Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulle het die dinge “gesien” wat belowe is

Hulle het die dinge “gesien” wat belowe is

“Hulle [het] nie die vervulling van die beloftes verkry . . . nie, maar hulle het dit van ver gesien.”—HEBREËRS 11:13.

1. Waarom is dit goed dat ons die vermoë het om dinge in ons verbeelding te sien? (Sien prent aan begin van artikel.)

JEHOVAH het vir ons ’n wonderlike gawe gegee. Dit is die vermoë om dinge wat ons nog nie gesien het nie, in ons verbeelding te sien. Hierdie vermoë help ons om na goeie dinge in die toekoms uit te sien, sowel as om vooruit te beplan en probleme te vermy. Jehovah weet wat die toekoms inhou en hy vertel ons van party van die dinge waarna ons kan uitsien. Al kan ons dit nie met ons letterlike oë sien nie, kan ons dit in ons verbeelding sien en geloof hê dat dit ’n werklikheid sal word.—2 Korintiërs 4:18.

2, 3. (a) Hoe kan ons verbeelding ons help? (b) Watter vrae sal in hierdie artikel beantwoord word?

2 Soms sien ons natuurlik dinge in ons verbeelding wat nooit sal gebeur nie. Byvoorbeeld, ’n dogtertjie verbeel haar miskien dat sy op ’n skoenlapper se rug ry. Dit sal natuurlik nooit ’n werklikheid word nie. Samuel se moeder, Hanna, het haar egter dinge voorgestel wat wel ’n werklikheid sou word. Sy het bly dink aan die dag dat sy haar seun na die tabernakel sou neem om saam met die priesters te werk. Dit was nie net ’n droom nie. Dit was iets wat sy besluit het om te doen. Omdat Hanna daardie dag in haar verbeelding bly sien het, het sy die krag gehad om haar belofte aan Jehovah te hou (1 Samuel 1:22). Wanneer ons in ons verbeelding sien hoe Jehovah se beloftes vervul word, sien ons dinge wat werklik sal gebeur.—2 Petrus 1:19-21.

3 Baie van Jehovah se knegte in Bybeltye kon in hulle verbeelding sien wat hy belowe het. Waarom was dit vir hulle voordelig om dit te doen? Waarom is dit ook vir ons voordelig om in ons verbeelding te sien watter soort lewe ons sal hê wanneer God se beloftes bewaarheid word?

HULLE GELOOF IS VERSTERK TOE HULLE DIE TOEKOMS IN HULLE VERBEELDING GESIEN HET

4. Waarom kon Abel hom ’n beter toekoms voorstel?

4 Abel was die eerste mens wat geloof in Jehovah se beloftes gestel het. Hy het geweet wat Jehovah vir die slang gesê het nadat Adam en Eva gesondig het: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen wond” (Genesis 3:14, 15). Abel het nie geweet presies hoe dit sou gebeur nie. Maar hy het ongetwyfeld baie nagedink oor wat God gesê het. Abel het moontlik gewonder: ‘Wie is die een wat deur die slang gewond sal word en wat mense sal help om weer volmaak te word?’ Abel het geloof gehad dat alles wat Jehovah belowe het, bewaarheid sal word, en toe hy ’n offerande gebring het, het dit Jehovah behaag.—Lees Genesis 4:3-5; Hebreërs 11:4.

5. Waarom was dit vir Henog voordelig om hom voor te stel hoe die toekoms sal wees?

5 Henog het ook sterk geloof in God gehad. Hy was omring deur goddelose mense wat “skokkende dinge” teen God gespreek het. Maar Henog was moedig en het God se boodskap verkondig. Hy het vir mense gesê dat Jehovah die goddeloses sal vernietig (Judas 14, 15). Wat het hom gehelp om dit te doen? Henog het moontlik in sy verbeelding gesien hoe die wêreld sal wees wanneer almal Jehovah dien.—Lees Hebreërs 11:5, 6.

