Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Volg Jesus se moed en onderskeidingsvermoë na

Volg Jesus se moed en onderskeidingsvermoë na

“Hoewel julle hom nooit gesien het nie, het julle hom lief. Hoewel julle hom nie nou aanskou nie, beoefen julle tog geloof in hom.” —1 PETRUS 1:8.

1, 2. (a) Hoe kan ons die ewige lewe verkry? (b) Wat kan ons help om ons bestemming voor oë te hou?

WANNEER ons Christene word, is dit asof ons met ’n reis begin. As ons getrou aan God bly, sal ons reis suksesvol wees en kan ons vir ewig lewe. Jesus het gesê: “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word” (Matteus 24:13). Ja, om ons bestemming te bereik, moet ons getrou aan God bly tot “die einde” toe, hetsy tot die einde van ons lewe of tot die einde van hierdie goddelose wêreld. Maar ons moet versigtig wees dat ons aandag nie deur hierdie wêreld afgelei word nie (1 Johannes 2:15-17). Hoe kan ons ons bestemming voor oë hou?

2 Jesus het vir ons die volmaakte voorbeeld gestel. As ons ’n studie maak van wat die Bybel sê oor Jesus se reis, of lewensweg, sal ons uitvind watter soort persoon hy is. En ons sal hom liefhê en geloof in hom stel. (Lees 1 Petrus 1:8, 9.) Die apostel Petrus het gesê dat Jesus vir ons ’n voorbeeld gelaat het wat ons noukeurig moet volg (1 Petrus 2:21). En as ons dit doen, sal ons tot die einde toe kan volhard. * (Sien voetnoot.) In die vorige artikel het ons geleer hoe ons Jesus se voorbeeld van nederigheid en teerheid kan navolg. In hierdie artikel sal ons leer hoe ons sy voorbeeld van moed en onderskeidingsvermoë kan navolg.

JESUS SE MOED

3. Wat is moed, en hoe verkry ons dit?

3 Moed is ’n gevoel wat ons kan versterk en kan help om moeilikhede te verduur. Moed help ons ook om standpunt in te neem vir wat reg is. Dit kan ons help om kalm te bly en om getrou aan God te bly wanneer ons met beproewinge te kampe het. Moed hou verband met vrees, hoop en liefde. Hoe? Vrees om God te mishaag, sal verhoed dat ons voor mensevrees swig (1 Samuel 11:7; Spreuke 29:25). As ons op Jehovah hoop, sal dit ons help om op ons toekoms te konsentreer en nie op ons beproewinge nie (Psalm 27:14). Onselfsugtige liefde beweeg ons om moedig te wees selfs wanneer ons vervolg word (Johannes 15:13). Ons verkry moed deur op God te vertrou en sy Seun na te volg.—Psalm 28:7.

4. Hoe het Jesus in die tempel moed aan die dag gelê? (Sien prent aan begin van artikel.)

4 Toe Jesus 12 jaar oud was, het hy moed aan die dag gelê toe hy “in die tempel . . . tussen die leermeesters gesit” het. (Lees Lukas 2:41-47.) Daardie leermeesters was goed vertroud met die Mosaïese Wet, maar hulle het ook die Joodse tradisies geken. Hierdie tradisies het dit vir mense moeilik gemaak om die Wet te gehoorsaam. Maar die leermeesters se kennis het Jesus nie afgeskrik nie. Hy het aangehou om ‘hulle uit te vra’. Jesus het natuurlik nie die soort vrae gevra wat ’n jong seun gewoonlik sou vra nie. Ons kan ons voorstel dat hy diep vrae gevra het wat daardie leermeesters se aandag getrek het en hulle laat dink het. En as hulle Jesus met omstrede vrae probeer vasvra het, het hulle misluk. Almal wat geluister het, insluitende die leermeesters, was verbaas “oor sy begrip en sy antwoorde”. Ja, Jesus het die waarheid wat in God se Woord gevind word, moedig verdedig!

5. Op watter maniere het Jesus gedurende sy bediening moed aan die dag gelê?

5 Jesus het gedurende sy bediening op verskillende maniere moed aan die dag gelê. Byvoorbeeld, hy het mense laat besef dat die godsdiensleiers hulle met valse leringe mislei (Matteus 23:13-36). Jesus het ook nie toegelaat dat die wêreld hom verderf nie (Johannes 16:33). Hy het ten spyte van teenstand aanhou preek (Johannes 5:15-18; 7:14). En hy het die tempel twee keer moedig gereinig deur diegene uit te dryf wat ware aanbidding daar verderf het.—Matteus 21:12, 13; Johannes 2:14-17.

