Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

Seëninge ‘in gunstige tye en in moeilike tye’

Seëninge ‘in gunstige tye en in moeilike tye’

EK IS in Maart 1930 gebore in die dorpie Namkumba, Malawi, in ’n gesin wat getroue knegte van God was. In 1942 het ek my lewe aan Jehovah toegewy en is ek in een van ons pragtige riviere gedoop. Die afgelope 70 jaar het ek probeer doen wat die apostel Paulus Timoteus aangespoor het om te doen: “Verkondig die woord, bly dringend daarmee besig in gunstige tye, in moeilike tye.”—2 Timoteus 4:2.

In 1948 het Nathan H. Knorr en Milton G. Henschel na Malawi toe gekom, en hulle besoek het my aangespoor om Jehovah voltyds te dien. Later het ek Lidasi ontmoet, ’n lieflike suster wat Jehovah ook voltyds wou dien. In 1950 het ons getrou, en teen 1953 het ons twee kinders gehad. Al het ons baie gesinsverantwoordelikhede gehad, het ons besluit dat ek as ’n gewone pionier kan begin dien. Twee jaar later is ek genooi om as ’n spesiale pionier te begin dien.

Byeenkomste het ons versterk vir vervolging wat voorgelê het

Kort daarna het ek die voorreg gehad om gemeentes as ’n kringopsiener te besoek. Omdat Lidasi baie ondersteunend was, kon ek in al die behoeftes van ons gesin voorsien en in die voltydse diens bly. * (Sien voetnoot.) Maar ons albei wou Jehovah voltyds dien. Met goeie beplanning en met ons kinders se samewerking kon Lidasi dus die voltydse diens in 1960 betree.

In 1962 het ons die “Moedige evangeliedienaars”-streekbyeenkoms bygewoon. En ’n jaar later het broer Henschel Malawi besoek vir die spesiale streekbyeenkoms naby die stad Blantyre. Meer as 10 000 het dié byeenkoms bygewoon. Wanneer ek aan daardie spesiale programme dink, besef ek hoe dit ons almal in Malawi voorberei en versterk het vir die moeilike tye wat voorgelê het.

MOEILIKE TYE BEGIN

Die regering het ’n verbod op ons werk geplaas en het beslag gelê op die takkantoor se eiendom

In 1964 is die Getuies vervolg omdat hulle geweier het om aan politieke bedrywighede deel te neem. Gevolglik is meer as 100 Koninkryksale en meer as 1 000 huise van die broers vernietig. Ek en Lidasi het aangehou met die kringwerk totdat die regering in 1967 ’n verbod op die bedrywighede van die Getuies geplaas het. Die regering het beslag gelê op die takkantoor se eiendom, die sendelinge gedwing om die land te verlaat en baie Getuies in die tronk gegooi, waar ek en Lidasi ook beland het. Toe ons uit die tronk vrygelaat is, het ons ons kringwerk ongemerk probeer voortsit.

Op ’n dag in Oktober 1972 was lede van ’n ekstremistiese politieke groep, wat die Malawi-Jeugliga genoem is, op pad na ons huis toe. Maar een van hulle lede het vooruitgehardloop om vir my te kom sê om weg te kruip omdat hulle van plan was om my dood te maak. Ek het vir my vrou en kinders gesê om weg te kruip tussen ’n klomp piesangbome wat naby die huis was. Toe het ek in ’n groot mangoboom geklim. Van daar af het ek gesien hoe hulle ons huis en al ons besittings verwoes.

Omdat ons broers nie by die politiek betrokke geraak het nie, is hulle huise verbrand

Die vervolging het toegeneem, en duisende Getuies het Malawi verlaat. Ons het tot Junie 1974 in ’n vlugtelingkamp in Mosambiek gebly. Ek en Lidasi is toe gevra om as spesiale pioniers in Dómue, Mosambiek, te dien. Ons het pionier totdat ons in 1975 gedwing is om Mosambiek te verlaat en na Malawi terug te keer, waar die Getuies nog steeds vervolg is.

Nadat ons teruggekeer het, is ek toegewys om gemeentes in die hoofstad, Lilongwe, te besoek. Ten spyte van die vervolging en al die probleme het die aantal gemeentes toegeneem in die kringe waar ons gedien het.

