Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kies jou assosiasie wyslik in hierdie laaste dae

Kies jou assosiasie wyslik in hierdie laaste dae

“Slegte omgang bederf nuttige gewoontes.” —1 KORINTIËRS 15:33.

LIEDERE: 73, 119

1. In watter tydperk lewe ons?

ONS lewe in “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”. Sedert 1914, toe die “laaste dae” begin het, het wêreldtoestande erger geword as ooit tevore (2 Timoteus 3:1-5). En ons kan seker wees dat wêreldtoestande nog erger sal word, aangesien Bybelprofesieë sê dat “goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger”.—2 Timoteus 3:13.

2. Watter soort vermaak geniet baie mense? (Sien prent aan begin van artikel.)

2 Baie mense geniet dit vandag om na dinge te kyk of om dinge te doen wat gewelddadig of onsedelik is of wat met spiritisme te doen het. Byvoorbeeld, die Internet, televisieprogramme, rolprente, boeke en tydskrifte laat geweld en onsedelikheid dikwels aanvaarbaar lyk. En gedrag wat voorheen as skokkend beskou is, het so aanvaarbaar geword dat dit nou selfs wettig is in sekere plekke. Maar dit beteken nie dat Jehovah sulke gedrag goedkeur nie.—Lees Romeine 1:28-32.

3. Hoe beskou baie mense diegene wat volgens God se standaarde lewe?

3 In die eerste eeu het mense dit ook geniet om na dinge te kyk wat gewelddadig en onsedelik is. Maar nie Jesus se volgelinge nie, want hulle het volgens God se standaarde gelewe. Die mense om hulle het dit ‘vreemd gevind’, en daarom het hulle die Christene gespot en hulle vervolg (1 Petrus 4:4). Vandag dink baie mense ook dat diegene wat volgens God se standaarde lewe, vreemd is. Trouens, die Bybel waarsku ons dat diegene wat Christus Jesus se voorbeeld volg, “ook vervolg [sal] word”.—2 Timoteus 3:12.

“SLEGTE OMGANG BEDERF NUTTIGE GEWOONTES”

4. Waarom moet ons nie vir hierdie wêreld lief wees nie?

4 As ons God se wil wil doen, kan ons nie “die wêreld of die dinge in die wêreld liefhê nie”. (Lees 1 Johannes 2:15, 16.) Satan, “die god van hierdie stelsel van dinge”, is in beheer van hierdie wêreld. Hy gebruik godsdiens, regerings, kommersiële organisasies en die media om mense te mislei (2 Korintiërs 4:4; 1 Johannes 5:19). Ons wil nie deur die wêreld beïnvloed word nie, en daarom moet ons slegte assosiasie vermy. Die Bybel gee ons hierdie duidelike waarskuwing: “Moenie mislei word nie. Slegte omgang bederf nuttige gewoontes.”—1 Korintiërs 15:33.

5, 6. Met wie moet ons nie assosieer nie, en waarom nie?

5 As ons ons goeie verhouding met Jehovah wil behou, moet ons nie met enigiemand assosieer wat slegte dinge beoefen nie. Dit sluit mense in wat sê dat hulle Jehovah aanbid, maar wat kies om aan hom ongehoorsaam te wees. As sulke persone ’n ernstige sonde pleeg en nie berou toon nie, hou ons op om met hulle te assosieer.—Romeine 16:17, 18.

6 Mense wil hulle vriende gewoonlik tevrede stel en deur hulle aanvaar word. As ons assosieer met mense wat nie aan God gehoorsaam is nie, kan ons dus in die versoeking kom om te doen wat hulle doen. As ons byvoorbeeld vriende is met mense wat seksueel onsedelik is, kan ons net soos hulle word. Dit is wat met party van ons broers en susters gebeur het. En dié wat nie berou getoon het nie, is uitgesit (1 Korintiërs 5:11-13). As hulle nie berou toon nie, kan hulle in die toestand verval wat Petrus beskryf het.—Lees 2 Petrus 2:20-22.

7. Wie moet ons as ons hegte vriende kies?

7 Hoewel ons vriendelik wil wees met almal, moet ons nie hegte vriendskappe aanknoop met mense wat nie aan God gehoorsaam is nie. Dit sal verkeerd wees van een van Jehovah se Getuies om met iemand uit te gaan wat nie ’n getroue gedoopte kneg van Jehovah is nie. Dit is baie belangriker om God se goedkeuring te hê as om aanvaar te word deur mense wat nie vir hom lief is nie. Ons moet slegs hegte vriende wees met mense wat God se wil doen. Jesus het gesê: “Elkeen wat die wil van God doen, dié is my broer en suster en moeder.”—Markus 3:35.

