Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Lewe in ooreenstemming met die modelgebed—Deel 2

Lewe in ooreenstemming met die modelgebed—Deel 2

“Julle Vader weet watter dinge julle nodig het.”—MATTEUS 6:8.

1-3. Waarom was ’n suster oortuig dat Jehovah geweet het wat sy nodig het?

LANA, ’n gewone pionier, sal nooit vergeet wat gebeur het toe sy Duitsland in 2012 besoek het nie. Sy meen dat Jehovah twee van haar gebede verhoor het. Terwyl sy per trein na die lughawe gereis het, het sy Jehovah gevra om haar te help om iemand te vind vir wie sy kon preek. Toe sy by die lughawe aankom, het sy uitgevind dat haar vlug tot die volgende dag uitgestel is. Lana het Jehovah gevra om haar te help omdat sy min geld oorgehad het en verblyf vir die aand nodig gehad het.

2 Toe Lana klaar gebid het, het sy iemand hoor sê: “Hallo, Lana, wat maak jy hier?” Dit was ’n jong man saam met wie sy op skool was. Sy ma en sy ouma was by hom, en hulle het hom kom afsien omdat hy op pad was na Suid-Afrika. Toe Lana hulle van haar situasie vertel, het die ma en ouma Lana genooi om by hulle te kom oorbly. Hulle het baie vrae gevra oor haar oortuigings en haar werk as ’n pionier.

3 Die volgende oggend, ná ontbyt, het hulle nog vrae oor die Bybel gehad, wat Lana toe beantwoord het. Lana het hulle kontakbesonderhede gevra sodat sy kon reël dat iemand hulle besoek. Lana het veilig tuisgekom, en sy pionier nog steeds. Sy meen dat Jehovah na haar gebede geluister het, geweet het wat sy nodig het en haar gehelp het.—Psalm 65:2.

Ons hoef ons nie te bekommer oor wat ons in die toekoms nodig sal hê nie

4. Watter versoeke sal ons bespreek?

4 Wanneer ons skielik voor ’n probleem te staan kom, is dit maklik om Jehovah te vra om ons te help, en hy is gretig om ons gebede te verhoor (Psalm 34:15; Spreuke 15:8). Maar Jesus se modelgebed leer ons dat daar belangriker dinge is waarvoor ons moet bid. In hierdie artikel sal ons bespreek hoe die laaste vier versoeke in die modelgebed ons kan help om lojaal aan Jehovah te wees.—Lees Matteus 6:11-13.

“GEE ONS VANDAG ONS BROOD VIR HIERDIE DAG”

5, 6. Waarom het Jesus ons geleer om vir “ons brood” te bid, al het ons dalk baie kos?

5 Jesus het ons geleer om te vra vir “ons brood”, nie net vir “my brood” nie. Victor, ’n kringopsiener in Afrika, verduidelik: “Ek bedank Jehovah dikwels opreg dat ek en my vrou nie werklik bekommerd hoef te wees oor waar ons volgende maaltyd vandaan sal kom of oor huur wat betaal moet word nie. Ons broers voorsien elke dag op liefdevolle wyse in ons behoeftes. Maar ek bid wel dat diegene wat ons help, in staat sal wees om vandag se ekonomiese druk die hoof te bied.”

6 Al het ons dalk baie kos, is baie van ons broers arm. En party ly weens natuurrampe. Ons moenie net vir hulle bid nie; ons moet iets doen om hulle te help. Byvoorbeeld, ons kan wat ons het, met hulle deel. Ons kan ook gereeld bydraes gee vir die wêreldwye werk van Jehovah se volk. Ons weet dat ons bydraes ons behoeftige broers help.—1 Johannes 3:17.

7. Hoe het Jesus ons geleer dat ons ons “nooit [moet] kwel oor die volgende dag nie”?

7 Nadat Jesus die modelgebed gegee het, het hy ons geleer dat ons nie materiële dinge moet najaag nie. Hy het gesê dat Jehovah na die veldblomme omsien, en toe het hy gevra: “Sal hy julle nie veel eerder klee nie, julle kleingelowiges? Moet julle dus nooit kwel en sê: . . . ‘Wat gaan ons aantrek?’ nie.” Toe het hy weer gesê: “Moet julle dus nooit kwel oor die volgende dag nie” (Matteus 6:30-34). Ons hoef ons nie te bekommer oor wat ons in die toekoms nodig sal hê nie. Ons moet eerder tevrede wees as ons elke dag het wat ons nodig het. Ons kan byvoorbeeld bid vir ’n plek om te bly, ’n werk sodat ons na ons gesin kan omsien en wysheid sodat ons goeie besluite oor ons gesondheid kan neem. Maar daar is iets belangrikers waarvoor ons moet bid.