JEHOVAH SE LIEFDEVOLLE ONDERSTEUNING

Eendag het ons by ’n dorpie gekom waar ’n politieke vergadering aan die gang was. Party van die mense het uitgevind dat ons Getuies is en het ons gedwing om by ’n politieke groep te sit wat die Malawi- Jong Pioniers genoem is. Ons het Jehovah gesmeek om ons te help en te lei. Ná die vergadering het hulle ons begin slaan. Skielik het ’n ouerige vrou aangehardloop gekom en geskreeu: “Los hulle asseblief uit! Hierdie man is my broer se seun. Laat hom gaan!” Die voorsitter van die vergadering het gesê: “Laat hulle gaan!” Ons weet nie waarom die vrou dit gesê het nie, want sy was nie familie van ons nie. Ons glo dat Jehovah ons gebed verhoor het.

Politieke partykaart

In 1981 het die Malawi- Jong Pioniers ons weer gevind. Hierdie keer het hulle ons fietse, bagasie en boeke gevat, sowel as belangrike dokumente in verband met die broers in die kring. Ons het ontsnap en na ’n ouer man se huis gehardloop. Maar ons was bekommerd oor die inligting in die dokumente. Toe die Malawi- Jong Pioniers na die dokumente gekyk het, het hulle op briewe afgekom wat broers regoor Malawi aan my gestuur het. Dit het hulle laat skrik omdat hulle gedink het dat ek ’n belangrike regeringsamptenaar is. Daarom het hulle onmiddellik al die dokumente aan die plaaslike ouer manne terugbesorg.

By ’n ander geleentheid het ons ’n rivier per boot oorgesteek. Die eienaar van die boot was ’n politieke leier, en hy wou almal op die boot se politieke partykaarte sien. Toe hy nader aan ons gekom het, het hy besef dat een van die passasiers ’n dief is na wie die polisie soek. Dit het almal se aandag afgetrek, en die eienaar het opgehou om die partykaarte na te gaan. Ons het weer eens Jehovah se liefdevolle ondersteuning gevoel.

IN HEGTENIS GENEEM EN IN DIE TRONK GEGOOI

In Februarie 1984 was ek op pad na Lilongwe met rapporte wat na die takkantoor in Zambië geneem moes word. ’n Polisieman het my voorgekeer en my sak deursoek. Hy het Bybellektuur in my sak gekry; daarom het hy my na die polisiestasie geneem en my begin slaan. Toe het hy my met toue vasgebind en my in ’n vertrek gesit met gevangenes wat diewe was.

Die volgende dag het die polisiehoof my na ’n ander vertrek geneem en wou hy hê dat ek ’n dokument moet onderteken wat gesê het: “Ek, Trophim R. Nsomba, het besluit om nie meer een van Jehovah se Getuies te wees nie sodat ek vrygelaat kan word.” Ek het geweier om die dokument te onderteken en het vir hom gesê: “Ek is gereed om nie net gebind te word nie, maar ook om te sterf. Ek is nog steeds een van Jehovah se Getuies.” Dit het die polisiehoof so kwaad gemaak dat hy so hard met sy vuis op die lessenaar geslaan het dat ’n polisieman in die vertrek langsaan kom kyk het wat aangaan. Die polisiehoof het vir hom gesê: “Hierdie man weier om die dokument te onderteken wat sê dat hy nie meer ’n Getuie is nie. Laat hom ’n dokument onderteken wat sê dat hy een van Jehovah se Getuies is, en ons sal hom as ’n gevangene na Lilongwe stuur.” Gedurende dié tyd het my vrou nie geweet waar ek is nie. Vier dae later kon van die broers uiteindelik vir haar sê wat gebeur het.

By die Lilongwe-polisiestasie het die polisiemanne my goed behandel. Die polisiehoof het gesê: “Hier is vir jou ’n bord rys, want jy is ’n gevangene as gevolg van God se Woord. Die ander mense hier is diewe.” Toe het hy my na die Kachere-gevangenis gestuur, waar ek vyf maande lank aangehou is.

Die bewaarder van daardie tronk was bly dat ek gekom het, want hy wou hê dat ek die “pastoor” van die tronk moet wees. Hy het vir die pastoor wat daar was, gesê: “Ek wil nie hê dat jy weer hier uit God se Woord moet leer nie, want jy is in die tronk omdat jy van jou kerk gesteel het!” Ek het dus elke week ’n Bybelbespreking gehou by vergaderinge wat vir die gevangenes gehou is.

Later het sake vir my versleg. Tronkbewaarders het my ondervra omdat hulle wou weet hoeveel Getuies daar in Malawi is. Hulle het nie van my antwoord gehou nie, en daarom het hulle my geslaan totdat ek bewusteloos was. ’n Ander keer wou hulle weet waar ons hoofkwartier is. Ek het gesê: “Julle het my ’n eenvoudige vraag gevra, en ek sal julle antwoord.” Ek het hulle vertel dat ons hoofkwartier in die Bybel beskryf word. Hulle was verbaas en het gevra: “Waar in die Bybel?”