Dit is baie belangriker om Jehovah se goedkeuring te hê as om aanvaar te word deur mense wat nie vir hom lief is nie

8. Watter uitwerking het slegte assosiasie op die eertydse Israeliete gehad?

8 Slegte assosiasie lei tot rampspoed. Dink byvoorbeeld aan wat met die Israeliete gebeur het. Voordat hulle in die Beloofde Land aangekom het, het Jehovah hulle gewaarsku teen die mense wat daar woon. Hy het gesê: “Jy mag jou nie voor hulle gode neerbuig of laat oorhaal om hulle te dien nie, en jy mag niks soos hulle werke maak nie, maar jy moet hulle vir seker neerwerp en jy moet hulle heilige pilare vir seker afbreek. En julle moet Jehovah julle God dien” (Eksodus 23:24, 25). Maar die meeste Israeliete was nie gehoorsaam aan God se instruksies nie en het ontrou geword aan hom (Psalm 106:35-39). Wat was die gevolg? Jehovah het die nasie Israel later verwerp en het toe die Christengemeente as sy volk gekies.—Matteus 23:38; Handelinge 2:1-4.

WAT JY LEES EN WAARNA JY KYK

9. Waarom kan die wêreld se media gevaarlik wees?

9 Baie van die dinge wat in die wêreld se media gevind word, soos televisieprogramme, webwerwe en boeke, kan ons verhouding met Jehovah in gevaar stel. Hierdie soort materiaal is nie ontwerp om Christene se geloof in Jehovah en sy beloftes op te bou nie. Dit moedig mense eerder aan om hulle vertroue in Satan se bose wêreld te stel. Daarom moet ons baie versigtig wees en na niks kyk of luister en niks lees wat “wêreldse begeertes” by ons kan wek nie.—Titus 2:12.

10. Wat sal met hierdie wêreld se media gebeur?

10 Satan se wêreld sowel as alle skadelike media sal binnekort vernietig word. Die Bybel sê: “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:17). En die psalmis het gesing: “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word.” Toe het hy bygevoeg: “Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.” Vir hoe lank? “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:9, 11, 29.

11. Hoe help God ons om getrou aan hom te bly?

11 Anders as Satan se wêreld help Jehovah se organisasie ons om te lewe op ’n manier wat tot die ewige lewe lei. Jesus het tot Jehovah gebid: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Jehovah gebruik sy organisasie om ons alles te gee wat ons nodig het om hom te leer ken. Byvoorbeeld, ons het baie tydskrifte, brosjures, boeke, video’s en webblaaie wat ons help om aan te hou om God te dien. Sy organisasie reël ook gereelde vergaderinge in meer as 110 000 gemeentes regoor die wêreld. Die dinge wat ons by hierdie vergaderinge en by groter byeenkomste uit die Bybel leer, versterk ons geloof in Jehovah en sy beloftes.—Hebreërs 10:24, 25.

TROU “NET IN DIE HERE”

12. Wat beteken die Bybel se bevel om “net in die Here” te trou?

12 Christene wat wil trou, moet hulle assosiasie wyslik kies. God se Woord waarsku ons: “Moenie saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk kom nie. Want watter gemeenskap het regverdigheid en wetteloosheid? Of watter deelgenootskap het lig met duisternis?” (2 Korintiërs 6:14). Die Bybel sê vir God se knegte om “net in die Here” te trou, dit wil sê om net met iemand te trou wat toegewy en gedoop is en wat volgens Jehovah se standaarde lewe (1 Korintiërs 7:39). As jy met iemand trou wat vir Jehovah lief is, sal jy ’n maat hê wat jou sal help om getrou aan God te bly.

As jy met iemand trou wat vir Jehovah lief is, sal jy ’n maat hê wat jou sal help om getrou aan God te bly

13. Watter gebod oor huweliksverbintenisse het God die Israeliete gegee?

13 Jehovah weet wat vir ons die beste is, en sy gebod om “net in die Here” te trou, is niks nuuts nie. Dink byvoorbeeld aan wat Jehovah vir die Israeliete gesê het omtrent mense wat hom nie dien nie. Deur Moses het hy die gebod gegee: “Jy mag geen huweliksverbintenis met hulle aangaan nie. Jou dogter mag jy nie aan sy seun gee nie, en sy dogter mag jy nie vir jou seun neem nie. Want hy sal jou seun daarvan afkeer om my te volg, en hulle sal beslis ander gode dien; en Jehovah se toorn sal inderdaad teen julle ontvlam, en hy sal jou beslis gou verdelg.”—Deuteronomium 7:3, 4

14, 15. Wat het met Salomo gebeur omdat hy Jehovah se gebod geïgnoreer het?

