Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Volg Jesus se nederigheid en teerheid na

Volg Jesus se nederigheid en teerheid na

“Christus het vir julle gely en vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg.”—1 PETRUS 2:21.

1. Waarom sal ons nader aan Jehovah kom as ons Jesus navolg?

ONS probeer gewoonlik die mense navolg vir wie ons groot bewondering het. Van al die mense wat nog ooit gelewe het, is Jesus Christus die beste persoon om na te volg. Waarom? Jesus het eenkeer gesê: “Hy wat my gesien het, het ook die Vader gesien” (Johannes 14:9). Jesus volg sy Vader se persoonlikheid volmaak na. Wanneer ons dus omtrent Jesus leer, leer ons omtrent Jehovah. En wanneer ons Jesus navolg, kom ons nader aan Jehovah, die grootste Persoon in die heelal. Wat ’n groot eer is dit tog!

2, 3. (a) Waarom het Jehovah ons ’n breedvoerige beskrywing van Jesus se lewe gegee, en wat verwag God van ons? (b) Wat sal ons in hierdie en die volgende artikel bespreek?

2 Die Bybel bevat ’n breedvoerige beskrywing van Jesus se lewe. Waarom het Jehovah dit aan ons voorsien? Omdat hy wil hê dat ons sy Seun moet ken sodat ons hom noukeurig kan navolg. (Lees 1 Petrus 2:21.) In die Bybel word die voorbeeld wat Jesus vir ons gelaat het, met voetstappe vergelyk. Jehovah wil hê dat ons sy Seun se voetstappe moet volg, dit wil sê dat ons Jesus moet navolg in alles wat hy gedoen het. Jesus was natuurlik volmaak, maar Jehovah verwag nie dat ons sy Seun volmaak moet navolg nie. God wil eerder hê dat ons Jesus na die beste van ons vermoë moet navolg.

3 Kom ons ondersoek ’n paar van Jesus se pragtige eienskappe. In hierdie artikel sal ons sy nederigheid en teerheid bespreek. In die volgende artikel sal ons sy moed en onderskeidingsvermoë bespreek. Ons sal drie vrae oor elke eienskap beantwoord: Wat beteken dit? Hoe het Jesus hierdie eienskap geopenbaar? Hoe kan ons hom navolg?

JESUS SE NEDERIGHEID

4. Wat is nederigheid?

4 Wat is nederigheid? Baie mense wat trots is, dink dat nederigheid ’n teken van swakheid of ’n gebrek aan selfvertroue is. Maar is dit waar? Nee, dit verg krag en moed om nederig te wees. Nederigheid is die teenoorgestelde van trots en verwaandheid. In die Bybel kan die woord “nederigheid” vertaal word met “nederigheid van verstand” (Filippense 2:3, voetnoot in NW). Om nederig te wees, vereis dat ons eers die regte beskouing van onsself moet hê. ’n Bybelwoordeboek sê byvoorbeeld: “Nederigheid beteken dat ons besef hoe gering ons werklik voor God is.” As ons nederig is, sal ons ook nie dink dat ons beter is as ander mense nie (Romeine 12:3). Dit is nie vir onvolmaakte mense maklik om hierdie eienskap te openbaar nie. Maar ons kan leer om nederig te wees as ons oor Jehovah se grootheid nadink en Jesus se voorbeeld navolg.

As ons nederig is, sal ons nie dink dat ons beter is as ander nie

5, 6. (a) Wie is Migael die aartsengel? (b) Hoe het Migael ’n nederige gesindheid geopenbaar?

5 Hoe het Jesus nederigheid geopenbaar? God se Seun was nog altyd nederig—as ’n magtige engel in die hemel en as ’n volmaakte mens op die aarde. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde hiervan.