Jesus het moedig vir die Joodse Hoë Raad gesê dat hy die Christus en die Seun van God is

6. Hoe het Jesus op die laaste dag van sy aardse lewe moed aan die dag gelê?

6 Kom ons ondersoek hoe Jesus op die laaste dag van sy aardse lewe moed aan die dag gelê het. Jesus het geweet wat sou gebeur nadat Judas hom verraai het. Nietemin het Jesus by die Pasgamaal vir Judas gesê: “Wat jy doen, doen dit nog gouer” (Johannes 13:21-27). Later het Jesus in die tuin van Getsemane homself moedig geïdentifiseer toe die soldate gekom het om hom in hegtenis te neem. Al was sy eie lewe in gevaar, het hy sy dissipels beskerm en vir die soldate gesê: “Laat hierdie mense gaan” (Johannes 18:1-8). En later, toe die Joodse Hoë Raad hom ondervra het, het Jesus moedig vir hulle gesê dat hy die Christus en die Seun van God is. Hy was nie bang nie, al het die hoëpriester ’n rede gesoek om hom dood te maak (Markus 14:60-65). Jesus het sy onkreukbaarheid teenoor God gehandhaaf en aan die folterpaal gesterf. Met sy laaste asem het hy uitgeroep: “Dit is volbring!”—Johannes 19:28-30.

VOLG JESUS SE MOED NA

7. Jongmense, hoe voel julle daaroor om Jehovah se Getuies te wees, en hoe kan julle toon dat julle moedig is?

7 Hoe kan ons Jesus se moed navolg? By die skool. Jongmense, julle toon dat julle moedig is wanneer julle vir julle klasmaats en ander mense sê dat julle Jehovah se Getuies is. Sodoende toon julle dat julle trots is om Jehovah se naam te dra, selfs as ander julle dalk spot. (Lees Psalm 86:12.) Party sal moontlik wil hê dat julle in evolusie moet glo. Maar julle kan die Bybel se skeppingsverslag vertrou. Julle kan die brosjure Vyf belangrike vrae oor die oorsprong van lewe gebruik om diegene te antwoord wat “’n rede vir die hoop in julle eis” (1 Petrus 3:15). Dan sal julle tevrede voel in die wete dat julle Bybelwaarheid moedig verdedig het!

8. Watter redes het ons om moedig te preek?

8 In ons bediening. As ware Christene moet ons aanhou om “met vrymoedigheid te spreek op gesag van Jehovah” (Handelinge 14:3). Waarom kan ons moedig preek? Eerstens, ons weet dat die boodskap wat ons verkondig, die waarheid is omdat dit op die Bybel gegrond is (Johannes 17:17). Tweedens, “ons is God se medewerkers”, en hy het ons sy heilige gees gegee om ons te help (1 Korintiërs 3:9; Handelinge 4:31). Derdens, ons is lief vir Jehovah en vir mense, en dit beweeg ons om soveel as moontlik te doen om ander van die goeie nuus te vertel (Matteus 22:37-39). Omdat ons moedig is, sal ons nie ophou preek nie. Ons is vasbeslote om diegene wat “verblind” of deur godsdiensleiers bedrieg is, die waarheid te leer (2 Korintiërs 4:4). En ons sal aanhou om die goeie nuus te verkondig, selfs al verwerp ander ons boodskap of al word ons vervolg.—1 Tessalonisense 2:1, 2

9. Hoe kan ons moed aan die dag lê wanneer ons beproewinge verduur?

9 Wanneer ons beproewinge verduur. As ons op God vertrou, sal hy ons die geloof en moed gee wat ons nodig het om probleme te verduur. As ’n geliefde sterf, treur ons, maar ons verloor nie hoop nie. Ons is oortuig dat “die God van alle vertroosting” ons sal versterk (2 Korintiërs 1:3, 4; 1 Tessalonisense 4:13). Al ondervind ons pyn as ons siek of beseer is, weier ons enige behandeling wat God sal mishaag (Handelinge 15:28, 29). As ons terneergedruk is, kan “ons hart ons veroordeel”, maar ons gee nie moed op nie. Ons vertrou op Jehovah, wat “naby die gebrokenes van hart” is. * (Sien voetnoot.)—1 Johannes 3:19, 20; Psalm 34:18.

