Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe ouer manne ander oplei om bekwaam te word

Hoe ouer manne ander oplei om bekwaam te word

“Die dinge wat jy by my gehoor het . . . , vertrou dit aan getroue mense toe.”—2 TIMOTEUS 2:2.

1. (a) Wat het God se knegte nog altyd omtrent opleiding geweet, en hoe is dit vandag van toepassing? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

GOD se volk het nog altyd geweet dat opleiding tot sukses lei. Toe Abram byvoorbeeld “sy geoefende manne”, oftewel opgeleide manne, bymekaargeroep het, was hulle poging om Lot te red, suksesvol (Genesis 14:14-16). Sangers in koning Dawid se dag was “geoefen”, oftewel opgelei, om liedere te sing om Jehovah te loof (1 Kronieke 25:7). Vandag moet ons teen Satan en sy wêreld stry (Efesiërs 6:11-13). Ons span ons ook in om Jehovah te loof deur met ander oor sy naam te praat (Hebreërs 13:15, 16). Soos God se knegte in die verlede, moet ons ook opgelei word as ons suksesvol wil wees. In die gemeente het Jehovah ouer manne die verantwoordelikheid gegee om ander op te lei (2 Timoteus 2:2). Watter metodes het party ouer manne gebruik om broers op te lei om na Jehovah se volk om te sien?

VERSTERK DIE LEERLING SE LIEFDE VIR JEHOVAH

2. Wat kan ’n ouer man doen voordat hy ’n leerling nuwe vaardighede leer, en waarom?

2 ’n Ouer man kan met ’n tuinier vergelyk word. Voordat ’n tuinier saad plant, moet hy dalk voedingstowwe in die grond inwerk sodat die plante sal groei en sterk word. Voordat ’n ouer man ’n leerling nuwe vaardighede leer, sal dit eweneens goed wees as hy ’n paar Bybelbeginsels met die leerling bespreek wat hom sal motiveer om toe te pas wat hy leer.—1 Timoteus 4:6.

3. (a) Hoe kan Jesus se woorde in Markus 12:29, 30 tydens ’n gesprek met ’n leerling gebruik word? (b) Watter uitwerking kan ’n ouer man se gebed op ’n leerling hê?

3 Dit is belangrik om vas te stel watter uitwerking die waarheid op ’n leerling se denke en gevoelens het. Om dit te doen, kan jy hom vra hoe sy toewyding aan Jehovah sy besluite in die lewe beïnvloed het. Hierdie vraag kan tot ’n gesprek lei oor hoe ons Jehovah heelhartig kan dien. (Lees Markus 12:29, 30.) Jy kan selfs saam met die broer bid en Jehovah vra om hom die nodige heilige gees vir sy opleiding te gee. Wanneer die broer hoor hoe jy vir hom bid, sal dit hom waarskynlik aanspoor om meer te doen.

4. (a) Gee voorbeelde van Bybelverslae wat ’n leerling kan help om vooruitgang te maak. (b) Wat moet ouer manne probeer doen wanneer hulle ander oplei?

4 Wanneer jy iemand begin oplei, is dit goed om Bybelverslae met hom te bespreek wat hom sal help besef hoe belangrik dit is om behulpsaam, betroubaar en nederig te wees (1 Konings 19:19-21; Nehemia 7:2; 13:13; Handelinge 18:24-26). Hierdie eienskappe is net so belangrik vir die leerling soos voedingstowwe vir die grond is. Dit sal die leerling help om te groei, dit wil sê om vinniger vooruitgang te maak. Jean-Claude, ’n ouer man van Frankryk, sê dat hy die leerling probeer help om wyse besluite te neem wat op Bybelbeginsels gegrond is. Hy sê: “Ek probeer geleenthede vind om ’n teks saam met die leerling te lees om sy ‘oë te open vir die wonderlike dinge’ in God se Woord” (Psalm 119:18). Op watter ander maniere kan ’n leerling se liefde vir Jehovah versterk word?

