Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

My eerste liefde het my gehelp om te volhard

My eerste liefde het my gehelp om te volhard

IN JUNIE 1970 het ek my bevind in ’n hospitaalbed in Pennsilvanië, Verenigde State. Ek was ’n 20-jarige soldaat en het ’n ernstige infeksie gehad. ’n Verpleër het my bloeddruk elke halfuur geneem. Die verpleër, wat ’n paar jaar ouer as ek was, het bekommerd gelyk. Toe my bloeddruk bly val, het ek gesê: “Jy het nog nooit iemand sien doodgaan nie, nè?” Hy het bleek geword en geantwoord: “Nee, ek het nie.” Dit het gelyk of ek dit nie sou maak nie, maar ek het wel. Kom ek vertel julle ’n bietjie van my lewe.

MY EERSTE OORLOGSERVARING

Ek het siek geword terwyl ek gedurende die oorlog in Viëtnam as ’n tegnikus in ’n operasiesaal gewerk het. Ek het daarvan gehou om die siekes en beseerdes te help en ek wou ’n snydokter word. Ek het in Julie 1969 in Viëtnam aangekom. Soos met alle nuwe soldate die geval was, is ek ’n week gegee om aan die tydsverskil en die hitte gewoond te raak.

Ek is na die Mekongdelta gestuur, waar ek in ’n militêre hospitaal moes werk. Helikopters het gewonde soldate heeltyd na die hospitaal gebring. Omdat ek lief was vir my land en lief was vir harde werk, wou ek my landgenote onmiddellik help. Die beseerde soldate is vir hulle operasie voorberei en is vinnig na klein lugversorgde vraghouers geneem wat as operasieteaters gebruik is. ’n Snydokter, ’n narkotiseur en twee verpleërs het hulle bes gedoen om lewens te red. Ek het groot swart sakke gesien wat nie uit die helikopters gelaai is nie. Daar is vir my gesê dat dit liggaamsdele bevat van soldate wat in ontploffings op die slagveld dood is. Dit was my eerste oorlogservaring.

MY SOEKE NA GOD

Ek het die goeie nuus vir die eerste keer gehoor toe ek ’n jong man was

Toe ek jonk was, het ek vir die eerste keer van die waarheid gehoor by Jehovah se Getuies. My ma het die Bybel saam met die Getuies gestudeer, maar sy is nooit gedoop nie. Nietemin het ek dit geniet om te sit en luister terwyl die studie gehou is. Eendag het ek en my stiefpa by ’n Koninkryksaal verbygestap. “Wat is dit?” het ek hom gevra. Hy het geantwoord: “Jy moet van daardie mense af wegbly!” Omdat ek my stiefpa vertrou en liefgehad het, het ek na hom geluister en nie weer met Jehovah se Getuies gepraat nie.

Nadat ek uit Viëtnam teruggekeer het, het ek talle pynlike herinneringe gehad. As gevolg van die dinge wat ek gedurende die oorlog beleef het, kon ek geen emosie ervaar nie. Dit het vir my gevoel asof niemand werklik verstaan wat in Viëtnam gebeur nie. Ek onthou dat party mense die Amerikaanse soldate babamoordenaars genoem het omdat daar berigte was van onskuldige kinders wat vermoor is. Dit alles het my laat besef dat ek ’n verhouding met God nodig het.

In my soeke na God het ek verskillende kerke begin besoek. Ek was nog altyd lief vir God, maar ek het nie gehou van wat ek in daardie kerke gesien het nie. Uiteindelik het ek na ’n Koninkryksaal in Delray Beach, Florida, gegaan. Ek het my eerste vergadering op ’n Sondag in Februarie 1971 bygewoon.