8. Waaraan sal Jesus se woorde oor ons daaglikse brood ons moontlik herinner? (Sien prent aan begin van artikel.)

8 Jesus se woorde oor ons daaglikse brood herinner ons aan iets anders wat hy gesê het: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah se mond kom” (Matteus 4:4). Daarom moet ons bid dat Jehovah sal aanhou om ons te onderrig en ons sal gee wat ons nodig het om na aan hom te bly.

“VERGEWE ONS ONS SKULDE”

9. Waarom is ons sondes soos skuld?

9 Jesus het gesê: “Vergewe ons ons skulde.” By ’n ander geleentheid het hy gesê: “Vergewe ons ons sondes” (Matteus 6:12; Lukas 11:4). Hy het dit gesê omdat ons sondes soos skuld is. In 1951 het Die Wagtoring verduidelik dat ons as ’t ware in die skuld is by Jehovah wanneer ons sondig. Ons is ons liefde en gehoorsaamheid aan Jehovah verskuldig. Wanneer ons teen God sondig, gee ons hom dus nie wat ons hom skuld nie. Die Wagtoring het bygevoeg dat Jehovah sy vriendskap met ons kan beëindig as hy wil. Dit het ook gesê dat ons nie liefde vir God toon as ons sondig nie.—1 Johannes 5:3.

Ons moet Jehovah altyd vir die kosbare gawe van die losprys bedank

10. Waarom kan Jehovah ons sondes vergewe, en hoe moet ons daaroor voel?

10 Hoe dankbaar is ons tog dat Jehovah die losprysoffer van Jesus voorsien het sodat ons sondes vergewe kan word! Ons het elke dag Jehovah se vergifnis nodig. Jesus het byna 2 000 jaar gelede vir ons gesterf, en tog vind ons vandag nog by die losprys baat. Ons moet Jehovah altyd vir hierdie kosbare gawe bedank. Nie een van ons sou ooit die losprys kon betaal wat nodig was om ons van sonde en die dood te bevry nie. (Lees Psalm 49:7-9; 1 Petrus 1:18, 19.) Die woorde “vergewe ons ons sondes” in die modelgebed herinner ons daaraan dat ons broers en susters, net soos ons, die losprys nodig het. Jehovah wil hê dat ons ook aan hulle en hulle verhouding met hom moet dink. Dit sluit in dat ons gou moet wees om hulle te vergewe wanneer hulle teen ons sondig. Dit is gewoonlik net geringe sondes, maar wanneer ons ons broers vergewe, bewys ons dat ons hulle liefhet. Ons bewys ook dat ons dankbaar is dat Jehovah ons vergewe.—Kolossense 3:13.

11. Waarom is dit belangrik om ander te vergewe?

11 Omdat ons onvolmaak is, kan dit soms moeilik wees om diegene te vergewe wat ons aanstoot gee (Levitikus 19:18). As ons begin praat oor wat hulle aan ons gedoen het, sal ander in die gemeente dalk kant kies, wat die eenheid van die gemeente sal versteur. As ons toelaat dat hierdie situasie voortduur, sal dit toon dat ons nie God se gawe van die losprys waardeer nie en sal ons nie die voordele daarvan ontvang nie (Matteus 18:35). Jehovah kan ons nie vergewe as ons ander nie vergewe nie. (Lees Matteus 6:14, 15.) Ons moet ook nie aanhou om iets te doen wat Jehovah haat as ons wil hê dat hy ons moet vergewe nie.—1 Johannes 3:4, 6.

As jy wil hê dat God jou moet vergewe, moet jy ander vergewe (Sien paragraaf 11)

“BRING ONS NIE IN VERSOEKING NIE”

12, 13. (a) Wat het met Jesus gebeur nadat hy gedoop is? (b) Waarom moet ons ander nie blameer as ons voor versoeking swig nie? (c) Wat het Jesus bewys deur getrou te bly tot in die dood?

12 Die woorde van die modelgebed “bring ons nie in versoeking nie” herinner ons aan wat met Jesus gebeur het kort nadat hy gedoop is. God se gees het hom in die wildernis in gelei “om deur die Duiwel versoek te word” (Matteus 4:1; 6:13). Waarom het Jehovah dit toegelaat? Jehovah het Jesus na die aarde gestuur om ’n geskil te besleg wat ontstaan het toe Adam en Eva Jehovah se heerskappy verwerp het. Hulle opstand het vrae laat ontstaan, en tyd was nodig om hierdie vrae te beantwoord. Byvoorbeeld, was daar fout met Jehovah se menseskepping? Sou ’n volmaakte mens lojaal aan Jehovah kon bly as hy deur “die bose” versoek word? En sou dit vir mense beter wees as hulle oor hulleself regeer? (Genesis 3:4, 5). In die toekoms, wanneer Jehovah meen dat hierdie geskille ten volle besleg is, sal almal in die hemel en op die aarde weet dat die manier waarop Jehovah regeer, die beste is.

