Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Span jou in om die geestelike paradys nog mooier te maak

Span jou in om die geestelike paradys nog mooier te maak

“Ek sal die plek van my voete verheerlik.”—JESAJA 60:13.

LIEDERE: 102, 75

1, 2. Waarna kan die woord “voetbank” in die Hebreeuse Geskrifte verwys?

JEHOVAH GOD het gesê: “Die hemel is my troon en die aarde is my voetbank” (Jesaja 66:1). God het ook na sy “voetbank” verwys toe hy gesê het: “Ek sal die plek van my voete verheerlik” (Jesaja 60:13). Hoe verheerlik hy sy voetbank, oftewel hoe maak hy dit mooi? En wat beteken dit vir diegene wat op sy voetbank, die aarde, woon?

2 In die Hebreeuse Geskrifte verwys die woord “voetbank” ook na die eertydse tempel in Israel (1 Kronieke 28:2; Psalm 132:7). Die tempel was vir Jehovah pragtig omdat dit die middelpunt van ware aanbidding was. En dit is gebruik om Jehovah op die aarde te verheerlik.

3. Wat is vandag die middelpunt van ware aanbidding, en wanneer het dit tot stand gekom?

3 Wat is vandag die middelpunt van ware aanbidding? Dit is nie ’n gebou soos die tempel nie. Dit is ’n geestelike tempel en dit verheerlik Jehovah meer as wat enige gebou ooit kon. Wat is die geestelike tempel? Dit is God se reëling wat dit vir mense moontlik maak om sy vriende te word en om hom te aanbid. Hierdie reëling is slegs moontlik danksy Jesus se losprysoffer en het in die jaar 29 begin toe Jesus gedoop is en as Hoëpriester van Jehovah se geestelike tempel gesalf is.—Hebreërs 9:11, 12.

Jehovah se volk moet hom nou op die aarde loof

4, 5. (a) Wat wil ware aanbidders van Jehovah doen in ooreenstemming met Psalm 99? (b) Wat moet ons ons afvra?

4 Ons is baie dankbaar vir God se reëling vir ware aanbidding. Ons toon ons dankbaarheid deur vir ander van Jehovah se naam en sy wonderlike gawe van die losprys te vertel. Hoe opwindend is dit tog dat meer as agtmiljoen ware Christene Jehovah elke dag loof! Talle godsdienstige mense dink verkeerdelik dat hulle God in die hemel sal loof nadat hulle gesterf het, maar Jehovah se volk weet hoe belangrik dit is om hom nou op die aarde te loof.

5 Jehovah se getroue knegte van die verlede het hom geloof, soos Psalm 99:1-3, 5 (lees) toon, en wanneer ons Jehovah loof, volg ons hulle voorbeeld na. Getroue manne soos Moses, Aäron en Samuel het God se reëling vir ware aanbidding ten volle ondersteun (Psalm 99:6, 7). Vandag dien Jesus se gesalfde broers wat nog op die aarde is, Jehovah getrou in die aardse deel van die geestelike tempel voordat hulle saam met Jesus in die hemel as priesters begin dien. Miljoene “ander skape” ondersteun hulle lojaal (Johannes 10:16). Hierdie twee groepe aanbid Jehovah eendragtig saam. Maar elkeen van ons moet ons afvra: ‘Gee ek my volle ondersteuning aan Jehovah se reëling vir ware aanbidding?’

DIEGENE WAT BY GOD SE GEESTELIKE TEMPEL DIEN, WORD GEÏDENTIFISEER

6, 7. Watter probleem het in die vroeë Christengemeente ontstaan, en wat het teen 1919 gebeur?

6 Minder as ’n eeu nadat die Christengemeente gevorm is, het afvalligheid ontstaan, soos voorspel is (Handelinge 20:28-30; 2 Tessalonisense 2:3, 4). Daarna het dit al hoe moeiliker geword om God se ware aanbidders te identifiseer. Jehovah het Jesus eers honderde jare later gebruik om diegene te identifiseer wat God werklik by Sy geestelike tempel dien.