Toe ek by die Koninkryksaal instap, was die openbare toespraak byna klaar, maar ek het die Wagtoring-studie toe bygewoon. Ek kan nie onthou waaroor die artikel gehandel het nie, maar ek onthou wel hoe die kinders tekste in hulle Bybels opgesoek het. Ek was diep beïndruk! Ek het net geluister en my aan alles verkyk. Net toe ek wou loop, het ’n broer wat omtrent 80 was, na my toe gekom. Sy naam was Jim Gardner. Hy het die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe vir my gewys en gevra: “Kan ek vir jou hierdie boek gee?” Ek het dit aanvaar, en ons het gereël dat ek my eerste Bybelstudie die Donderdagoggend sou hê.

Ná die vergadering daardie Sondag moes ek gaan werk. Ek het by ’n hospitaal in Boca Raton, Florida, gewerk en moes van 11 uur daardie aand tot 7 uur die volgende oggend werk. Omdat daar nie baie pasiënte daardie aand was nie, kon ek die Waarheid-boekie begin lees. ’n Verpleegster het die boek uit my hande gegryp, na die buiteblad gekyk en wou weet of ek een van Jehovah se Getuies gaan word. Ek het die boek toe teruggegryp en vir haar gesê dat ek nog net ’n deel daarvan gelees het, maar dat ek dit beslis oorweeg om ’n Getuie te word. Sy het my toe uitgelos, en ek het die boek daardie nag deurgelees.

My Bybelonderrigter was Jim Gardner, ’n gesalfde broer wat Charles Taze Russell geken het

Toe broer Gardner my eerste Bybelstudie kom hou het, het ek gevra: “Wat gaan ons studeer?” Hy het geantwoord: “Die boek wat ek jou gegee het.” Ek het gesê: “Ek het dit klaar deurgelees.” Broer Gardner het vriendelik gesê: “Ag, kom ons bespreek maar net die eerste hoofstuk.” Ek was verstom oor hoeveel dinge ek nie raakgesien het nie. Hy het my gevra om baie van die tekste in my King James-vertaling van die Bybel op te soek. Uiteindelik het ek van die ware God, Jehovah, geleer. Jim het daardie oggend drie hoofstukke van die Waarheid-boekie met my bespreek. Daarna het ons elke Donderdagoggend drie hoofstukke gestudeer. Ek het die studie baie geniet. Dit was vir my ’n voorreg om geleer te word deur daardie gesalfde broer wat Charles T. Russell geken het!

Nadat ek ’n paar weke gestudeer het, is ek goedgekeur om die goeie nuus te verkondig. Dit was nie vir my maklik om van huis tot huis te preek nie, maar Jim het my gehelp om my vrese te oorkom (Handelinge 20:20). Omdat hy my gehelp het, het ek die bediening liefgekry. Vir my is die bediening die grootste voorreg wat ek het. Ek is baie bly dat ek God se medewerker kan wees!—1 Korintiërs 3:9.

MY EERSTE LIEFDE VIR JEHOVAH

Laat ek julle vertel van iets wat vir my baie spesiaal is—my eerste liefde vir Jehovah (Openbaring 2:4). Hierdie liefde vir Jehovah het my gehelp om pynlike herinneringe aan die oorlog te verwerk sowel as om baie ander probleme te verduur.—Jesaja 65:17.

My liefde vir Jehovah het my gehelp om pynlike herinneringe aan die oorlog te verwerk sowel as om baie ander probleme te verduur

Ek is in Julie 1971 gedoop by die “Goddelike Naam” -streekbyeenkoms by die Yankee-stadion

In 1971 moes ek uit die woonstel trek waar my ouers my laat bly het. Waarom? My stiefpa wou nie hê dat een van Jehovah se Getuies daar moet bly nie! Ek het op daardie stadium nie baie geld gehad nie. Die hospitaal het my elke twee weke betaal, en ek het kort tevore amper al my geld uitgegee om klere te koop sodat ek netjies kon lyk wanneer ek Jehovah in die bediening verteenwoordig. Ek het ’n bietjie spaargeld gehad, maar dit was in ’n bank in my tuisdorp in Michigan. Daarom moes ek ’n paar dae lank in my motor bly. Ek het gewas en geskeer by vulstasies se toiletgeriewe.

