Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Volg die Een na wat die ewige lewe belowe

Volg die Een na wat die ewige lewe belowe

“Word . . . navolgers van God, as geliefde kinders.” —EFESIËRS 5:1.

1. Watter vermoë kan ons help om Jehovah na te volg?

JEHOVAH het ons geskep met die vermoë om te verstaan hoe ander mense voel, selfs al was ons nog nooit in hulle situasie nie. (Lees Efesiërs 5:1, 2.) Hoe kan hierdie vermoë ons help om Jehovah na te volg? En waarom moet ons hierdie vermoë wyslik gebruik?

2. Hoe voel Jehovah wanneer ons ly?

2 Jehovah belowe ons ’n wonderlike toekoms sonder enige lyding. Die gesalfdes sowel as die “ander skape” kan uitsien na die ewige lewe, hetsy in die hemel of op die aarde (Johannes 10:16; 17:3; 1 Korintiërs 15:53). Maar Jehovah verstaan hoe ons voel wanneer slegte dinge met ons gebeur. Toe die Israeliete swaargekry het in Egipte, het dit Jehovah seergemaak. “Dit [het] vir hom benoudheid veroorsaak” (Jesaja 63:9). En later, toe sy volk sy tempel herbou het en bang was vir hulle vyande, het Jehovah verstaan hoe hulle voel. Hy het vir hulle gesê: “Wie aan julle raak, raak aan my oogappel” (Sagaria 2:8). Net soos ’n ma lief is vir haar baba, is Jehovah lief vir sy knegte en wil hy hulle help (Jesaja 49:15). Ons volg Jehovah se liefde na wanneer ons probeer verstaan hoe ander voel deur ons in hulle situasie in te dink.—Psalm 103:13, 14.

JESUS HET JEHOVAH SE LIEFDE NAGEVOLG

3. Hoe het Jesus oor mense gevoel?

3 Jesus het geweet hoe mense voel wanneer hulle ly, al was hy nooit self in hulle situasie nie. Hy het byvoorbeeld geweet dat die lewe vir baie mense moeilik is. Die godsdiensleiers het vir hulle leuens vertel en baie reëls gemaak wat nie van God af gekom het nie. Mense was bang vir hierdie leiers (Matteus 23:4; Markus 7:1-5; Johannes 7:13). Al was Jesus nie vir hulle bang nie en al het hy nie hulle leuens geglo nie, het hy verstaan hoe die mense in sy dag voel. Dit het Jesus baie seergemaak toe hy sien hoe sleg hulle behandel word. Hulle was hulpeloos, soos “skape sonder ’n herder” (Matteus 9:36). Jesus het by sy Vader geleer om lief te wees vir mense en om “barmhartig en genadig” te wees.—Psalm 103:8.

4. Hoe het Jesus gereageer wanneer hy mense sien ly het?

4 Wanneer Jesus mense sien ly het, het hy hulle gehelp omdat hy vir hulle lief was. Hy was net soos sy Vader. Byvoorbeeld, toe Jesus se apostels eenkeer ver gereis het om te preek, was hulle moeg en wou hulle na ’n stil plek toe gaan om ’n bietjie te rus. Maar Jesus het gesien dat baie mense vir hom wag. Hy het “hulle baie dinge begin leer” omdat hy besef het dat hulle sy hulp nodig het.—Markus 6:30, 31, 34.

VOLG JEHOVAH SE LIEFDE NA

5, 6. Wat moet ons doen as ons Jehovah se liefde wil navolg? Gee ’n voorbeeld. (Sien prent aan begin van artikel.)

5 Wat moet ons doen as ons Jehovah se liefde wil navolg? Dink aan die volgende situasie. ’n Jong broer met die naam Alan dink aan ’n bejaarde broer wat sukkel om te loop en wat nie goed kan sien nie. Alan dink aan Jesus se woorde: “Net soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen” (Lukas 6:31). Daarom vra Alan hom af: ‘Wat wil ek hê moet mense aan my doen?’ Dan sê hy: ‘Ek wil graag hê dat hulle saam met my sokker moet speel!’ Maar hierdie bejaarde broer kan nie rondhardloop en sokker speel nie. Alan behoort hom dus eintlik af te vra: ‘As ek hierdie broer was, wat sou ek graag wou hê dat ander aan my moet doen?’

