Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gee lojale ondersteuning aan Christus se broers

Gee lojale ondersteuning aan Christus se broers

“Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van my gedoen het, het julle dit aan my gedoen.” —MATTEUS 25:40.

1, 2. (a) Watter gelykenisse het Jesus vir sy hegte vriende vertel? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Wat moet ons weet oor die gelykenis van die skape en die bokke?

JESUS het met sy hegte vriende Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes oor iets baie interessants gepraat. Nadat Jesus vir hulle die gelykenisse van die getroue en verstandige slaaf, die tien maagde en die talente vertel het, het hy vir hulle nog ’n gelykenis vertel. Hy het van ’n tyd gepraat wanneer “die Seun van die mens . . . al die nasies” sal oordeel. Hy het gesê dat “die Seun van die mens” mense sal verdeel in twee groepe—hy het na een groep as die skape en na die ander groep as die bokke verwys. En hy het ’n belangrike derde groep genoem, die koning se “broers”.—Lees Matteus 25:31-46.

2 Soos die apostels, stel Jehovah se knegte in ons tyd ook belang in hierdie gelykenis omdat menselewens op die spel is. Jesus het gesê dat party die ewige lewe sal ontvang, maar dat ander vernietig sal word. Daarom is dit baie belangrik dat ons verstaan wat die gelykenis beteken en wat ons moet doen om die ewige lewe te ontvang. In hierdie artikel sal ons dus die volgende vrae beantwoord: Hoe het Jehovah ons gehelp om hierdie gelykenis te verstaan? Hoe weet ons dat die gelykenis die aandag op die predikingswerk vestig? Wie moet preek? En waarom is dit belangrik dat mense nou aan “die koning” en sy “broers” lojaal moet wees?

HOE HET JEHOVAH ONS GEHELP OM DIE GELYKENIS TE VERSTAAN?

3, 4. (a) Wat moet ons weet om hierdie gelykenis te verstaan? (b) Hoe het die Watch Tower hierdie gelykenis in 1881 verduidelik?

3 Om te verstaan wat die gelykenis van die skape en die bokke beteken, moet ons weet (1) wie “die Seun van die mens”, of “die koning”, is, wie die skape en die bokke is en wie die koning se “broers” is, (2) wanneer “die Seun van die mens” die skape en die bokke van mekaar sal afskei, of sal oordeel, en (3) waarom party skape en ander bokke genoem word.

4 In 1881 het die Watch Tower gesê dat “die Seun van die mens”, of “die koning”, Jesus is. En dit het verduidelik dat die koning se “broers” nie net diegene insluit wat in die hemel saam met Jesus sal regeer nie, maar ook al die mense op die aarde nadat hulle volmaaktheid bereik het. Die Watch Tower het gesê dat mense gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus van mekaar afgeskei sal word en dat diegene wat God se liefde nagevolg het in alles wat hulle doen, skape genoem sal word.

5. Hoe het God se knegte die gelykenis in 1923 verstaan?

5 Later het Jehovah sy volk gehelp om hierdie gelykenis beter te verstaan. In 1923 het die Watch Tower van 15 Oktober gesê dat “die Seun van die mens” Jesus is. Maar toe het dit Bybelverse gebruik om te verduidelik dat die “broers” in die gelykenis slegs na diegene verwys wat saam met Jesus sal regeer en dat hulle gedurende die Duisendjarige Heerskappy almal in die hemel sal wees. Dit het ook gesê dat die skape na diegene verwys wat op die aarde sal lewe onder die heerskappy van Jesus en sy broers. En aangesien die gelykenis sê dat die skape die koning se broers help, sal die skeiding, of oordeel, moet plaasvind terwyl hierdie gesalfde broers van Jesus nog op die aarde is, voordat die Duisendjarige Heerskappy begin. Die artikel het ook gesê dat die skape diegene sal wees wat in Jesus glo en wat glo dat die Koninkryk ’n beter lewe sal bring.

6. Hoe het ons begrip van die gelykenis in 1995 verander?

6 Ons het jare lank gedink dat mense in hierdie tyd van die einde geoordeel word op grond van hulle reaksie op die predikingswerk. As hulle ons boodskap aangeneem het, is hulle as skape beskou, en as hulle die boodskap verwerp het, is hulle as bokke beskou. Maar in 1995 het ons begrip van die gelykenis verander. Die Wagtoring het Matteus 24:29-31 (lees) met Matteus 25:31, 32 (lees) vergelyk en het verduidelik dat Jesus mense gedurende die groot verdrukking sal oordeel wanneer die Seun van die mens “in sy heerlikheid kom”. *—Sien voetnoot.

