Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons kan kuis bly

Ons kan kuis bly

“Reinig julle hande, . . . en suiwer julle harte.”—JAKOBUS 4:8.

1. Wat word deur baie mense as normaal beskou?

ONS lewe in ’n uiters onsedelike wêreld. Byvoorbeeld, baie mense dink dat dit normaal is om homoseksueel te wees of om seks te hê met iemand met wie hulle nie getroud is nie. Rolprente, boeke, liedjies en advertensies bevorder dikwels seksuele onsedelikheid (Psalm 12:8). Maar Jehovah kan ons help om ’n lewenswyse te volg wat sy goedkeuring wegdra. Ons kan dus kuis, of rein, wees in ’n uiters onsedelike wêreld.—Lees 1 Tessalonisense 4:3-5.

2, 3. (a) Waarom moet ons verkeerde begeertes verwerp? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Om Jehovah te behaag, moet ons alles verwerp wat hy haat. Maar omdat ons onvolmaak is, kan onsedelikheid vir ons aanloklik wees, soos aas vir vis aanloklik is. As onsedelike gedagtes by ons opkom, moet ons dit onmiddellik verwerp. As ons dit nie doen nie, sal onsedelike begeertes so sterk word dat dit ons voor versoeking kan laat swig. Dit is net soos die Bybel sê: “Wanneer die begeerte vrugbaar geword het, baar dit sonde.”—Lees Jakobus 1:14, 15.

3 ’n Verkeerde begeerte kan in ons hart begin groei. Daarom moet ons noukeurig let op die begeertes wat by ons opkom. As ons verkeerde begeertes verwerp, sal ons seksuele onsedelikheid en die slegte gevolge daarvan vermy (Galasiërs 5:16). In hierdie artikel sal ons drie dinge bespreek wat ons sal help om teen verkeerde begeertes te stry: ons vriendskap met Jehovah, die raad uit sy Woord en die hulp van geestelik volwasse Christene.

“KOM NADER AAN GOD”

4. Waarom is dit belangrik om nader aan Jehovah te kom?

4 Die Bybel sê vir diegene wat “nader aan God” wil kom: “Reinig julle hande” en “suiwer julle harte” (Jakobus 4:8). As Jehovah ons beste Vriend is, sal ons wil hê dat ons dade sowel as ons denke hom moet behaag. En as ons gedagtes kuis en rein is, sal ons hart ook rein wees (Psalm 24:3, 4; 51:6; Filippense 4:8). Jehovah weet dat ons onvolmaak is en dat ons aan onsedelike dinge kan begin dink. Maar omdat ons Jehovah se hart nie wil seermaak nie, doen ons alles in ons vermoë om verkeerde gedagtes te verwerp (Genesis 6:5, 6). Ons doen alles wat ons kan om ons gedagtes kuis te hou.

5, 6. Hoe kan gebed ons help om teen onsedelike begeertes te stry?

5 Jehovah sal ons help om teen onsedelike gedagtes te stry as ons aanhou om sy hulp in gebed te vra. Hy gee ons sy heilige gees, wat ons meer vasbeslote kan maak om kuis te bly. In ons gebede kan ons vir Jehovah sê dat ons graag wil hê dat ons denke hom moet behaag (Psalm 19:14). Vra hom dus nederig om te kyk of daar enige skadelike begeertes in jou hart is wat jou kan laat sondig (Psalm 139:23, 24). En hou aan om Jehovah te vra om jou te help om onsedelikheid te verwerp en om te doen wat reg is, selfs wanneer dit moeilik is.—Matteus 6:13.

6 Voordat ons Jehovah leer ken het, het ons dit dalk geniet om dinge te doen wat hy nie goedkeur nie, en ons stry miskien nog steeds teen hierdie verkeerde begeertes. Maar Jehovah kan ons help om te verander en om te doen wat hom behaag. Byvoorbeeld, nadat koning Dawid geslagsomgang met Batseba gehad het, was hy berouvol en het hy Jehovah gesmeek om hom “’n suiwer hart” te gee en hom te help om gehoorsaam te wees (Psalm 51:10, 12). As ons dus nog steeds teen diepgewortelde onsedelike begeertes stry, kan Jehovah ons help om ons begeerte te versterk om hom te gehoorsaam en om te doen wat reg is. Hy kan ons help om ons onvolmaakte gedagtes te beheers.—Psalm 119:133.