Toe ek nog in my motor gebly het, het ek eendag ná my skof na die Koninkryksaal toe gegaan. Die velddiensvergadering sou eers oor ’n paar uur begin, en ek het agter die Koninkryksaal geparkeer waar niemand my kon sien nie. Terwyl ek daar gesit het, het herinneringe aan Viëtnam my oorweldig. Dit was asof ek die verbrande vlees kon ruik en al die bloed kon sien. Dit was asof ek kon hoor en sien hoe die jong mans my angstig vra: “Gaan ek dit maak? Gaan ek dit maak?” Ek het geweet dat hulle sou sterf, maar ek het hulle probeer vertroos en gemaak asof hulle niks het om oor bekommerd te wees nie. Terwyl ek daar gesit het, het my emosies my oorweldig.

Wanneer ek ook al probleme ondervind, doen ek my bes om te dink aan my eerste liefde vir Jehovah

Ek het bitterlik gehuil en tot Jehovah gebid (Psalm 56:8). Ek het ernstig oor die opstanding begin nadink. Toe het ek besef hoe wonderlik hierdie hoop is! Jehovah sal daardie jong mans opwek, en hulle sal die geleentheid hê om die waarheid omtrent hom te leer. Die opstanding sal al die pyn en lyding wat ons ondervind het, ongedaan maak (Handelinge 24:15). Toe ek dit besef, het my liefde vir Jehovah sterker as ooit tevore geword. Ek sal daardie dag nooit vergeet nie. Van toe af het ek my bes gedoen om te dink aan my eerste liefde vir Jehovah wanneer ek ook al probleme ondervind.

JEHOVAH WAS NOG ALTYD GOED VIR MY

Mense doen verskriklike dinge in oorlogstyd, en ek was geen uitsondering nie. Maar twee van my gunstelingtekste het my vertroos. Die eerste een is Openbaring 12:10, 11, wat sê dat die Duiwel nie net oorwin is weens ons predikingswerk nie, maar ook weens die bloed van Jesus. Die tweede is Galasiërs 2:20, wat my daaraan herinner dat Jesus vir my gesterf het. Danksy Christus se offerande het Jehovah my vergewe vir wat ek gedoen het. Daarom het ek nou ’n skoon gewete en ’n sterk begeerte om ander te vertel van ons barmhartige God, Jehovah!—Hebreërs 9:14.

Wanneer ek terugkyk op my lewe, is dit vir my duidelik dat Jehovah nog altyd goed na my omgesien het. Byvoorbeeld, die dag toe Jim uitgevind het dat ek in my motor bly, het hy my voorgestel aan ’n suster met ’n losieshuis. Ek is seker dat Jehovah Jim en die suster gebruik het om my van ’n goeie blyplek te voorsien. Jehovah is so goedhartig! Hy sorg vir sy getroue aanbidders.

EK WAS YWERIG, MAAR MOES LEER OM TAKTVOL TE WEES

In Mei 1971 moes ek na Michigan gaan. Voordat ek uit Florida vertrek het, het ek my motor se kattebak vol lektuur gelaai, en toe noordwaarts gereis. Teen die tyd dat ek die volgende staat, Georgia, verlaat het, was al my lektuur op. Op pad na Michigan het ek die goeie nuus van die Koninkryk ywerig verkondig. Ek het in tronke gepreek en selfs traktate gelaat by mans wat ek by die toiletgeriewe van vulstasies teëgekom het. Ek wonder soms of enige van die mense met wie ek gepraat het, ooit in die waarheid gekom het.—1 Korintiërs 3:6, 7.

Ek moet erken dat ek nie altyd taktvol was toe ek nuut in die waarheid was nie, veral nie wanneer ek met my familielede gepraat het nie. Soms was ek te reguit. Ek is baie lief vir my broers, John en Ron, en wanneer ek vir hulle getuig het, het ek hulle probeer dwing om my nuwe oortuigings te aanvaar. Later moes ek om verskoning vra. Maar ek hou aan bid dat hulle in die waarheid sal kom. Jehovah het my gehelp om taktvoller te wees wanneer ek vir ander getuig en hulle onderrig.—Kolossense 4:6.