6 Sy gesindheid. In die Bybelboek Judas lees ons van Jesus se lewe voordat hy aarde toe gekom het. (Lees Judas 9.) Jesus het as Migael die aartsengel, oftewel die hoofengel, “met die Duiwel ’n geskil gehad” en met hierdie bose geesskepsel “oor Moses se liggaam getwis”. Nadat Moses gesterf het, het Jehovah sy liggaam op ’n plek begrawe waar geen mens dit sou vind nie (Deuteronomium 34:5, 6). Die Duiwel wou die Israeliete dalk in die versoeking bring om Moses se liggaam vir valse aanbidding te gebruik. Ongeag watter bose oogmerk die Duiwel gehad het, Migael het hom moedig gekeer. Een naslaanwerk sê dat die woorde “’n geskil gehad” en “getwis het” ook gebruik kan word om “’n regsgeskil” te beskryf en dat dit te kenne kan gee dat “Migael ‘die Duiwel se reg betwis het’ om Moses se liggaam te neem”. Maar die aartsengel het geweet dat hy beperkte gesag het. En daarom het hy die saak oorgelaat aan Jehovah, die Opperregter, die enigste een wat die reg gehad het om Satan te oordeel. Wat ’n nederige gesindheid het Jesus tog geopenbaar!

Jesus het nederig alles gedoen wat Jehovah vir hom gesê het om te doen, selfs “tot in die dood”

7. Hoe het Jesus nederigheid in sy woorde en in sy dade geopenbaar?

7 Jesus het ook toe hy op die aarde was, nederigheid in sy woorde en dade geopenbaar. Sy woorde. Jesus wou nooit onnodige aandag op homself vestig nie. Hy het sy Vader eerder al die heerlikheid gegee (Markus 10:17, 18; Johannes 7:16). Jesus het nooit uit die hoogte met sy dissipels gepraat of hulle minderwaardig laat voel nie. Hy het hulle eerder gerespekteer en getoon dat hy hulle vertrou deur hulle te prys vir hulle goeie eienskappe (Lukas 22:31, 32; Johannes 1:47). Sy dade. Jesus het gekies om ’n eenvoudige lewe te lei en was tevrede met min materiële besittings (Matteus 8:20). Hy was bereid om nederige werk te doen wat ander nie wou doen nie (Johannes 13:3-15). Hy het ook ’n volmaakte voorbeeld van nederigheid gestel deur gehoorsaam te wees. (Lees Filippense 2:5-8.) Anders as trotse mense wat dit haat om ander te gehoorsaam, het Jesus nederig alles gedoen wat Jehovah vir hom gesê het om te doen, selfs “tot in die dood”. Dit is dus duidelik dat Jesus, die Seun van die mens, “nederig van hart” was.—Matteus 11:29.

VOLG JESUS SE NEDERIGHEID NA

8, 9. Hoe kan ons nederigheid openbaar?

8 Hoe kan ons Jesus se nederigheid navolg? Ons gesindheid. As ons nederig is, weet ons dat ons beperkte gesag het. Daarom weet ons dat ons nie die reg het om ander mense te oordeel nie. Ons sal hulle nie kritiseer of hulle beweegredes bevraagteken nie (Lukas 6:37; Jakobus 4:12). Nederigheid help ons om nie “alte regverdig” te wees nie. Dit beteken dat ons nie sal dink dat ons beter is as mense wat nie dieselfde vermoëns of voorregte as ons het nie (Prediker 7:16). Nederige ouer manne dink nie dat hulle beter as hulle broers en susters is nie. Hierdie liefdevolle herders ‘ag ander hoër as hulleself’; dit wil sê, hulle meen dat ander belangriker is as hulle.—Filippense 2:3; Lukas 9:48.

9 Beskou die voorbeeld van W.J. Thorn wat in 1894 as ’n reisende opsiener begin dien het. Ná baie jare het broer Thorn ’n ander toewysing ontvang. Hy is na Kingdom Farm in die noorde van die staat New York gestuur waar hy na die hoenders moes omsien. Wanneer hy ook al gedink het dat hy eintlik belangriker werk behoort te doen, het broer Thorn vir homself gesê: ‘Jou klein stofspikkeltjie. Waaroor kan jy nou eintlik hoogmoedig wees?’ (Lees Jesaja 40:12-15.) Wat ’n nederige gesindheid tog!

