Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bly lojaal aan God se Koninkryk

Bly lojaal aan God se Koninkryk

“Hulle is geen deel van die wêreld nie.”—JOHANNES 17:16.

LIEDERE: 63, 129

1, 2. (a) Waarom wil Christene aan Jehovah lojaal bly, en hoe hou dit verband met neutraliteit? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Waaraan is baie mense lojaal, maar wat het dit soms tot gevolg?

KNEGTE van Jehovah is neutraal en raak nie betrokke by die geskille wat mense verdeel nie, soos geskille oor nasionaliteit, ras of kultuur nie. Waarom nie? Omdat ons Jehovah liefhet, lojaal aan hom is en hom gehoorsaam (1 Johannes 5:3). Ons bly by God se standaarde, ongeag waar ons woon of waar ons vandaan kom. Lojaliteit aan Jehovah en sy Koninkryk is vir ons belangriker as enigiets anders (Matteus 6:33). Dit is waarom ons kan sê dat ons “geen deel van die wêreld [is] nie”.—Lees Johannes 17:11, 15, 16; Jesaja 2:4.

2 Vandag is baie mense in die wêreld lojaal aan hulle land, stam of kultuur, of selfs aan hulle sportspan. Dit het ongelukkig daartoe gelei dat baie van hulle met mekaar wedywer en mekaar haat. Dit het selfs al tot bloedvergieting gelei. Al raak ons nie by hierdie geskille betrokke nie, kan dit ons en ons familie raak en sal ons dalk verskriklike onregte moet verduur. Omdat God ons ’n sin vir geregtigheid gegee het, kan dit baie maklik wees om kant te kies wanneer regerings onregverdige besluite neem (Genesis 1:27; Deuteronomium 32:4). Hoe voel jy wanneer onregte plaasvind? Bly jy neutraal, of kies jy kant?

Ware Christene dink nie dat een deel van Satan se wêreld beter is as ’n ander deel nie

3, 4. (a) Waarom kies ons nie kant in geskille nie? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Baie mense kies kant in geskille omdat regerings hulle daarvan oortuig dat goeie burgers dit moet doen. Maar ons volg Jesus na. Daarom raak ons nie betrokke by die politiek en oorloë nie (Matteus 26:52). Ware Christene dink nie dat een deel van Satan se wêreld beter is as ’n ander deel daarvan nie (2 Korintiërs 2:11). Ons raak glad nie betrokke by die geskille van hierdie wêreld nie.—Lees Johannes 15:18, 19.

4 Omdat ons onvolmaak is, het party van ons dalk nog steeds ’n negatiewe beskouing van mense wat anders as ons is (Jeremia 17:9; Efesiërs 4:22-24). In hierdie artikel sal ons beginsels bespreek wat ons sal help om te stry teen gevoelens wat mense verdeel en wat ons sal help om dit te oorkom. Ons sal ook bespreek hoe ons aan die Koninkryk lojaal kan wees deur ons daarop toe te lê om soos Jehovah en Jesus te dink.

WAAROM ONS GEEN DEEL VAN DIE WÊRELD ONDERSTEUN NIE

5, 6. Hoe het Jesus verskillende groepe mense beskou toe hy op die aarde was, en waarom?

5 Wanneer dit vir jou moeilik is om neutraal te bly en nie kant te kies nie, moet jy jou afvra: ‘Wat sou Jesus gedoen het?’ Toe Jesus op die aarde was, was daar konflikte en meningsverskille tussen mense van Judea, Galilea en Samaria. Dink aan ’n paar voorbeelde. Die Jode en die Samaritane het nie met mekaar gepraat nie (Johannes 4:9). Daar was baie dinge waaroor die Fariseërs en die Sadduseërs nie saamgestem het nie (Handelinge 23:6-9). Jode wat die Wet gestudeer het, het gedink dat hulle beter is as mense wat dit nie gedoen het nie (Johannes 7:49). En baie het die belastinggaarders en die Romeine gehaat (Matteus 9:11). Maar Jesus het nie by hierdie geskille betrokke geraak nie. Hy het godsdienswaarheid altyd verdedig en geweet dat Israel God se spesiale nasie was, maar hy het sy dissipels nooit geleer dat hulle beter is as ander nie (Johannes 4:22). Hy het hulle eerder geleer om lief te wees vir alle mense.—Lukas 10:27.