As ’n verkeerde begeerte in ons hart posvat, moet ons dit onmiddellik verwerp (Sien paragraaf 6)

“WORD DADERS VAN DIE WOORD”

7. Hoe kan God se Woord ons help om onsedelike gedagtes te verwerp?

7 Jehovah kan ons gebede om hulp beantwoord deur middel van sy Woord, die Bybel. Dit bevat God se wysheid, wat kuis, of rein, is (Jakobus 3:17). As ons die Bybel elke dag lees, vul ons ons verstand met rein gedagtes (Psalm 19:7, 11; 119:9, 11). Daar is ook voorbeelde en waarskuwings in die Bybel wat ons help om onsedelike gedagtes en begeertes te verwerp.

8, 9. (a) Wat het daartoe gelei dat ’n jong man geslagsomgang met ’n onsedelike vrou gehad het? (b) Watter situasies kan die voorbeeld in Spreuke hoofstuk 7 ons help om te vermy?

8 God se Woord waarsku ons in Spreuke 5:8 om weg te bly van onsedelikheid. In Spreuke hoofstuk 7 lees ons die verhaal van ’n jong man wat in die aand naby die huis van ’n onsedelike vrou gaan stap het. Die vrou was op die straathoek en het “die kleed van ’n prostituut” aangehad. Sy het na hom toe gestap, hom gegryp, hom gesoen en dinge gesê wat verkeerde begeertes by hom gewek het. Hy het hierdie begeertes nie verwerp nie en het gevolglik geslagsomgang met haar gehad. Hy was nie van plan om te sondig nie, maar hy het. Toe moes hy met die verskriklike gevolge saamleef. As hy besef het wat die gevare is, sou hy ver van haar af weggebly het!—Spreuke 7:6-27.

9 Soos hierdie jong man kan ons slegte besluite neem omdat ons nie besef watter gevare ’n sekere weg inhou nie. Byvoorbeeld, op party televisiekanale word daar saans onsedelike programme vertoon, en daarom kan dit gevaarlik wees om heeltyd van kanaal te verander net om te sien wat op TV is. Dit kan ook gevaarlik wees om op skakels op die Internet te klik as jy nie weet na watter webwerf dit jou sal neem nie en om kletskamers of webwerwe te besoek wat onsedelike advertensies en skakels na pornografie bevat. In hierdie situasies kan die dinge waarna ons kyk, onsedelike begeertes by ons wek, wat tot ongehoorsaamheid aan Jehovah kan lei.

10. Waarom is dit gevaarlik om te flankeer? (Sien prent aan begin van artikel.)

10 Die Bybel sê ook vir ons hoe mans en vroue mekaar moet behandel. (Lees 1 Timoteus 5:2.) Christene beperk romantiese aandag tot hulle huweliksmaat of tot iemand met wie hulle wil trou. Hulle flankeer nie. Party mense dink dat dit onskadelik is om romantiese seine aan iemand te stuur, soos deur middel van liggaamsbewegings, gebare of oogkontak, solank hulle nie aan mekaar raak nie. Maar wanneer twee mense met mekaar flankeer, kan onsedelike gedagtes by hulle posvat, en dit kan tot seksuele onsedelikheid lei. Dit het al gebeur, en dit kan weer gebeur.

11. Watter les leer ons by Josef?

11 Josef is vir ons ’n goeie voorbeeld. Potifar se vrou het Josef probeer verlei om seks met haar te hê. Hy het geweier, maar sy het aangehou om hom te probeer verlei. Sy het elke dag vir Josef gesê om “by haar te vertoef”, oftewel om tyd saam met haar deur te bring (Genesis 39:7, 8, 10). ’n Bybelgeleerde het verduidelik dat Potifar se vrou gehoop het dat Josef haar sou begeer as hy tyd alleen saam met haar deurbring. Josef was vasbeslote om haar flankeerdery te ignoreer, en hy het ook nie met haar geflankeer nie. Hy het nie toegelaat dat verkeerde begeertes in sy hart posvat nie. En toe sy Josef aan sy kleed gryp en hom probeer dwing om geslagsomgang met haar te hê, het hy onmiddellik “sy kleed in haar hand gelaat en gevlug en na buite gegaan”.—Genesis 39:12.

12. Hoe weet ons dat die dinge waarna ons kyk, ’n uitwerking op ons hart kan hê?

12 Jesus het gewaarsku dat die dinge waarna ons kyk, ’n uitwerking op ons hart kan hê en verkeerde seksuele begeertes by ons kan wek. Hy het gesê: “Ek sê vir julle dat elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het” (Matteus 5:28). Dit is wat met koning Dawid gebeur het. “Van die dak af het hy ’n vrou gesien wat bad”, maar hy het na haar bly kyk en aan haar bly dink (2 Samuel 11:2). Al was sy ’n ander man se vrou, het hy haar begin begeer en geslagsomgang met haar gehad.