JESUS SE ONDERSKEIDINGSVERMOË

10. Wat is onderskeidingsvermoë, en watter uitwerking het dit op ’n Christen se woorde en dade?

10 Onderskeidingsvermoë is die vermoë om die verskil tussen reg en verkeerd te verstaan en dan te kies om te doen wat reg is (Hebreërs 5:14). ’n Christen met onderskeidingsvermoë neem besluite wat sy verhouding met God sal versterk. Hy sorg dat hy ander nie met sy woorde seermaak nie. Hy behaag Jehovah omdat hy eerder woorde kies wat ander help (Spreuke 11:12, 13). Hy word “nie gou toornig” nie (Spreuke 14:29). Hy gaan “reguit vorentoe”; dit wil sê, hy neem dwarsdeur sy lewe goeie besluite (Spreuke 15:21). Hoe kan ons onderskeidingsvermoë aankweek? Ons moet God se Woord bestudeer en toepas wat ons leer (Spreuke 2:1-5, 10, 11). Ons kan ook Jesus se volmaakte voorbeeld van onderskeidingsvermoë bestudeer en navolg.

11. Hoe het Jesus onderskeidingsvermoë in sy spraak getoon?

11 Jesus het onderskeidingsvermoë getoon in alles wat hy gesê en gedoen het. In sy spraak. Wanneer Jesus die goeie nuus verkondig het, het hy liefdevolle woorde gebruik wat sy gehoor verstom het (Matteus 7:28; Lukas 4:22). Hy het dikwels uit God se Woord gelees of daarna verwys. Hy het in enige situasie presies geweet watter tekste om te gebruik (Matteus 4:4, 7, 10; 12:1-5; Lukas 4:16-21). En mense wat gehoor het hoe Jesus die Skrif verduidelik, is diep geraak deur sy woorde. Ná sy opstanding het Jesus met twee dissipels gepraat toe hulle na Emmaus op pad was. Hy het die betekenis verduidelik van die tekste wat op hom van toepassing is. Die dissipels het later gesê: “Het ons hart nie gebrand toe hy op die pad met ons gepraat het, toe hy die Skrif ten volle vir ons geopen het nie?”—Lukas 24:27, 32.

12, 13. Watter voorbeelde toon dat Jesus nie gou toornig geword het nie en dat hy redelik was?

12 In sy emosies en gesindheid. Onderskeidingsvermoë het Jesus gehelp om “nie gou toornig [te] word nie” (Spreuke 16:32). Hy kon sy emosies beheers en was “saggeaard” (Matteus 11:29). Jesus was altyd geduldig met sy dissipels ondanks hulle tekortkominge (Markus 14:34-38; Lukas 22:24-27). En hy het kalm gebly, selfs toe hy mishandel is.—1 Petrus 2:23.

13 Onderskeidingsvermoë het Jesus gehelp om redelik te wees. Hy het die beginsels agter die Mosaïese Wet verstaan, en dit het ’n uitwerking gehad op hoe hy mense behandel het. Dink byvoorbeeld aan die vrou wat “aan bloedvloeiing gely het”. (Lees Markus 5:25-34.) Die vrou het deur ’n skare geloop, aan Jesus se kleed geraak en is genees. Volgens die Wet was sy onrein, en daarom moes sy aan niemand geraak het nie (Levitikus 15:25-27). Maar Jesus het haar nie berispe nie. Waarom nie? Omdat hy geweet het dat eienskappe soos “barmhartigheid en getrouheid” belangriker is as streng gehoorsaamheid aan die Wet (Matteus 23:23). Jesus het liefdevol gesê: “Dogter, jou geloof het jou gesond gemaak. Gaan in vrede, en wees van jou ernstige siekte genees.” Wat ’n pragtige voorbeeld van hoe onderskeidingsvermoë Jesus beweeg het om goedhartig te wees!

