Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Wie is Gog van Magog wat in die boek Esegiël genoem word?

Ons publikasies het jare lank gesê dat die naam Gog van Magog na Satan verwys nadat hy uit die hemel gewerp is. Waarom? Omdat die boek Openbaring Satan identifiseer as die leier van die wêreldwye aanval teen God se volk (Openbaring 12:1-17). Ons het dus verstaan dat Gog ’n ander naam vir Satan moet wees.

Hierdie verduideliking het egter ’n paar vrae laat ontstaan. Dink aan die volgende: Toe Jehovah oor Gog se vernietiging gepraat het, het hy gesê dat hy Gog “aan roofvoëls, al die verskillende soorte voëls, en die wilde diere van die veld . . . as voedsel [sal] gee” (Esegiël 39:4). Toe het Jehovah bygevoeg: “In dié dag sal ek aan Gog daar ’n plek gee, ’n graf in Israel” (Esegiël 39:11). Maar hoe sou Satan, ’n onsigbare geesskepsel, deur voëls en wilde diere geëet kon word? Hoe sou hy op die aarde begrawe kon word? Die Bybel toon duidelik dat Satan vir 1 000 jaar in die afgrond gewerp sal word. Hy sal nie geëet of begrawe word nie.—Openbaring 20:1, 2.

Die Bybel sê dat Satan aan die einde van die 1 000 jaar uit die afgrond vrygelaat sal word en dat “hy sal uitgaan om daardie nasies te mislei wat in die vier hoeke van die aarde is, Gog en Magog, om hulle vir die oorlog te versamel” (Openbaring 20:8). Maar as Satan Gog is, beteken dit dat hy homself sal moet mislei. In die boek Esegiël sowel as in die boek Openbaring verwys “Gog” dus nie na Satan nie.

Wie is Gog van Magog dan? Om die antwoord te vind, moet ons die Bybel ondersoek om uit te vind wie God se volk sal aanval. Die Bybel maak melding van die aanval deur ‘Gog van Magog’, die aanval deur “die koning van die noorde” en die aanval deur “die konings van die aarde” (Esegiël 38:2, 10-13; Daniël 11:40, 44, 45; Openbaring 17:14; 19:19). Is dit verskillende aanvalle? Waarskynlik nie. Dit wil voorkom of die Bybel verskillende benamings gebruik om dieselfde aanval te beskryf. Waarom sê ons so? Omdat die Bybel vir ons sê dat al die nasies van die aarde betrokke sal wees by hierdie finale aanval wat die oorlog van Armageddon sal laat losbreek.—Openbaring 16:14, 16.

Wanneer ons al hierdie Bybelverse oor die finale aanval op God se volk met mekaar vergelyk, is dit duidelik dat die naam Gog van Magog nie na Satan verwys nie. Gog van Magog verwys eerder na ’n bondgenootskap van nasies, oftewel ’n groep nasies. Sal “die koning van die noorde” hierdie groep lei? Ons kan nie met sekerheid sê nie. Maar dit wil voorkom of hierdie verduideliking strook met wat Jehovah oor Gog sê: “Jy sal beslis uit jou plek kom, uit die mees afgeleë dele van die noorde, jy en baie volke saam met jou wat almal op perde ry, ’n groot vergadering, ja, ’n talryke krygsmag.”—Esegiël 38:6, 15.

Die profeet Daniël, ’n tydgenoot van Esegiël, sê eweneens omtrent die koning van die noorde: “Daar sal berigte wees wat hom sal ontstel, vanuit die sonsopgang en vanuit die noorde, en hy sal beslis met ’n groot woede uitgaan om te verdelg en om baie aan vernietiging oor te gee. En hy sal sy paleistente tussen die groot see en die heilige Sieraadberg opslaan; en hy sal geheel en al tot sy einde moet kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie” (Daniël 11:44, 45). Dit is soortgelyk aan wat die boek Esegiël oor Gog se optrede sê.—Esegiël 38:8-12, 16.

Wat sal ná die finale aanval gebeur? Daniël sê vir ons: “Gedurende daardie tyd sal Migael [Jesus Christus] opstaan [by Armageddon], die groot vors wat ten behoewe van die kinders van jou volk staan [sedert 1914]. En daar sal beslis ’n tyd van benoudheid [die groot verdrukking] wees soos daar nie was sedert ’n nasie ontstaan het tot op daardie tyd nie. En gedurende daardie tyd sal jou volk ontkom, elkeen wat in die boek opgeskryf gevind word” (Daniël 12:1). In Openbaring 19:11-21 vind ons ’n soortgelyke beskrywing van wat Jesus sal doen.

Maar wie is “Gog en Magog” wat in Openbaring 20:8 genoem word? Hierdie naam verwys na almal wat gedurende die finale toets aan die einde van die 1 000 jaar teen Jehovah in opstand kom en sy volk aanval. Hulle sal dieselfde hatige gesindheid hê as Gog van Magog, die nasies wat God se volk aan die einde van die groot verdrukking aanval. En albei groepe sal presies dieselfde uiteinde hê—ewige vernietiging! (Openbaring 19:20, 21; 20:9). Dit lyk dus gepas om almal wat aan die einde van die 1 000 jaar in opstand kom, “Gog en Magog” te noem.

As ernstige Bybelstudente is ons gretig om uit te vind wie in die nabye toekoms “die koning van die noorde” sal wees. Maar ongeag wie die nasies lei in die aanval teen God se volk, ons kan seker wees van twee dinge: (1) Gog van Magog en sy leërs sal verslaan en vernietig word. (2) Ons Koning, Jesus Christus, sal God se volk red en hulle in ’n nuwe wêreld van vrede en ware veiligheid inbring.—Openbaring 7:14-17.