6. Waaraan het Noag moontlik ná die Vloed gedink?

6 Noag het geloof in Jehovah gestel, en daarom is hy nie in die Vloed vernietig nie (Hebreërs 11:7). Noag se geloof het hom ook beweeg om diereofferandes aan Jehovah te bring (Genesis 8:20). Ná die Vloed het die wêreld weer goddeloos geword. Nimrod het begin regeer en hy wou hê dat mense teen Jehovah in opstand moet kom (Genesis 10:8-12). Maar Noag se geloof het sterk gebly. Soos Abel, was hy seker dat God sonde en die dood eendag sal verwyder. Noag het moontlik ook gedink aan die tyd in die toekoms wanneer daar geen wrede heersers sal wees nie. Ons kan ook hierdie wonderlike tyd, wat nou baie naby is, in ons verbeelding sien!—Romeine 6:23.

HULLE HET IN HULLE VERBEELDING GESIEN HOE GOD SE BELOFTES VERVUL SAL WORD

7. Na watter toekoms kon Abraham, Isak en Jakob uitsien?

7 Abraham, Isak en Jakob kon ’n wonderlike toekoms in hulle verbeelding sien. Jehovah het hulle belowe dat mense van al die nasies deur middel van hulle “saad” geseën sal word (Genesis 22:18; 26:4; 28:14). God het hulle ook belowe dat hulle nakomelinge ’n groot nasie sal word en in die pragtige Beloofde Land sal woon (Genesis 15:5-7). Abraham, Isak en Jakob kon duidelik in hulle verbeelding sien hoe hulle nageslag reeds in daardie land woon, want hulle het geweet dat Jehovah se beloftes vervul sal word. Sedert die sondeval in Eden het Jehovah sy lojale knegte gehelp om te begryp hoe mense in die toekoms weer volmaakte lewe sal hê.

8. Wat het Abraham gehelp om sterk geloof te hê en gehoorsaam te wees?

8 Abraham het sterk geloof gehad, en daarom was hy selfs onder baie moeilike omstandighede gehoorsaam aan Jehovah. Al sou Abraham en ander lojale knegte nie die vervulling van Jehovah se beloftes in hulle leeftyd sien nie, kon hulle dit duidelik in hulle verbeelding sien. Die Bybel sê: “Hulle het dit van ver gesien en dit verwelkom.” (Lees Hebreërs 11:8-13.) Omdat Abraham geweet het dat Jehovah sy beloftes nog altyd nagekom het, was hy seker dat al Jehovah se beloftes oor die toekoms ook vervul sal word.

Mense in Bybeltye het uitgesien na die tyd wanneer Jehovah en sy regering vir ewig oor die aarde sal regeer

9. Hoe het Abraham se geloof in God se beloftes hom gehelp?

9 Abraham se geloof in Jehovah se beloftes het hom vasbeslote gemaak om te doen wat Jehovah van hom gevra het. Hy het byvoorbeeld sy huis in die stad Ur agtergelaat en nooit weer permanent in ’n stad gewoon nie. Hy het geweet dat die stede om hom nie vir ewig sou bestaan nie omdat hulle heersers Jehovah nie gedien het nie (Josua 24:2). Abraham het uitgesien na die tyd wanneer Jehovah en sy regering vir ewig oor die aarde sal regeer. Hierdie regering is “die stad wat ware fondamente het, waarvan God die bouer en maker is” (Hebreërs 11:10). Abraham sowel as Abel, Henog, Noag en ander het aan die opstanding geglo. Elke keer wanneer hulle aan die ewige lewe op ’n pragtige aarde gedink het, het hulle geloof in Jehovah nog sterker geword.—Lees Hebreërs 11:15, 16.