ANDER VIR WIE EK LIEF IS

Jehovah is natuurlik die Persoon vir wie ek die liefste is. Maar daar is ook ander vir wie ek baie lief is. Ek dink veral aan my dierbare vrou, Susan. Ek wou altyd ’n vrou gehad het wat my sou help om Jehovah te bly dien. Susan is ’n vasberade vrou wat baie lief is vir Jehovah. Eendag, terwyl ons nog uitgegaan het, het ek haar by haar ouerhuis in Rhode-eiland besoek. Sy het op die stoep gesit en Die Wagtoring saam met haar Bybel gelees. Wat my beïndruk het, was die feit dat sy al die tekste opgesoek het, al was dit nie ’n studieartikel nie. Ek kon sien dat haar verhouding met Jehovah vir haar baie belangrik is. Ons het in Desember 1971 getrou. Ek is baie dankbaar dat ek so ’n ondersteunende vrou het. Wat ek die meeste omtrent haar waardeer, is dit: Hoewel sy vir my lief is, is sy nog liewer vir Jehovah.

Saam met my vrou, Susan, en ons seuns, Paul en Jesse

Jehovah het ons met twee wonderlike seuns, Jesse en Paul, geseën. Terwyl hulle grootgeword het, was Jehovah met hulle (1 Samuel 3:19). Hulle het ’n persoonlike verhouding met hom, en dit maak ons baie bly. Hulle albei is al meer as 20 jaar lank in die voltydse diens. En hulle hou aan om Jehovah te dien omdat hulle ook dink aan hulle eerste liefde vir hom. Ek is ook trots op my twee pragtige skoondogters, Stephanie en Racquel, wat vir my soos my eie dogters is. Ek is so dankbaar dat my seuns getrou het met vroue wat Jehovah met hulle hele hart liefhet en wat hulle lewe gebruik om hom te dien.—Efesiërs 6:6.

Ons het dit geniet om as ’n gesin te preek in gebied wat selde gedek word

Ek het baie vriende gemaak in die 16 jaar dat ek in Rhode-eiland gedien het. Ek onthou nog die uitstekende ouer manne saam met wie ek gedien het. Ek is ook dankbaar teenoor die talle reisende opsieners wat my gehelp het. Dit was ’n voorreg om Jehovah saam met manne te dien wat hulle eerste liefde vir Jehovah behou het. In 1987 het ons na Noord-Carolina getrek om te dien waar meer verkondigers nodig was, en daar het ons ook talle goeie vriende gemaak. *—Sien voetnoot.

’n Velddiensvergadering wat ek gehou het toe ek in die reisende werk was

In Augustus 2002 het ek en Susan die uitnodiging aanvaar om in Patterson te dien as lede van die Bethelgesin in die Verenigde State. Ek het in die Diensafdeling gewerk, en Susan het in die wassery gewerk, en sy was mal daaroor! In Augustus 2005 het ek die voorreg ontvang om ’n lid van die Bestuursliggaam te word. Ek het onbekwaam gevoel vir hierdie nuwe toewysing. Susan het ook oorweldig gevoel weens die verantwoordelikheid, die werk en die feit dat ons baie sou moes reis. Sy het nooit daarvan gehou om per vliegtuig te reis nie; maar nou moet ons dit dikwels doen. Die liefdevolle raad van die vrouens van ander lede van die Bestuursliggaam maak haar meer vasbeslote om my te ondersteun. Haar getroue ondersteuning maak my nog liewer vir haar!

Ek het ’n hele paar pragtige foto’s in my kantoor wat my herinner aan die wonderlike lewe wat ek tot dusver gehad het. Ek het baie seëninge ontvang omdat ek my bes gedoen het om my eerste liefde vir Jehovah te behou!

Dit verskaf my groot vreugde om tyd saam met my gesin deur te bring

^ par. 30 Meer inligting oor broer Morris se voltydse diens kan gevind word in Die Wagtoring van 15 Maart 2006, bladsy 26.