7 Teen die jaar 1919 is diegene wat deur God goedgekeur is en wat hom by sy geestelike tempel dien, duidelik geïdentifiseer. Hulle het aanpassings gemaak sodat hulle aanbidding vir Jehovah nog aanneemliker sou wees (Jesaja 4:2, 3; Maleagi 3:1-4). ’n Visioen wat die apostel Paulus honderde jare vroeër gesien het, het dus in vervulling begin gaan.

8, 9. Waarna verwys die “paradys” wat Paulus in ’n visioen gesien het?

8 Paulus se visioen is opgeteken in 2 Korintiërs 12:1-4. (Lees.) In hierdie visioen het Jehovah vir Paulus iets gewys wat in die toekoms sou bestaan. Waarna verwys die “paradys” wat Paulus gesien het? Dit kan eerstens verwys na die letterlike Paradys wat binnekort op die aarde sal bestaan (Lukas 23:43). Dit kan tweedens verwys na die volmaakte geestelike paradys in die nuwe wêreld. En derdens kan dit verwys na die wonderlike toestande in “die paradys van God” in die hemel.—Openbaring 2:7.

9 Maar waarom het Paulus gesê dat hy “onuitspreeklike woorde gehoor het wat dit ’n mens nie geoorloof is om te spreek nie”? Omdat dit nie die regte tyd was vir hom om die wonderlike dinge wat hy in die visioen gesien het, in besonderhede te verduidelik nie. Maar vandag laat Jehovah ons toe om ander te vertel van die wonderlike seëninge wat sy volk nou geniet!

10. Is die geestelike paradys en die geestelike tempel dieselfde? Verduidelik.

10 Ons praat dikwels van die geestelike paradys, maar waarna verwys dit? Dit verwys na die unieke, geestelik ryk toestand van Jehovah se volk, wat ons in staat stel om vrede met hom en ons broers te geniet. Die geestelike paradys en die geestelike tempel is dus nie dieselfde nie. Die geestelike tempel is God se reëling vir ware aanbidding. Die geestelike paradys maak dit moontlik om diegene te identifiseer wat God se goedkeuring geniet en wat hom by sy geestelike tempel aanbid.—Maleagi 3:18.

11. Watter voorreg het ons vandag?

11 Dit is opwindend om te weet dat Jehovah onvolmaakte mense sedert 1919 die voorreg gegee het om die geestelike paradys in stand te hou, te versterk en uit te brei. Help jy met hierdie wonderlike werk? Waardeer jy die voorreg om saam met Jehovah te werk om hom op die aarde te verheerlik?

JEHOVAH VERGROOT DIE PRAG VAN SY ORGANISASIE

12. Hoe weet ons dat Jesaja 60:17 vervul word? (Sien prent aan begin van artikel.)

12 Die profeet Jesaja het voorspel dat daar talle wonderlike veranderinge en aanpassings in die aardse deel van God se organisasie sou wees. (Lees Jesaja 60:17.) Jong Christene of diegene wat nuut is in die waarheid, het dalk nog net gelees of gehoor van hierdie veranderinge. Maar baie broers en susters het die voorreg gehad om hierdie wonderlike aanpassings te ondervind! Hierdie getroue knegte is daarvan oortuig dat God sy organisasie deur middel van ons Koning, Jesus, lei en rig! Wanneer ons na die ondervindinge van hierdie dierbare Christene luister, versterk dit ons geloof en vertroue in Jehovah.

Die geestelike paradys verwys na die unieke, geestelik ryk toestand van Jehovah se volk, wat ons in staat stel om vrede met hom en ons broers te geniet

13. Wat moet ons volgens Psalm 48:12-14 doen?

13 Alle ware Christene moet ander van Jehovah se organisasie vertel. Wat ’n wonderwerk is dit tog dat ons ’n vreedsame en verenigde broederskap het, al lewe ons in Satan se goddelose wêreld! Ons sal “die toekomstige geslag” vreugdevol moet vertel van Jehovah se organisasie en van die geestelike paradys!—Lees Psalm 48:12-14.

14, 15. Watter aanpassings is ná 1970 gemaak, en hoe het dit die organisasie tot voordeel gestrek?