10. Wat kon Sara haar voorstel weens Jehovah se belofte aan Abraham?

10 Abraham se vrou, Sara, het ook sterk geloof in Jehovah se beloftes gehad. Selfs toe sy 90 jaar oud en kinderloos was, het sy uitgesien na die tyd wanneer sy ’n kind sou hê. Sara kon selfs in haar verbeelding sien hoe haar nakomelinge ’n groot nasie word (Hebreërs 11:11, 12). Waarom kon sy so seker daarvan wees? Omdat Jehovah vir haar man gesê het: “Ek sal haar seën en jou ook ’n seun uit haar gee; en ek sal haar seën, en sy sal nasies word; konings van volke sal uit haar voortkom” (Genesis 17:16). Net soos Jehovah belowe het, het Sara ’n seun gehad, wat Isak genoem is. Hierdie wonderwerk het haar daarvan oortuig dat Jehovah sy belofte ten volle sal vervul. Ons kan ons geloof ook versterk wanneer ons al die wonderlike dinge wat Jehovah ons belowe het, in ons verbeelding sien.

HY HET AAN DIE BELONING BLY DINK

11, 12. Waarom het Moses se liefde vir Jehovah toegeneem?

11 Moses het ook geloof in Jehovah se beloftes gestel. Hy is as ’n prins in Egipte grootgemaak. Maar omdat Moses groter liefde vir Jehovah gehad het as vir enigiets anders, het hy nie in mag en rykdom belanggestel nie. Sy Hebreeuse ouers het hom van Jehovah geleer, sowel as van Jehovah se belofte om die Hebreërs uit slawerny te bevry en hulle die Beloofde Land te gee (Genesis 13:14, 15; Eksodus 2:5-10). Hoe meer Moses oor hierdie beloftes nagedink het, hoe groter het sy liefde vir Jehovah geword.

12 Die Bybel sê vir ons waaroor Moses bly nadink het: “Deur geloof het Moses, nadat hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word en verkies om liewer saam met die volk van God sleg behandel te word as om die tydelike genieting van sonde te hê, omdat hy die smaad van die Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte; want hy het sy blik stip op die beloning gerig gehou.”—Hebreërs 11:24-26.

13. Waarom was dit vir Moses voordelig om oor Jehovah se beloftes na te dink?

13 Moses het sekerlik diep nagedink oor Jehovah se belofte om die Hebreërs uit slawerny te bevry. Soos ander knegte van Jehovah, het Moses ook geweet dat Jehovah die mensdom uit die kloue van die dood sal bevry (Job 14:14, 15; Hebreërs 11:17-19). Moses het dus besef hoe lief Jehovah vir mense is. Dit het Moses se liefde vir Jehovah nog meer laat toeneem en sy geloof in hom versterk. Dit het hom gehelp om Jehovah sy hele lewe lank te dien (Deuteronomium 6:4, 5). Selfs toe Farao hom wou doodmaak, was Moses nie bang nie. Hy het geweet dat Jehovah hom in die toekoms sou beloon.—Eksodus 10:28, 29.

STEL JOU VOOR WAT GOD SE REGERING SAL DOEN

Kan jy jou in die nuwe wêreld sien wat Jehovah belowe het? (Sien paragraaf 15)

14. Wat stel party mense hulle voor sal in die toekoms gebeur?

14 Baie mense dink aan die toekoms en sien dinge in hulle verbeelding wat nooit sal gebeur nie. Byvoorbeeld, party mense wat baie arm is, droom dat hulle ryk sal word en geen bekommernisse sal hê nie. Maar die Bybel sê dat die lewe in Satan se wêreld altyd “vol moeite en skadelike dinge” sal wees (Psalm 90:10). Ander dink dat ’n menseregering die wêreld se probleme sal oplos. Maar die Bybel sê dat slegs God se regering dit kan doen (Daniël 2:44). En baie mense dink dat die wêreld nooit sal verander nie. Maar die Bybel sê dat God hierdie goddelose wêreld sal vernietig (Sefanja 1:18; 1 Johannes 2:15-17). Diegene wat verwagtinge koester wat in stryd is met wat Jehovah sê, sal baie teleurgesteld wees.

15. (a) Waarom is dit goed om na te dink oor die toekoms wat God ons belowe het? (b) Wat is een van die dinge waarna jy uitsien?

