Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vertrou altyd op Jehovah!

Vertrou altyd op Jehovah!

“Vertrou te alle tye op hom, o volk.”—PSALM 62:8.

1-3. Waarom was Paulus oortuig dat hy op Jehovah kon vertrou? (Sien prent aan begin van artikel.)

AS JY in die eerste eeu ’n Christen in Rome was, sou dit vir jou ’n gevaarlike tyd gewees het. Die Christene is wreed deur die Romeine vervolg. Die Romeine het hulle daarvan beskuldig dat hulle ’n groot brand in Rome begin het en dat hulle mense haat. Baie van jou Christenbroers en -susters is in hegtenis geneem. Party is deur diere verskeur. Ander is aan pale vasgespyker en toe lewendig verbrand om die nag te verlig. Jy het elke dag geweet dat enigeen van hierdie dinge met jou kan gebeur.

2 Gedurende hierdie baie moeilike tyd is die apostel Paulus in die tronk gegooi. Hy het dalk gewonder of sy Christenbroers hom sou help, aangesien niemand hom by ’n vroeëre geleentheid gehelp het nie. Maar Paulus het hulp van Jehovah deur die Here Jesus ontvang. Hy het geskryf: “Die Here het naby my gestaan en my krag gegee.” Jesus het Paulus die krag gegee wat hy nodig gehad het. Paulus het selfs geskryf dat hy “uit die leeu se bek verlos” is.—2 Timoteus 4:16, 17. * (Sien voetnoot.)

3 Paulus het onthou hoe Jehovah hom in die verlede gehelp het. Daarom was hy oortuig dat Jehovah hom die nodige krag kon gee om die situasie waarin hy hom nou bevind het, asook enige toekomstige beproewinge, te verduur. Hy was so seker hiervan dat hy geskryf het: “Die Here sal my van elke goddelose werk verlos” (2 Timoteus 4:18). Paulus het geleer dat hy altyd op Jehovah en Jesus kon vertrou om hom te help, selfs wanneer sy broers hom nie kon help nie. Hy het glad nie hieraan getwyfel nie.

GELEENTHEDE OM OP JEHOVAH TE VERTROU

4, 5. (a) Wie kan altyd vir jou die hulp gee wat jy nodig het? (b) Hoe kan jy jou verhouding met Jehovah versterk?

4 Het jy al ooit ’n moeilike probleem gehad en gevoel dat jy alleen is, dat niemand jou kan help nie? Miskien het jy jou werk verloor of druk by die skool ondervind. Miskien was jy baie siek of het jy voor ’n ander moeilike beproewing te staan gekom. Dalk het jy ander mense vir hulp gevra, maar is jy teleurgestel omdat hulle jou nie die hulp gegee het wat jy nodig gehad het nie. Daar is natuurlik sekere probleme wat mense nie kan oplos nie. Wat sal jy dan doen? Die Bybel sê dat ons ‘op Jehovah moet vertrou’ (Spreuke 3:5, 6). Maar kan jy seker wees dat hy jou sal help? Ja! Daar is baie voorbeelde in die Bybel wat ons oortuig dat Jehovah sy volk werklik help.

’n Beproewing gee ons ’n geleentheid om ten volle op Jehovah te vertrou

5 Moenie verbitterd raak wanneer mense jou nie die hulp gee wat jy nodig het nie. Beskou die beproewing eerder, soos Paulus, as ’n geleentheid om ten volle op Jehovah te vertrou. Dit bied jou ook ’n geleentheid om sy liefdevolle sorg in jou eie lewe te ondervind. Jou vertroue in Jehovah en jou verhouding met hom sal dan sterker word.

ONS MOET OP JEHOVAH VERTROU

6. Waarom is dit dalk nie altyd maklik om op Jehovah te vertrou wanneer ons ’n moeilike probleem ondervind nie?

6 Miskien het jy ’n moeilike probleem wat jou ontstel. Jy het alles in jou vermoë gedoen om dit op te los, en jy het tot Jehovah gebid om jou te help. Kan jy nou kalm voel omdat jy die vertroue het dat hy jou sal help? Ja, jy kan! (Lees Psalm 62:8; 1 Petrus 5:7.) As jy ’n hegte verhouding met Jehovah wil hê, moet jy leer om op hom te vertrou. Maar dit is nie altyd maklik nie. Waarom nie? Een rede is dat Jehovah jou gebed dalk nie onmiddellik sal verhoor nie.—Psalm 13:1, 2; 74:10; 89:46; 90:13; Habakuk 1:2.

