Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wees waaksaam—Satan wil jou verslind!

Wees waaksaam—Satan wil jou verslind!

“Wees waaksaam. Julle teenstander, die Duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en is daarop uit om iemand te verslind.”—1 PETRUS 5:8.

1. Verduidelik hoe ’n engel Satan geword het.

HY HET eens op ’n tyd ’n goeie verhouding met Jehovah gehad. Maar later wou hierdie geesskepsel, of engel, hê dat mense hom moet aanbid. In plaas daarvan om hierdie verkeerde begeerte onmiddellik te verwerp, het hy toegelaat dat dit so sterk word dat hy gesondig het (Jakobus 1:14, 15). Ons weet nie wat sy oorspronklike naam was nie, maar hy staan nou bekend as Satan. Hy “het nie in die waarheid vasgestaan nie”. Hy het teen Jehovah in opstand gekom en “die vader van die leuen” geword.—Johannes 8:44.

2, 3. Wat openbaar die woorde “Satan”, “Duiwel”, “slang” en “draak” omtrent Jehovah se grootste vyand?

2 Satan is sedert sy opstand Jehovah se grootste vyand en ’n vyand van die hele mensdom. Die manier waarop die Bybel Satan beskryf, help ons om te besef hoe verdorwe hy werklik is. Satan beteken “Teenstander”, en dit toon dat hierdie bose engel God se heerskappy haat en met al sy mag daarteen stry. Wat Satan eintlik wil hê, is dat Jehovah se heerskappy tot ’n einde moet kom.

3 Satan word in Openbaring 12:9 die Duiwel genoem, wat “Lasteraar” beteken. Satan het God oneer aangedoen deur hom ’n leuenaar te noem. Die woorde “die oorspronklike slang” laat ons dink aan hoe Satan Eva deur middel van ’n slang bedrieg het. Die woorde “die groot draak” is ook ’n goeie beskrywing van Satan omdat hy soos ’n wrede en ’n bose monster is. Hy wil keer dat Jehovah se voorneme vervul word en hy wil God se volk vernietig.

4. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 Dit is duidelik dat Satan die grootste bedreiging vir ons onkreukbaarheid is. Daarom waarsku die Bybel ons: “Bly nugter van verstand, wees waaksaam. Julle teenstander, die Duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en is daarop uit om iemand te verslind” (1 Petrus 5:8). Hierdie artikel sal dus drie van Satan se eienskappe bespreek en sal toon waarom ons ons moet beskerm teen hierdie bose vyand van Jehovah en Sy volk.

SATAN IS MAGTIG

5, 6. (a) Gee voorbeelde wat toon dat engele “magtig in krag” is. (b) In watter sin het Satan “die vermoë . . . om die dood te veroorsaak”?

5 Engele is “magtig in krag” (Psalm 103:20). Hulle is intelligenter en sterker as mense. Getroue engele gebruik hulle krag natuurlik ten goede. Een van Jehovah se engele het byvoorbeeld 185 000 vyandelike Assiriese soldate doodgemaak. Een mens sou dit nooit kon doen nie, en dit sou selfs vir ’n hele leër moeilik gewees het (2 Konings 19:35). By ’n ander geleentheid het ’n engel sy vermoëns en krag gebruik om Jesus se apostels uit die tronk te bevry. Al was die wagte daar naby, het hulle nie gesien dat die engel die deure oopgemaak het, die apostels uitgebring het en die deure daarna agter hulle toegesluit het nie!—Handelinge 5:18-23.

6 Hoewel getroue engele hulle krag ten goede gebruik, gebruik Satan sy krag om boosheid te bevorder. En Satan het beslis groot mag en invloed. Die Bybel verwys na hom as “die heerser van hierdie wêreld” en “die god van hierdie stelsel van dinge” (Johannes 12:31; 2 Korintiërs 4:4). Satan het selfs “die vermoë . . . om die dood te veroorsaak” (Hebreërs 2:14). Dit beteken nie dat hy alle mense letterlik doodmaak nie. Maar hierdie wêreld is gevul met Satan se hatige en gewelddadige gesindheid. En omdat Eva Satan se leuen geglo het en Adam ongehoorsaam was aan God, sondig en sterf alle mense (Romeine 5:12). Satan is dus “’n mensemoordenaar”, soos Jesus gesê het (Johannes 8:44). Hy is werklik ’n magtige vyand.

