Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Lewe in ooreenstemming met die modelgebed—Deel I

Lewe in ooreenstemming met die modelgebed—Deel I

“Laat u naam geheilig word.”—MATTEUS 6:9.

1. Hoe kan ons Jesus se gebed in Matteus 6:9-13 gebruik wanneer ons preek?

BAIE mense ken die woorde van die gebed wat opgeteken is in Matteus 6:9-13. Wanneer ons preek, gebruik ons die woorde van hierdie gebed om mense te leer dat God se Koninkryk ’n werklike regering is wat die aarde in ’n paradys gaan omskep. En ons gebruik die woorde “laat u naam geheilig word” om te bewys dat God ’n naam het en dat ons dit as heilig moet beskou.—Matteus 6:9, voetnoot in NW.

2. Hoe weet ons dat Jesus nie wou hê dat ons dieselfde woorde moet herhaal elke keer wanneer ons bid nie?

2 Het Jesus bedoel dat ons sy presiese woorde moet gebruik elke keer wanneer ons bid, soos baie mense doen? Nee. Jesus het gesê: “Wanneer julle bid, moet julle nie dieselfde dinge oor en oor sê [nie]” (Matteus 6:7). Toe hy sy dissipels by ’n ander geleentheid geleer het hoe om te bid, het hy die gebed herhaal, maar nie presies dieselfde woorde gebruik nie (Lukas 11:1-4). Jesus het ons dus ’n modelgebed gegee om ons te leer watter belangrike dinge ons in ons gebede moet insluit.

3. Watter vrae kan jy jou afvra terwyl jy die modelgebed bestudeer?

3 In hierdie en die volgende artikel sal ons die modelgebed noukeurig bestudeer. Terwyl ons dit doen, kan jy jou afvra: ‘Hoe kan hierdie gebed my help om my gebede te verbeter?’ En nog belangriker: ‘Lewe ek in ooreenstemming met die modelgebed?’

“ONS VADER IN DIE HEMELE”

4. Waaraan herinner die woorde “ons Vader” ons, en in watter sin is Jehovah ons Vader?

4 Jesus het die gebed begin deur te sê: “Ons Vader.” Dit herinner ons daaraan dat Jehovah ’n Vader is vir al ons broers en susters regoor die wêreld (1 Petrus 2:17). Jehovah het diegene wat hy gekies het om in die hemel te woon, as sy kinders aangeneem, en daarom is hy hulle Vader in ’n spesiale sin (Romeine 8:15-17). Diegene wat vir ewig op die aarde sal woon, kan hom ook “Vader” noem. Jehovah gee hulle die lewe en voorsien liefdevol in hulle behoeftes. Nadat hulle volmaaktheid bereik het en die finale toets lojaal deurstaan het, sal hulle ook “kinders van God” genoem word.—Romeine 8:21; Openbaring 20:7, 8.

5, 6. Wat is die beste geskenk wat ouers hulle kinders kan gee, en wat moet elke kind met hierdie geskenk doen? (Sien prent aan begin van artikel.)

5 Ouers gee hulle kinders ’n groot geskenk as hulle hulle help om te verstaan dat Jehovah hulle hemelse Vader is en as hulle hulle leer om tot hom te bid. ’n Kringopsiener in Suid-Afrika sê: “Van die dag dat ons dogters gebore is, het ek elke aand saam met hulle gebid, tensy ek nie by die huis was nie. Ons dogters het al gesê dat hulle nie die presiese woorde van daardie gebede onthou nie. Maar hulle onthou die gevoel van kalmte en geborgenheid sowel as die eerbiedige atmosfeer, wat hulle laat besef het dat dit ’n voorreg is om te kommunikeer met ons Vader, Jehovah. Toe hulle hulle eie gebede kon sê, het ek hulle aangespoor om hardop te bid sodat ek kon hoor hoe hulle hulle gedagtes en gevoelens teenoor Jehovah uitspreek. Dit was ’n wonderlike geleentheid om te sien wat in hulle hart is. En dit het my in staat gestel om hulle liefdevol te help om belangrike elemente van die modelgebed by hulle gebede in te sluit sodat dit betekenisvoller kon wees.”

6 Sy dogters het geestelike vooruitgang bly maak. Hulle is nou getroud en dien Jehovah voltyds saam met hulle mans. Die beste geskenk wat ouers hulle kinders kan gee, is om hulle te leer dat Jehovah ’n werklike Persoon is en dat hulle sy hegte vriende kan wees. Maar elke kind moet hierdie hegte vriendskap met Jehovah sterk hou.—Psalm 5:11, 12; 91:14.