14. Wat het Jesus gekies om te doen, en hoe het hy op sy bediening toegespits gebly?

14 In sy lewenswyse. Die manier waarop Jesus sy lewe gelei het, het getoon dat hy onderskeidingsvermoë het. Hy het die bediening as sy loopbaan gekies (Lukas 4:43). Jesus het ook besluite geneem wat hom gehelp het om op hierdie werk toegespits te bly en sy toewysing te voltooi. Hy het byvoorbeeld sy lewe eenvoudig gehou sodat hy sy tyd en energie in die bediening kon gebruik (Lukas 9:58). Hy het geweet dat hy ander moet oplei om die predikingswerk ná sy dood voort te sit (Lukas 10:1-12; Johannes 14:12). En hy het sy dissipels belowe dat hy hulle in die bediening sou help “tot aan die voleinding van die stelsel van dinge”.—Matteus 28:19, 20.

VOLG JESUS SE ONDERSKEIDINGSVERMOË NA

Onderskeidingsvermoë help ons om te verstaan wat mense nodig het en om ons woorde versigtig te kies (Sien paragraaf 15)

15. Hoe kan ons onderskeidingsvermoë in ons spraak toon?

15 Hoe kan ons Jesus se onderskeidingsvermoë navolg? In ons spraak. Wanneer ons met ons broers en susters praat, gebruik ons eerder woorde wat hulle aanmoedig as woorde wat hulle ontmoedig (Efesiërs 4:29). Wanneer ons met ander oor God se Koninkryk praat, moet ons woorde “smaaklik gemaak [wees] met sout”; dit wil sê, ons moet op ’n taktvolle manier praat (Kolossense 4:6). Ons probeer verstaan wat mense nodig het en waarin hulle belangstel, en dan kies ons ons woorde versigtig. As ons liefdevolle woorde gebruik, sal mense dalk na ons wil luister en sal ons boodskap moontlik hulle hart raak. En wanneer ons ons oortuigings verduidelik, lees ons uit die Bybel wanneer dit ook al moontlik is, omdat God se Woord die gesag is. Ons weet dat die Bybel se boodskap baie kragtiger is as enigiets wat ons ooit kan sê.—Hebreërs 4:12.

16, 17. (a) Hoe kan ons toon dat ons nie gou toornig word nie en dat ons redelik is? (b) Hoe kan ons op ons bediening toegespits bly?

16 In ons emosies en gesindheid. Onderskeidingsvermoë help ons om ons emosies te beheers wanneer ons onder druk is, en dit help ons om nie gou “toornig te word” nie (Jakobus 1:19). Wanneer mense ons aanstoot gee, probeer ons verstaan waarom hulle sekere dinge sê of doen. Dan is dit makliker om hulle te vergewe en om nie vir hulle kwaad te wees nie (Spreuke 19:11). Onderskeidingsvermoë help ons ook om redelik te wees. Ons verwag nie dat ons broers en susters volmaak moet wees nie. Ons hou eerder in gedagte dat hulle miskien probleme het wat ons nie heeltemal verstaan nie. Ons is bereid om na hulle mening te luister. En wanneer dit moontlik is, is ons toegewend, wat beteken dat ons nie ons sin probeer kry nie.—Filippense 4:5.

17 In ons lewenswyse. Ons weet dat ons geen groter eer kan hê as om die goeie nuus te verkondig nie. Ons wil dus besluite neem wat ons sal help om op ons bediening toegespits te bly. Ons kies om Jehovah eerste in ons lewe te stel. Ons lei ’n eenvoudige lewe sodat ons ons tyd en energie kan gebruik om die goeie nuus te verkondig voordat die einde kom.—Matteus 6:33; 24:14.

18. Hoe kan ons op die weg na die ewige lewe bly, en wat is jy vasbeslote om te doen?

18 Hoe aangenaam was dit tog om oor party van Jesus se pragtige eienskappe te leer! Stel jou voor hoeveel ons daarby sal baat vind om sy ander eienskappe te bestudeer en te leer om meer soos hy te wees. Laat ons dus vasbeslote wees om Jesus na te volg. As ons dit doen, sal ons op die weg na die ewige lewe bly en nader aan Jehovah kom.

^ par. 2 Die woorde in 1 Petrus 1:8, 9 is aan Christene met die hemelse hoop gerig. Maar Petrus se woorde kan ook toegepas word op Christene wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe.

^ par. 9 Vir voorbeelde van mense wat tydens beproewinge moed aan die dag gelê het, sien Die Wagtoring van 1 Desember 2000, bladsye 24-28; die Ontwaak! van 22 April 2003, bladsye 18-21 en die Ontwaak! van 22 Januarie 1995, bladsye 11-15.