14 Baie van die ouer broers en susters in ons gemeentes het die aanpassings ondervind wat die aardse deel van Jehovah se organisasie nog mooier gemaak het. Hulle onthou die tyd toe gemeentes ’n gemeentekneg gehad het en nie ’n liggaam van ouer manne nie, toe lande ’n takkneg gehad het en nie ’n Takkomitee nie en toe die organisasie gerig is deur die president van die Wagtoringgenootskap en nie deur die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies nie. Hoewel al hierdie broers getroue assistente gehad het, was daar in elke gemeente, by elke takkantoor en by die wêreldhoofkwartier eintlik net een broer wat verantwoordelik was vir al die besluite. Ná 1970 is aanpassings gemaak sodat groepe ouer manne eerder as net een persoon die verantwoordelikheid sou hê om besluite te neem.

15 Waarom het hierdie aanpassings die organisasie tot voordeel gestrek? Omdat dit gegrond is op ’n beter begrip van die Skrif. Aangesien een persoon nie meer al die besluite neem nie, vind die organisasie baat by die goeie eienskappe van al die ouer manne, of “gawes in die vorm van mense”, wat Jehovah voorsien.—Efesiërs 4:8; Spreuke 24:6.

Jehovah gee mense regoor die wêreld die leiding wat hulle in die lewe nodig het (Sien paragraaf 16, 17)

16, 17. Watter onlangse aanpassings het jou beïndruk, en waarom?

16 Dink aan hoe ons lektuur in onlangse jare verander het. Ons geniet dit om nuttige en aantreklike lektuur in ons bediening aan te bied. Dink ook aan hoe ons van nuwe tegnologie, soos die webwerf jw.org, gebruik maak om meer mense met die goeie nuus te bereik sodat hulle die hulp kan ontvang wat hulle werklik nodig het. Al hierdie aanpassings toon dat Jehovah werklik in mense belangstel en vir hulle lief is.

Ons is dankbaar vir die opleiding wat ons by ons talle Bybelskole ontvang

17 Ons waardeer ook die aanpassing wat dit vir ons moontlik maak om ’n aand vir Gesinsaanbidding of meer tyd vir persoonlike studie te hê. En ons waardeer die veranderinge wat ons byeenkomsprogramme betref. Dit is asof dit elke jaar al hoe beter word! Ons is ook dankbaar vir die opleiding wat ons by ons talle Bybelskole ontvang. Al hierdie aanpassings toon duidelik dat Jehovah sy organisasie rig en dat hy aanhou om die geestelike paradys nog mooier te maak!

HOE ONS HELP OM DIE GEESTELIKE PARADYS NOG MOOIER TE MAAK

18, 19. Hoe kan ons help om die geestelike paradys nog mooier te maak?

18 Jehovah het ons die eer gegee om ons geestelike paradys nog mooier te maak. Maar hoe doen ons dit? Deur die goeie nuus van die Koninkryk ywerig te verkondig en nog dissipels te maak. Elke keer dat ons iemand help om ’n kneg van God te word, help ons om die geestelike paradys uit te brei.—Jesaja 26:15; 54:2.

19 Ons help ook om die geestelike paradys mooier te maak wanneer ons ons inspan om ons Christelike persoonlikheid te verbeter. Dit help ons om die geestelike paradys aantrekliker vir ander te maak. Gewoonlik is dit nie net ons Bybelkennis nie, maar ook ons rein en vreedsame gedrag wat mense eerstens na die organisasie en dan na Jehovah sowel as Jesus aantrek.

Jy kan help om die geestelike paradys uit te brei (Sien paragraaf 18, 19)

20. Wat moet volgens Spreuke 14:35 ons begeerte wees?

20 Hoe bly maak dit Jehovah en Jesus tog wanneer hulle vandag ons pragtige geestelike paradys sien! Die vreugde wat ons nou ervaar terwyl ons dit nog mooier maak, is net ’n voorsmakie van die vreugde wat ons later sal ervaar wanneer ons die aarde in ’n letterlike paradys omskep. Ons moet die woorde in Spreuke 14:35 altyd in gedagte hou: “Die welbehae van ’n koning is in die kneg wat met insig optree.” Laat ons wys optree terwyl ons ons inspan om die geestelike paradys nog mooier te maak!