10. Hoe kan ons nederigheid openbaar in ons woorde en in ons dade?

10 Ons woorde. As ons werklik nederig is, sal dit ’n uitwerking hê op die manier waarop ons met ander praat (Lukas 6:45). Wanneer ons met hulle praat, sal ons nie die aandag vestig op ons eie voorregte en wat ons bereik het nie (Spreuke 27:2). Ons sal ons broers en susters eerder prys vir die goeie wat hulle doen en op hulle goeie eienskappe en vermoëns konsentreer (Spreuke 15:23). Ons dade. Nederige Christene probeer nie aansien in hierdie wêreld verkry nie. Hulle kies eerder om ’n eenvoudige lewe te lei en selfs nederige werk te doen sodat hulle soveel as moontlik in Jehovah se diens kan doen (1 Timoteus 6:6, 8). Maar die beste manier om nederigheid te toon, is om gehoorsaam te wees. Dit verg nederigheid om “gehoorsaam [te wees] aan dié wat die leiding . . . neem” in die gemeente en om die leiding van Jehovah se organisasie te aanvaar en te volg.—Hebreërs 13:17.

JESUS SE TEERHEID

11. Wat is teerheid?

11 Wat is teerheid? Die woord “teerheid” verwys na sagte en liefdevolle gevoelens. Teerheid is ’n blyk van liefde en is soortgelyk aan emosies soos medelye en barmhartigheid. Die Bybel verwys na “tere medelye”, “tere barmhartighede” en “tere geneentheid” (Lukas 1:78; 2 Korintiërs 1:3; Filippense 1:8). ’n Bybelnaslaanwerk sê dat teerheid meer behels as om net jammer te voel vir die behoeftiges. Dit sê dat tere gevoelens ons beweeg om “genoeg om te gee om betrokke te raak en te help” deur iets te doen wat die lewe van ander ten goede sal verander. Teerheid is ’n eienskap wat ’n persoon beweeg om ’n verskil in die lewe van ander te maak.

12. Wat toon dat Jesus tere medelye met ander gehad het, en wat het sy teerheid hom beweeg om te doen?

12 Hoe het Jesus teerheid geopenbaar? Sy tere gevoelens en dade. Jesus het tere medelye met ander gehad. Toe hy sy vriendin Maria en ander sien huil het omdat Lasarus gesterf het, het Jesus saam met hulle gehuil. (Lees Johannes 11:32-35.) Toe het dieselfde medelye wat hom beweeg het om ’n weduwee se seun op te wek, hom beweeg om Lasarus op te wek (Lukas 7:11-15; Johannes 11:38-44). Hierdie tere daad het Lasarus moontlik die geleentheid gegee om lewe in die hemel te ontvang. By ’n vroeëre geleentheid het Jesus se “tere geneentheid” vir ’n skare wat na hom toe gekom het, hom beweeg om “hulle baie dinge [te] leer” (Markus 6:34; Kingdom Interlinear). Hierdie ondervinding het die lewe verander van diegene wat sy leringe gevolg het! Jesus se teerheid was meer as net ’n gevoel. Sy teerheid het hom ook beweeg om behoeftige mense te help.—Matteus 15:32-38; 20:29-34; Markus 1:40-42.

13. Hoe het Jesus op ’n tere wyse met ander gepraat? (Sien prent aan begin van artikel.)

13 Sy tere woorde. Jesus se medelye het hom beweeg om tere woorde te gebruik, veral wanneer hy met die onderdruktes gepraat het. Die apostel Matteus het Jesaja se woorde omtrent Jesus aangehaal. Jesaja het gesê: “’n Geknakte riet sal hy nie breek nie; en ’n dowwe vlaspit sal hy nie uitdoof nie” (Jesaja 42:3; Matteus 12:20). Wat beteken dit? Jesus het mense nie misbruik of mishandel nie. Hy het eerder op ’n manier gepraat wat hulle verkwik het. Hy het ’n boodskap van hoop aan “die gebrokenes van hart” verkondig (Jesaja 61:1). Hy het mense wat “swoeg en swaar belaai” was, genooi om na hom toe te kom sodat hulle “verkwikking [kon] vind” (Matteus 11:28-30). Hy het sy dissipels verseker van God se tere besorgdheid oor elkeen van Sy aanbidders, insluitende die “kleintjies”, oftewel diegene wat deur die wêreld as onbelangrik beskou is.—Matteus 18:12-14; Lukas 12:6, 7.

