Vrae van lesers
In die verlede het ons publikasies dikwels van tipes en antitipes gepraat. Maar in onlangse jare word dit selde genoem. Waarom?
Die Wagtoring van 1 Desember 1950 het ’n definisie van ’n “tipe” en ’n “antitipe” gegee. Dit het verduidelik dat ’n tipe ’n persoon, ’n gebeurtenis of ’n voorwerp is wat iets of iemand groter in die toekoms voorstel. ’n Antitipe is die persoon, gebeurtenis of voorwerp wat deur die tipe voorgestel word. ’n Tipe is ook ’n skaduwee genoem en ’n antitipe is die werklikheid genoem.
In die verlede het ons publikasies gesê dat getroue manne en vroue soos Debora, Elihu, Jefta, Job, Ragab, Rebekka en baie ander Bybelkarakters tipes is wat óf die gesalfdes óf die “groot menigte” voorstel (Openbaring 7:9). Ons het byvoorbeeld gesê dat Jefta, Job en Rebekka die gesalfdes voorstel en dat Debora en Ragab die groot menigte voorstel. Maar in onlangse jare het ons nie sulke vergelykings gemaak nie. Waarom nie?
Die Bybel leer wel dat party Bybelkarakters tipes is wat iets of iemand groter in die toekoms voorstel. In Galasiërs 4:21-31 verwys die apostel Paulus byvoorbeeld na “’n simboliese drama” wat oor twee vroue handel. Die eerste vrou is Hagar, Abraham se slavin. Paulus verduidelik dat sy die nasie Israel voorstel, wat deur die Mosaïese Wet aan Jehovah verbind was. Die tweede vrou is “die vry vrou”, Sara, Abraham se vrou. Sy stel God se vrou voor, oftewel die hemelse deel van God se organisasie. Paulus meld ook die talle ooreenkomste tussen die koning-priester Melgisedek en Jesus (Hebreërs 6:20; 7:1-3). En Paulus vergelyk die profeet Jesaja en sy seuns met Jesus en die gesalfde Christene (Hebreërs 2:13, 14). Jehovah het Paulus geïnspireer om al hierdie vergelykings te maak, en daarom kan ons seker wees dat hierdie tipes en antitipes akkuraat is.
Maar selfs as die Bybel toon dat ’n persoon ’n tipe is, moet ons nie aanneem dat elke besonderheid of gebeurtenis in daardie persoon se lewe iets groters in die toekoms voorstel nie. Paulus verduidelik byvoorbeeld dat Melgisedek Jesus voorstel. Maar Paulus meld nie die keer toe Melgisedek vir Abraham brood en wyn gebring het nadat Abraham vier konings verslaan het nie. Daar is dus geen skriftuurlike rede om na ’n versteekte betekenis in daardie gebeurtenis te soek nie.—In die eeue ná Christus se dood het party skrywers ’n ernstige fout gemaak. Hulle het byna elke Bybelverslag as ’n tipe beskou. The International Standard Bible Encyclopaedia beskryf die leringe van Origines, Ambrosius en Hieronimus en verduidelik: “Hulle het in elke voorval en gebeurtenis in die Skrif, ongeag hoe onbeduidend dit was, na tipes gesoek en dit natuurlik gevind. Daar is selfs gemeen dat die diepste waarheid verskuil was in die eenvoudigste en algemeenste besonderheid . . . , selfs in die getal visse wat die dissipels gevang het op die nag toe die verrese Redder aan hulle verskyn het—dit is verstommend hoeveel party mense in daardie getal, 153, gelees het!”
’n Ander skrywer, Augustinus van Hippo, het verduidelik dat die Bybelverslag waarin Jesus 5 000 mans met vyf garsbrode en twee visse gevoed het, ’n simboliese betekenis het. Hy het gesê dat die vyf garsbrode die eerste vyf boeke van die Bybel voorstel. En omdat mense gemeen het dat gars minder waarde as koring het, het dit beteken dat die “Ou Testament” van minder waarde is as die “Nuwe Testament”. Hy het ook verduidelik dat die twee visse ’n koning en ’n priester voorstel. ’n Ander geleerde het verduidelik dat Jakob wat Esau se geboortereg vir ’n bord rooi bredie gekoop het, Jesus voorstel wat die hemelse hoop vir die mensdom met sy rooi bloed gekoop het!
As dit vir jou moeilik is om hierdie verduidelikings te glo, kan jy verstaan wat die probleem is. Dit is onmoontlik vir mense om te weet watter Bybelverslae iets groters voorstel en watter nie. Wat is dus die wyse weg om te volg? Wanneer die Bybel leer dat ’n persoon, ’n gebeurtenis of ’n voorwerp iets groters in die toekoms voorstel, aanvaar ons die verduideliking. Maar ons moenie ’n simboliese betekenis aan ’n Bybelverslag heg as daar geen skriftuurlike rede is om dit te doen nie.
Hoe kan ons dan baat vind by besonderhede en verslae wat ons in die Bybel lees? Die apostel Paulus het geskryf: “Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê” (Romeine 15:4). Paulus het aan die gesalfde Christene in die eerste eeu geskryf en vir hulle gesê hoe hulle by Bybelverslae kan baat vind. Maar sedertdien het alle Christene, insluitende die “ander skape”, baat gevind by die lesse in die Bybel.—Johannes 10:16; 2 Timoteus 3:1.
Die meeste Bybelverslae is dus nie net van toepassing op die gesalfdes, die “ander skape” of Christene wat gedurende ’n spesifieke tydperk in die geskiedenis lewe nie. Inteendeel, ál God se knegte, in die verlede sowel as in die hede, het by die meeste Bybelverslae baat gevind. Byvoorbeeld, Job se lyding stel nie net die lyding van die gesalfdes gedurende die Eerste Wêreldoorlog voor nie. Baie van God se volk, mans sowel as vroue, van die gesalfdes sowel as van die “ander skape”, het soos Job gely en het baat gevind by ’n studie van hierdie verslag. Hulle “het gesien hoe Jehovah dit laat afloop het, dat Jehovah baie teer in geneentheid en barmhartig is”.—Jakobus 5:11.
In ons gemeentes vind ons vandag getroue ouer vroue wat lojaal is soos Debora sowel as jong ouer manne wat wys is soos Elihu. Ons vind ook pioniers wat ywerig en moedig is soos Jefta sowel as getroue mans en vroue wat geduldig is soos Job. Ons is baie dankbaar dat Jehovah seker gemaak het dat “alles wat tevore geskryf is”, vandag vir ons beskikbaar is sodat ons “deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê”!
Om dié redes probeer ons dus nie ’n simboliese betekenis of toekomstige vervulling in elke Bybelverslag vind nie. Ons lektuur vestig die aandag nou eerder op waardevolle lesse uit die Bybel.