6 Al is Alan nog jonk, probeer hy hom voorstel hoe hy sou voel as hy bejaard was. Hy bring tyd saam met die bejaarde broer deur en luister aandagtig wanneer hy praat. Dan begin hy agterkom dat dit vir die broer moeilik is om die Bybel te lees en om in die bediening van huis tot huis te stap. Alan besef hoe hy hom kan help en wil hom graag help. Wanneer ons verstaan hoe ander mense voel en liefde aan hulle betoon, volg ons Jehovah na.—1 Korintiërs 12:26.

Volg Jehovah se goedhartigheid na (Sien paragraaf 7)

7. Wat moet ons doen om te verstaan wat ons broers deurmaak?

7 Dit is nie altyd maklik om te verstaan wat ander mense deurmaak nie, veral as ons nog nooit in hulle situasie was nie. Byvoorbeeld, baie van ons broers ondervind probleme weens siekte, beserings of die ouderdom. Ander het te kampe met emosionele probleme weens depressie, angstigheid of omdat hulle in die verlede gemolesteer is. Ander is enkelouers of het gesinslede wat Jehovah nie dien nie. Almal het probleme, en ons het die meeste van hierdie probleme dalk nog nie self ondervind nie. Maar ons wil liefde aan ander betoon en hulle help. Wat kan ons dus doen? Wel, elkeen het moontlik iets anders nodig. As ons dus aandagtig na die persoon luister en heeltyd probeer verstaan hoe hy voel, sal ons weet wat die beste manier is om hom te help. Ons kan hom herinner aan hoe Jehovah sy probleem beskou. Of miskien kan ons hom op ander maniere help. Wanneer ons dit doen, volg ons Jehovah na.—Lees Romeine 12:15; 1 Petrus 3:8.

VOLG JEHOVAH SE GOEDHARTIGHEID NA

8. Wat het Jesus gehelp om goedhartig te wees?

8 Jehovah is goedhartig teenoor alle mense (Lukas 6:35). En Jesus is net soos sy Vader. Wat het Jesus gehelp om goedhartig teenoor mense te wees toe hy op die aarde was? Hy het gedink aan hoe sy woorde en dade ander sou raak. Eenkeer het ’n vrou wat ’n baie slegte lewe gelei het, na Jesus toe gekom. Sy het so gehuil dat haar trane op Jesus se voete geval het. Jesus kon sien dat sy baie spyt was oor die slegte dinge wat sy gedoen het en dat sy berou gehad het. Hy het besef dat sy nog slegter sou voel as hy onvriendelik teenoor haar sou wees. Daarom het hy haar geprys vir haar goeie daad en haar vergewe. Jesus het ook op ’n goedhartige manier gepraat met ’n Fariseër wat nie gehou het van wat hy vir hierdie vrou gedoen het nie.—Lukas 7:36-48.

Voordat ons ’n besluit neem, kan ons dink aan hoe dit ons of ander sal raak

9. Wat kan ons help om Jehovah se goedhartigheid na te volg? Gee ’n voorbeeld.

9 Hoe kan ons Jehovah se goedhartigheid navolg? Ons moet dink voordat ons iets sê of doen om seker te maak dat ons ander met teerheid behandel en nie hulle gevoelens seermaak nie. Paulus het geskryf dat ’n Christen ‘nie hoef te stry nie, maar teer moet wees teenoor almal’ (2 Timoteus 2:24). Dink byvoorbeeld hoe jy in die volgende situasies goedhartig kan wees: Wat sal jy doen as jou bestuurder by die werk nie sy verantwoordelikhede nakom nie? Wat sal jy vir ’n broer sê wat na ’n vergadering toe kom nadat hy maande lank nie by die Koninkryksaal was nie? Hoe kan jy goedhartigheid betoon aan iemand wat in die bediening vir jou sê dat hy te besig is om met jou te praat? Sal jy op ’n goedhartige manier met jou vrou praat as sy jou vra waarom jy haar nie vertel het van reëlings wat jy gemaak het nie? Ons moet ons in ander se posisie stel en dink aan hoe ons woorde hulle kan raak. Dan sal ons Jehovah se goedhartigheid in woord en daad kan navolg.—Lees Spreuke 15:28.