Hoe dankbaar is ons tog dat Jehovah ons gehelp het om Jesus se gelykenisse te verstaan

7. Wat beteken die gelykenis?

7 Vandag het ons ’n duidelike begrip van die gelykenis van die skape en die bokke. Ons weet dat “die Seun van die mens”, of “die koning”, Jesus is. Die koning se “broers” is diegene wat met die heilige gees gesalf is en wat saam met Jesus in die hemel sal regeer (Romeine 8:16, 17). “Die skape” en “die bokke” is mense van al die nasies. Hulle sal geoordeel word na aan die einde van die groot verdrukking, wat binnekort sal begin. En ons weet dat Jesus mense sal oordeel op grond van hoe hulle die gesalfdes behandel het wat nog op die aarde is. Hoe dankbaar is ons tog dat Jehovah ons oor die jare gehelp het om hierdie gelykenis en die ander gelykenisse in Matteus hoofstukke 24 en 25 te verstaan!

DIE GELYKENIS VESTIG DIE AANDAG OP DIE PREDIKINGSWERK

8, 9. Waarom het Jesus gesê dat die skape “regverdig” is?

8 Jesus het nie die woorde “preek” of “predikingswerk” in die gelykenis van die skape en die bokke gebruik nie. Hoe weet ons dan dat die gelykenis ons leer dat die predikingswerk baie belangrik is?

9 Om die antwoord te vind, moet ons in gedagte hou dat Jesus die gelykenis vertel het om sy dissipels iets te leer. Hy het nie van letterlike skape en bokke gepraat nie. Hy het ook nie bedoel dat elkeen wat as ’n skaap geoordeel sal word, vir die gesalfdes kos en klere moet gee, na hulle moet omsien wanneer hulle siek is of vir hulle in die tronk moet gaan kuier nie. Nee, Jesus het die skape as “regverdig” beskryf omdat hulle die gesalfdes as sy broers beskou en omdat hulle gedurende hierdie moeilike laaste dae lojaal is aan die gesalfdes.—Matteus 10:40-42; 25:40, 46; 2 Timoteus 3:1-5.

10. Hoe kan die skape Christus se broers help?

10 Toe Jesus die gelykenis van die skape en die bokke vertel het, het hy gepraat oor wat gedurende die tyd van die einde sal gebeur (Matteus 24:3). Hy het byvoorbeeld gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word” (Matteus 24:14). En toe, net voordat hy van die skape en die bokke gepraat het, het hy die gelykenis van die talente vertel. Jesus het hierdie gelykenis vertel om die gesalfdes te leer dat hulle hulle in die predikingswerk moet inspan. Maar daar is min van hulle op die aarde oor, en daar is baie werk om te doen! Die gesalfdes het die opdrag ontvang om die predikingswerk in “al die nasies” te doen voordat die einde kom. Soos ons in die gelykenis van die skape en die bokke leer, help “die skape” Jesus se broers. En een van die beste maniere om dit te doen, is om Jesus se broers met die predikingswerk te help. Maar is dit genoeg om bloot geld te skenk vir die werk of om hulle net aan te spoor om die predikingswerk te doen?

WIE MOET PREEK?

11. Watter vraag vra party dalk, en waarom?

11 Vandag is daar agtmiljoen dissipels van Jesus, en die meeste van hulle is nie gesalf nie. Jesus het nie die talente vir hulle gegee nie. Hy het die talente vir sy gesalfde broers gegee (Matteus 25:14-18). Daarom vra party dalk: ‘Moet diegene wat nie gesalf is nie, die predikingswerk doen, aangesien Jesus nie die talente vir hulle gegee het nie?’ Ja. Kom ons kyk waarom.

12. Wat leer ons uit Jesus se woorde in Matteus 28:19, 20?

12 Jesus het al sy dissipels beveel om te preek. Nadat Jesus opgewek is, het hy vir sy volgelinge gesê om ‘dissipels te maak’ en om hulle “alles” te leer wat hy hulle beveel het. Hierdie dissipels moes dus ook Jesus se bevel om te preek, gehoorsaam. (Lees Matteus 28:19, 20.) Dit is duidelik dat ons almal moet preek, hetsy ons hoop om in die hemel of op die aarde te lewe.—Handelinge 10:42.