“LAAT U NAAM GEHEILIG WORD”

7. Watter voorreg het ons, maar wat moet ons doen?

7 Ons het die voorreg om God se naam te ken en om “’n volk vir sy naam” te wees (Handelinge 15:14; Jesaja 43:10). Ons vra ons hemelse Vader: “Laat u naam geheilig word.” Ons vra Jehovah ook om ons te help om niks te doen of te sê wat hom dalk tot oneer sal strek nie. Ons moenie soos party in die eerste eeu wees wat die dinge wat hulle ander geleer het, nie self toegepas het nie. Paulus het vir hulle geskryf: “Die naam van God word weens julle onder die nasies gelaster.”—Romeine 2:21-24.

8, 9. Gee ’n voorbeeld van hoe Jehovah diegene help wat sy naam wil heilig.

8 Ons doen alles in ons vermoë om Jehovah se naam te eer. ’n Suster in Noorweë se man is skielik oorlede toe hulle seuntjie maar twee jaar oud was. Sy sê: “Dit was ’n baie moeilike tyd in my lewe. Ek het elke dag, amper elke uur van die dag, vir emosionele krag gebid sodat ek nie ’n dwase besluit sou neem of ontrou sou wees en vir Satan ’n rede sou gee om Jehovah uit te tart nie. Ek wou Jehovah se naam heilig, en ek wou hê dat my seuntjie sy pa weer in die Paradys moet sien.”—Spreuke 27:11.

9 Het Jehovah haar gebede verhoor? Ja. Gereelde assosiasie met die broers en susters het haar aangemoedig. Vyf jaar later het sy met ’n ouer man getrou. Haar seun, wat nou 20 is, is ’n gedoopte broer. Sy sê: “Ek is so bly dat my man my gehelp het om hom groot te maak.”

10. Hoe sal God sy naam ten volle heilig?

10 Jehovah sal sy naam ten volle heilig wanneer hy almal verwyder wat hom oneer aandoen en wat hom as hulle Heerser verwerp. (Lees Esegiël 38:22, 23.) Mettertyd sal mense volmaaktheid bereik, en almal in die hemel en op die aarde sal Jehovah aanbid en sy heilige naam eer. Uiteindelik sal ons liefdevolle Vader “alles vir elkeen . . . wees”.—1 Korintiërs 15:28.

“LAAT U KONINKRYK KOM”

11, 12. Wat het Jehovah sy volk in 1876 gehelp om te verstaan?

11 Voordat Jesus teruggekeer het hemel toe, het sy dissipels gevra: “Here, herstel u in hierdie tyd die koninkryk vir Israel?” Jesus het geantwoord dat dit nog nie tyd was vir hulle om te weet wanneer God se Koninkryk sou begin heers nie. Hy het vir sy dissipels gesê om hulle eerder op die belangrike predikingswerk toe te spits. (Lees Handelinge 1:6-8.) Hy het hulle nietemin geleer om te bid dat God se Koninkryk moet kom en om na daardie tyd uit te sien. Daarom bid ons nog steeds dat die Koninkryk moet kom.

12 Toe dit byna tyd was vir Jesus om in die hemel te begin regeer, het Jehovah sy volk gehelp om te verstaan in watter jaar dit sou gebeur. In 1876 het Charles Taze Russell die artikel “Die Heidense Tye: Wanneer eindig dit?” geskryf. Hy het verduidelik dat die “sewe tye” in Daniël se profesie dieselfde is as “die vasgestelde tye van die nasies” in Jesus se profesie. Die artikel het verduidelik dat hierdie tye in 1914 sou eindig. * (Sien voetnoot.)—Daniël 4:16; Lukas 21:24.

13. Wat het in 1914 gebeur, en wat bewys wêreldgebeure sedert 1914?

13 In 1914 het oorlog in Europa uitgebreek en vinnig oor die hele wêreld versprei. Teen die tyd dat die oorlog in 1918 geëindig het, was daar reeds verskriklike hongersnode. En die wêreld was in die greep van ’n dodelike griepepidemie wat meer lewens as die oorlog geëis het. Al hierdie dinge was deel van “die teken” wat Jesus gegee het. Die teken het bewys dat Jesus in 1914 Koning geword het in die hemel (Matteus 24:3-8; Lukas 21:10, 11). Hy het in daardie jaar “uitgegaan om te oorwin en om sy oorwinning te voltooi” (Openbaring 6:2). Jesus het Satan en sy demone uit die hemel na die aarde neergeslinger. Toe het die volgende profesie in vervulling begin gaan: “Wee die aarde en die see, want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydjie het.”—Openbaring 12:7-12.

