Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe sterk is jou verhouding met Jehovah?

Hoe sterk is jou verhouding met Jehovah?

“Kom nader aan God, en hy sal nader aan [jou] kom.”—JAKOBUS 4:8.

1. Waarom moet ons ons verhouding met Jehovah sterk hou?

AS JY ’n gedoopte Getuie van Jehovah is, het jy iets wat baie kosbaar is. Jy het ’n persoonlike verhouding met Jehovah. Maar Satan se wêreld probeer hierdie verhouding ondermyn, en ons eie onvolmaakthede kan dit ook laat verswak. Daarom moet ons almal ons verhouding met Jehovah so sterk as moontlik hou.

2. (a) Wat is ’n verhouding? (Sien voetnoot.) (b) Hoe kan ons ons verhouding met Jehovah versterk?

2 Is Jehovah vir jou ’n werklike persoon? Voel jy dat hy jou Vriend is? Wil jy graag hê dat jou verhouding met hom selfs sterker moet wees? Jakobus 4:8 sê vir jou wat jy moet doen: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan [jou] kom.” Jou verhouding met Jehovah is nie eensydig nie. * (Sien voetnoot.) As jy stappe doen om nader aan Jehovah te kom, sal hy stappe doen om nader aan jou te kom. As jy hiermee volhou, sal hy vir jou al hoe werkliker word; en julle verhouding sal so sterk word dat jy soos Jesus sal kan sê: “Hy wat my gestuur het, bestaan werklik” en “Ek ken hom” (Johannes 7:28, 29). Maar wat kan jy doen om nader aan Jehovah te kom?

Hoe kan jy met God kommunikeer? (Sien paragraaf 3)

3. Hoe kan ons met Jehovah kommunikeer?

3 As jy nader aan Jehovah wil kom, is gereelde kommunikasie tussen jou en Jehovah baie belangrik. Maar hoe is dit moontlik? Dink aan hoe jy en ’n vriend wat ver van jou af woon, dalk sal kommunikeer. Julle kan dikwels vir mekaar skryf en mekaar bel. Jy praat met Jehovah wanneer jy gereeld tot hom bid. (Lees Psalm 142:2.) Maar hoe kan jy Jehovah met jou laat praat? Jy doen dit wanneer jy gereeld sy Woord, die Bybel, lees en daaroor peins. (Lees Jesaja 30:20, 21.) Kom ons kyk hoe hierdie kommunikasie tussen jou en Jehovah jou verhouding met hom kan versterk en hom ’n ware Vriend vir jou kan laat word.

LAAT JEHOVAH MET JOU PRAAT WANNEER JY DIE BYBEL STUDEER

4, 5. Hoe praat Jehovah met jou wanneer jy die Bybel studeer? Gee ’n voorbeeld.

4 Ons weet dat die Bybel God se boodskap aan almal is. Maar kan die Bybel jou help om nader aan Jehovah te kom? Ja! Wanneer jy die Bybel lees en studeer, moet jy let op hoe jy voel oor wat jy lees. En dink na oor hoe jy kan toepas wat jy leer. Wanneer jy dit doen, laat jy Jehovah met jou praat. Hy word ’n hegte Vriend wat jou help, en jy kom nader aan hom.—Hebreërs 4:12; Jakobus 1:23-25.

5 Hoe voel jy byvoorbeeld wanneer jy Jesus se woorde lees: “Hou op om vir julle skatte op die aarde op te gaar”? As jy jou bes doen om Jehovah eerste in jou lewe te stel, sal jy aanvoel dat jy sy goedkeuring het. Maar jy lees dalk Jesus se woorde en besef dat jy jou lewe moet vereenvoudig en meer daarop moet konsentreer om God te dien. Dít toon dat Jehovah jou help om te verstaan wat jy kan doen om nader aan hom te kom.—Matteus 6:19, 20.

6, 7. (a) Watter uitwerking het Bybelstudie op ons liefde vir Jehovah en sy liefde vir ons? (b) Wat moet ons hoofdoelwit wees wanneer ons die Bybel studeer?

6 Wanneer ons die Bybel studeer, leer ons watter veranderinge ons kan maak om Jehovah beter te dien. Maar ons leer ook omtrent die liefdevolle dinge wat hy doen en omtrent sy pragtige persoonlikheid, en dit vergroot ons liefde vir hom. En namate ons liefde vir hom toeneem, neem sy liefde vir ons toe, en ons verhouding met hom word selfs hegter.—Lees 1 Korintiërs 8:3.

