Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Christus—Die krag van God

Christus—Die krag van God

“Christus [is] die krag van God.”—1 KORINTIËRS 1:24.

1. Waarom het Paulus gesê dat ‘Christus die krag van God is’?

JEHOVAH het sy krag op buitengewone maniere deur Jesus Christus getoon. Toe Jesus op die aarde was, het hy wonderwerke verrig. Party daarvan is in die Bybel opgeteken en kan ons geloof versterk (Matteus 9:35; Lukas 9:11). Ja, Jehovah het Jesus groot krag gegee, en daarom kon die apostel Paulus sê: “Christus [is] die krag van God” (1 Korintiërs 1:24). Maar hoe raak Jesus se wonderwerke ons?

2. Wat kan ons uit Jesus se wonderwerke leer?

2 Die apostel Petrus het gesê dat Jesus “kragtige werke”, oftewel wonderwerke, verrig het (Handelinge 2:22). Wat leer hierdie wonderwerke ons? Dit leer ons wat Jesus gedurende sy Duisendjarige Heerskappy sal doen. Hy sal dan groter wonderwerke verrig wat alle mense op die aarde tot voordeel sal strek. Jesus se wonderwerke help ons ook om sy eienskappe sowel as sy Vader se eienskappe beter te verstaan. In hierdie artikel sal ons drie van Jesus se wonderwerke bespreek, en ons sal leer hoe dit ons vandag en in die toekoms kan raak.

’N WONDERWERK WAT ONS LEER OM VRYGEWIG TE WEES

3. (a) Waarom het Jesus sy eerste wonderwerk verrig? (b) Hoe het Jesus vrygewigheid getoon in Kana?

3 Jesus het sy eerste wonderwerk verrig by ’n bruilof in die dorp Kana. Ons weet nie waarom daar nie genoeg wyn vir al die gaste was nie. Dit kon vir die pas getroude paartjie ’n groot verleentheid gewees het, aangesien daar van hulle verwag is om gasvry te wees. Jesus se moeder, Maria, was een van die gaste. Het sy Jesus se hulp gevra omdat sy gemeen het dat hy die krag het om te help? Maria het ongetwyfeld nagedink oor al die profesieë oor haar seun, en sy het geweet dat hy “die Seun van die Allerhoogste” genoem sou word (Lukas 1:30-32; 2:52). Dit is duidelik dat Maria sowel as Jesus die paartjie wou help. Daarom het Jesus ongeveer 380 liter water op wonderdadige wyse in “goeie wyn” verander. (Lees Johannes 2:3, 6-11.) Was Jesus onder verpligting om hierdie wonderwerk te verrig? Nee. Hy het dit gedoen omdat hy vir mense omgegee het, en hy het sy Vader se vrygewigheid nagevolg.

Jesus het gesê dat ons ‘altyddeur moet gee’

4, 5. (a) Wat leer ons uit Jesus se eerste wonderwerk? (b) Wat leer die wonderwerk in Kana ons omtrent die toekoms?

4 Jesus het op wonderdadige wyse ’n groot hoeveelheid goeie wyn voorsien—genoeg vir ’n groot groep mense. Wat leer ons uit hierdie wonderwerk? Jehovah en Jesus is nie suinig nie; inteendeel, hulle is baie vrygewig. Hierdie wonderwerk oortuig ons daarvan dat hulle baie besorg is oor mense se gevoelens. Dit toon ook dat Jehovah sy krag sal gebruik om in die nuwe wêreld ’n oorvloed voedsel vir almal op die aarde te voorsien.—Lees Jesaja 25:6.

5 Dink net! Jehovah sal ons binnekort alles gee wat ons werklik nodig het. Elkeen sal ’n gerieflike huis en voedsame kos hê. Ons is baie dankbaar wanneer ons dink aan al die wonderlike dinge wat Jehovah op so ’n vrygewige wyse in die aardse Paradys vir ons sal gee.

Ons volg Jesus na wanneer ons vrygewig is met ons tyd (Sien paragraaf 6)

6. Hoe het Jesus altyd sy krag gebruik, en hoe kan ons hom navolg?

6 Jesus het sy krag nooit om selfsugtige redes gebruik nie. Dink aan wat gebeur het toe die Duiwel Jesus versoek het om klippe in brode te verander. Jesus het geweier om sy krag tot sy eie voordeel te gebruik (Matteus 4:2-4). Maar Jesus was gewillig om sy krag te gebruik om ander te help. Hoe kan ons sy onselfsugtige gesindheid navolg? Jesus het gesê dat ons ‘altyddeur moet gee’ (Lukas 6:38). Ons kan dit doen deur ander vir ’n maaltyd na ons huis te nooi. Ons kan ook ná die vergadering tyd afstaan om iemand te help, soos om te luister terwyl ’n broer sy toespraak oefen. Of ons kan ander op praktiese maniere help en oplei in die bediening. Ons volg Jesus se vrygewigheid na wanneer ons gretig is om ander te help wanneer ons ook al kan.