STEL DOELWITTE VOOR EN GEE REDES

5. (a) Waarom is dit belangrik om met ’n leerling oor doelwitte in Jehovah se diens te gesels? (b) Waarom moet ouer manne broers oplei terwyl hulle nog jonk is? (Sien voetnoot.)

5 Vra die leerling wat sy doelwitte in Jehovah se diens is. As hy nie doelwitte het nie, kan jy hom help om ’n bereikbare doelwit te stel. Wees entoesiasties wanneer jy hom vertel van ’n doelwit wat jy gehad het en hoe goed jy gevoel het toe jy dit bereik het. Hierdie metode is eenvoudig maar doeltreffend. Victor, ’n ouer man en pionier in Afrika, sê: “Toe ek jonk was, het ’n ouer man my ’n paar vrae oor my doelwitte gevra. Daardie vrae het my gehelp om ernstig oor my bediening te begin nadink.” Ervare ouer manne sê dat dit belangrik is om broers op te lei terwyl hulle nog jonk is, dalk wanneer hulle in hulle vroeë tienerjare is. Hulle kan takies in die gemeente gegee word wat gepas is vir hulle ouderdom. As broers opgelei word terwyl hulle nog jonk is, kan dit hulle help om hulle doelwitte voor oë te hou, selfs wanneer hulle ouer word en daar baie dinge is wat hulle aandag kan aflei.—Lees Psalm 71:5, 17. * (Sien voetnoot.)

Verduidelik vir ’n broer waarom die werk wat jy hom gegee het, belangrik is, en prys hom as hy dit doen (Sien paragrawe 5-8)

6. Watter belangrike metode het Jesus gebruik om ander te onderrig?

6 Om die leerling te motiveer om in die gemeente te dien, moet jy nie net vir hom sê wat om te doen nie. Jy moet ook verduidelik waarom dit belangrik is om dit te doen. Die Groot Leermeester, Jesus, het vir sy apostels gesê om te preek. Maar hy het eers vir hulle gesê waarom hulle dit moet doen. Hy het gesê: “Alle gesag in die hemel en op die aarde is aan my gegee. Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies” (Matteus 28:18, 19). Hoe kan jy Jesus se onderrigmetode navolg?

7, 8. (a) Hoe kan ouer manne Jesus vandag navolg wanneer dit kom by opleiding? (b) Waarom is dit belangrik om ’n leerling te prys? (c) Watter wenke kan ouer manne help om ander op te lei? (Sien die venster “ Hoe om ander op te lei”.)

7 Wanneer jy ’n broer vra om ’n taak te doen, kan jy vir hom uit die Bybel verduidelik waarom hierdie taak belangrik is. As jy dit doen, leer jy hom om dinge te doen op grond van Bybelbeginsels en nie net weens reëls nie. Byvoorbeeld, as jy ’n broer vra om die ingang van die Koninkryksaal skoon te hou en seker te maak dat dit veilig is vir diegene wat in- of uitstap, kan jy vir hom Titus 2:10 lees. Verduidelik hoe dit die Koninkryksboodskap sal versier. Vra hom ook om te dink aan die bejaardes in die gemeente en hoe dit hulle sal help as hy hierdie taak verrig. So ’n gesprek voorsien opleiding wat hom sal help om eerder aan mense as aan reëls te dink. Wanneer hy sien hoe die broers en susters by sy werk baat vind, sal hy goed voel omdat hy ander dien.

8 Maak ook seker dat jy die leerling prys wanneer hy jou wenke toepas. Waarom is dit belangrik? Net soos water ’n plant help om te groei en gesond te wees, help dit ’n leerling om vooruitgang te maak in sy diens aan Jehovah as jy hom prys.—Vergelyk Matteus 3:17.

’N ANDER UITDAGING

9. (a) Waarom is dit vir ouer manne in party ryk lande soms moeilik om ander op te lei? (b) Waarom stel party jong broers God se diens nie eerste in hulle lewe nie?