7 As ons nader aan Jehovah wil kom, moet ons die Bybel om die regte rede studeer. Jesus het gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Ons kan talle nuwe en interessante dinge leer wanneer ons die Bybel lees, maar ons hoofdoelwit moet wees om Jehovah as ’n Persoon beter te leer ken.—Lees Eksodus 33:13; Psalm 25:4.

8. (a) Hoe sal party mense dalk voel oor die manier waarop Jehovah koning Asarja behandel het? (b) Hoe sal jy voel oor hoe Jehovah optree as jy hom goed ken?

8 Wanneer ons Jehovah as ’n hegte Vriend leer ken, sal ons nie bekommerd wees as die Bybel nie altyd verduidelik waarom hy op ’n sekere manier opgetree het nie. Byvoorbeeld, toe Asarja die koning van Juda was, het die volk valse gode aanbid. Maar Asarja het dit nie gedoen nie. “Hy het bly doen wat reg was in Jehovah se oë” (2 Konings 15:1-5). Maar Jehovah het Asarja met melaatsheid getref. Waarom? Hierdie deel van die verhaal sê nie vir ons nie. Hoe voel jy oor wat Jehovah gedoen het? Bekommer dit jou en voel jy dat Jehovah onregverdig was, dat hy Asarja sonder goeie rede gestraf het? Nee. As jy Jehovah baie goed ken, weet jy dat sy dissipline altyd reg is. Hy dissiplineer ons altyd “in die regte mate” (Jeremia 30:11). Al weet jy nie waarom Jehovah Asarja gestraf het nie, kan jy dus daarvan seker wees dat Jehovah gedoen het wat reg is.

9. Watter besonderhede help ons om te verstaan waarom Jehovah Asarja met melaatsheid getref het?

9 Die Bybel gee ons wel meer besonderhede oor die lewe van koning Asarja, wat ook as koning Ussia bekend gestaan het (2 Konings 15:7, 32). Die res van die verhaal in 2 Kronieke 26:3-5, 16-21 sê dat hy gedoen het “wat reg was in Jehovah se oë”. Maar dit sê ook dat “sy hart [later] so hoogmoedig geword [het] dat dit verderf aangerig het”. Die koning het iets probeer doen wat net die priesters die reg gehad het om te doen. Een-en-tagtig priesters het vir hom gesê dat hy verkeerd optree en het hom probeer keer. Hoe het hy gereageer? Hy was al so trots dat hy vir hulle woedend geword het! Hierdie bykomende besonderhede help ons om te verstaan waarom Jehovah die koning met melaatsheid getref het.

Hoe beter jy Jehovah leer ken, hoe groter sal jou vertroue word dat hy altyd doen wat reg is

10. Waarom het ons nie redes nodig vir alles wat Jehovah doen nie? Hoe kan ons ons vertroue versterk dat Jehovah altyd doen wat reg is?

10 Watter belangrike les leer ons? Die verhaal van koning Asarja bevat genoeg besonderhede om ons te help verstaan waarom Jehovah hom gestraf het. Maar hoe sal jy reageer wanneer die Bybel nie al die besonderhede gee nie? Sal jy wonder of Jehovah werklik gedoen het wat reg is? Of sal jy voel dat die Bybel genoeg inligting bevat om jou die vertroue te gee dat God altyd doen wat reg is? (Deuteronomium 32:4). Hoe beter jy Jehovah as ’n Persoon leer ken, hoe meer sal jy hom liefhê en vertrou. En dan sal jy nie redes wil hê vir alles wat hy doen nie. Jou studie van die Bybel sal Jehovah vir jou werkliker laat word en jou nader aan hom laat kom.—Psalm 77:12, 13.

JY PRAAT MET JEHOVAH WANNEER JY BID

11-13. Hoe weet jy dat Jehovah na gebede luister? (Sien prent aan begin van artikel.)

11 Wanneer ons bid, kom ons nader aan Jehovah. Ons loof hom, dank hom en vra sy hulp (Psalm 32:8). Maar as jy ’n hegte vriendskap met Jehovah wil hê, moet jy oortuig wees dat hy na gebede luister.