14. (a) Waarom bid ons nog steeds dat God se Koninkryk moet kom? (b) Watter belangrike werk moet ons nou doen?

14 Hierdie profesie in Openbaring hoofstuk 12 help ons om te verstaan waarom verskriklike dinge op die aarde begin plaasvind het omstreeks die tyd toe Jesus die Koning van God se Koninkryk geword het. Al heers Jesus in die hemel, heers Satan nog steeds oor die aarde. Maar Jesus sal binnekort “sy oorwinning . . . voltooi” deur alle goddeloosheid van die aarde af te verwyder. Intussen hou ons aan om te bid dat God se Koninkryk moet kom en hou ons aan om die Koninkryk te verkondig. Ons werk vervul Jesus se profesie: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matteus 24:14.

“LAAT U WIL GESKIED . . . OP DIE AARDE”

15, 16. Is dit genoeg om te bid dat God se wil op die aarde moet geskied? Verduidelik.

15 Sowat 6 000 jaar gelede het God se wil op die aarde geskied. Daarom het Jehovah gesê dat alles “baie goed” was (Genesis 1:31). Toe het Satan in opstand gekom, en sedertdien het die meeste mense nie God se wil gedoen nie. Maar vandag is daar sowat agtmiljoen mense wat Jehovah dien. Hulle bid nie net dat God se wil op die aarde moet geskied nie; hulle doen ook God se wil. Hulle lewe op ’n manier wat God behaag en hulle leer ander ywerig oor sy Koninkryk.

Leer jy jou kinders om God se wil te doen? (Sien paragraaf 16)

16 Byvoorbeeld, ’n 80-jarige sendeling in Afrika, wat in 1948 gedoop is, sê: “Ek bid dikwels dat alle skaapgeaarde mense die goeie nuus sal hoor en gehelp sal word om Jehovah te leer ken voordat dit te laat is. En wanneer ek vir iemand wil getuig, bid ek vir wysheid om die persoon se hart te bereik. Ek bid ook dat Jehovah ons pogings sal seën om na skaapgeaarde mense om te sien wat reeds gevind is.” Hierdie bejaarde suster het al baie mense gehelp om van Jehovah te leer. Kan jy aan ander bejaardes dink wat Jehovah se wil ywerig doen?—Lees Filippense 2:17.

17. Hoe voel jy oor wat Jehovah in die toekoms vir mense en vir die aarde gaan doen?

17 Totdat die tyd aanbreek dat Jehovah sy vyande van die aarde af verwyder, sal ons aanhou bid dat sy wil moet geskied. Wanneer dit gebeur, sal die aarde in ’n paradys omskep word, en miljarde mense sal uit die dood opgewek word. Jesus het gesê dat “die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, sy stem sal hoor en sal uitkom” (Johannes 5:28, 29). Stel jou voor hoe gelukkig ons sal wees wanneer ons ons geliefdes terugverwelkom! God “sal elke traan van [ons] oë afvee” (Openbaring 21:4). “Die onregverdiges”, wat nooit die waarheid omtrent Jehovah en Jesus geleer het nie, sal die oorgrote meerderheid uitmaak van diegene wat opgewek sal word. Ons sal dit geniet om hulle oor God se wil te leer sodat hulle “die ewige lewe” kan verkry.—Handelinge 24:15; Johannes 17:3.

18. Wat is die mensdom se grootste behoeftes?

18 Wanneer God se Koninkryk kom, sal dit Jehovah se naam heilig, en dan sal daar vrede en eenheid in die heelal wees. Ja, God sal in die mensdom se grootste behoeftes voorsien wanneer hy die eerste drie versoeke in die modelgebed toestaan. In die volgende artikel sal ons vier ander belangrike dinge bespreek waarvoor Jesus ons leer bid het.

^ par. 12 Om uit te vind hoe ons weet dat hierdie profesie in 1914 vervul is, sien die boek Wat leer die Bybel werklik? bladsy 215-218.