Jehovah en Jesus dink nie dat een ras, nasie of taal beter is as ’n ander nie

6 Waarom het Jesus nie gedink dat een groep mense beter is as ’n ander groep nie? Dit was weens die beskouing wat hy en sy Vader van mense het. Jehovah het mense geskep sodat hulle die aarde met ’n verskeidenheid rasse sou vul (Genesis 1:27, 28). Jehovah en Jesus dink dus nie dat een ras, nasie of taal beter is as ’n ander nie (Handelinge 10:34, 35; Openbaring 7:9, 13, 14). Ons moet hulle volmaakte voorbeeld volg.—Matteus 5:43-48.

7, 8. (a) Aan wie se kant skaar ons ons, en waarom? (b) Wat moet ons onthou aangaande die oplossing vir die mensdom se probleme?

7 Waarom kies ons nie kant vir enige menseheerser of -regering nie? Omdat ons ons aan Jehovah se kant skaar. Hy is ons Heerser. Satan het in Eden te kenne gegee dat Jehovah nie die beste heerser vir die mens is nie. Satan wou hê dat mense moet glo dat die manier waarop hy dinge doen, beter is as God se manier. Jehovah laat ons self besluit aan wie se kant ons ons wil skaar. Maar wat van jou? Gehoorsaam jy Jehovah omdat jy glo dat die manier waarop hy dinge doen, beter is as jou manier? Is jy daarvan oortuig dat slegs sy Koninkryk ons probleme kan oplos? Of dink jy dat mense sonder God suksesvol oor hulleself kan regeer?—Genesis 3:4, 5

8 Hoe sal jy byvoorbeeld antwoord as iemand jou vra wat jy van ’n sekere politieke party, aktivistegroep of ’n soortgelyke organisasie dink? Party van hierdie groepe is moontlik opreg en wil mense help. Maar ons weet dat slegs Jehovah se Koninkryk die mensdom se probleme kan oplos en alle onregte uit die weg kan ruim. En in die gemeente doen elkeen nie wat hy dink die beste is nie; ons volg eerder Jehovah se leiding. Daarom is die gemeente verenig.

9. Watter probleem het party Christene in die eerste eeu gehad, en wat moes hulle doen?

9 In die eerste eeu het party Christene in Korinte met mekaar gestry en gesê: “‘Ek behoort aan Paulus’, ‘Maar ek aan Apollos’, ‘Maar ek aan Sefas’, ‘Maar ek aan Christus’.” Toe Paulus hiervan uitvind, was hy geskok. Dit was ’n baie ernstige probleem omdat dit die vrede van die gemeente bedreig het. Dit het gelyk of die Christus verdeeld is. Paulus het vir hulle gesê: “Ek vermaan julle dan nou, broers, deur die naam van ons Here Jesus Christus, dat julle almal eenstemmig moet praat en dat daar nie verdeeldhede onder julle moet wees nie, maar dat julle paslik verenig kan wees in dieselfde denke en in dieselfde gedagtegang.” Dit is vandag ook die geval. Daar moenie enige verdeeldheid in die gemeente wees nie.—1 Korintiërs 1:10-13; lees Romeine 16:17, 18.

10. Waaraan het Paulus Christene herinner, en wat leer ons daaruit?

10 Paulus het gesalfde Christene daaraan herinner dat hulle burgerskap in die hemel het en dat hulle hulle verstande nie moet rig op “dinge op die aarde” nie (Filippense 3:17-20). * (Sien voetnoot.) Die gesalfdes is ambassadeurs wat God en Christus verteenwoordig. ’n Ambassadeur raak nie betrokke by die probleme en die politiek van die land waarin hy dien nie. Net so sal dit nie reg wees as die gesalfdes betrokke raak by die probleme en die politiek van die wêreld nie (2 Korintiërs 5:20). Ook diegene met die hoop om vir ewig op die aarde te lewe, is lojaal aan die Koninkryk en kies nie kant in die geskille van hierdie wêreld nie.