Ons kan selfs onder uiters moeilike omstandighede lojaal aan Jehovah bly

13 Jehovah is heilig, en daarom versoek hy niemand met bose dinge nie. Dit is Satan wat “die Versoeker” is (Matteus 4:3). Satan probeer ons op baie maniere versoek. Maar ons het ’n keuse. Elkeen van ons kan besluit of ons versoeking gaan weerstaan of nie. (Lees Jakobus 1:13-15.) Toe Jesus deur Satan versoek is, het hy die versoeking onmiddellik weerstaan deur uit God se Woord aan te haal. Jesus was lojaal aan God. Maar Satan het nie tou opgegooi nie. Hy het gewag “tot ’n ander geskikte tyd” om Jesus te versoek (Lukas 4:13). Maar ongeag wat Satan gedoen het, Jesus het God altyd as sy Heerser gehoorsaam. Hy het bewys dat ’n volmaakte mens selfs onder uiters moeilike omstandighede lojaal aan Jehovah kan bly. Maar Satan probeer al Jesus se volgelinge, wat jou insluit, in die versoeking bring om ongehoorsaam te wees aan Jehovah.

Jehovah is vol vertroue dat ons lojaal aan hom kan bly, en hy wil ons help

14. Wat moet ons doen om versoeking te weerstaan?

14 Die geskille in verband met Jehovah se heerskappy moet nog besleg word. Intussen laat Jehovah toe dat Satan ons versoek. Jehovah “bring ons nie in versoeking nie”. Eintlik is hy vol vertroue dat ons lojaal aan hom kan bly, en hy wil ons help. Maar hy dwing ons nooit om te doen wat reg is nie. Hy respekteer ons wilsvryheid, en daarom laat hy ons self besluit of ons lojaal wil wees of nie. As ons nie voor versoeking wil swig nie, moet ons twee dinge doen: Ons moet na aan Jehovah bly en aanhou om vir sy hulp te bid. Hoe verhoor Jehovah ons gebede om versoeking te weerstaan?

Bly na aan Jehovah en wees ywerig in die bediening (Sien paragraaf 15)

15, 16. (a) Wat is van die versoekings wat ons moet weerstaan? (b) Wie se skuld is dit as ons voor versoeking swig?

15 Jehovah gee ons sy kragtige heilige gees om ons te help om Satan se versoekings te weerstaan. Jehovah het ons ook die Bybel en die gemeente gegee om ons teen gevare te waarsku. Hy waarsku ons byvoorbeeld om nie die meeste van ons tyd, geld en energie te bestee aan dinge wat ons nie werklik nodig het nie. Espen en Janne woon in ’n ryk land in Europa. Hulle was jare lank gewone pioniers in ’n deel van die land waar daar meer verkondigers nodig was. Hulle moes ophou pionier toe hulle eerste baba gebore is, en nou het hulle twee kinders. Espen sê: “Ons vra Jehovah dikwels om ons te help om nie voor versoeking te swig noudat ons minder tyd vir teokratiese bedrywighede het nie. Ons vra Jehovah om ons te help om geestelik sterk te bly en ons ywer vir die bediening te behou.”

16 Nog ’n versoeking wat ons moet weerstaan, is om na pornografie te kyk. Ons kan nie Satan blameer as ons voor hierdie versoeking swig nie. Waarom nie? Omdat Satan en sy wêreld ons nie kan dwing om enigiets te doen wat verkeerd is nie. Party kyk na pornografie omdat hulle nie verkeerde gedagtes verwerp nie. Maar baie van ons broers en susters het hierdie versoeking weerstaan, en ons kan ook.—1 Korintiërs 10:12, 13.

“VERLOS ONS VAN DIE BOSE”

17. (a) Hoe kan ons toon dat ons wil hê dat Jehovah ons moet “verlos . . . van die bose”? (b) Watter verligting is naby?

17 Hoe kan ons toon dat ons wil hê dat Jehovah ons moet “verlos . . . van die bose”? Ons moet “geen deel van die wêreld” wees nie en ons “moenie die wêreld of die dinge in die wêreld liefhê nie” (Johannes 15:19; 1 Johannes 2:15-17). Hoe verlig sal ons tog wees wanneer Jehovah Satan verwyder en hierdie goddelose wêreld vernietig! Maar intussen moet ons onthou dat Satan “groot toorn [het], omdat hy weet dat hy ’n kort tydjie het”. Hy sal alles in sy vermoë doen om te keer dat ons Jehovah dien. Daarom moet ons aanhou bid dat Jehovah ons teen Satan beskerm.—Openbaring 12:12, 17.

18. Wat moet ons doen as ons die einde van Satan se wêreld wil oorleef?

18 Wil jy graag in ’n wêreld sonder Satan lewe? Hou dan aan bid dat God se Koninkryk kom, dat God se naam geheilig word en dat sy wil op die aarde geskied. Vertrou altyd op Jehovah om vir jou te sorg en vir jou alles te gee wat jy nodig het om lojaal aan hom te bly. Ja, doen alles wat jy kan om in ooreenstemming met die modelgebed te lewe.