Jehovah, ons hemelse Vader, is lief vir ons en weet wat ons nodig het

7. Waarom verhoor Jehovah ons gebede nie altyd onmiddellik nie?

7 Waarom verhoor Jehovah ons gebede nie altyd onmiddellik nie? Die Bybel sê dat Jehovah ons Vader is en dat ons sy kinders is (Psalm 103:13). ’n Mensevader sal sy kind nie alles gee waarvoor hy vra of hom onmiddellik gee waarvoor hy vra nie. ’n Vader weet dat ’n kind soms vir iets vra en dit dan later nie meer wil hê nie. ’n Vader weet ook wat die beste is vir sy kind en hoe dit ander sal raak as hy sy versoek toestaan. Hy weet wat die kind nodig het en wanneer hy dit moet kry. As die vader die kind onmiddellik alles gee waarvoor hy vra, sal die vader die kind se slaaf word. Jehovah, ons hemelse Vader, is lief vir ons. As ons wyse Skepper weet hy wat ons nodig het en besluit hy wanneer dit die beste tyd is om ons te gee waarvoor ons vra. Dit is goed as ons op Jehovah wag om te sien hoe hy ons gebede verhoor.—Vergelyk Jesaja 29:16; 45:9.

8. Wat belowe Jehovah omtrent wat ons kan verduur?

8 Hou ook in gedagte dat Jehovah weet wat elkeen kan verduur en nie kan verduur nie (Psalm 103:14). Hy gee ons dus die krag wat ons nodig het. Soms voel ons dalk dat ons nie kan voortgaan nie. Maar Jehovah belowe dat hy “die uitweg [sal] gee” as die beproewing vir ons te moeilik word. (Lees 1 Korintiërs 10:13.) Dit is gerusstellend om te weet dat ons die vertroue kan hê dat Jehovah presies weet hoeveel ons kan verduur.

9. Wat moet ons doen as ons Jehovah in gebed vra om ons te help, maar ons nie onmiddellik hulp kry nie?

9 As ons Jehovah in gebed vra om ons te help, maar nie onmiddellik hulp kry nie, moet ons geduldig wees. Hou in gedagte dat Jehovah gretig is om ons te help, maar dat hy geduldig wag vir die beste tyd om ons te gee wat ons nodig het. Die Bybel sê vir ons: “Jehovah [sal] vol verwagting daarna uitsien om aan julle guns te betoon, en daarom sal hy opstaan om aan julle barmhartigheid te bewys. Want Jehovah is ’n God van oordeel. Gelukkig is almal wat in afwagting van hom bly.”—Jesaja 30:18.

“DIE LEEU SE BEK”

10-12. (a) Waarom sal dit dalk moeilik wees om ’n siek familielid te versorg? (b) Watter uitwerking sal dit op jou verhouding met Jehovah hê as jy gedurende moeilike tye op hom vertrou? Gee ’n voorbeeld.

10 Jou situasie is dalk so moeilik dat jy soos Paulus voel en uit “die leeu se bek” gered moet word (2 Timoteus 4:17). Gedurende sulke tye is dit uiters noodsaaklik dat jy op Jehovah vertrou. Byvoorbeeld, jy sorg miskien vir ’n familielid wat siek is. Jy het Jehovah gevra om jou te help om goeie besluite te neem en om sterk te wees. * (Sien voetnoot.) Jy kan nou ’n mate van gemoedsrus hê omdat jy besef dat Jehovah jou en jou situasie sien en verstaan. Hy sal jou help om te volhard en om getrou aan hom te wees.—Psalm 32:8.

Vertrou dat jou hemelse Vader jou die krag sal gee om hom getrou te gehoorsaam

11 Soms lyk dit dalk asof Jehovah jou nie help nie. Miskien stem die dokters nie saam oor wat gedoen moet word nie. Of jy het gehoop dat jou familielede jou sal vertroos, maar dit voel vir jou of hulle sake net vererger. Vertrou altyd op Jehovah om jou krag te gee. Hou aan om nader aan hom te kom. (Lees 1 Samuel 30:3, 6.) Later, wanneer jy besef hoe Jehovah jou gehelp het, sal jou verhouding met hom sterker wees.

12 Dit is hoe Linda gevoel het. * (Sien voetnoot.) Sy het haar ouers, wat jare lank siek was, tot die dag van hulle dood versorg. Sy sê: “Dit was dikwels vir my, my man en my broer moeilik om te weet wat om in hierdie situasie te doen. Ons het soms hulpeloos gevoel. Maar wanneer ons terugkyk, kan ons duidelik sien hoe Jehovah met ons was. Hy het ons versterk en het voorsien presies wat ons nodig gehad het, selfs toe ons nie geweet het watter kant toe nie.”

13. Hoe het vertroue in Jehovah Rhonda gehelp om die een tragedie ná die ander te verwerk?

13 Ons volkome vertroue in Jehovah sal ons selfs help om tragedies te verwerk. Dit is wat Rhonda ondervind het. Haar man, wat nie een van Jehovah se Getuies is nie, was besig om van haar te skei. Gedurende hierdie tyd het haar broer uitgevind dat hy ’n baie ernstige siekte het wat lupus genoem word. En toe, ’n paar maande later, het haar broer se vrou gesterf. Terwyl Rhonda van die skok van al hierdie gebeure herstel het, het sy as ’n gewone pionier begin dien. Maar toe is haar ma oorlede. Wat het Rhonda in staat gestel om hierdie tragedies te verwerk? Sy sê: “Ek het elke dag met Jehovah gepraat, selfs oor klein besluite. Dit het Jehovah ’n werklike persoon vir my laat word. Dit het my geleer om eerder op hom te vertrou as op myself of selfs op ander mense. En hy het my werklik gehelp—hy het in al my behoeftes voorsien. Nou weet ek hoe dit voel om ten nouste met Jehovah saam te werk.”