Sonder Jehovah se hulp sal ons nooit ons stryd teen Satan kan wen nie

7. Hoe het die demone getoon dat hulle magtig is?

7 As ons Satan teëstaan, staan ons ook almal teë wat hom ondersteun en wat teen God se heerskappy in opstand kom. Dit sluit ’n groot groep opstandige engele in, wat demone genoem word (Openbaring 12:3, 4). Hulle het keer op keer getoon dat hulle baie sterker as mense is en het mense al grootliks laat ly (Matteus 8:28-32; Markus 5:1-5). Moet nooit vergeet hoe magtig die demone en hulle heerser werklik is nie (Matteus 9:34). Sonder Jehovah se hulp sal ons nooit ons stryd teen Satan kan wen nie.

SATAN IS WREED

8. (a) Wat is Satan se doel? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Waarom is hierdie wêreld na jou mening so wreed soos Satan?

8 Die apostel Petrus het Satan met “’n brullende leeu” vergelyk. Een naslaanwerk verduidelik dat die Griekse woord wat met “brullende” vertaal word, verwys na “die geluid van ’n dier wat rasend honger is”. Wat ’n goeie beskrywing is dit tog van Satan se wrede en bose gesindheid! Die hele wêreld lê reeds in sy mag, maar dit is nie genoeg vir hom nie. Satan is soos ’n honger leeu wat op soek is na nog prooi (1 Johannes 5:19). Sy hoofteikens is die gesalfdes wat nog op die aarde is sowel as hulle metgeselle, die “ander skape” (Johannes 10:16; Openbaring 12:17). Satan se doel is om Jehovah se volk te vernietig. Die vervolging van ware Christene vanaf die eerste eeu tot nou toe bewys hoe wreed Satan werklik is.

9, 10. (a) Hoe het Satan die nasie Israel aangeval? (Gee voorbeelde.) (b) Waarom het Satan eertydse Israel sy teiken gemaak? (c) Hoe dink jy voel die Duiwel wanneer een van Jehovah se knegte vandag ’n ernstige sonde pleeg?

9 Satan het sy wreedheid op nog ’n manier geopenbaar. ’n Leeu wat rasend honger is, voel nie jammer vir sy prooi nie. Hy het geen medelye voordat hy aanval nie, en hy voel nie skuldig nadat hy sy prooi doodgemaak het nie. Net so voel Satan geen medelye vir diegene wat hy aanval nie. Byvoorbeeld, hoe dink jy het Satan gevoel elke keer wanneer hy gesien het hoe die Israeliete swig voor sondes soos seksuele onsedelikheid en gierigheid? Kan jy jou voorstel hoe Satan sy oorwinning geniet het toe hy die tragiese gevolge gesien het van Simri se onsedelikheid en Gehasi se gierigheid?—Numeri 25:6-8, 14, 15; 2 Konings 5:20-27.

Satan is baie bly wanneer een van Jehovah se knegte ’n sonde pleeg (Sien paragraaf 10)

10 Satan het eertydse Israel om ’n baie goeie rede sy teiken gemaak. Onthou dat die Messias—die een wat Satan sou vermorsel en sou bewys dat Jehovah die reg het om te regeer—uit hierdie nasie sou kom (Genesis 3:15). Satan wou nie hê dat die Israeliete God se goedkeuring moet hê nie, en daarom het hy alles in sy vermoë gedoen om hulle met sonde te verderf. Moenie dink dat Satan jammer gevoel het vir Dawid toe hy egbreuk gepleeg het nie. Moet ook nie dink dat hy enigsins medelye met Moses gehad het toe hy die voorreg verloor het om in die Beloofde Land in te gaan nie. Satan is maar net te bly wanneer een van God se knegte ’n ernstige sonde pleeg. Om die waarheid te sê, die Duiwel gebruik sulke oorwinnings om Jehovah uit te tart.—Spreuke 27:11.