WEES LOJAAL AAN JEHOVAH SE KONINKRYK

11, 12. (a) Watter gesindhede moet ons vermy as ons lojaal aan God se Koninkryk wil bly? (b) Hoe het ’n suster oor party mense gevoel, en wat het haar gehelp om te verander?

11 In die meeste dele van die wêreld het mense ’n spesiale band met diegene wat dieselfde geskiedenis, kultuur en taal as hulle het. Hulle is dikwels baie trots op hulle herkoms. Maar ons moenie toelaat dat hierdie gesindhede ons beïnvloed nie. Ons moet eerder ons denke verander en ons moet ons gewete oplei sodat ons onder alle omstandighede neutraal sal bly. Hoe kan ons dit doen?

12 Beskou die voorbeeld van Mirjeta * (sien voetnoot) wat in die voormalige Joego-Slawië gebore is. In die gebied waar sy grootgeword het, het mense Serwiërs gehaat. Toe sy van Jehovah geleer het, het sy besef dat hy nie dink dat een etniese groep beter is as ’n ander etniese groep nie en dat Satan wil hê dat mense mekaar moet haat. Sy het dus hard probeer om haar gevoelens te verander. Maar toe ’n oorlog tussen verskeie etniese groepe in haar gebied uitgebreek het, het Mirjeta se negatiewe gevoelens teenoor Serwiërs weer begin kop uitsteek. Sy wou nie eens vir hulle preek nie. Sy het geweet dat dit verkeerd is om so te voel, en daarom het sy Jehovah gesmeek om haar te help om hierdie gevoelens te oorkom. Sy het hom ook gevra om haar te help sodat sy kan begin pionier. Mirjeta sê: “Ek het gevind dat die bediening my die meeste gehelp het. Wanneer ek in die bediening is, probeer ek Jehovah se liefdevolle persoonlikheid navolg, en dit het my gehelp om my negatiewe gevoelens stadig maar seker te oorkom.”

13. (a) Wat het met Zoila gebeur, en hoe het sy gereageer? (b) Wat kan ons uit Zoila se ondervinding leer?

13 Zoila is ’n suster wat van Mexiko na Europa getrek het. In haar gemeente is daar broers en susters uit ’n ander deel van Latyns-Amerika. Zoila sê dat party van hulle neerhalende aanmerkings gemaak het oor haar geboorteland, sowel as oor die gebruike en die musiek van die land. Dit het haar ontstel, en daarom het sy tot Jehovah gebid om haar te help om nie aanstoot te neem nie. Hoe sou ons gereageer het as ons in haar situasie was? Party van ons broers en susters vind dit moeilik om hulle emosies te beheers wanneer hulle negatiewe aanmerkings hoor oor die plek waar hulle vandaan kom. Daarom wil ons nooit iets sê of doen wat dit laat lyk asof een groep mense beter is as ’n ander groep mense nie. Ons wil nie verdeeldheid in die gemeente of op enige ander plek veroorsaak nie.—Romeine 14:19; 2 Korintiërs 6:3.

Vra Jehovah om jou te help om mense te beskou soos hy hulle beskou

14. Wat kan jou help om mense te beskou soos Jehovah hulle beskou?

14 Ons almal weet dat Jehovah se knegte as ’n volk verenig is, en daarom moet ons nooit dink dat een plek of land beter is as ’n ander plek of land nie. Maar jou familie en die mense in die omgewing waar jy grootgeword het, het jou moontlik beïnvloed om lief te wees vir die plek waar jy vandaan kom. Daarom het jy miskien nog steeds negatiewe gevoelens oor mense van ander nasies, kulture, tale of rasse. Wat kan jou help om te verander? Dink na oor hoe Jehovah voel oor mense wat nasionalisties is of wat dink dat hulle beter is as ander. Doen meer navorsing oor hierdie onderwerp wanneer jy persoonlike studie doen of wanneer julle gesinsaanbidding hou. Vra Jehovah dan om jou te help om mense te beskou soos hy hulle beskou.—Lees Romeine 12:2.