VOLG JEHOVAH SE WYSHEID NA

10, 11. Hoe kan ons by Jehovah leer en wys wees? Gee ’n voorbeeld.

10 Jehovah besit ontsaglike wysheid en hy kan kies of hy wil sien wat in die toekoms sal gebeur. Hoewel ons nie weet wat die toekoms inhou nie, kan ons ook wys wees. Hoe? Voordat ons ’n besluit neem, kan ons dink aan hoe dit ons of ander sal raak. Ons moenie soos die Israeliete wees nie. Hulle het nie gedink aan watter gevolge ongehoorsaamheid aan Jehovah sou hê nie. En hulle het nie gedink aan hulle verhouding met hom en alles wat hy vir hulle gedoen het nie. Moses het dit besef en het geweet dat die Israeliete sal doen wat sleg is. Hy het gesê: “Hulle is ’n nasie op wie raad vergaan, en by hulle is daar geen begrip nie. Ag, was hulle maar wys! Dan sou hulle daaroor peins. Hulle sou ag gee op hulle uiteinde.”—Deuteronomium 31:29, 30; 32:28, 29.

11 As jy byvoorbeeld met iemand uitgaan, moet jy onthou dat dit moeilik is om jou gevoelens en seksuele begeertes te beheers omdat jy tot daardie persoon aangetrokke voel. Moet dus niks doen wat jou kosbare verhouding met Jehovah in gevaar kan stel nie! Wees eerder wys en vermy gevaar. Luister na Jehovah se wyse raad: “Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het, maar die onervarenes het verder gegaan en moet die straf ondergaan.”—Spreuke 22:3.

BEHEERS JOU DENKE

12. Hoe kan verkeerde denke vir ons skadelik wees?

12 ’n Wyse persoon beheers sy denke. Ons denke kan ons help of seermaak, net soos vuur ons kan help of seermaak. Ons kan vuur gebruik om kos te kook. Maar as ons nie versigtig is nie, kan ’n vuur ons huis laat afbrand en selfs ons dood veroorsaak. Dieselfde geld vir ons denke. As ons dink aan die dinge wat ons by Jehovah leer, is dit vir ons voordelig. Maar as ons bly dink aan seksuele onsedelikheid en ons voorstel hoe ons verkeerde dinge doen, sal ons begeertes dalk so sterk word dat ons hierdie verkeerde dinge sal doen. Dit kan ons vriendskap met Jehovah vernietig.—Lees Jakobus 1:14, 15.

13. Watter soort lewe het Eva haar voorgestel?

13 Dink byvoorbeeld aan hoe die eerste vrou, Eva, die begeerte ontwikkel het om te eet van die verbode vrugte van “die boom van die kennis van goed en kwaad” (Genesis 2:16, 17). Satan het vir Eva gesê: “Julle sal sekerlik nie sterf nie. Want God weet dat die dag as julle daarvan eet, julle oë sekerlik geopen sal word en julle sekerlik soos God sal word deur goed en kwaad te ken.” Eva het haar voorgestel hoe wonderlik haar lewe sou wees as sy self kon besluit wat goed en wat sleg is. Sy het hieroor bly dink en “gesien dat die boom goed is vir voedsel en dat dit ’n lus vir die oë is”. Wat het toe gebeur? “Sy [het] van sy vrugte begin neem en dit geëet. Daarna het sy ook vir haar man daarvan gegee toe hy by haar was, en hy het dit begin eet” (Genesis 3:1-6). Die gevolg was dat “die sonde in die wêreld ingekom het en die dood deur die sonde” (Romeine 5:12). Eva moes nie bly dink het aan wat verkeerd is nie!