15 Jehovah het ons ’n wonderlike toekoms belowe. Wanneer ons nadink oor daardie tyd, maak dit ons gelukkiger en gee dit ons die nodige moed om aan te hou om hom te dien. Kan jy in jou verbeelding sien hoe jy die dinge geniet wat Jehovah jou belowe het, hetsy jy in die hemel of op die aarde sal wees? As jy daarna uitsien om vir ewig op die aarde te lewe, kan jy jou voorstel hoe jy saam met jou vriende werk om die aarde in ’n pragtige paradys te omskep. Diegene wat toesig hou oor hierdie werk, gee vir jou om. Jy en almal om jou is lief vir Jehovah. Jy is gesond, het baie energie en het geen bekommernisse nie. Jy is gelukkig omdat jy jou talente en vaardighede kan gebruik om ander te help en om Jehovah te eer. Dalk het jy selfs die voorreg om mense wat uit die dood opgewek is, te help om Jehovah te leer ken (Johannes 17:3; Handelinge 24:15). As jy hierdie dinge in jou verbeelding sien, is dit nie wensdenkery nie. Dit sal alles bewaarheid word omdat dit gegrond is op Bybelprofesieë oor die toekoms.—Jesaja 11:9; 25:8; 33:24; 35:5-7; 65:22.

GESELS OOR DIE DINGE WAARNA JY UITSIEN

16, 17. Waarom is dit goed om te gesels oor die toekoms wat Jehovah ons belowe?

16 Wanneer ons met ons broers en susters gesels oor die dinge wat ons graag in die nuwe wêreld wil doen, help ons mekaar om hierdie pragtige toekoms duideliker in ons verbeelding te sien. Ons weet natuurlik nie presies wat elkeen van ons sal doen nie. Maar wanneer ons gesels oor die dinge waarna ons uitsien, toon ons dat ons geloof het in Jehovah se beloftes. Op hierdie manier spoor ons mekaar aan om Jehovah in moeilike tye te bly dien, net soos die apostel Paulus en sy broers in Rome gedoen het.—Romeine 1:11, 12.

17 Hoe meer jy aan die toekoms dink wat Jehovah belowe het, hoe minder sal jy aan jou eie probleme dink. Toe Petrus eenkeer bekommerd was, het hy vir Jesus gesê: “Kyk! Ons het alles verlaat en u gevolg; wat sal daar dan vir ons wees?” Jesus wou hê dat Petrus en die ander dissipels moet dink aan die wonderlike dinge wat hulle in die toekoms sou doen. Hy het vir hulle gesê: “Wanneer die Seun van die mens op sy glorieryke troon gaan sit, sal ook julle wat my gevolg het, op twaalf trone sit en die twaalf stamme van Israel oordeel. En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of landerye ter wille van my naam verlaat het, sal baie keer soveel ontvang en die ewige lewe beërf” (Matteus 19:27-29). Petrus en die ander dissipels kon dus in hulle verbeelding sien hoe hulle saam met Jesus in die hemel regeer en gehoorsame mense op die aarde help om volmaak te word.

18. Waarom is dit goed om ons voor te stel hoe dit sal wees wanneer God sy beloftes vervul?

18 Ons het geleer wat Jehovah se knegte gehelp het om sterk geloof te hê. Abel het in sy verbeelding gesien hoe Jehovah se belofte van ’n beter toekoms vervul word, en weens sy geloof in hierdie belofte het hy Jehovah behaag. Abraham het in sy verbeelding gesien hoe Jehovah se beloftes oor die “saad” vervul word, en daarom was hy gehoorsaam aan Jehovah, selfs wanneer dit baie moeilik was (Genesis 3:15). Moses het uitgesien na die beloning wat Jehovah hom belowe het, en dit het hom gehelp om vir Jehovah lief te wees en aan hom getrou te bly (Hebreërs 11:26). Wanneer ons ons voorstel hoe dit sal wees wanneer Jehovah al sy beloftes vervul, sal ons geloof in Jehovah en ons liefde vir hom sterker word. In die volgende artikel sal ons nog ’n manier bespreek waarop ons ons verbeelding kan gebruik.