Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Julle verlossing kom nader”!

“Julle verlossing kom nader”!

“Staan . . . regop en lig julle kop op, want julle verlossing kom nader.”—LUKAS 21:28.

LIEDERE: 133, 43

1. Wat het in die jaar 66 gebeur? (Sien prent aan begin van artikel.)

STEL jou voor dat jy ’n Christen is wat in die jaar 66 in Jerusalem woon. Baie dinge het die afgelope tyd gebeur. ’n Romeinse amptenaar met die naam Florus het 17 talente uit die tempelskatkis geneem. Die Jode was woedend en het baie Romeinse soldate doodgemaak. Toe het die Jode hulle onafhanklik van Rome verklaar. Maar Rome het vinnig opgetree. Binne drie maande het 30 000 soldate onder die bevel van Cestius Gallus Jerusalem omsingel. Die Joodse rebelle het in die tempelvesting weggekruip, maar Romeinse soldate het uiteindelik die buitemuur van die tempel ondergrawe en probeer inkom. Almal in die stad was paniekbevange. Hoe sou jy gevoel het toe jy al hierdie dinge sien?

2. Wat moes Christene doen toe hulle sien dat Romeinse soldate hulle stad omsingel, en hoe sou dit vir hulle moontlik wees?

2 Jesus het sy dissipels jare tevore beveel: “Wanneer julle Jerusalem deur leërkampe omsingel sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby gekom het. Laat dié wat in Judea is, dan na die berge begin vlug, en laat dié wat in die stad is, uitgaan, en laat dié wat in die plattelandse plekke is, nie daar ingaan nie” (Lukas 21:20, 21). Hoe sou hulle aan Jesus gehoorsaam kon wees en Jerusalem kon verlaat, aangesien die stad deur soldate omsingel was? Iets verstommends het gebeur. Die Romeinse leër het Jerusalem skielik verlaat! Die aanval is “verkort”, net soos Jesus gesê het (Matteus 24:22). Toe die leër terugtrek, het getroue Christene die geleentheid gehad om Jesus te gehoorsaam deur onmiddellik na die berge te vlug. * (Sien voetnoot.) Later, in die jaar 70, het ’n ander Romeinse leër na Jerusalem teruggekeer. Dié keer het hulle die stad vernietig. Maar almal wat Jesus gehoorsaam het, is gered.

3. In watter situasie sal Christene hulle binnekort bevind, en wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Jesus se waarskuwing en bevele is ook op ons dag van toepassing. Ons sal ons binnekort in ’n soortgelyke situasie bevind. Jesus het die gebeurtenisse wat in die eerste eeu sou plaasvind, gebruik om te verduidelik wat ons kan verwag wanneer die “groot verdrukking” skielik begin (Matteus 24:3, 21, 29). Net soos getroue Christene die vernietiging van Jerusalem oorleef het, sal ’n “groot menigte” die komende wêreldwye ramp oorleef. (Lees Openbaring 7:9, 13, 14.) Dit is baie belangrik dat ons verstaan wat die Bybel omtrent hierdie toekomstige gebeurtenisse sê. Waarom? Omdat ons lewe daarvan afhang. Kom ons bespreek dus hoe hierdie gebeurtenisse ons persoonlik sal raak.

DIE BEGIN VAN DIE GROOT VERDRUKKING

4. Hoe sal die groot verdrukking begin?

4 Hoe sal die groot verdrukking begin? Met die vernietiging van alle valse godsdiens. In die Bybel word valse godsdiens “Babilon die Grote, die moeder van die hoere”, genoem (Openbaring 17:5-7). Waarom word valse godsdiens ’n hoer genoem? Omdat hulle geestelikes ontrou aan God is. In plaas daarvan om Jesus en sy Koninkryk lojaal te ondersteun, ondersteun hulle menseregerings en ignoreer hulle Bybelleringe sodat hulle groter invloed kan hê. Hulle aanbidding is nie soos die rein aanbidding van die gesalfdes nie (2 Korintiërs 11:2; Jakobus 1:27; Openbaring 14:4). Maar wie sal Babilon die Grote vernietig? Jehovah sal “die tien horings” van die “skarlakenkleurige wilde dier” gebruik om “sy gedagte uit te voer”. Die “skarlakenkleurige wilde dier” stel die Verenigde Nasies voor, en “die tien horings” stel al die politieke magte voor wat hulle ondersteuning aan hierdie organisasie gee.—Lees Openbaring 17:3, 16-18.

5, 6. Sal al die lidmate van valse godsdiens doodgemaak word wanneer Babilon die Grote vernietig word? Verduidelik.