11. Waarom het Satan Sara waarskynlik sy teiken gemaak?

11 Satan het die geslagslyn waaruit die Messias sou kom, intens gehaat. Dink byvoorbeeld aan wat gebeur het nadat Jehovah vir Abraham gesê het dat hy “’n groot nasie” sou word (Genesis 12:1-3). Terwyl Abraham en Sara in Egipte was, het Farao Sara na sy huis toe geneem en wou hy hê dat sy sy vrou moet word. Maar Jehovah het Sara beskerm en haar uit hierdie moeilike situasie gered. (Lees Genesis 12:14-20.) Iets soortgelyks het in die stad Gerar gebeur voordat Isak gebore is (Genesis 20:1-7). Het Satan hierdie situasies dalk laat ontstaan? Onthou dat Sara die ryk stad Ur verlaat het om in tente te gaan woon. Wou Satan haar dalk versoek met die weelderige paleise van Farao en Abimeleg? Het Satan gedink dat sy aan haar man en selfs aan Jehovah ontrou sou wees deur met een van hierdie konings te trou? Die Bybel sê nie, maar die Duiwel sou ongetwyfeld baie bly gewees het as Sara die voorreg verloor het om deel te wees van die Messias se geslagslyn. Satan sou glad nie skuldig gevoel het as hierdie goeie vrou se huwelik, goeie reputasie en verhouding met Jehovah vernietig is nie. Hoe wreed en goddeloos is Satan tog!

Satan steur hom nie aan wat reg of verkeerd is nie

12, 13. (a) Hoe het Satan ná Jesus se geboorte getoon dat hy wreed is? (b) Hoe dink jy voel Satan oor jongmense wat vir Jehovah lief is en wat Hom vandag probeer dien?

12 Jesus is honderde jare ná Abraham gebore. Satan sou glad nie gedink het dat hierdie baba pragtig of oulik is nie. Satan het geweet dat hierdie baba later die beloofde Messias sou word. Jesus was die primêre deel van Abraham se nageslag, en hy sou later “die werke van die Duiwel . . . verbreek” (1 Johannes 3:8). Sou Satan dink dat dit te wreed is om ’n kind dood te maak? Nee. Hy steur hom nie aan wat reg of verkeerd is nie. En hy het gou opgetree om die jong Jesus te probeer doodmaak. Hoe?

13 Toe koning Herodes by die sterrewiggelaars gehoor het dat die “koning van die Jode” gebore is, was hy woedend en wou hy die baba doodmaak (Matteus 2:1-3, 13). Daarom het hy beveel dat al die seuntjies van twee jaar en jonger in Betlehem en sy omstreke doodgemaak moet word. (Lees Matteus 2:13-18.) Jesus het hierdie verskriklike slagting vrygespring, maar wat sê dit vir ons omtrent ons vyand Satan? Die Duiwel heg geen waarde aan menselewe nie. Hy gee nie eens vir kinders om nie. Satan is waarlik “’n brullende leeu”. Moet nooit vergeet hoe wreed hy is nie!

SATAN IS BEDRIEGLIK

14, 15. Hoe het Satan “die verstande van die ongelowiges verblind”?

14 Die enigste manier waarop Satan mense teen ons liefdevolle God, Jehovah, kan laat draai, is deur hulle te bedrieg (1 Johannes 4:8). Satan bedrieg mense sodat hulle nie “bewus is van hulle geestelike behoefte” nie; dit wil sê, hulle besef nie dat hulle ’n verhouding met God moet hê nie (Matteus 5:3). Die Duiwel het “die verstande van die ongelowiges verblind” sodat hulle nie die waarheid omtrent Jehovah kan sien nie.—2 Korintiërs 4:4.