‘ALMAL HET GEËET EN VERSADIG GEWORD’

7. Wat sal altyd in Satan se wêreld ’n probleem wees?

7 Armoede is nie ’n nuwe probleem nie. Jehovah het vir die Israeliete gesê: “Die arme sal nooit in die land ontbreek nie” (Deuteronomium 15:11). Honderde jare later het Jesus gesê: “Julle het die armes altyd by julle” (Matteus 26:11). Het Jesus bedoel dat daar altyd arm mense op die aarde sal wees? Nee, hy het bedoel dat daar armoede sal wees so lank as wat ons in Satan se wêreld lewe. Hoe anders sal dit tog wees wanneer ons in die nuwe wêreld lewe! Dan sal armoede iets van die verlede wees. Almal sal tot versadiging toe kan eet!

8, 9. (a) Waarom het Jesus duisende mense gevoed? (b) Watter gevoelens wek hierdie wonderwerk by jou?

8 Die psalmis het van Jehovah gesê: “U maak u hand oop en bevredig die begeerte van alles wat lewe” (Psalm 145:16). Toe Jesus op die aarde was, het hy sy Vader volmaak nagevolg en dikwels in ander se behoeftes voorsien. Hy het dit nie gedoen bloot om sy krag te toon nie. Jesus het werklik vir mense omgegee. Kom ons bespreek Matteus 14:14-21. (Lees.) ’n Skare het Jesus van die stede af te voet gevolg (Matteus 14:13). Toe dit aand word, was die dissipels bekommerd omdat hulle gemeen het dat die skare al uitgeput en honger is. Daarom het hulle Jesus gevra om die skare weg te stuur om te gaan kos koop. Wat het Jesus gedoen?

9 Jesus het omtrent 5 000 mans, sowel as vroue en kinders, met vyf brode en twee visse gevoed. Waarom het Jesus hierdie wonderwerk verrig? Omdat hy werklik lief was vir mense en besorg was oor hulle. En Jesus het beslis baie kos voorsien, want die skare het “geëet en versadig geword”. Die kos wat hulle geëet het, het hulle versterk vir die lang pad terug huis toe (Lukas 9:10-17). En nadat almal versadig was, is 12 mandjies met die oorskietkos gevul!

10. Wat sal in die toekoms van armoede word?

10 Honderdmiljoene mense lewe in armoede omdat menseregerings gierig en oneerlik is. Selfs party van ons broers het nie genoeg om te eet nie. Maar binnekort sal mense wat gehoorsaam is aan Jehovah, in ’n wêreld lewe waar daar geen oneerlikheid of armoede is nie. Jehovah is die almagtige God, en hy het die krag en die begeerte om in almal se behoeftes te voorsien. Hy belowe om binnekort ’n einde te maak aan lyding!—Lees Psalm 72:16.

Jesus se wonderwerke verseker ons daarvan dat hy sy krag tot ons beswil wil gebruik

11. Waarom is jy daarvan oortuig dat Christus binnekort sy krag aardwyd sal gebruik, en wat beweeg dit jou om te doen?

11 Toe Jesus op die aarde was, het hy in ’n klein gebied drie en ’n half jaar lank wonderwerke verrig (Matteus 15:24). Maar as Koning sal Jesus die hele mensdom gedurende sy Duisendjarige Heerskappy help (Psalm 72:8). Jesus se wonderwerke verseker ons daarvan dat hy sy krag tot ons beswil wil gebruik. Hoewel ons nie wonderwerke kan verrig nie, is daar iets wat ons wel kan doen. Ons kan ons tyd en energie gebruik om ander te vertel van die wonderlike toekoms wat die Bybel belowe. Dit is ons verantwoordelikheid as Jehovah se Getuies (Romeine 1:14, 15). As ons nadink oor wat Christus binnekort sal doen, sal ons gretig wees om ander daarvan te vertel.—Psalm 45:1; 49:3.

JEHOVAH EN JESUS KAN DIE NATUURKRAGTE BEHEER

12. Waarom kan ons seker wees dat Jesus die ekologie van die aarde ten volle verstaan?

12 Toe God die aarde en alles daarop geskep het, was Jesus “’n meesterwerker naas hom” (Spreuke 8:22, 30, 31; Kolossense 1:15-17). Jesus verstaan die ekologie van die aarde dus ten volle. Hy weet hoe om al die aarde se hulpbronne ten beste en tot almal se voordeel te benut.

Wat beïndruk jou omtrent die manier waarop Jesus sy wonderdadige krag gebruik het? (Sien paragraaf 13, 14)

13, 14. Gee ’n voorbeeld van hoe Christus die natuurkragte kan beheer.