As ons aan Jehovah lojaal wil wees, moet ons hom gehoorsaam, ongeag wat ander mense aan ons doen (Sien paragraaf 15, 16)

15, 16. (a) Hoe sal party reageer omdat ons anders is? (b) Hoe kan ouers hulle kinders help om aan Jehovah lojaal te bly?

15 Ons wil Jehovah met ’n skoon gewete dien, en daarom sal ons soms opvallend anders wees as ons werksmaats, klasmaats, bure of familielede (1 Petrus 2:19). Jesus het ons gewaarsku dat ons selfs deur ander gehaat sal word omdat ons anders is. Onthou dat die meeste van ons teenstanders nie van God se Koninkryk weet nie. Hulle verstaan dus nie waarom dit vir ons so belangrik is om eerder aan die Koninkryk lojaal te wees as aan menseregerings nie.

16 As ons aan Jehovah lojaal wil wees, moet ons hom gehoorsaam, ongeag wat ander mense sê of doen (Daniël 3:16-18). Dit is veral vir jongmense moeilik om anders te wees. Ouers, help julle kinders om moedig te wees by die skool. Daar word dalk druk op julle kinders geplaas om die vlag te salueer of om aan ander nasionalistiese vierings deel te neem. Tydens julle gesinsaanbidding kan julle julle kinders leer hoe Jehovah oor hierdie dinge voel. Leer hulle hoe om hulle oortuigings op ’n duidelike en respekvolle wyse te verduidelik (Romeine 1:16). En as dit nodig is, moet jy jou kinders help deur met hulle onderwysers te praat en ons oortuigings aan hulle te verduidelik.

GENIET AL JEHOVAH SE SKEPPINGSWERKE

17. Watter gesindheid moet ons vermy, en waarom?

17 Ons hou gewoonlik van die kos, taal, natuurskoon en gebruike van die plek waar ons vandaan kom. Maar dink ons dat die dinge waarvan ons hou, altyd beter is as die dinge waarvan ander hou? Wanneer ons na Jehovah se skeppingswerke kyk, sien ons groot verskeidenheid (Psalm 104:24; Openbaring 4:11). Ons moet dus nie daarop aandring dat een manier om dinge te doen, beter is as ’n ander manier nie.

Jehovah wil hê dat alle soorte mense vir ewig moet lewe

18. Waarom is dit goed as ons ander beskou soos Jehovah hulle beskou?

18 Jehovah wil hê dat alle soorte mense hom moet leer ken, hom moet aanbid en vir ewig moet lewe (Johannes 3:16; 1 Timoteus 2:3, 4). Wanneer ons broers idees het wat van ons s’n verskil, is ons bereid om daarna te luister, solank hulle idees aanvaarbaar is vir Jehovah. Dit maak ons lewe interessant en genotvol en beskerm ons eenheid met ons broers en susters. Soos ons bespreek het, kies ons nie kant in die wêreld se geskille nie omdat ons aan Jehovah en sy Koninkryk lojaal is. Ons haat die trotse en mededingende gesindheid van Satan se wêreld. Hoe dankbaar is ons tog dat Jehovah ons geleer het om vredeliewend en nederig te wees! Ons voel soos die psalmis wat gesê het: “Kyk! Hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers in eenheid saam woon!”—Psalm 133:1.

^ par. 10 Party in die gemeente in Filippi het moontlik ’n vorm van Romeinse burgerskap gehad, en daarom het hulle meer regte gehad as hulle broers wat nie Romeinse burgers was nie.

^ par. 12 Van die name is verander.