5 Sal al die lidmate van valse godsdiens doodgemaak word wanneer Babilon die Grote vernietig word? Nee. Jehovah het die profeet Sagaria geïnspireer om te voorspel wat sal gebeur. Baie mense wat voorheen deel was van valse godsdiens, sal dan sê: “‘Ek is geen profeet nie. Ek is ’n man wat die grond bewerk, want iemand het my in my jeug bekom.’ En iemand sal vir hom sê: ‘Wat is hierdie wonde aan jou tussen jou hande?’ En hy sal moet sê: ‘Dit is hoe ek geslaan is in die huis van dié wat my intens liefhet’” (Sagaria 13:4-6). Selfs godsdiensleiers sal dus voorgee dat hulle nie godsdienstig is nie en sal sê dat hulle nooit deel was van daardie valse godsdienste nie.

6 Wat sal gedurende hierdie tyd met God se volk gebeur? Jesus verduidelik: “Trouens, as daardie dae nie verkort is nie, sou geen vlees gered word nie; maar weens die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Matteus 24:22). In die eerste eeu is die verdrukking in Jerusalem “verkort”. Dit het “die uitverkorenes”, die gesalfde Christene, die geleentheid gegee om te vlug. Net so sal die eerste deel van die groot verdrukking weens “die uitverkorenes” “verkort” word. Die politieke magte, “die tien horings”, sal nie toegelaat word om God se volk te vernietig nie. Trouens, ná die eerste aanval sal daar ’n kort tydperk van kalmte wees.

’N TYDPERK VAN TOETSING EN OORDEEL

7, 8. Watter geleentheid sal daar ná die vernietiging van valse godsdiens wees, en in watter opsig sal God se volk uniek wees?

7 Wat sal gebeur nadat valse godsdiens vernietig is? Dit sal ’n tyd wees om te toon wat werklik in ons hart is. Die meeste mense sal dan beskerming en hulp soek by menseorganisasies, “die rotse van die berge” (Openbaring 6:15-17). Maar Jehovah se volk sal op hom vertrou om hulle te beskerm. Toe die aanval in die eerste eeu “verkort” is, was dit nie die tyd vir al die Jode om hulle skielik tot die Christelike godsdiens te bekeer nie. Dit was eerder die tyd vir diegene wat reeds Christene was om uit Jerusalem te vlug, soos Jesus hulle beveel het. In die toekoms, wanneer die aanval op Babilon die Grote “verkort” word, kan ons ook nie verwag dat baie mense hulle skielik tot die ware Christelike godsdiens sal bekeer nie. Dit sal eerder vir alle ware aanbidders ’n geleentheid bied om hulle liefde vir Jehovah te bewys en om die gesalfdes te ondersteun.—Matteus 25:34-40.

Dit sal ’n geleentheid wees om ons liefde vir Jehovah te bewys en om die gesalfdes te ondersteun

8 Ons weet nie presies wat gedurende daardie tydperk van toetsing sal gebeur nie. Maar ons verwag wel dat die lewe nie maklik sal wees nie en dat ons opofferings sal moet maak. In die eerste eeu moes Christene hulle huise verlaat en moeilike omstandighede verduur om te oorleef (Markus 13:15-18). Ons moet ons afvra: ‘Is ek bereid om materiële dinge prys te gee? Is ek bereid om alles in my vermoë te doen om lojaal aan Jehovah te bly?’ Dink net! Dan sal ons die enigstes wees wat die profeet Daniël se voorbeeld volg deur ons God te aanbid, ongeag wat gebeur.—Daniël 6:10, 11.

“Die einde” sal dan hier wees!

9, 10. (a) Watter boodskap sal God se volk gedurende die groot verdrukking verkondig? (b) Hoe sal die vyande van God se volk reageer?

9 Die groot verdrukking sal nie die tyd wees om die “goeie nuus van die koninkryk” te verkondig nie. Die tyd om hierdie boodskap te verkondig, sal verby wees. “Die einde” sal dan hier wees! (Matteus 24:14). God se volk sal ’n sterk oordeelsboodskap moedig verkondig. Die boodskap sal moontlik wees dat Satan se goddelose wêreld kort voor lank heeltemal vernietig sal word. Die Bybel vergelyk hierdie boodskap met haelstene wanneer dit sê: “’n Groot hael, met elke steen omtrent ’n talent swaar, het uit die hemel op die mense geval, en die mense het God gelaster weens die plaag van die hael, want die plaag daarvan was buitengewoon groot.”—Openbaring 16:21.