14. Watter waarskuwings gee die Bybel ons oor seksuele onsedelikheid?

14 Eva se sonde het natuurlik nie verband gehou met seksuele onsedelikheid nie. Maar die Bybel waarsku ons uitdruklik om nie te fantaseer oor seksuele onsedelikheid nie. Jesus het gesê: “Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, [het] reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg” (Matteus 5:28). En Paulus het gewaarsku: “Moenie vooruitbeplan vir die begeertes van die vlees nie.”—Romeine 13:14.

15. Watter skatte moet ons opgaar, en waarom?

15 Die Bybel sê ook dat ons nie rykdom moet najaag nie, maar dat ons eerder daarop moet konsentreer om Jehovah te behaag. Al het iemand baie geld, kan sy geld hom nie werklik beskerm nie (Spreuke 18:11). Jesus het gesê dat dit dwaas is as ’n persoon baie skatte vergaar, maar Jehovah nie eerste in sy lewe stel nie. Hy is “nie ryk . . . teenoor God nie” (Lukas 12:16-21). Wanneer ons “skatte in die hemel” opgaar deur dinge te doen wat Jehovah behaag, maak ons hom bly en voel ons gelukkig (Matteus 6:20; Spreuke 27:11). En ’n goeie verhouding met Jehovah is kosbaarder as enigiets anders.

HOU OP OM JOU TE BEKOMMER

16. Wat kan ons doen wanneer ons bekommerd is?

16 As ons in hierdie wêreld probeer ryk word, sal ons baie bekommernisse hê (Matteus 6:19). Jesus het gesê dat mense wat hulle altyd oor geld bekommer, dit moeilik sal vind om God se Koninkryk eerste in hulle lewe te stel (Matteus 13:18, 19, 22). Ander mense bekommer hulle weer heeltyd daaroor dat slegte dinge met hulle sal gebeur. Maar as ons ons heeltyd bekommer, sal ons dalk siek word of selfs geloof in Jehovah begin verloor. Ons moet eerder vertrou dat Jehovah ons sal help. Die Bybel sê: “Angstige besorgdheid in die hart van ’n man sal dit laat neerbuig, maar die goeie woord maak dit bly” (Spreuke 12:25). As jy dus oor iets bekommerd is, moet jy met iemand praat wat Jehovah dien en wat jou goed ken. ’n Ouer, jou huweliksmaat of ’n goeie vriend kan jou aanspoor om op Jehovah te vertrou en jou help om minder angstig te voel.

As jy bekommerd is, moet jy tot Jehovah bid en dink aan die hulp wat hy jou gee

17. Hoe kan Jehovah ons help wanneer ons bekommerd is?

17 Jehovah verstaan ons gevoelens beter as enigiemand anders en kan ons help om kalmer te voel wanneer ons bekommerd is. Paulus het geskryf: “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak” (Filippense 4:6, 7). Wanneer jy bekommerd is, moet jy dus dink aan die hulp wat Jehovah jou gee om jou vriendskap met hom sterk te hou, soos die hulp van jou broers en susters, die ouer manne, die getroue slaaf, die engele en Jesus.

18. Hoe kan ons vermoë om ons dinge voor te stel, ons help?

18 Soos ons gesien het, volg ons Jehovah na wanneer ons ons in ander mense se posisie stel en probeer verstaan hoe hulle voel (1 Timoteus 1:11; 1 Johannes 4:8). Ons sal gelukkig wees as ons liefde en goedhartigheid aan ander betoon, as ons aan die gevolge van ons dade dink en as ons ons nie heeltyd bekommer nie. Laat ons ons voorstel hoe die lewe onder Koninkryksheerskappy sal wees en ons bes doen om Jehovah na te volg.—Romeine 12:12.