentes in Japan gestuur. Elke maand versprei die Getuies tienduisende eksemplare van hierdie boek. Die voorwoord van hierdie uitgawe druk die gevoelens van die uitgewers soos volg uit: “Dit is ons opregte wens dat hierdie boekdeel jou belangstelling in die Bybel sal laat toeneem.”