13 Toe Jesus op die aarde was, kon hy die natuurkragte beheer, wat getoon het dat hy die krag van God het. Dink byvoorbeeld aan hoe Jesus ’n windstorm laat bedaar het. (Lees Markus 4:37-39.) ’n Bybelgeleerde verduidelik dat die Griekse woord vir “windstorm” wat in die boek Markus gebruik word, ’n hewige storm of orkaan beskryf. Dit verwys na ’n storm wat met donker wolke, sterk wind, donderweer en stortreën gepaardgaan. Wanneer dit verby is, is alles deurmekaar. Volgens die apostel Matteus se verslag het hierdie windstorm “’n groot beroering . . . in die see” veroorsaak.—Matteus 8:24.

14 Stel jou die situasie voor: Die golwe het aanhoudend by die boot ingeslaan. Ten spyte van die geraas van die storm en die geskommel van die boot het Jesus geslaap omdat hy uitgeput was. Maar omdat die dissipels bang was, het hulle Jesus wakker gemaak en gesê: “Ons staan op die punt om te vergaan!” (Matteus 8:25). Hoe het Jesus gereageer? Hy het opgestaan en vir die wind en die see gesê: “Bedaar! Wees stil!” (Markus 4:39). Die verskriklike storm het bedaar, en “daar het ’n groot kalmte gekom”. Wat ’n uitstekende voorbeeld van Jesus se vermoë om die natuurkragte te beheer!

15. Hoe het Jehovah bewys dat hy die natuurkragte kan beheer?

15 Christus se krag kom van Jehovah, en daarom weet ons dat God die Almagtige die natuurkragte kan beheer. Byvoorbeeld, Jehovah het voor die Vloed gesê: “Oor nog net sewe dae laat ek dit veertig dae en veertig nagte op die aarde reën” (Genesis 7:4). Ons lees ook in Eksodus 14:21: “Jehovah het die see deur ’n sterk oostewind laat wegvloei.” En Jona 1:4 sê: “Jehovah het ’n sterk wind op die see gewerp, en daar het ’n groot storm op die see ontstaan; en die skip was op die punt om te vergaan.” Dit is vertroostend om te weet dat Jehovah die natuurkragte in die nuwe wêreld altyd sal beheer.

16. Waarom is dit vertroostend om te weet dat Jehovah en Jesus die natuurkragte kan beheer?

16 Dit is wonderlik om na te dink oor die ontsagwekkende krag wat Jehovah en Jesus besit. Gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy sal almal wat op die aarde lewe, veilig wees. Niemand sal beseer word of sterf weens natuurrampe soos orkane, tsoenami’s, vulkaniese uitbarstings of aardbewings nie. Ons sal nie bang wees dat natuurrampe sal plaasvind nie, want “die tent van God” sal by die mensdom wees! (Openbaring 21:3, 4). Ons kan seker wees dat Jehovah Jesus die krag sal gee om die natuurkragte gedurende sy Duisendjarige Heerskappy te beheer.

VOLG GOD EN CHRISTUS NOU NA

17. Wat is een manier waarop ons God en Christus nou kan navolg?

17 Ons kan natuurlik nie voorkom dat natuurrampe plaasvind nie. Slegs Jehovah en Jesus kan dit doen. Maar daar is iets wat ons wel kan doen. Ons kan Spreuke 3:27 (lees) toepas. Wanneer ons broers ly, kan ons help om in hulle fisiese en emosionele behoeftes te voorsien, en ons kan hulle vertroos (Spreuke 17:17). Ons kan hulle byvoorbeeld help nadat ’n natuurramp plaasgevind het. ’n Weduwee wie se huis deur ’n orkaan beskadig is, het gesê: “Ek is baie, baie dankbaar om in Jehovah se organisasie te wees, nie net vir die materiële hulp wat ek ontvang het nie, maar ook vir die geestelike hulp.” ’n Ongetroude suster het hulpeloos gevoel toe haar huis deur ’n storm beskadig is. Nadat die broers haar gehelp het om dit te herstel, het sy gesê: “Dit is ongelooflik! Woorde kan nie beskryf hoe ek voel nie.” Sy het bygevoeg: “Dankie, Jehovah!” Ons is dankbaar dat ons broers en susters werklik besorg is oor die behoeftes van ander. Maar ons is bowenal dankbaar dat Jehovah en Jesus Christus werklik vir ons omgee.

18. Wat beïndruk jou omtrent die rede waarom Jesus wonderwerke verrig het?

18 Jesus het gedurende sy bediening bewys dat hy ‘die krag van God is’. Maar hy het sy krag nooit gebruik om ander te beïndruk of om homself te bevoordeel nie. Jesus het eerder sy krag gebruik om wonderwerke te verrig omdat hy werklik lief was vir mense. Ons sal in die volgende artikel meer daaroor leer.