“In Jesaja 43:12”, het ek gesê. Hulle het dit nageslaan en noukeurig gelees: “‘Julle is my getuies’, sê Jehovah, ‘en ek is God.’” Hulle het hierdie teks drie keer gelees. Toe het hulle gevra: “Hoe kan die hoofkwartier van Jehovah se Getuies hier in die Bybel wees en nie in Amerika nie?” Ek het vir hulle gesê: “Jehovah se Getuies in Amerika meen ook dat hierdie teks hulle hoofkwartier beskryf.” Omdat ek nie vir hulle gesê het wat hulle wou hoor nie, het hulle my na die Dzaleka-gevangenis, noord van Lilongwe, gestuur.

SEËNINGE SELFS IN MOEILIKE TYE

Toe ek in Julie 1984 by die Dzaleka-gevangenis aangekom het, was daar reeds 81 Getuies. Die tronk was so oorvol dat 300 gevangenes skouer teen skouer op die vloer moes slaap. Al die Getuies kon uiteindelik in klein groepies vergader om elke dag ’n teks te bespreek, en dit het ons baie aangemoedig.

Ná ’n verhoor word broers weggelei

In Oktober 1984 het ons almal in die hof verskyn en is ons twee jaar tronkstraf opgelê. Soos voorheen is ons saam met nie-Getuies in ’n tronk gesit. Maar die tronkbewaarder het vir almal gesê: “Jehovah se Getuies rook nie. Wagte, julle moet hulle dus nie vir sigarette vra nie, en julle moet hulle nie stuur om ’n stukkie houtskool te gaan haal om julle sigarette aan te steek nie. Hulle is God se mense! Jehovah se Getuies moet twee keer per dag kos kry, aangesien hulle nie hier is omdat hulle misdadigers is nie, maar weens hulle Bybelse oortuigings.”

Weens ons goeie gedrag het ons nog voordele geniet. Wanneer dit donker of reënerig was, het die wagte die gevangenes nie toegelaat om buitentoe te gaan nie. Maar ons is toegelaat om die gebou te verlaat, want hulle het ons vertrou en het geweet dat ons nie sou probeer ontsnap nie. Toe ons byvoorbeeld eenkeer buite op die landerye gewerk het, het die wag wat ons dopgehou het, siek geword. Ons het hom toe teruggedra na die tronk toe. Weens ons volgehoue goeie gedrag het die wagte Jehovah se naam geloof.—1 Petrus 2:12. * (Sien voetnoot.)

’N GUNSTIGE TYD BREEK WEER AAN

Op 11 Mei 1985 is ek uit die Dzaleka-gevangenis vrygelaat, en ek was baie bly om weer saam met my gesin te wees! Ons dank Jehovah dat hy ons gehelp het om gedurende daardie moeilike tye ons onkreukbaarheid teenoor hom te handhaaf. Ons voel soos die apostel Paulus toe hy geskryf het: “Ons wil nie hê, broers, dat julle onkundig moet wees omtrent die verdrukking wat . . . oor ons gekom het nie . . . sodat ons selfs ons lewe glad nie seker was nie. Trouens, ons het by onsself gevoel dat ons die doodsvonnis ontvang het. Dit was sodat ons ons vertroue nie in onsself sou stel nie, maar in die God wat die dooies opwek. Uit iets so groot soos die dood het hy ons gered.”—2 Korintiërs 1:8-10.

Broer Nsomba en sy vrou, Lidasi, in 2004 voor ’n Koninkryksaal

Soms het dit gelyk asof ons die vervolging nie sou oorleef nie. Maar ons het altyd vir Jehovah gevra om vir ons moed, wysheid en nederigheid te gee sodat ons kon aanhou om sy groot naam te verheerlik.

Jehovah het ons diens aan hom ‘in gunstige tye en in moeilike tye’ geseën. Vandag is dit wonderlik om ’n pragtige takkantoor in Lilongwe te hê, asook meer as 1 000 nuwe Koninkryksale in Malawi! Vir my en Lidasi is hierdie seëninge wonderlik—dit is amper soos ’n droom! *—Sien voetnoot.

^ par. 6 Broers wat jong kinders in die huis het, word nie meer genooi om as kringopsieners te dien nie.

^ par. 27 Vir verdere inligting oor die vervolging in Malawi sien die 1999 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 171-223.

^ par. 31 Terwyl hierdie artikel voorberei is, is broer Nsomba op die ouderdom van 83 oorlede.