Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Julle het volharding nodig”

“Julle het volharding nodig”

TOE Anita een van Jehovah se Getuies geword het, was haar man woedend. * (Sien voetnoot.) Hy het probeer keer dat sy vergaderinge toe gaan en het haar verbied om God se naam te gebruik. As sy net die naam Jehovah genoem het, het hy baie kwaad geword.

Anita se man wou ook nie hê dat sy hulle kinders van Jehovah moet leer of hulle na die vergaderinge toe moet neem nie. Dit was vir haar baie moeilik omdat sy hulle kinders moes probeer leer sonder dat hy daarvan te wete kom.

Soos Anita se ondervinding toon, kan iemand in jou gesin probeer keer dat jy Jehovah dien. Of miskien ondervind jy ’n ander moeilike situasie. Dalk is jy al lank siek. Miskien het jy ’n kind of ’n huweliksmaat aan die dood afgestaan. Of dalk het ’n geliefde gesinslid Jehovah verlaat. Wat kan jy in hierdie situasies doen om getrou te bly aan Jehovah?

Die apostel Paulus het gesê: “Julle het volharding nodig” (Hebreërs 10:36). Maar wat kan jou help om te volhard?

VRA JEHOVAH IN GEBED OM JOU TE HELP

Wanneer jy ly, moet jy onthou dat jy op Jehovah moet vertrou om jou te help om te volhard. Vra hom in gebed om jou te help. Dit is wat Ana gedoen het toe haar man skielik oorlede is. Hulle was 30 jaar lank getroud. Ana sê: “Hy het eendag werk toe gegaan en nie weer huis toe gekom nie. Hy was maar net 52.”

Ana se werk het haar besig gehou, maar dit het nie haar pyn weggeneem nie. Wat het sy gedoen? Sy sê: “Ek het my hart voor Jehovah uitgestort en hom gesmeek om my te help.” Sy weet dat Jehovah haar gehelp het omdat sy altyd ’n gevoel van vrede en kalmte ondervind het nadat sy gebid het. En sy voeg by: “Ek is daarvan oortuig dat Jehovah my man uit die dood sal opwek.”—Filippense 4:6, 7.

Jehovah belowe dat hy sy knegte se gebede sal verhoor (Psalm 65:2). En hy sal hulle alles gee wat hulle nodig het sodat hulle kan aanhou om hom te dien. Jehovah sal jou help om selfs in moeilike situasies getrou aan hom te bly.

BLY NA AAN JOU BROERS EN SUSTERS

Daar is nog ’n manier waarop Jehovah ons help om te volhard. Hy het ons ons broers en susters in die gemeente gegee. Ons kan leer uit hoe die broers in Tessalonika mekaar gehelp het toe hulle wreed vervolg is. Gedurende daardie tyd was dit noodsaaklik dat hulle mekaar voortdurend aanmoedig (1 Tessalonisense 2:14; 5:11). Hulle het hulle broers en susters gehelp om getrou aan Jehovah te bly deur saam te vergader en hegte vriendskappe te vorm. Wat kan ons doen om getrou te bly soos die broers in Tessalonika?

Ons moet hegte vriende in die gemeente hê en mekaar aanmoedig, veral gedurende moeilike tye (Romeine 14:19). Die apostel Paulus het weens vervolging en ander probleme gely, maar Jehovah het hom die krag gegee om te volhard. Jehovah het Paulus byvoorbeeld deur middel van sy broers en susters aangemoedig. Die apostel het van sy vriende gesê: “Hulle het vir my ’n versterkende hulp geword” (Kolossense 4:10, 11). Hierdie broers was lief vir Paulus. Toe hy hulp nodig gehad het, het hulle hom dus vertroos en aangemoedig. Dalk kan jy dink aan tye toe broers en susters in jou gemeente iets gesê of gedoen het wat jou aangemoedig het.

VRA DIE OUER MANNE OM JOU TE HELP

Jehovah het ook die ouer manne in die gemeente voorsien. Hierdie manne kan jou aanmoedig en jou goeie raad uit die Bybel gee. Hulle is “soos ’n skuilplek teen die wind en ’n skuiling teen die reënstorm . . . , soos waterstrome in ’n waterlose land, soos die skaduwee van ’n groot, swaar rots in ’n uitgeputte land” (Jesaja 32:2). Dit is vertroostend om te weet dat hierdie broers gereed is om ons te help. Wanneer jy dus probleme ondervind, moet jy na die ouer manne toe gaan. Hulle kan jou help om aan te hou om Jehovah te dien.

Die ouer manne kan natuurlik nie al jou probleme oplos nie. En soos jy, is hulle onvolmaak (Handelinge 14:15). Maar jy sal beter voel as jy na ’n ouer man toe gaan en hy saam met jou tot Jehovah bid oor jou probleem (Jakobus 5:14, 15). In Italië het die ouer manne byvoorbeeld ’n broer aangemoedig wat al jare lank met ’n ernstige gesondheidsprobleem worstel. Hy het gesê: “Die broers se liefde en geneentheid tesame met hulle gereelde besoeke het my gehelp om te volhard.” As jy ’n moeilike situasie verduur, wil Jehovah hê dat jy die ouer manne moet vra om jou te help.

SPITS JOU TOE OP JOU DIENS AAN JEHOVAH

As ons ons toespits op ons diens aan Jehovah, sal ons sien hoe Jehovah ons help. Dit is wat John gedoen het. Toe hy 39 was, het hy uitgevind dat hy ’n seldsame kanker het. Hy het gemeen dat dit onregverdig is dat hy so siek is, veral omdat hy so jonk was. En hy was bekommerd oor sy vrou en hulle seuntjie, wat maar drie jaar oud was. Hy sê: “My vrou moes nie net na ons jong kind omsien nie, maar sy moes ook vir my sorg en my help met al my doktersafsprake.” Weens al die behandeling was hy baie moeg en het hy maagprobleme gehad. En dit was nie al nie. John het uitgevind dat sy pa op sterwe lê en iemand nodig het om na hom om te sien.

Wat het John en sy gesin gedurende daardie moeilike tyd gehelp? Al was John dikwels moeg, het hy seker gemaak dat sy gesin toegespits bly op hulle diens aan Jehovah. Hy sê: “Ons het al die vergaderinge bygewoon, elke week in die bediening uitgegaan en ons gesinsaanbidding gereeld gehou selfs wanneer dit moeilik was.” John het geleer hoe belangrik dit is om sy verhouding met Jehovah sterk te hou. Al was hy aanvanklik geskok en bekommerd, het hy kort voor lank baie kalmer gevoel. Hy het geweet dat Jehovah vir hom lief is en hom die krag gee wat hy nodig het. Net so kan Jehovah jou help wanneer jy bekommerd of bang is. John sê: “Jehovah kan jou sterk maak, net soos hy my sterk gemaak het.”

Wanneer jy ’n moeilike situasie verduur, moet jy Paulus se woorde in gedagte hou: “Julle het volharding nodig.” Vertrou op Jehovah deur tot hom te bid. Bly na aan jou broers in die gemeente, vra die ouer manne se hulp en bly toegespits op jou diens aan Jehovah. Hy sal jou help met enige probleem wat jy nou het of met enige probleem waarvoor jy in die toekoms te staan sal kom.

^ par. 2 Van die name is verander.