15 Valse godsdiens is een van die vernaamste maniere waarop Satan mense bedrieg. Hy weet dat Jehovah “uitsluitlike toegewydheid eis” (Eksodus 20:5). Dink net hoe bly Satan is wanneer hy sien dat mense hulle voorouers of die natuur of diere aanbid, dit wil sê enigiemand of enigiets buiten Jehovah. En ongelukkig is daar baie mense wat dink dat hulle aanbidding vir God aanneemlik is, maar wat in werklikheid in die greep van valse opvattings en nuttelose rituele is. Israeliete in Jesaja se dag was in ’n soortgelyke situasie. Jehovah het hulle gevra: “Waarom bly julle geld betaal vir wat nie brood is nie, en waarom swoeg julle vir iets wat nie versadig nie? Luister aandagtig na my en eet wat goed is, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig.”—Jesaja 55:2.

Satan kan selfs ywerige knegte van Jehovah bedrieg

16, 17. (a) Waarom het Jesus vir Petrus gesê: “Gaan agter my, Satan”? (b) Hoe kan Satan ons bedrieg sodat ons ons waaksaamheid verslap?

16 Satan kan selfs ywerige knegte van Jehovah bedrieg. Dink byvoorbeeld aan wat gebeur het toe Jesus vir sy dissipels gesê het dat hy binnekort doodgemaak sou word. Die apostel Petrus, wat vir Jesus lief was, het gesê: “Wees goed vir uself, Here; u sal glad nie hierdie lot hê nie.” Jesus het vir Petrus gesê: “Gaan agter my, Satan!” (Matteus 16:22, 23). Waarom het Jesus Petrus “Satan” genoem? Omdat Jesus geweet het wat binnekort sou gebeur. Jesus sou as ’n losprysoffer sterf en sou bewys dat die Duiwel ’n leuenaar is. Dit was ’n kritieke tyd in die mensegeskiedenis en nie die tyd vir Jesus om ‘goed te wees’ vir homself nie. Satan sou baie bly gewees het as Jesus sy waaksaamheid verslap het.

17 Die einde van hierdie stelsel van dinge is naby, en daarom lewe ons ook in ’n kritieke tyd. Satan wil hê dat ons ‘goed moet wees’ vir onsself deur sukses in hierdie wêreld na te streef. Hy wil hê dat ons moet vergeet dat ons in die laaste dae lewe en dat ons ons waaksaamheid moet verslap. Moenie toelaat dat dit met jou gebeur nie! “Hou dus aan waak” (Matteus 24:42). Moet nooit Satan se leuen glo dat die einde ver is of dat dit glad nie kom nie.

18, 19. (a) Hoe sal Satan ons dalk probeer bedrieg en laat dink dat ons Jehovah se liefde nie verdien nie? (b) Hoe help Jehovah ons om waaksaam te bly?

18 Satan probeer ons op nog ’n manier bedrieg. Hy wil hê dat ons moet glo dat ons Jehovah se liefde nie verdien nie en dat God ons sondes nooit sal vergewe nie. Maar dit is leuens wat van Satan kom. Dink hieraan: Wie verdien nou eintlik nie Jehovah se liefde nie? Satan. Wie sal God nooit vergewe nie? Satan. Maar die Bybel sê van ons: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het . . . nie” (Hebreërs 6:10). Jehovah waardeer alles wat ons doen om hom te behaag, en ons diens aan hom is nooit tevergeefs nie. (Lees 1 Korintiërs 15:58.) Moet dus nie deur Satan se leuens bedrieg word nie.

19 Soos ons gesien het, is Satan magtig, wreed en bedrieglik. Hoe kan ons ons stryd teen so ’n vyand wen? Jehovah voorsien hulp aan ons. Sy Woord leer ons van Satan se metodes, en daarom is “ons . . . nie onkundig omtrent sy planne nie” (2 Korintiërs 2:11). As ons weet op watter verskillende maniere Satan ons aanval, sal dit vir ons makliker wees om waaksaam te bly. Maar dit is nie genoeg om net te weet watter metodes Satan gebruik nie. Die Bybel sê: “Staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug” (Jakobus 4:7). Die volgende artikel sal drie gebiede bespreek waarop ons teen Satan kan stry en kan oorwin.