12 Party mense sê dat God nie na gebede luister nie en dat gebed net iets is wat jou beter laat voel. Hulle meen dat gebed jou bloot help om oor jou probleme na te dink en om self oplossings te vind. Gebed kan jou wel op hierdie maniere help. Maar wanneer jy met Jehovah in gebed praat, luister hy werklik na jou. Hoe kan jy hiervan seker wees?

Jy kan seker wees dat Jehovah na jou gebede luister

13 Dink hieraan: Voordat Jesus aarde toe gekom het, het hy gesien hoe Jehovah die gebede van Sy menseknegte verhoor. Toe Jesus op die aarde was, het hy sy hemelse Vader in gebed van sy gedagtes en gevoelens vertel. Eenkeer het hy selfs die hele nag gebid (Lukas 6:12; 22:40-46). Sou Jesus dit gedoen het as hy gedink het dat Jehovah nie werklik luister nie? Jesus het ook sy volgelinge geleer hoe om tot Jehovah te bid. Sou hy dit gedoen het as hy gedink het dat Jehovah nie na gebede luister nie? Dit is duidelik dat Jesus geweet het dat Jehovah werklik na gebede luister. Hy het selfs gesê: “Vader, ek dank u dat u my verhoor het. Ek het weliswaar geweet dat u my altyd verhoor.” Ons kan net so seker wees dat Jehovah na ons gebede luister.—Johannes 11:41, 42; Psalm 65:2.

14, 15. (a) Hoe vind ons daarby baat as ons spesifiek is in ons gebede? (b) Hoe het Kathy se gebede haar gehelp om nader aan Jehovah te kom?

14 Jy sal dalk nie altyd duidelik kan sien hoe jou gebede verhoor word nie. Maar wanneer jy spesifiek is in jou gebede, sal jy duideliker kan sien hoe Jehovah jou gebede verhoor, en hy sal vir jou werkliker word. As jy Jehovah openlik van al jou bekommernisse vertel, sal hy nader aan jou kom.

15 Byvoorbeeld, Kathy het dikwels velddiens gedoen, maar sy het dit nie geniet nie. * (Sien voetnoot.) Sy het gesê: “Ek het nie van velddiens gehou nie. Ek bedoel, ek het regtig nie daarvan gehou nie.” Toe sy ophou werk het, het ’n ouer man haar aangespoor om ’n gewone pionier te word. Sy het gesê: “Hy het selfs vir my ’n aansoekvorm gegee. Ek het besluit om te pionier, maar ek het ook elke dag tot Jehovah gebid om my te help om van velddiens te hou.” Het Jehovah haar gebede verhoor? Ná drie jaar in die pionierdiens sê sy: “Omdat ek meer tyd in die bediening begin deurbring het en by ander susters geleer het, het my vaardighede in die bediening mettertyd verbeter. Vandag hou ek nie van velddiens nie—ek is mal daaroor. En dis nie al nie, my verhouding met Jehovah is baie hegter as wat dit voorheen was.” Kathy se gebede het haar werklik gehelp om nader aan Jehovah te kom.

Hou aan om nader aan Jehovah te kom (Sien paragrawe 16, 17)

DOEN JOU DEEL

16, 17. (a) Wat moet ons doen om ons verhouding met Jehovah voortdurend te versterk? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

16 Ons kan tot in ewigheid nader aan Jehovah kom. Laat ons dus aanhou om na sy stem te luister deur gereeld die Bybel te studeer, en laat ons aanhou om met hom in gebed te praat. As ons dit doen, sal ons verhouding met Jehovah al hoe sterker word, en met sy hulp sal ons tydens beproewinge kan volhard.

Ons kan tot in ewigheid nader aan Jehovah kom

17 Maar soms worstel ons met persoonlike probleme, al bid ons aanhoudend tot Jehovah. Wanneer dit gebeur, kan ons ons vertroue in Jehovah begin verloor. Ons dink dalk dat Jehovah nie na ons gebede luister nie en wonder miskien of ons werklik sy vriend is. Wat kan jy doen as jy so begin voel? Die volgende artikel sal jou help.

^ par. 2 ’n Verhouding verwys na hoe twee persone oor mekaar voel en mekaar behandel. Hulle albei moet iets doen om hulle verhouding sterk te hou.

^ par. 15 Naam is verander.