10 Ons vyande sal hierdie sterk boodskap hoor. Jehovah het die profeet Esegiël geïnspireer om te verduidelik hoe ’n groep nasies, wat in die Bybel Gog van Magog genoem word, hierop sal reageer: “Só het die Soewereine Heer Jehovah gesê: ‘En in dié dag sal daar dinge in jou hart opkom, en jy sal beslis ’n skadelike plan uitdink; en jy sal sê: “Ek sal teen die land van die oop plattelandse gebied optrek. Ek sal by dié kom wat rus het, wat in veiligheid woon, wat almal sonder muur woon, en hulle het selfs nie grendels en deure nie.” Dit sal wees om ’n groot buit te verkry en baie te plunder, ten einde jou hand te laat terugdraai teen verwoeste plekke wat weer bewoon word en teen ’n volk wat uit die nasies versamel is, wat rykdom en eiendom versamel, dié wat op die middelpunt van die aarde woon’” (Esegiël 38:10-12). Die verskil tussen God se volk en al die ander mense sal baie duidelik wees—dit sal wees asof hulle “op die middelpunt van die aarde woon”. Die nasies sal hulle nie langer kan bedwing nie. Hulle sal gretig wees om Jehovah se gesalfdes, sowel as diegene wat hulle ondersteun, aan te val.

11. (a) Wat moet ons in gedagte hou in verband met die volgorde van gebeurtenisse tydens die groot verdrukking? (b) Hoe sal mense reageer wanneer hulle die tekens sien?

11 Wat sal hierna gebeur? Die Bybel sê nie vir ons presies in watter volgorde hierdie gebeurtenisse sal plaasvind nie, maar party gebeurtenisse sal waarskynlik tegelykertyd plaasvind. Jesus het in sy profesie oor die voleinding van hierdie stelsel van dinge gesê: “Daar sal tekens in son en maan en sterre wees, en op die aarde angs onder die nasies, wat radeloos is as gevolg van die gedreun van die see en sy onstuimigheid, terwyl die mense flou word van vrees en verwagting aangaande die dinge wat oor die bewoonde aarde kom; want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens met krag en groot heerlikheid in ’n wolk sien kom.” (Lukas 21:25-27; lees Markus 13:24-26.) Sal die vervulling van hierdie profesie vreesaanjaende tekens en verskynsels in die hemelruim insluit? Ons sal moet kyk wat gebeur. Maar ons weet wel dat God se vyande verskrik en paniekbevange sal wees wanneer hulle die tekens sien.

Ons kan vol vertroue wees omdat ons weet dat ons gered sal word! (Sien paragraaf 12, 13)

12, 13. (a) Wat sal gebeur wanneer Jesus “met krag en groot heerlikheid” kom? (b) Hoe sal God se knegte gedurende daardie tyd reageer?

12 Wat sal gebeur wanneer Jesus “met krag en groot heerlikheid” kom? Hy sal die getroues beloon en die ontroues straf (Matteus 24:46, 47, 50, 51; 25:19, 28-30). Jesus het ’n illustrasie gebruik om dit in meer besonderhede te verduidelik. Hy het gesê: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom, en al die engele saam met hom, dan sal hy op sy glorieryke troon gaan sit. En al die nasies sal voor hom versamel word, en hy sal die mense van mekaar afskei, net soos ’n herder die skape van die bokke afskei. En hy sal die skape aan sy regterhand sit, maar die bokke aan sy linkerhand” (Matteus 25:31-33). Wat sal met die skape en die bokke gebeur? Hulle sal geoordeel word. Die bokke, of die ontroues, “sal weggaan, die ewige vernietiging in”. Maar die skape, of die getroues, sal die ewige lewe ontvang.—Matteus 25:46.

13 Hoe sal die bokke reageer wanneer hulle besef dat hulle vernietig gaan word? Hulle sal “hulleself in weeklag slaan” (Matteus 24:30). Maar hoe sal die gesalfdes en diegene wat hulle ondersteun, reageer? Hulle sal doen wat Jesus gesê het: “Wanneer hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want julle verlossing kom nader.”—Lukas 21:28.

HULLE SAL HELDER SKYN IN DIE KONINKRYK

14, 15. Watter insamelingswerk begin ná die aanval deur Gog van Magog, en hoe sal dit plaasvind?

14 Wat sal gebeur wanneer Gog van Magog God se volk aanval? Volgens die Bybel sal die Seun van die mens “die engele uitstuur en sy uitverkorenes bymekaarmaak uit die vier windstreke, van die einde van die aarde af tot by die einde van die hemel” (Markus 13:27; Matteus 24:31). Hierdie insamelingswerk verwys nie na die tyd wanneer gesalfde Christene aanvanklik gekies word nie. En dit verwys ook nie na die finale verseëling van die gesalfdes wat nog op die aarde is nie (Matteus 13:37, 38). Hierdie verseëling vind plaas net voordat die groot verdrukking begin (Openbaring 7:1-4). Waarna verwys hierdie insamelingswerk dan? Dit verwys na die tyd wanneer die gesalfdes wat nog op die aarde is, hulle hemelse beloning sal ontvang (1 Tessalonisense 4:15-17; Openbaring 14:1). Dit sal plaasvind die een of ander tyd nadat Gog van Magog se aanval begin het (Esegiël 38:11). Dan sal “die regverdiges so helder soos die son skyn in die koninkryk van hulle Vader”, net soos Jesus gesê het.—Matteus 13:43. * (Sien voetnoot.)