14 Kort nadat Salomo koning van Israel geword het, het hy vir wysheid gebid, en Jehovah het sy gebed verhoor. Salomo het dus beroemd geword as die wyse heerser van ’n suksesvolle nasie. Trouens, die koningin van Skeba was so beïndruk met Salomo se wysheid dat sy vir hom gesê het: “U het in wysheid en voorspoed die dinge oortref wat gehoor is” (1 Konings 10:7). Maar Salomo se voorbeeld leer ons ook wat kan gebeur wanneer iemand God se gebod ignoreer en met iemand trou wat Jehovah nie dien nie.—Prediker 4:13.

15 Al is Salomo deur Jehovah geseën, was hy ongehoorsaam aan God se duidelike gebod om nie met vroue te trou wat Jehovah nie dien nie. Salomo “het baie uitlandse vrouens liefgehad”, en op die ou end het hy 700 vrouens en 300 byvrouens gehad. Wat was die gevolg? Toe Salomo ouer geword het, het sy vrouens “sy hart laat afwyk om ander gode te volg, . . . en Salomo het begin doen wat sleg was in die oë van Jehovah” (1 Konings 11:1-6). Weens slegte assosiasie het hy ontrou geword aan Jehovah. As dit met Salomo kon gebeur, kan dit met enigiemand gebeur. Daarom oorweeg ons dit nie eens om met iemand te trou wat nie vir Jehovah lief is nie!

16. Watter raad gee die Bybel aan iemand wat met ’n ongelowige getroud is?

16 Sê nou ’n vrou wat reeds getroud is, word ’n aanbidder van Jehovah. Die Bybel sê: “Vrouens, [julle moet] onderdanig wees aan julle eie mans, sodat, as sommige nie aan die woord gehoorsaam is nie, hulle sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen kan word” (1 Petrus 3:1). Dit geld natuurlik ook vir ’n man wie se vrou nie ’n aanbidder van Jehovah is nie. Die raad in God se Woord is duidelik: Wees ’n goeie man of vrou, en lewe volgens God se standaarde vir die huwelik. Dan, wanneer jou maat sien dat jy ten goede verander het, sal hy of sy Jehovah moontlik ook wil dien. Dit is wat baie egpare ondervind het.

ASSOSIEER MET DIÉ WAT VIR JEHOVAH LIEF IS

17, 18. Wat het Noag gehelp om die Vloed te oorleef, en wat het Christene in die eerste eeu gehelp om die vernietiging van Jerusalem te oorleef?

17 Slegte assosiasie kan jou beïnvloed om ongehoorsaam te wees aan Jehovah, maar goeie assosiasie kan jou help om getrou te wees aan hom. Noag is ’n goeie voorbeeld vir ons. Hy het gelewe gedurende ’n tyd toe “die slegtheid van die mens oorvloedig op die aarde was” en toe “elke neiging van die gedagtes van sy hart die hele tyd net sleg was” (Genesis 6:5). Mense was so sleg dat Jehovah besluit het om daardie goddelose wêreld te vernietig. Maar Noag was anders. Die Bybel sê dat hy “’n regverdige man” was wat “met die ware God gewandel” het.—Genesis 6:7-9.

18 Noag het nie met mense geassosieer wat nie vir Jehovah lief was nie. Hy en sy gesin het hulle toegespits op hulle werk om die ark te bou. En Noag was ook “’n prediker van regverdigheid” (2 Petrus 2:5). Noag, sy vrou, sy drie seuns en hulle vrouens het goeie assosiasie met mekaar geniet. Hulle het besig gebly met dinge wat God behaag, en daarom het hulle die Vloed oorleef. Ons almal is hulle nakomelinge, en daarom moet ons dankbaar wees dat Noag en sy gesin gehoorsaam was aan Jehovah en slegte assosiasie vermy het. Christene in die eerste eeu het ook nie met mense geassosieer wat nie vir Jehovah lief was nie. Hulle was gehoorsaam aan hom en het die vernietiging van Jerusalem in 70 HJ oorleef.—Lukas 21:20-22.

As ons assosieer met mense wat lief is vir Jehovah, kan dit ons help om ons voor te stel hoe die lewe in die nuwe wêreld gaan wees (Sien paragraaf 19)

19. Wat sal ons help om getrou aan Jehovah te bly?

19 Net soos Noag en sy gesin en Christene in die eerste eeu, assosieer ons nie met enigiemand wat nie vir Jehovah lief is nie. Ons het miljoene getroue broers en susters wat ons as ons vriende kan kies. Hulle sal ons help om gedurende hierdie baie moeilike tye “vas [te staan] in die geloof” (1 Korintiërs 16:13; Spreuke 13:20). Dink net hoe wonderlik dit sal wees om die einde van hierdie goddelose wêreld te oorleef en om in Jehovah se nuwe wêreld te lewe! Hoe belangrik is dit tog dat ons slegte assosiasie nou vermy!