9 In ryk lande is dit soms vir ouer manne moeilik om gedoopte broers in hulle 20’s en 30’s aan te spoor om meer in die gemeente te doen. Ervare ouer manne in sowat 20 lande het gesê waarom hulle meen dat party jong broers nie voorregte in die gemeente nastreef nie. Die meeste van hulle het gesê dat party broers se ouers hulle nie van jongs af aangespoor het om doelwitte in Jehovah se diens te stel nie. En toe party jong broers meer wou doen, het hulle ouers hulle aangespoor om hoër onderwys of ’n loopbaan in hierdie wêreld na te streef! Hulle het diens aan God dus nooit eerste in hulle lewe gestel nie.—Matteus 10:24.

10, 11. (a) Hoe kan ’n ouer man ’n broer geleidelik help om sy denke te verander? (b) Watter tekste kan ’n ouer man met ’n broer bespreek, en waarom? (Sien voetnoot.)

10 As dit lyk of ’n broer nie voorregte in die gemeente wil nastreef nie, sal dit baie inspanning en geduld verg om sy denke te verander, maar dit kan gedoen word. ’n Tuinier kan ’n plant help om reguit te groei deur die stam geleidelik in die regte rigting te buig. Net so kan jy ’n broer geleidelik help om te besef dat hy sy gesindheid ten opsigte van meer verantwoordelikhede in die gemeente moet verander. Maar hoe?

11 Neem tyd om vriende te maak met die broer. Help hom om te besef dat die gemeente hom nodig het. Ná verloop van tyd kan jy met hom oor tekste redeneer wat hom kan help om na te dink oor sy toewyding aan Jehovah (Prediker 5:4; Jesaja 6:8; Matteus 6:24, 33; Lukas 9:57-62; 1 Korintiërs 15:58; 2 Korintiërs 5:15; 13:5). Probeer sy hart bereik deur vrae te vra soos: ‘Wat het jy Jehovah belowe toe jy jou lewe aan hom toegewy het? Hoe dink jy het Jehovah gevoel toe jy gedoop is?’ (Spreuke 27:11). ‘Hoe het Satan gevoel?’ (1 Petrus 5:8). Sulke tekste kan baie kragtig wees en ’n broer se hart diep raak.—Lees Hebreërs 4:12. * (Sien voetnoot.)

LEERLINGE, WEES GETROU

12, 13. (a) Watter gesindheid het Elisa as ’n leerling geopenbaar? (b) Hoe het Jehovah Elisa vir sy getrouheid beloon?

12 Jong broers, die gemeente het julle hulp nodig! Watter gesindheid sal julle help om suksesvol te wees in julle diens aan Jehovah? Om die antwoord te vind, kan ons van die gebeurtenisse bespreek in die lewe van Elisa, ’n leerling wat in die ou tyd gelewe het.

13 Ongeveer 3 000 jaar gelede het die profeet Elia die jong Elisa genooi om sy helper te word. Elisa het onmiddellik ingestem en getrou nederige werk vir die profeet gedoen (2 Konings 3:11). Elia het Elisa ongeveer ses jaar lank opgelei. Toe Elia se werk in Israel byna klaar was, het die profeet vir sy helper gesê dat hy hom nie meer hoef te dien nie. Maar Elisa het drie keer gesê: “Ek sal u nie verlaat nie.” Hy was vasbeslote om so lank as wat hy kon, by sy onderrigter te bly. En Jehovah het Elisa vir sy lojaliteit en getrouheid beloon deur hom te laat sien hoe Elia in ’n windstorm weggeneem word.—2 Konings 2:1-12.

14. (a) Hoe kan leerlinge Elisa vandag navolg? (b) Waarom is dit belangrik dat ’n leerling getrou moet wees?

14 As jy ’n leerling is, hoe kan jy Elisa navolg? Moenie huiwer om toewysings, selfs nederige take, te aanvaar nie. Onthou dat jou onderrigter jou vriend is. Sê vir hom dat jy waardeer wat hy vir jou doen, en toon dat jy wil aanhou om by hom te leer. Bowenal moet jy jou toewysing getrou uitvoer. Waarom? Wanneer jy getrou en betroubaar is, verseker dit die ouer manne dat Jehovah wil hê dat jy meer verantwoordelikhede in die gemeente moet ontvang.—Psalm 101:6; lees 2 Timoteus 2:2.