Ons almal moet preek, hetsy ons hoop om in die hemel of op die aarde te lewe

13. Wat leer ons uit die visioen wat Johannes gesien het?

13 In die boek Openbaring leer ons dat dit nie net die gesalfdes is wat die predikingswerk sal doen nie. Jesus het die apostel Johannes ’n visioen gegee van ’n “bruid” wat mense nooi om lewegewende water te kom drink. Die bruid verwys na die 144 000 gesalfdes wat saam met Jesus in die hemel sal regeer (Openbaring 14:1, 3; 22:17). Die water verwys na Jesus se losprysoffer wat mense sal help om lewe sonder sonde en die dood te verkry (Matteus 20:28; Johannes 3:16; 1 Johannes 4:9, 10). Gesalfdes leer mense ywerig omtrent die losprys en hoe hulle daarby kan baat vind (1 Korintiërs 1:23). Maar in die visioen is daar nog ’n groep mense wat nie gesalf is nie en wat die hoop het om op die aarde te lewe. Hulle word ook beveel om vir mense te sê: “Kom!” En hulle gehoorsaam hierdie bevel deur ander die goeie nuus te leer. Hierdie visioen toon dus dat almal wat die goeie nuus aanneem, vir ander moet preek.

14. Hoe gehoorsaam ons “die wet van die Christus”?

14 Almal wat “die wet van die Christus” gehoorsaam, moet preek (Galasiërs 6:2). Jehovah verwag dat almal wat hom aanbid, dieselfde wette moet gehoorsaam. In die verlede het hy verwag dat die Israeliete sowel as die vreemdelinge onder hulle sy wette moet gehoorsaam (Eksodus 12:49; Levitikus 24:22). Vandag hoef ons natuurlik nie al die wette wat aan die Israeliete gegee is, te gehoorsaam nie. Maar ons moet “die wet van die Christus” gehoorsaam, hetsy ons gesalf is of nie. Een van die belangrikste dinge wat Jesus ons geleer het, is om ander lief te hê (Johannes 13:35; Jakobus 2:8). Ons moet Jehovah, Jesus en mense liefhê. En die beste manier om hierdie liefde te toon, is om mense van die goeie nuus van die Koninkryk te vertel.—Johannes 15:10; Handelinge 1:8.

15. Waarom kan ons sê dat Jesus al sy dissipels beveel het om te preek?

15 Wat Jesus vir ’n paar van sy dissipels gesê het, kan soms op baie dissipels van toepassing wees. Jesus het byvoorbeeld ’n verbond met net 11 van sy dissipels gesluit en hulle belowe dat hulle in sy Koninkryk sal regeer. Maar 144 000 sal saam met hom regeer (Lukas 22:29, 30; Openbaring 5:10; 7:4-8). En nadat Jesus opgewek is, het net ’n paar van sy dissipels sy bevel gehoor om te preek (Handelinge 10:40-42; 1 Korintiërs 15:6). Maar al Jesus se dissipels in die eerste eeu het hierdie bevel gehoorsaam (Handelinge 8:4; 1 Petrus 1:8). Ons besef vandag ook dat ons moet preek, al het ons nie self Jesus se bevel gehoor om hierdie werk te doen nie. Trouens, agtmiljoen van ons doen die predikingswerk. Ons weet dat deelname aan die predikingswerk bewys dat ons werklik geloof in Jesus het.—Jakobus 2:18.

DIT IS NOU DIE TYD OM LOJAAL TE WEES

16-18. Hoe kan ons Christus se broers lojaal help, en waarom moet ons dit nou doen?

16 Satan verskerp sy aanvalle teen Christus se gesalfde broers wat nog op die aarde is, en hy weet dat hy net “’n kort tydjie” oorhet (Openbaring 12:9, 12, 17). Maar ondanks Satan se aanvalle gaan die gesalfdes voort om die leiding in die predikingswerk te neem en hoor meer mense as ooit tevore die goeie nuus. Dit is duidelik dat Jesus met die gesalfdes is en dat hy hulle rig.—Matteus 28:20.

Dit is ’n eer om Christus se broers te help

17 Ons beskou dit as ’n eer om Christus se broers te help deur die predikingswerk te doen. Ons help ook deur geld te skenk en hard te werk om Koninkryksale, Byeenkomssale en takkantore te bou. Ons toon dat ons Christus se broers wil help as ons die ouer manne en ander broers wat deur “die getroue en verstandige slaaf” aangestel is, lojaal gehoorsaam.—Matteus 24:45-47; Hebreërs 13:17.

18 Die oorblywende gesalfdes sal binnekort finaal verseël word. Dan sal die engele “die vier winde van die aarde” loslaat, en die groot verdrukking sal begin (Openbaring 7:1-3). Voordat Armageddon begin, sal Jesus die gesalfdes hemel toe neem (Matteus 13:41-43). As ons dus as skape geoordeel wil word wanneer Jesus kom, is dit nou die tyd om lojaal te wees aan Christus se gesalfde broers.

Ons help Christus se broers op talle verskillende maniere (Sien paragraaf 17)

^ par. 6 Vir ’n breedvoerige bespreking van hierdie gelykenis, sien die artikels “Hoe sal jy voor die regterstoel staan?” en “Watter toekoms vir die skape en die bokke?” in Die Wagtoring van 15 Oktober 1995.