15 Beteken dit dat daar ’n “wegraping” van die gesalfdes sal wees? Baie mense in die Christendom glo dat Christene hemel toe geneem sal word in ’n menseliggaam. Hulle dink ook dat Jesus se wederkoms vir menseoë sigbaar sal wees. Maar die Bybel toon duidelik dat Jesus se koms onsigbaar sal wees. Dit sê dat “die teken van die Seun van die mens in die hemel [sal] verskyn” en dat Jesus “op die wolke van die hemel” sal kom (Matteus 24:30). Die Bybel sê ook dat “vlees en bloed God se koninkryk nie kan beërf nie”. Diegene wat hemel toe geneem word, sal dus eers “verander [moet] word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, gedurende die laaste trompet”. * (Sien voetnoot.) (Lees 1 Korintiërs 15:50-53.) Ons gebruik nie die woord “wegraping” om hierdie gebeurtenis te beskryf nie omdat dit verband hou met ’n valse leerstelling van die Christendom. Maar die getroue gesalfdes wat nog op die aarde is, sal oombliklik ingesamel, of bymekaargemaak, word.

16, 17. Wat moet gebeur voordat die huwelik van die Lam plaasvind?

16 Sodra al 144 000 gesalfdes in die hemel is, kan die finale voorbereidings vir die huwelik van die Lam begin (Openbaring 19:9). Maar voordat hierdie opwindende gebeurtenis plaasvind, moet iets anders gebeur. Hou in gedagte dat Gog God se volk sal aanval terwyl die oorblyfsel van die gesalfdes nog op die aarde is (Esegiël 38:16). Hoe sal God se volk reageer? Hulle sal die volgende bevele gehoorsaam: “Julle sal in hierdie geval nie hoef te veg nie. Neem stelling in, staan stil en sien die redding van Jehovah ten behoewe van julle. . . . Moenie bang of verskrik wees nie” (2 Kronieke 20:17). Die een of ander tyd nadat Gog se aanval begin het, sal al die gesalfdes wat nog op die aarde is, hemel toe geneem word. Openbaring 17:14 sê vir ons watter reaksie daar in die hemel sal wees op Gog se aanval. Die vyande van God se volk “sal teen die Lam veg, maar die Lam sal hulle oorwin omdat hy Here van die here en Koning van die konings is. Ook sal die geroepenes en uitverkorenes en getroues wat saam met hom is, oorwin.” Jesus, tesame met sy 144 000 gesalfde konings in die hemel, sal God se volk hier op die aarde red.

17 Die oorlog van Armageddon sal Jehovah se heilige naam verheerlik (Openbaring 16:16). Almal wat as bokke, of as ontrou, geoordeel word, sal vernietig word. Daar sal nie meer goddeloosheid op die aarde wees nie, en die “groot menigte” sal Armageddon oorleef. Uiteindelik sal die tyd aanbreek vir die opwindende klimaks van die boek Openbaring—die huwelik van die Lam! (Openbaring 21:1-4). * (Sien voetnoot.) Al die oorlewendes op die aarde sal God se guns geniet en sy groot liefde en vrygewigheid ondervind. Ons sien gretig uit na daardie tyd. Wat ’n wonderlike huweliksfees sal dit tog wees!—Lees 2 Petrus 3:13.

18. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen in die lig van die opwindende gebeurtenisse wat binnekort sal plaasvind?

18 Wat moet elkeen van ons nou doen, aangesien hierdie opwindende gebeurtenisse binnekort sal plaasvind? Jehovah het die apostel Petrus geïnspireer om te skryf: “Aangesien al hierdie dinge so tot niet gemaak gaan word, watter soort mense behoort julle dan te wees in heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid, terwyl julle die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou . . . Daarom, geliefdes, aangesien julle hierdie dinge verwag, moet julle julle uiterste bes doen om uiteindelik deur hom vlekkeloos en smetloos en in vrede bevind te word” (2 Petrus 3:11, 12, 14). Laat ons dus vasbeslote wees om geestelik rein te bly, sonder smet van valse godsdiens, en om die Koning van Vrede, Jesus Christus, te ondersteun.

^ par. 15 Die vleeslike liggame van die gesalfdes wat dan nog op die aarde is, sal nie hemel toe geneem word nie (1 Korintiërs 15:48, 49). Hulle vleeslike liggame sal waarskynlik op dieselfde manier verwyder word as wat Jesus se liggaam verwyder is.

^ par. 17 Psalm 45 voorsien ook besonderhede oor die volgorde waarin die gebeurtenisse sal plaasvind. Die Koning voer eers die oorlog, en daarna vind die huwelik plaas.