RESPEKTEER ERVARE OUER MANNE

15, 16. (a) Hoe het Elisa getoon dat hy sy onderrigter respekteer? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Waarom het ander profete hulle vertroue in Elisa gestel?

15 Die verslag van Elisa toon ook dat dit vandag belangrik is dat broers ervare ouer manne respekteer. Nadat Elia en Elisa ’n groep profete in Jerigo besoek het, het die twee manne by die Jordaanrivier gekom. “Toe het Elia sy ampskleed geneem en dit opgerol en die waters geslaan, en dit is . . . verdeel.” Die manne het op droë grond deur die Jordaanrivier geloop en “al pratende verder geloop”. Elisa het aandagtig geluister na alles wat sy onderrigter gesê het en het by hom bly leer. Elisa het nooit gedink dat hy alles weet nie. Toe is Elia in ’n windstorm weggeneem, en Elisa het na die Jordaanrivier teruggekeer. Daar het hy die waters met Elia se ampskleed geslaan en gesê: “Waar is Jehovah, die God van Elia?” En weer eens is die waters in die rivier verdeel.—2 Konings 2:8-14.

16 Het jy opgelet dat Elisa se eerste wonderwerk presies dieselfde as Elia se laaste wonderwerk was? Wat leer dit ons? Elisa het nie gedink dat hy dinge op ’n ander manier as Elia moet doen omdat hy nou in beheer was nie. Elisa het eerder getoon dat hy sy onderrigter respekteer deur Elia se metodes te volg, en dit het ander profete gehelp om hulle vertroue in Elisa te stel (2 Konings 2:15). Elisa het 60 jaar lank as profeet gedien, en Jehovah het hom die krag gegee om baie meer wonderwerke as Elia te verrig. Watter les kan leerlinge vandag hieruit leer?

17. (a) Hoe kan leerlinge Elisa se gesindheid vandag navolg? (b) Hoe sal Jehovah getroue leerlinge dalk mettertyd gebruik?

17 Wanneer jy meer verantwoordelikheid in die gemeente ontvang, moet jy nie voel dat jy dinge op ’n heeltemal ander manier moet doen as wat dit voorheen gedoen is nie. Onthou, veranderinge word aangebring weens ’n behoefte in die gemeente of weens riglyne wat Jehovah se organisasie voorsien. Jy moenie veranderinge aanbring net omdat jy wil nie. Deur aan te hou om Elia se metodes te volg, het Elisa ander profete gehelp om hulle vertroue in hom te stel en het hy getoon dat hy Elia as sy onderrigter respekteer. As jy aanhou om die Bybelse metodes van jou onderrigters te gebruik, toon jy eweneens dat jy ervare ouer manne respekteer, en jou broers en susters sal dan vertroue in jou hê. (Lees 1 Korintiërs 4:17.) Wanneer jy meer ondervinding opgedoen het, sal jy veranderinge in die gemeente aanbring wat die gemeente kan help om tred te hou met Jehovah se organisasie, wat altyd vooruit beweeg. En net soos Jehovah Elisa gehelp het, sal hy jou dalk mettertyd help om groter werke as dié van jou onderrigters te doen.—Johannes 14:12.

18. Waarom is dit dringend om broers in die gemeentes op te lei?

18 Ons hoop dat die wenke in hierdie en die vorige artikel meer ouer manne sal beweeg om tyd opsy te sit om broers op te lei. En ons hoop dat meer broers hierdie opleiding gewillig sal aanvaar en dit sal gebruik om na Jehovah se volk om te sien. Dit sal die gemeentes regoor die wêreld versterk en sal elkeen van ons help om getrou te bly gedurende die opwindende tye wat voorlê.

^ par. 5 As ’n jong broer toon dat hy volwasse en nederig is en as hy die ander nodige eienskappe het om in die gemeente te dien, kan die ouer manne aanbeveel dat hy as ’n bedieningskneg aangestel word, al is hy nog nie 20 jaar oud nie.—1 Timoteus 3:8-10, 12; sien Die Wagtoring van 1 Julie 1989, bladsy 29.