13. Waarom moet ons “’n verbond” met ons oë sluit, en hoe doen ons dit?

13 As ons onsedelike gedagtes wil verwerp, moet ons Job se voorbeeld volg. Hy het gesê: “’n Verbond het ek met my oë gesluit” (Job 31:1, 7, 9). Soos Job moet ons besluit om nooit met onsedelike begeertes na iemand te kyk nie. En as ons dan ’n seksuele beeld op ’n rekenaarskerm, ’n advertensiebord, ’n tydskrif of op enige ander plek sien, sal ons onmiddellik wegkyk.

14. Wat moet ons doen om kuis te bly?

14 Wanneer jy dink aan wat ons bespreek het, besef jy dalk dat jy jou meer moet inspan om teen onsedelike begeertes te stry. As jy veranderinge moet aanbring, moet jy dit onmiddellik doen! Wanneer jy doen wat Jehovah sê, kan jy seksuele onsedelikheid vermy en kuis bly.—Lees Jakobus 1:21-25.

‘ROEP DIE OUER MANNE’

15. Waarom is dit belangrik om hulp te vra as dit vir ons moeilik is om teen verkeerde begeertes te stry?

15 As dit vir jou moeilik is om teen verkeerde begeertes te stry, moet jy met iemand in die gemeente praat wat Jehovah al lank dien en wat jou goeie raad uit God se Woord kan gee. Dit sal miskien nie vir jou maklik wees om met ander oor jou persoonlike probleme te praat nie, maar dit is belangrik om hulp te vra (Spreuke 18:1; Hebreërs 3:12, 13). Geestelik volwasse Christene kan jou help besef watter veranderinge jy moet aanbring. Bring dan hierdie veranderinge aan sodat jy Jehovah as jou Vriend kan behou.

16, 17. (a) Hoe kan die ouer manne diegene help wat dit moeilik vind om teen onsedelike begeertes te stry? Gee ’n voorbeeld. (b) Waarom is dit belangrik dat diegene wat na pornografie kyk, onmiddellik hulp vra?

16 Die ouer manne in ons gemeente is beslis bekwaam om ons te help. (Lees Jakobus 5:13-15.) ’n Jong man in Brasilië het dit jare lank moeilik gevind om teen verkeerde begeertes te stry. Hy sê: “Ek het geweet dat my gedagtes Jehovah nie behaag nie, maar ek was te skaam om vir ander daarvan te vertel.” ’n Ouer man het besef dat die jong man hulp nodig het en het hom aangespoor om die ouer manne toe te laat om hom te help. Die jong man sê: “Ek was verbaas oor hoe liefdevol die ouer manne teenoor my was. Ek het gevoel dat ek nie al die liefde en begrip verdien wat aan my betoon is nie. Hulle het aandagtig geluister toe ek hulle van my probleme vertel het. Hulle het die Bybel gebruik om my te verseker van Jehovah se liefde vir my, en hulle het saam met my gebid. Dit het dit vir my makliker gemaak om die raad te aanvaar wat hulle my uit die Bybel gegee het.” Noudat hy sy verhouding met Jehovah versterk het, sê hy: “Ek besef nou hoe belangrik dit is om eerder hulp te vra as om ons laste alleen te probeer dra.”

17 As jy in die gewoonte is om na pornografie te kyk, moet jy onmiddellik hulp vra. Hoe langer jy wag om hulp te vra, hoe groter word die gevaar dat jy jou aan seksuele onsedelikheid skuldig sal maak. Dit sal ander seermaak en kan veroorsaak dat mense sleg van Jehovah praat. Baie het die ouer manne om hulp gevra en hulle raad aanvaar sodat hulle Jehovah kan behaag en deel van die Christengemeente kan bly.—Psalm 141:5; Hebreërs 12:5, 6; Jakobus 1:15.

WEES VASBESLOTE OM KUIS TE BLY!

18. Wat is jy vasbeslote om te doen?

18 Satan se wêreld word al hoe onsedeliker. Maar Jehovah se knegte span hulle in om hulle gedagtes rein te hou en om kuis te wees. Jehovah is baie trots op hierdie Christene. Laat ons na aan Jehovah bly en die raad volg wat ons uit sy Woord en by die Christengemeente ontvang. As ons dit doen, sal ons gelukkig wees en ’n skoon gewete hê (Psalm 119:5, 6). En in die toekoms, nadat Satan uit die weg geruim is, sal ons vir ewig in God se rein nuwe wêreld lewe.