VOLG JESUS SE TEERHEID NA

14. Hoe kan ons tere gevoelens vir ander openbaar?

14 Hoe kan ons Jesus se teerheid navolg? Ons tere gevoelens. Die Bybel sê dat ons ons moet inspan om “die tere geneenthede van medelye” te toon, al is dit dalk nie vir ons maklik nie. Hierdie gevoelens is deel van “die nuwe persoonlikheid”, en Jehovah verwag dat alle Christene hulle hiermee moet beklee. (Lees Kolossense 3:9, 10, 12.) Hoe kan jy tere gevoelens openbaar? Die Bybel sê dat ons hart verruim moet word (2 Korintiërs 6:11-13). Luister aandagtig wanneer iemand jou van sy gevoelens en bekommernisse vertel (Jakobus 1:19). Stel jou in sy posisie en vra jou af: ‘Hoe sou ek gevoel het as ek in sy situasie was? Wat sou ek nodig gehad het?’—1 Petrus 3:8.

15. Wat kan ons doen om diegene te help wat dalk treur of ly?

15 Ons tere dade. Teerheid sal ons beweeg om ander te help, veral diegene wat treur of ly. Hoe kan ons hulle help? Romeine 12:15 sê: “Huil saam met mense wat huil.” Mense het vertroosting dikwels nodiger as oplossings. Hulle het ’n vriend nodig wat in hulle belangstel en na hulle luister. ’n Suster wat ná haar dogter se dood deur die broers en susters vertroos is, sê: “Ek het dit waardeer wanneer vriende kom kuier het en net saam met my gehuil het.” Ons kan ook teerheid toon deur ander op praktiese maniere te help. Dalk is daar ’n weduwee wat hulp nodig het met herstelwerk aan haar huis. Of miskien is daar ’n bejaarde Christen wat vervoer nodig het om vergaderinge by te woon, in die bediening uit te gaan of ’n dokter te besoek. Selfs ’n eenvoudige daad van goedhartigheid kan ’n groot verskil in iemand se lewe maak (1 Johannes 3:17, 18). Maar die belangrikste manier waarop ons tere besorgdheid teenoor ander kan toon, is deur soveel as moontlik te doen om die goeie nuus te verkondig. Dit is die beste manier waarop ons ’n verskil in die lewe van opregte mense kan maak!

Is jy opreg besorg oor jou broers en susters? (Sien paragraaf 15)

16. Wat kan ons sê om terneergedruktes aan te moedig?

16 Ons tere woorde. Ons tere gevoelens sal ons beweeg om “vertroostend met die terneergedrukte siele [te praat]” (1 Tessalonisense 5:14). Wat kan ons sê om hulle aan te moedig? Ons kan vir hulle sê dat ons werklik vir hulle omgee. Ons kan hulle prys en hulle help om hulle goeie eienskappe en vermoëns raak te sien. Ons kan hulle daaraan herinner dat Jehovah hulle gehelp het om die waarheid te vind, en daarom is hulle beslis vir hom kosbaar (Johannes 6:44). Ons kan hulle verseker dat Jehovah diep besorg is oor sy knegte wat ‘gebroke van hart’ of ‘verbryseld van gees’ is (Psalm 34:18). Ons tere woorde kan diegene wat vertroosting nodig het, werklik verkwik.—Spreuke 16:24.

17, 18. (a) Hoe wil Jehovah hê moet die ouer manne sy skape behandel? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

17 Ouer manne, Jehovah verwag dat julle sy skape met teerheid moet behandel (Handelinge 20:28, 29). Onthou dat dit julle verantwoordelikheid is om sy skape te onderrig, aan te moedig en te verkwik (Jesaja 32:1, 2; 1 Petrus 5:2-4). ’n Ouer man wat tere medelye toon, sal dus nie probeer om beheer oor sy broers uit te oefen nie; dit wil sê, hy sal nie reëls maak of hulle skuldig laat voel sodat hulle dink dat hulle meer moet doen as wat hulle werklik kan nie. ’n Ouer man wil eerder hê dat sy broers en susters waarlik gelukkig moet wees, en hy vertrou dat hulle liefde vir Jehovah hulle sal beweeg om God na die beste van hulle vermoë te dien.—Matteus 22:37.

18 As ons oor Jesus se nederigheid en teerheid peins, sal dit ons beweeg om hom na te volg. In die volgende artikel sal ons bespreek hoe ons Jesus se moed en onderskeidingsvermoë kan navolg.