Selfs situasies in die gesin kan jou verhouding met Jehovah op die proef stel (Sien paragrawe 14-16)

14. Hoe kan Jehovah jou help as een van jou gesinslede uitgesit word?

14 Dink aan nog ’n moeilike situasie. Dalk is een van jou gesinslede uitgesit. Jy weet wat die Bybel sê oor hoe ons uitgesette persone moet behandel (1 Korintiërs 5:11; 2 Johannes 10). Maar omdat jy vir die persoon lief is, voel jy miskien dat dit baie moeilik of selfs onmoontlik is om die Bybel se bevel te gehoorsaam. Sal jy die vertroue hê dat jou hemelse Vader jou die krag sal gee om hom getrou te gehoorsaam? Sal jy hierdie situasie beskou as ’n geleentheid om nader aan Jehovah te kom?

15. Waarom was Adam ongehoorsaam aan Jehovah?

15 Hoe hou hierdie situasie verband met die situasie waarin die eerste mens, Adam, hom bevind het? Het hy gedink dat hy aan Jehovah ongehoorsaam kon wees en nog steeds kon bly lewe? Nee, Adam is “nie bedrieg nie” (1 Timoteus 2:14). Waarom was hy dan ongehoorsaam aan Jehovah? Adam het die vrug geëet wat sy vrou vir hom gegee het omdat hy liewer was vir sy vrou as vir Jehovah. Hy het eerder na sy vrou as na Jehovah se bevel geluister.—Genesis 3:6, 17.

16. Vir wie moet ons die liefste wees, en waarom?

16 Adam se besluit leer ons dat ons vir Jehovah liewer moet wees as vir enigiemand anders. (Lees Matteus 22:37, 38.) En as ons liefde vir Jehovah so sterk is, sal ons ons gesinslede op die beste manier kan help, hetsy hulle Jehovah dien of nie. Hou dus aan om jou liefde vir Jehovah en jou vertroue in hom te versterk. As jy bekommerd is oor ’n uitgesette gesinslid, kan jy tot Jehovah bid en jou hart voor hom uitstort (Romeine 12:12; Filippense 4:6, 7). * (Sien voetnoot.) Al is dit vir jou ’n baie pynlike situasie, moet jy dit beskou as ’n geleentheid om jou verhouding met Jehovah nog meer te versterk. Dan sal jy op hom kan vertrou en besef dat gehoorsaamheid aan hom die grootste voordele sal meebring.

TERWYL ONS WAG

Wys vir Jehovah dat jy op hom vertrou deur besig te bly in die predikingswerk (Sien paragraaf 17)

17. Watter vertroue kan ons in Jehovah hê as ons besig bly in die predikingswerk?

17 Waarom het Jehovah Paulus uit “die leeu se bek” gered? Paulus sê: “Sodat deur my die prediking ten volle uitgevoer kon word” (2 Timoteus 4:17). Jehovah het ook vir ons die werk gegee om “die goeie nuus” te verkondig, en hy noem ons sy “medewerkers” (1 Tessalonisense 2:4; 1 Korintiërs 3:9). As ons so besig as moontlik bly in hierdie werk, kan ons die vertroue hê dat Jehovah ons alles sal gee wat ons nodig het (Matteus 6:33). En dit sal vir ons makliker wees om op Jehovah te wag om ons gebede te verhoor.

18. Hoe kan jy jou vertroue in Jehovah opbou en jou verhouding met hom versterk?

18 Gebruik dus elke dag om jou verhouding met Jehovah te versterk. Wanneer jy voor ’n beproewing te staan kom en angstig voel, moet jy dit as ’n geleentheid beskou om nader aan Jehovah te kom. Lees, studeer en peins oor God se Woord, die Bybel. Hou aan om tot Jehovah te bid, en bly besig in sy diens. As jy dit alles doen, kan jy die vertroue hê dat Jehovah jou sal help om al die beproewinge te verduur wat jy nou ondervind, sowel as dié waarvoor jy moontlik in die toekoms te staan sal kom.

^ par. 2 Paulus is moontlik van letterlike leeus of uit ’n ander gevaarlike situasie verlos.

^ par. 10 Daar is al artikels gepubliseer om Christene te help om siekte te verduur en om diegene te help wat hulle versorg. Sien die Ontwaak! van 8 Februarie 1994;  ;  ; 8 Februarie 1997;  ;  ; 22 Mei 2000 en   en   en 22 Januarie 2001.

^ par. 12 Name is verander.

^ par. 16 Daar is al artikels gepubliseer om ons te help as ’n gesinslid Jehovah verlaat. Sien Die Wagtoring van 1 September 2006, bladsye 17-21, en 15 Januarie 2007, bladsye 17-20.